Solidariteit is 110 jaar jonk

Solidariteit vier vanjaar sy 110de verjaarsdag. Ons het oorspronklik net na die Tweede Vryheidsoorlog ontstaan as die Transvaal Miners’ Association, wat later die Mynwerkersunie geword het.

Die Mynwerkersunie is die afgelope dekade omskep en uitgebou tot Solidariteit en later tot die huidige Solidariteit Beweging, bestaande uit 18 gemeenskapsorganisasies, 400 werknemers, sowat 2 000 deeltydse verteenwoordigers en 170 000 lede en met ’n omset van miljoene rande.

Oudste en nuutste
Dit maak van Solidariteit die oudste en die nuutste organisasie in die land. Die Mynwerkersunie het ʼn sleutelrol in die land se geskiedenis gespeel. Professor Wessel Visser – bekende arbeids-historikus – het ʼn paar jaar gelede ʼn omvattende geskiedenis van die Vakbond geskryf. Sy gevolgtrekking is dat die Mynwerkersunie histories ʼn rol veel groter as sy getalle gespeel het. Visser sê ook dat die aksies en optrede van die MWU het in die twintigste eeu die gang van die SA politiek en ekonomie in ʼn belangrike mate beïnvloed.

Geskiedenis
Hy kom in sy boek tot die gevolgtrekking dat die Mynwerkersunie se geskiedenis weerspieël tot ʼn belangrike mate die geskiedenis van Suid-Afrika. Verder meen hy dat die historiese lotgevalle van die vakbond loop hand aan hand met die lotgevalle van wit Suid-Afrikaners.

Voortbestaan
Dit is ʼn merkwaardige prestasie vir ʼn organisasie om vir meer as ʼn eeu te oorleef – en veral om na ʼn honderd en tien jaar sterker as ooit te wees.

Die oorgrote meerderheid vakbonde, besighede, partye en kultuurorganisasies kan dit nie regkry in so onstuimige land nie, en het onder die golwe van die geskiedenis verdwyn.

Aanpassing
Die Solidariteit leierskap word gedurig gevra hoe die organisasie dit reggekry het. Professor Visser het tydens sy ses-jaar lange navorsing die antwoord hierop gekry. Hy sê in sy boek die antwoord is dat die MWU se vermoë om homself by meer as een geleentheid by gedurig veranderende sosio-politieke en ekonomiese eise en omstandighede aan te pas, die geheim van ons sukses en die organisasie se behoud oor meer as honderd jaar was.

President Kruger
Dit is merkwaardig dat die MWU nie onherkenbaar aangepas het en soos talle ander organisasies verdwyn het nie. Ons verandering was nie om oor te gee nie.

Die geheim van ons suksesvolle verandering is opgesluit in die laaste boodskap van President Kruger. Hy het gesê “neem die beste uit die verlede, en bou dan jou toekoms daarmee.”

Vir my het dit beteken dat ons die negatiewe dinge uit die verlede moet los, op die positiewe moet fokus en daarmee die toekoms moet bou.

Ras na Kultuur
Die suksesresep is om nie net alles uit die verlede te behou en dan stil te gaan staan nie. Kruger het gesê soek die beste dinge uit en bou dan die toekoms daarmee. In die praktyk het ons sekere rassistiese elemente in die geskiedenis gelos en vanaf ras na kultuur as grondslag geskuif. Dis belangrik dat ons ook nie op klas georganiseer is soos die sosialiste nie.

President Kruger se formule vir suksesvolle aanpassing kom vir my neer op beginselvaste vernuwing. Maar Kruger het ook die belangrike taak van elke geslag beklemtoon in die volgende woorde: “Die krag van die huidige geslag lê nie in sy roem op die dade van die vorige geslag nie, of die moontlikhede van die toekomstige geslag nie, maar dit lê daarin dat hy die brug bou om die verlede en die toekoms aan mekaar te bind.” Daarom is ons taak om soos brugbouers op te tree: Ons moenie in die verlede vassteek nie en terselfdertyd nie die verlede te vergeet nie; ons moet ’n brug bou tussen dit wat verby is en dit wat kom.

