Solidariteit Beweging se hoofstroomsienings en -doelwitte

flip-buys-2017-11-02

Flip Buys is die voorsitter van die Solidariteit Beweging. Foto: René Roux.

ʼn Ruk gelede het ’n afvaardiging van Solidariteit die VSA besoek. Terwyl ons een aand laat vir die volgende dag voorberei, sêvra ’n kollega verbaas: “In Suid-Afrika is groepsregte regs, in Europa in die sentrum, en in die VSA links? Wat ís ons nou eintlik?

Nog ’n goeie voorbeeld van die ingewikkelde politieke spektrum is die treffende stelling van die Afro-Amerikaanse ekonoom, professor Thomas Sowell. Hy het gesê wie in die sestigers gelyke geleenthede voorgestaan het, was radikaal; wie dit in die tagtigs ondersteun het, was liberaal, maar wie dit nou bepleit word as ʼn rassis uitgekryt.

Die Solidariteit Beweging van organisasies met sy 450 000 gesinne, het tot die grootste hoofstroom-Afrikanerorganisasie en van die grootstes in die land gegroei. Hierdie oorweldigende en steeds groeiende steun laat baie mense kopkrap waarvoor ons staan en wat ons wil bereik. Kritici wat ’n bykanse monopolie in sekere media het, probeer ons met teerkwaste swartsmeer sonder dat hulle ooit ’n poging aanwend om die feite by ons te kry nie.

Ons klou nie aan ʼn verouderde ideologie vas of jaag vreemde doelwitte na nie, maar streef bloot ʼn normale samelewing na waarin almal blywend vry, veilig en voorspoedig kan lewe.

Christen-demokraties

Solidariteit het tot stand gekom deur eers die eeue oue Mynwerkersunie te herskep as die moderne Solidariteit, en dit daarna tot die Solidariteit Beweging uit te bou. Dit is hoekom ons sê dat Solidariteit tegelykertyd die oudste en die nuutste organisasie is. Ons het ontstaan ná die groot 1994-omwenteling in die land bykans alles verander het, en die destydse groot Afrikanerorganisasies soos die NP en die KP met hul stutorganisasies onder die golwe van die oorgang verdwyn het. Nuwe tye het vars idees, vindingryke oplossings en vernuwende organisasies geverg.

Daarom het die leierskap van Solidariteit van meet af besluit dat ons nie in ’n doodloopstraat van politieke uiterstes, onwerkbare planne en bittere verdeeldheid wil beland nie. Ons het die organisasie gehoofstroom volgens internasionale Christen-demokratiese beginsels en vir plaaslike omstandighede aangepas. Navorsing het gewys dat meer as 80% van Afrikaners – en groot getalle ander Suid-Afrikaners – hierdie beginsels ondersteun. Ons kon nie die twee uiterste kante van die politieke spektrum betrek nie omdat hulle juis die 80%-meerderheid sou afskrik.

Grondslae

Die belangrikste grondslae waarop ons die beweging georganiseer het, is:

  • ʼn Christen-demokratiese raamwerk;
  • ʼn Vryemarkekonomie en eiendomsreg;
  • Die oppergesag van die reg;
  • Gesonde rassebetrekkinge en wedersydse erkenning en respek;
  • Federalisme in plaas van sentralisme;
  • Gemeenskapselfstandigheid in plaas van staatsafhanklikheid;
  • Veilige gemeenskappe;
  • Goeie werk vir mense en ʼn produktiewe, goed opgeleide en goed betaalde werkmag;
  • Moedertaalonderwys en -opleiding;
  • Die gesin as bousteen van die gemeenskap;
  • Afrikaans, ons kulturele lewenswyse, geskiedenis en erfenisse;
  • Die republikeinse tradisie van burgerskap deur instemming en deelname in plaas van blote onderhorige onderdaanskap;
  • Vryheid van persone, kultuurgemeenskappe, die ekonomie, die howe en die media;
  • Maatskaplike sorg vir weerloses; en
  • Veelvoudige identiteite soos Afrikane, Afrikaners, Suid-Afrikaners en Afrikaanssprekendes.

