Krisisberaad: Ons is hier om te bly omdat…

dr-Danie-Brink

Dr. Danie Brink, uitvoerende hoof van Helpende Hand.

Hierdie toespraak is gelewer deur Danie Brink, uitvoerende hoof van Helpende Hand, tydens die Solidariteit Beweging se Krisisberaad wat op 5 Mei 2015 in Pretoria gehou is.

U sal met my saamstem dat ons wat vandag hier bymekaar is, ’n baie goeie verteenwoordigende steekproef van die Afrikaners van Suid-Afrika is. Miskien is die platteland nie heeltemal goed verteenwoordig nie, maar ek glo dat genoeg van ons daar grootgeword het en steeds kontak met vriende en familie daar het om tereg te kan sê dat ons vandag hier ook die Afrikaners van die platteland verteenwoordig. Ons is hier saam onder die tema “Hier om te bly”. Solidariteit Helpende Hand is ook een van die organisasies wat die tema onderskryf. Daarby stem ons visie regstreeks ooreen met vandag se tema.

Binne die Solidariteit Beweging praat ons gereeld oor die feit dat ons:

  • mág doen wat ons doen;
  • wíl doen wat ons doen;
  • móét doen wat ons doen;
  • kán doen wat ons doen; en
  • gáán doen wat ons doen.

Ek wil graag vandag by hierdie vyf punte aansluit en sê dat ons wat vandag hier bymekaar is, hier is om te bly omdat ons:

  • hier mág bly;
  • hier kán bly;
  • hier móét bly;
  • hier gáán bly;
  • en die belangrikste, hier wíl bly.

Ek lig graag elke punt kortliks toe.

Ons mág hier bly

Die meeste van ons se families is reeds vir meer as tien geslagte in die land. U het vir dr. Dirk Hermann die name van sy voorvaders hoor opnoem en so sou elkeen van ek of u dit vandag kan doen – my stamvader, Andries Brink, het self in 1739 hier aangeland. Ons is van Afrika, ons is Suid-Afrikaners en die grondwet beskerm ons reg om hier te bly.

Ons kán hier bly

U sal met my saamstem dat ons hier kán bly omdat dit nog baie goed gaan met baie van ons mense; dat baie van ons mense  vindingryke planne maak om binne sommige negatiewe realiteite van die land steeds ’n wonderlike heenkome vir hulself en hulle kinders te bewerk. Daarvan getuig suksesvolle nuwe besighede en die gehalte van Afrikaanse skole uit volle bors. Ek glo dat baie van wat u vandag hier gehoor het en nog gaan hoor u moed gaan gee om te weet, u kán hier bly!

Ons móét hier bly

Die instansies wat vandag hier verteenwoordig is, beskou dit as ’n roeping om hier te bly – ons voel ons móét hier bly en saam dink en werk en beplan vir ons mense. Daaroor hoef daar geen illusie te wees nie. Wanneer u hier teenwoordig, of enigiemand daar buite hul gewig op een of ander manier by die organisasies van die Solidariteit Beweging voeg, kan u maar weet dat dit ons uitkykpunt is – ons móét hier bly.

Ons gáán hier bly

Om te emigreer is emosioneel, finansieel en logistiek moeilik om te doen. Vir baie van ons en ons kinders is dit onmoontlik om te emigreer. Die meeste mense wat deur Helpende Hand ondersteun word, kan nie emigreer nie. Daarom werk ons by Helpende Hand daagliks met die realiteit dat ons mense in Suid-Afrika gáán bly en maak ons planne dienooreenkomstig.

Ons wíl hier bly

Dames en here, ons binne die Solidariteit Beweging wíl hier bly. Oor die geleenthede in ons land, oor ons gewortelheid in hierdie land, en oor die historiese band met hierdie land kan ’n mens baie lank praat, maar dit is wat ons graag vandag wil bevestig – ons wil hier bly. In die taal van die jonger geslag sê ons #hieromtebly!

So, wat doen Helpende Hand ten bate van ons wat hier mag, kan, moet, gaan en wil bly?

Dames en here, ons kinders is ons en ons land se toekoms. Wanneer dit swaar gaan, is dit húlle wat weerloos is en dit is hulle wat nie vir hulself kan sorg nie. Daarom is dit vir Helpende Hand van kardinale belang om te fokus op kinders wat swaarkry. Daarom lê ons veral klem op die toekoms van ons kinders en beywer ons ons om te voorkom dat ons kinders eendag in armoede verval. Omdat ons goeie akademiese vordering op skool, opleiding, die verwerwing van skaars vaardighede en kwalifikasies sien as dié voertuie om kinders se swaarkry te voorkom, is dít waarin ons belê. JD Kestell, die vader van weldaad in ons geskiedenis, het in 1939 die Reddingsdaadkongres in Bloemfontein geopen met die woorde: “Kom ons help ons mense om hulself te help,” en dit is wat ons graag namens ons 32 000 ondersteuners wil doen.