Beweging
Die toepassing van die formule van beginselvaste vernuwing beteken dat Solidariteit op grond van beproefde waardes vernuwe het.

Ons droom is om ’n toekoms te skep waarin ons as Westerse kultuurgemeenskap ook blywend, vry, veilig en voorspoedig in Afrika kan voortleef. Dan sal ons ʼn volhoubare bydra tot die welstand van die land en al sy mense kan lewer. Ons glo dat ’n minderheid homself nie moet laat tel soos bv. in die politiek nie, want dan sal ons altyd verloor. ’n Minderheid moet homself nie laat tel nie, maar laat weeg, want ons weeg swaarder as ons getalle. Gewig word bepaal deur die vlakke van onderwys en opleiding, werksywer, ondernemerskap, produktiwiteit, en kultuurkrag waardeur ’n gemeenskap verantwoordelikheid vir homself en sy toekoms neem. Gewig word nie bepaal deur wat ’n organisasie sê nie, maar deur wat hy doen. Daarom is ons Beweging ’n moderne helpmekaar-beweging, ’n Selfdoen-beweging wat nie sit en wag vir beter dae nie, maar aktief aan sy toekoms werk. Maar ons werk nie vir die volgende verkiesing nie, ons werk vir die volgende geslag.

Ons strategie is om hiervoor op noodsaaklike gebiede sterk selfdoenorganisasies te stig – veral op daardie gebiede waar die staat nie wil of kan help nie. Daarom het ons ook ʼn aktiewe vennootskapstrategie op daardie gebiede waarop ons nie werksaam is nie.

Die Mynwerkersunie alleen sou nie die omwentelings in die land oorleef het nie.

Daarom het ons dit eers uitgebou tot Solidariteit, en daarna Solidariteit uitgebou tot die Solidariteit Beweging.

Vandag is ons Beweging op vyf werksgebiede gefokus, naamlik:
• Werksbeskerming deur die vakbond Solidariteit;
• maatskaplike bemagtiging deur Solidariteit Helpende Hand;
• die beskerming van burgerregte deur AfriForum;
• die verskaffing van opleiding deur Sol-Tech, Akademia, ons studiefondse en ons onderwysvennote; en
• die bevordering van die Afrikaanse taal en kultuur deur die FAK, Maroela Media, Kraal Uitgewers en ons ander vennote.

Dit is die rede waarom professor Visser sy boek op ʼn positiewe noot kan afsluit. In ʼn herstrukturerende gedaante kon Solidariteit met groot sukses die een en twintigste eeu as ʼn lewenskragtige, proaktiewe en deelnemende kampvegter vir werkers- en minderheidsregte ingaan.

Die Toekoms van Werk
Ons moet praat oor die toekoms van werk as ons nie werkloos in die verlede wil agterbly nie. Die feit is dat onstuitbare dryfkragte soos nuwe tegnologie en globalisering die wêreld én die werksplek verander. Daar gaan in die toekoms net twee klasse mense wees, naamlik opgeleide kenniswerkers en ’n groot massa werkloses. Hierdie historiese omwenteling – wat in omvang en gevolge groter as die Nywerheidsrewolusie gaan wees – kan en gaan nie gestop of gekeer word nie. Die sleutel tot oorlewing in die toekoms gaan goeie onderwys en opleiding wees. Nie net eenmalige opleiding as jy skool verlaat soos in oupa se tyd toe tegnologie, soos die plaastelefoon, dieselfde gebly het nie, maar lewenslange leer in ’n tyd waar alles bykans daagliks verbeter word. Daarom het ’n vakbond wat sy lede en hulle kinders se belange op die hart dra, geen ander keuse as om vir hulle geleenthede te skep om deurentyd op die voorpunt van hulle vakgebied te kom en te bly nie. Om hierdie rede stel ons by die kongres ook ons nuwe Opleidingsfonds bekend. Ons droom is dat almal wat verdere opleiding wil ondergaan, toegang daartoe moet hê. In ’n era waarin ons gemeenskap nie ’n gelyke speelveld het nie, sal ons as minderheid die meerderheid kennis moet hê om blywend voorspoedig te kan wees.