Helpmekaar-beweging

Natuurlik moes ons die model aanpas vir Suid-Afrikaanse omstandighede, met veral vier oorwegings in gedagte. Die eerste is dat ons verwag het dat die nuwe regering die staat vir sy eie ondersteuners sou gebruik en dat Afrikaners nie langer op die staat sou kon staatmaak nie. Tweedens was ons bekommerd dat die nuwe regering homself nie onbepaald sou laat bind deur die 1994-ooreenkoms nie en na sy sosialistiese wortels sou terugkeer. Derdens het ons getwyfel aan die vermoë van ʼn bevrydingsbeweging met ʼn uitgediende ideologie om ʼn moderne land suksesvol te kan regeer. Vierdens wou ons voorsiening maak vir die moontlikheid dat Afrikaners as ʼn voorheen bevoorregte en presterende minderheid, die sondebokke van ʼn nuwe geslag ANC-leiers sou word as die regering nie daarin sou slaag om aan die hoë verwagtings van hul ondersteuners te voldoen nie.

Ons aanname was dat Afrikaners ʼn groeiende behoefte aan doeltreffende beskerming sou benodig en ons het beplan om Solidariteit tot ʼn moderne Helpmekaar-beweging uit te brei om noodsaaklike dienste aan die Afrikanergemeenskap, maar ook ander gemeenskappe te lewer.

Die strategie van volksveelheid in plaas van volkseenheid het ten doel gehad om verdeeldheid te oorbrug deur ruimte vir ʼn verskeidenheid van sienings te maak. Die uitgangspunt was dat dít waaroor ons verskil, ons nie hoef te verdeel nie.

Breër belange

Ons bedryf landwye projekte wat almal in die land bevoordeel, soos veiligheid en dorpe wat behoorlik funksioneer. Terselfdertyd bevorder ons Afrikanerbelange en werk graag saam met ander Afrikaanse gemeenskappe. Enige suksesvolle land bestaan uit die goue driehoek van ʼn suksesvolle staatsektor, -privaat sektor en gemeenskapsektor. Daarom probeer ons om met die owerheid en die privaat sektor saam te werk. Ons grootse uitdaging bly om “staatsdienste” soos veiligheid, maatskaplike sorg en opleiding sonder staatsinkomste te lewer.

 Verbreking van 1994-skikking

Die ANC beweeg al hoe verder weg van die historiese skikking van 1994 waarvolgens ʼn meerderheidsregering verruil is vir minderheidsbeskerming. Grondwetlike beloftes soos gelykheid en moedertaalonderrig verkeer onder al hoe meer druk en hoewel die land nog (genadiglik) nie verval het nie, het baie staatsinstellings al gefaal. Dit het gelei tot ʼn dubbele krisis van staatsverswakking en die bedreiging van Afrikaners en ander gemeenskappe se mense- en burgerregte.

Daarom het ons alle moontlike strategieë gevolg om normaliteit te bewerkstellig – vanaf gesprekvoering met die regering, skakeling met die parlement en staatsdepartemente tot samewerking met grondwetlike liggame. Uiteindelik het ons die howe as laaste opsie genader en, hoewel ons die meeste sake wen, kon dit nie die groter gety keer nie.

Daarom het AfriForum met ʼn buitelandse skakelstrategie begin wat woede in sekere kringe ontlok het. Die ironie is dat ons beweging intree vir talle histories “liberale” regte soos eiendomsreg, die reg op lewe, die regsorde en ander menseregte. Dis vreemd dat ons as die verdedigers van normale regte soms erger gekritiseer word as die oortreders daarvan.

Normale doelwitte

Ons hoofdoelwit by die Solidariteit Beweging is bloot om ʼn normale lewe in ʼn normale land lei. Ons staan nie vir ʼn vreemde ideologie nie en ons wil ook nie terugkeer na die verlede nie. Ons wil net ʼn normale lewe lei soos enige iemand anders in enige funksionerende land. Terselfdertyd gun ons ook vir alle ander mense die normaliteit wat ons vir onsself opeis.

Mense het al so gewoond geraak aan abnormaal dat sommige dink dit ís normaal (dat ons abnormaal is!) Kom ons kyk vinnig na ons beweging se 12 doelwitte vir normaliteit:

  1. Veiligheid

Ons streef na ’n normale lewe in ʼn normale land waar die misdadigers in tronke toegesluit is en wetsgehoorsame burgers vry en veilig buite kan rondloop.

  1. Werk

Tweedens wil ons ʼn normale werksbedeling hê sonder dat abnormale rassekwotas bepaal wie mag werk en bevordering kry en wie nie.

  1. Gelykheid

Derdens wil ons normale gelykheid hê. Ons is nie bó ander verhewe nie, maar wil ook nie deur die stelsel ónder ander ingedwing word nie.

