Solidariteit beskerm verpleegkundiges

(Foto: pixabay)

Deur Peirru Marx

Solidariteit het die afgelope paar weke by die internasionale gemeenskap aangesluit om hulde te bring aan die verpleegberoep. Verpleging is nie net ʼn edel beroep nie, maar ook ʼn baie nederige beroep. Verpleegkundiges is nou in die voorste linies om die Covid-19-pandemie te beveg en so stel hulle hul lewens en dié van hul geliefdes in gevaar. As daar ooit ʼn situasie was waar die woord “dankie” so gering en onvoldoende is, dan is dit nou die geval. Hoe sê ʼn mens dankie aan die verpleegkundiges wat iemand anders se behoeftes voor hul eie plaas, wat lang ure aaneen werk en wat vir iemand sorg wat hulle nie eens ken nie?

Solidariteit wil dankie sê aan al die verpleegpersoneel in die voorste linies, op ʼn manier wat ons goed ken en dit is om jul regte en jul beroep te beskerm. Danksy Solidariteit se unieke posisie in die mediese bedryf is ons deeglik bewus van die struikelblokke waarmee verpleegkundiges daagliks te kampe het soos wat berigte oor die verlaging van salarisse en eensydige veranderings aan diensvoorwaardes, wat ons kantore gereeld bereik, van getuig.

Daar was nog nie voorheen ʼn tydstip waar hierdie beroep onder soveel druk in ons land verkeer het as juis nou nie.

Dit is jammer dat ons, te midde van die krisis en die kritieke rol wat verpleegkundiges vervul, daagliks klagtes oor die gesondheid en veiligheid van ons lede by die onderskeie gesondheidsinstellings waar ons verteenwoordig is, moet ontvang.

Terwyl die media die mense in hierdie beroep as hedendaagse helde vereer, besef die publiek nie wat die aaklige waarheid agter die skerms is nie. Verpleegpersoneel word daagliks aan Covid-19-pasiënte blootgestel en hul heldedade behels meer as net die behandeling van Covid-19-pasiënte, want in sommige gevalle lewer hulle hierdie diens sonder die nodige persoonlike beskerming. ʼn Mens hoef bloot een van die instellings te besoek om die tekort aan persoonlike beskermende toerusting te aanskou en om te sien watter haglike omstandighede by hierdie versorgingsfasiliteite heers om die opoffering wat verpleegpersoneel op ʼn daaglikse basis maak, te verstaan. Sommiges het al met hul lewe geboet, maar in ʼn vinnig veranderende omgewing is dit gou vergete.

Solidariteit is bekommerd oor die oortreding van gesondheid- en veiligheidsmaatreëls wat by verskeie gesondheidsorgfasiliteite voorkom. Ons skakel gereeld met rolspelers in verskeie forums om hierdie probleme te hanteer soos wat dit onder die aandag van ons verteenwoordigers kom en op die Solidariteit-krisissentrum se webblad verskyn. As daar van maatreëls afgewyk word, doen ons ʼn beroep op die gemeenskap om ons by te staan deur dit te rapporteer om op dié manier ons verpleegkundiges te beskerm daar waar hulle in onveilige toestande steeds hul pasiënte bly verpleeg. Solidariteit staan agter sy lede en sal op enige afwyking waarvan hy te hore kom, ingaan en optree indien nodig.

Aangesien verpleegkundiges hulself in gevaar stel om ons lewens te beveilig, verdien hulle net die beste om hulself te beskerm. Weer eens bedank ons hulle.

  • Peirru Marx is die Solidariteit Gildes se koördineerder vir die mediese beroep.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.