Afsluiting
Ek wil ter afsluiting Singapoer se strategie vir sukses aan u voorhou – daardie klein eiland met ’n bevolking van drie miljoen wat tussen en teen die reuse soos Japan, Indonesië en Maleisië moet veg om staande te bly. Hulle jarelange leier, Lee Kuan Yew, het hulle suksesresep soos volg saamgevat: Almal moet hulle volle potensiaal verwesenlik en geen talent mag vermors word of verlore gaan nie. Daarom moet die vakbond en die hele beweging daarop toegespits wees om ons lede en ons gemeenskap te help om hulle volle potensiaal te verwesenlik. Dít is ons taak waarmee ons ’n goeietoekoms vir die volgende geslag moet skep!

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Flip Buys

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Mike ·

Baie geluk aan Solidariteit met die 110 verjaardag ek dink dit is werklik ‘n belangrikke mylpaal wat bereik is. Ek het die bouplan deeglik gelees en ek dink dit is ‘n uitstekende plan. Daar is egter iets wat my pla wat ek dink tog belangrik is. Hierdie plan hou korttermyn sowel as langtermyn voordele in vir die afrikaner, maar myns insiens is daar wel faktore wat hierdie plan tot ‘n groot mate kan ondermyn. Bo en behalwe die ANC se anti afrikaner beleid kan die onbeheersde invloei van vreemdelinge van regoor die wereld hierdie plan tot ‘n groot mate ernstig beinvloed, so ook projekte soos bv die e-tol stelsel.
Vreemdelinge wat oor ons grense stroom en die tolstelsel sal in ‘n groot mate die vestigings patrone van afrikaners in die toekoms bepaal . Hierdie vreemdelinge vestig binne afrikaner konsentrasies en dit is onvermydelik dat dit wel een of ander invloed sal he op so ‘n afrikaner gemeenskap. Die e-tol stelsel is meer van ‘n finansieele aard en mag veroorsaak dat mense na gemeenskappe skuif wat nie direk geraak word deur hierdie stelsel nie.

Wat ek met my skrywe sover probeer uitlig is dat die Solidariteit plan miskien nie daarin slaag om die daaglikse bestaan van die afrikaner aan te spreek nie. Die gewone man op straat moet nog steeds van binnelandse sake gebruik maak vir ID boekies of ‘n paspoort, die polisiediens moet nog steeds gebruik word by enige misdaad insidente, misdaad sal bly maak nie saak hoe effektief gemeenskappe hulleself probeer beveilig nie. Die dept. van onderwys gaan nog steeds in die toekoms bepaal wat ons as afrikaners ons kinders mag leer en wat nie. Die dept van finansies gaan nog steeds bepaal hoeveel belasting ons as afrikaners moet betaal. Dit is om net ‘n paar voorbeelde te noem. Dit is ook mense se alledaagse bestaan as hy sy huis verlaat om te gaan werk wat bepaal of hy wil aanbly in SA en of hy wil emigreer.

Ek probeer hiermee die idee vestig dat die afrikaner totaal uit die stelsel moet kom ook met eie kultuur instellings bo en behalwe sy eis op territoriale selfbeskikking soos die Orania gedagte. Solidariteit as vakbond en kultuur beweging kan op talle terreine die gemeenskap wat hy dien tot voordeel wees, maar die politieke landskap en die toekoms van alle burgers word steeds bepaal deur politici waarin Solidariteit om verstaanbare redes hom nie wil begewe nie. Daar is by baie afrikaners ernstige twyfel of SA vrede gaan beleef in die toekoms. Konflik tussen rasse kan baie maklik ontaard in ernstige geweld, hoe spreek Solidariteit hierdie probleem aan met sy burgerlikke plan?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.