  1. Vryheid

Vierdens glo ons aan normale vryheid. Die bepalings van die Handves van Regte oor menswaardigheid, gelykheid en vryheid, geld mos vir wit en bruin ook. ʼn Regeringsbeleid soos Afrika-hegemonie wat bepaal dat alle instellings onder die beheer van swart Afrikane moet wees volgens die rasseformule van 80% swart, 9% wit, 9% bruin en 2% Indiër, is mos abnormaal. Dit sal beteken dat die lewens van minderhede op alle gebiede deur swart mense beheer sal word. Dis mos abnormale rasseoorheersing en tas ons vryheid, gelykheid én menswaardigheid aan. Demokrasie moet oor die vryheid van almal gaan en nie net dié van die meerderheid nie. Dit is net normaal om inspraak te hê in besluite wat jou raak – dit is normale vryheid.

  1. Onderwys en opleiding

Vyfdens wil ons die normale reg hê wat enige ander mens het om te kies in watter taal ons kinders moet skoolgaan en in watter taal hulle op universiteit of kollege onderrig moet word. Dis nie normaal om jongmense met die verlede te belas nie.

  1. Belastingwaarde

Sesdens wil ons normale waarde vir die belasting op ons swaar verdiende inkomste kry.

  1. Werkende dienste

In die sewende plek eis ons normale staats- en munisipale dienste waarvoor ons betaal.

  1. Eerlike en bekwame regering

Punt agt is ʼn normale, eerlike regering wat nie belastinggeld steel of wanbestee nie en wat die burgery se dienaars in plaas van hul heersers is.

  1. Rassebetrekkinge

In die negende plek wil ons normale rassebetrekkinge en samewerking tussen almal in die land sien. Die selektiewe rassisme waardeur wit mense deur magtige mense geteiken word, vergiftig verhoudinge en is abnormaal.

  1. Reg en geregtigheid

Die tiende maatstaf vir normaliteit is dat almal gelyk moet wees voor die reg, ongeag ras of taal.

  1. Taal, kultuur en geskiedenis

In die elfde plek wil ons net die normale reg hê om ons taal te gebruik; om ons kultuur normaal uit te leef; en om ʼn normale geskiedenis te hê met al sy goeie en swakpunte. Ons wil soos enige normale gemeenskap plekke hê waar ons kan tuisvoel en waar ons die meerderheid is.

  1. Normale toekoms

Laastens wil ons ʼn normale toekoms hê waar ons ook eersteklasburgers is. Ons wil tuis en welkom voel. Dit is abnormaal dat mense twyfel of hul kinders ʼn toekoms in die land gaan hê en dat die meeste van hulle emigrasie oorweeg vanweë al die abnormaliteite wat hierin genoem is. Té veel grootouers het al grandpa en grandma geword!

Die ANC het al vir meer as 20 jaar ʼn gulde geleentheid by hulle laat verbygaan om ʼn normale land te skep. Terwyl hulle vol verwyte oor die vorige abnormale bedeling is, het hulle dit net omgekeer en voortgesit.

Soos die Afro-Amerikaanse denker Thomas Sowell sou sê: “Die afgelope dekades is die verhaal van die vervanging van dít wat gewerk het met dít wat polities mooi klink.”

Daarom werk en veg ons vir normaliteit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

29 Kommentare

Liberaal ·

Ja in die 60s was minderheidsregte radikaal, 80s liberaal en nou is dit rassisties, dit is hoe die linkse agenda skuif. ‘n Groot geheim is dat die massamedie baie effektief ingespan kan word om stelselmatig, stadig en amper ongesiens die goalposts te skuif. in die linkse hartsdiepte is daar geen plek vir minderhede nie, die uiteindelike doel is een enkele kultuur met geen tradebariiers nie sodat die globale elite alle besigheid kan optel en die middelklas kan uitdruk uit die sakewereld.

Lido Pellencin ·

Mooi gestel, Flip! Wie kan met jou verskil?
As ek ‘n stertjie mag byvoeg. Om al hierdie normaliteite te kan verwesenlik, moet ons baie meer ons aandag op jou punt 11 vestig en spesifiek die kwessie oor “waar ons in die meerderheid is”.
Die res sal sommer vanself regkom,
Daar sal ‘n oorgangsperiode wees, maar ons einddoelwit moet ‘n staat wees waar ons, onsself regeer.

Hendrik ·

Alles wel maar met werklikhede soos die trustgebiede (Zoeloe koning ), al hoe meer groepe (Khoi/kleurling) en ook Afrikaner groepering wat selfstandige selfregering in ‘n gebied nastreef waar hulle die meerderheid is, gaan daar meer verwag word van oplossings om werklik S.A te gaan laat werk. Bogenoemde oplossing is net om die huidge grondwet te laat werk. Soos baie grondwetkenners aandui dat die S.A grondwet baie probleme het en soos Prof Koos Malan al gese het is die S.A grondwet die mees ongrondwetlike wettige grondwet in die wereld.

Ella ·

Ek wens so ons kan n tuisland kry, dit sal ons instaatstel om weer erken te word en om veilig te leef.

Gerhard ·

Die probleem is dat selfbeskikking sommige (baie) Afrikaners net nie pas nie. Die gemak van die Ou en Nuwe Suid-Afrika wil hulle net nie afsê nie. Wie wil nou hordes goedkoop vreemde werkers opgee vir vryheid en sekuriteit.

Kolhaas ·

@Gerhard, beslis nie almal nie, baie Afrikaners maak lankal nie van arbeid gebruik nie om veiligheidsredes, arbeidswette wat van die ongunstigste in die wereld is en omdat hulle inelkgeval nie meer arbeid kan bekostig nie. Tuisland raak almeer ‘n lewensvatbare alternatief as om in die land als te verloor insluitend jou lewe.

Sam ·

Dankie, Mnr Buys. Inderdaad ‘n koelkopbenadering! Te veel mense raak onnodiglik heethoofdig en verloor so hul sin vir rede.

dejager ·

Ek stem saam dat hierdie ń hoogs abnormale land is om in te woon.Bogenoemde doelwitte sal ons hoogstens laat oorleef in hierdie land.Daar kort ń nuwe regering geskoei op ń nuwe model-een wat nog nêrens anders bestaan nie.Abnormale probleme verg abnormale oplossings.
Suid Afrika het ontsaglike potensiaal maar dit gaan ń bomenslike omwenteling verg om dit te ontsluit.

Eish ·

Dit is met dankbaarheid dat ek die artikel kon lees waar die agtergrond en beleid van die organisasie so mooi uitgestippel word.
Ek kan my eerlikwaar met elke doelwit van die organisasie vereenselwig. Soos die Hemelse Vader in Sy alwysheid die land Kanaän verdeel het deur aan elke stam n bepaalde grondgebied toe te ken, hoop ek van harte dat dit ook hier sal realiseer en ons wat verstam is van oortuiging, ook n eie gebied sal ontvang. Ek het ongelukkig nie soveel tyd oor om te wag vir die realisering daarvoor nie. Verwysend na dr. Frans Cronje se artikel oor die getal scenario van Kaukasiërs oor die volgende 30 jaar. Sou die toekoms scenario soos deur dr. Cronje voorspel, realiseer, gaan dit niemandsland word.
Dié Simson se hare is afgesny en sy oë is uitgesteek en hy wag nou vir iemand om hom staan te maak tussen die fondamentpilare van die Filistynse nes.

dr. Sakkie van der Merwe ·

Alles goed en wel maar in ‘n Godlose demokratiese bestel waar die president die voorvadergeeste raadpleeg, saam met die moslems aanbid is daar nie ruimte en veiligheid vir die Afrikaner Christen wat in die Oppergesag van God Drie-Enig glo nie.

Grassie ·

Ek glo dat die 12 doelwitte wat hierbo genoem word elke normale, regdenkende landsburger se hartewens is. Die probleem is net dat die ANC-regering klaaglik faal in al 12 gevalle (en sommer nog in ‘n hele paar ander). Hulle faal nie net nie, hulle is ook nog besig om elkeen van daardie beginsels opsetlik af te kraak en hulle gaan dit regkry want, soos Lesufi dit stel, “we are the majority.” Ons land se toekoms lyk vir my na ‘n lang, donker tonnel en ek sien nie lig aan die anderkant nie. As daar nie ingryping van Bo kom nie gaan ons ‘n ellendige tyd tegemoet. Ons is egter nie ‘n volk van papbroeke nie, ons moet die stryd stry, staan of val by ons beginsels. Soos die Cowboys van ouds gesê het – “If I must fall I want to fall with my boots on.”

Ou Regsgeleerde Vlakvark van Naasteliefdefontein ·

Klinkklaar, eenduidig en duidelik in eenvoudige Afrikaans op skrif gestel. Dankie Solidariteit. Vertaal en publiseer asseblief ook in Engels in ander binnelandse en buitelandse media, ook op jul webwerf.

Nou gaan ek hierdie artikel raam. ‘n Ware Afrikana as ‘n basislyn of vertrekpunt vir verdere onderhandelinge in wedersydse trou met wie ookal opreg is.

Joshua ·

Verbeel ek my of is daar nie juis n Solidariteit doelwit vir die afskaffing van die ANC se rassistiese BEE nie?? Daag en kla die ANC aan voor die Internasional Wereldhof van Menseregte- ons kinders was nie verantwoordelik vir apartheid nie en hulle mag nie onder die ANC se BEE onderdrukkening leef nie.

Hendrik ·

Hiermee stem ek heelhartig saam. BEE en “affirmative action ” is besig om die ekonomie te verwoes. Dit stel niks reg nie maar verwoes alles.

CG ·

Flip. Sê nou vir my reguit: Dink jy enige van die twaalf doelwitte is bereikbaar (dus realisties) in ‘n eenheidstaat? Wanneer jy antwoord, neem in ag hoe die grondslae waarop Solidariteit gebou is, daagliks in hierdie eenheidstaat vertrap word.

Enigste manier ·

Die enigste manier om hierdie mooi waardes te realiseer is as ons ‘n eie stuk grond kan kry en nie deur kommuniste regeer word nie.

dr. Sakkie van der Merwe ·

“Enigste manier” jy slaan die spyker op sy kop.

Reguit ·

In ‘n hool beteken (is die somtotaal van) al daardie mooi gedagtejies ‘n ronde nul. Oor ‘n paar dekades bly daar nul oor en lyk Azanië erger as Zim.

Abe ·

Reguit,
Moet asb. nie na SA verwys as Azanie nie. Dis n term wat gebruik word deur vyande van n gesonde land.

Jax ·

Dis redelik duidelik dat daar veels te veel gepraat word en min, selfs dalk weinig, gedoen word! Hierdie gewatertrap maak my nou moeg! Ons is besig om te sink – mooi woordjies gaan ons land nie red nie! Ons het nou doeners nodig!

Andre Badenhorst ·

Dankie Flip

…vir jou uitstekende leierskap en die toekomsvisie. Die droom na normaliteit is beslis realisties en bereikbaar.

Ek het sedert die ontstaan van Solidariteit gesien hier gaan dinge gebeur. Baie geluk met die reuse sukses tot dusver. Dit is sprekend van ‘n destydse visie wat nou as vanselfsprekend aanvaar word, en wat bereik is deur fokus en toewyding aan ‘n edele saak.

Nou vir die volgende mylpaal. Hef aan lê voor!

Piet v Heerden ·

Dankie Mnr Buys, ek vereenselweg myself vryelik met hierdie ideologieë en is trots om deel te vorm van ‘n dapper kultuur wat wyer om in die stof te gaan lê. Ek moet bieg ‘n stukkie van hierdie mooi land wat ons ons eie kan noem sonder konstante skuld gevoelens vir dinge waarvoor ons nie verantwoordelik is nie, sal darem diep lekker wees. ‘n Onafhanlike tuisland vir die blekes van kleur klink al hoe meer na die enigste manier om die verterende emigrasie te kelder. Die Westelike Provinsie sal mos mooi kan werk hiervoor :-). Die demografie daarvoor maak reeds sin!

Andrea ·

Dié van julle wat belangstel daarin om onder die ANC regering uit te beweeg… Het jul al gelees oor The Sovereign State of the Cape of Good Hope?

CG ·

Solidariteit roem hom daarop dat dit die hoofstroom en meerderheid Afrikaners betrek. Goed vir ledegekde, maar is dit goed vir vir vernuwende en werkbare idees? Ons moet leer uit die geskiedenis. Hoofstroom Afrkaners het nie aan die Groot Trek deelgeneem nie, maar verkies om knus Britse onderdane te bly. Selfs in Trekkergeledere het die Hoofstroom Afrikaner Natal as eindbestemming gesien en het Retief se naïwe vertroue in Dingaan ondersteun. Dit teenoor die randfiguut Andries Potgieter wat ‘n veel meer realistiese siening van die werklikheid gehad het. Hoofstroom Afrikaners het Botha en Smuts na die oorlog gesteun en ons laat intrek in twee wêreldoorloë. Hoofstoom Afrikaners het bly glo dat die wyse waarop Apartheid toegepas is, ons vryheid sou verseker. Dit was randfigure wat van ‘n volkstaat gepraat het. Hoofstroon Afrikaners het in 1992 “Ja” gestem. Solidariteit roem hom daaroop dat hy hoofstroom Afrikaners verteenwoordig en nie die ander kan betrek nie…

CG ·

Andre. Vir elke tree wat Solidariteit vorentoe stoei, word die Afrikaner 10 tree teruggedruk. Dit het nog nooit sedert 1994 so sleg met die Arikaner gegaan as nou nie en die tempo van agteruitgang versnel. Bly jy het ‘n sprokiesheld om in te glo!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.