Daarom:

  • het ons oor die afgelope ses jaar meer as 25 000 skooltassies aan behoeftige graad1’s gegee om hul skoolloopbane mee te begin;
  • voed ons jaarliks meer as 4 000 behoeftige kleuters sodat hulle optimaal kan leer en floreer;
  • befonds ons jaarliks ’n groot verskeidenheid akademiese geleenthede vir behoeftige leerlinge met miljoene rande vanuit Helpende Hand se JD Kestell-beursfonds;
  • ondersteun Helpende Hand Afrikaanse skole deur middel van ons Skoleondersteuningsentrum en ondersteun ons skole:
    • met die salarisse van onderwysassistente;
    • met wêreldgehalte tegnologiese hulpmiddels soos lees- en wiskunde-apps, e-boeke, plakkate, psigometriese- en vakkeusetoetse, wiskundeklubs vir begaafde leerlinge en allerlei aanlyn hulpmiddels;
    • met goeie wiskunde-onderrig aan meer as 150 000 Afrikaanse kinders deurdat hul onderwysers goeie opleiding deur middel van kursusse, kongresse en seminare van Helpende Hand se Vereniging vir Afrikaanse Wiskunde-onderwysers kry.

In die tweede dekade van die vorige eeu is spin- en weefskole deur die inisiatief van Emily Hobhouse geopen – hoofsaaklik om Afrikaners se armoede na die Boereoorlog deur entrepreneurskap te verbreek. In die tweede dekade van hierdie eeu belê Helpende Hand in die ontwikkeling van ons kinders se entrepreneurskap deur landwyd ’n app-skryfkursus en –kompetisie in Afrikaans aan te bied. Dit is vir ons by Helpende Hand se Skoleondersteuningsentrum baie belangrik dat Afrikaanse skole die nuutste tegnologiese hulpmiddels in Afrikaans beskikbaar moet hê. Ons glo dat Afrikaanse skole landwyd van wêreldgehalte is; vergelykende wiskunde-studies wêreldwyd bevestig dit. Helpende Hand wil Afrikaanse skole bystaan om in die toekoms steeds onderrig van wêreldgehalte aan ons kinders te bly bied. Ons taal sal floreer wanneer ons kinders die inligting wat opvoedkundig in Engels op hul slimfone beskikbaar is, ook in Afrikaans kan bekom. En ons beywer ons om selfs mee te werk dat hulle soms unieke opvoedkundige produkte van uitnemende gehalte éérste in Afrikaans kan kry

Sekerlik een van Helpende Hand se grootste prestasies is die feit dat ons oor die afgelope sewe jaar studiehulp aan 4 600 studente verleen het. Hierdie studiehulp in die vorm van beurse en rentevrye studielenings beloop reeds ’n totaal van meer as R73 miljoen. Ons beplan om reeds binne vier jaar meer as R100 miljoen jaarliks aan studiehulp uit te betaal. U sal met my saamstem dat Helpende Hand se Studiefondssentrum en die verbysterende bedrae wat u hier hoor, ’n mens sterk herinner aan die Helpmekaarbeweging wat na die 1914-Rebellie ontstaan het. Baie van u, en meer as 32 000 mense landwyd, is reeds deur middel van ’n maandelikse debietorder aktief by hierdie moderne Helpmekaarbeweging betrokke.

Behalwe die visie van Helpende Hand om die swaarkry van ons kinders deur bogenoemde aksies te voorkom, is dit vir ons baie belangrik om te help omsien na Afrikaner-bejaardes en om seker te maak dat dié van hulle wat swaarkry, se armoede verlig word. Saam met ons 120 takke landwyd probeer ons seker maak dat Afrikaner-bejaardes goed versorg word; dat daar nie net na hul fisiese welstand omgesien word nie, maar ook na hulle emosionele welstand. Daarom spandeer ons reeds in verskeie dorpe in ons land R 11 000 per maand vir die voeding en versorging van daardie dorpe se armste bejaardes – diegene wat dit nie kan bekostig om in ’n tehuis vir bejaardes te woon nie en wat nie ondersteuning van kinders en familie ontvang nie.

Laastens is dit deel van Helpende Hand se visie om Afrikaner-armoede te verbreek deur verskillende projekte wat op werkskepping fokus. Baie van ons takke help met die skep van volhoubare betrekkings vir ons mense. WerkNet is ’n aanlyn platform wat voornemende werknemers en werkgewers bymekaar uitbring en wat toenemend dien as voertuig vir werkskepping. In 2014 het Helpende Hand self R1,5 miljoen spandeer om besighede wat werk vir ons mense verskaf landwyd op die been te bring.

Dames en here, ons as Helpende Hand verklaar vandag dat ons hier is om te bly. Ons doen dit eerstens omdat ons hier wíl bly. Ons wil toenemend bydra om aan mede-Afrikaners wat saam met ons hier is om te bly, maar met wie dit soms swaar gaan, optimale ondersteuning en versterking te gee. Sodoende sal ons aan veral ons kinders, maar ook aan ander weerloses, die geleentheid bied om vir nou en vir die toekoms toenemend vry, veilig en voorspoedig in Suid-Afrika te kan wees. Ek sluit graag af met ’n aanhaling uit president M.T. Steyn se toespraak van 4 Mei 1906, by die stigting van die Orangia Unie: “Vrees nie vir die toekoms nie en moenie skrik vir die las wat u as Afrikaner dra nie. Gaan voort op u weg, reik die hand van vriendskap aan almal wat met u wil meegaan, maar gaan voort op u weg, indien nodig selfs alleen, met die bewustheid dat u doel die geluk van u volk en die voorspoed van u vaderland is.”

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Ansie ·

Wonderlike goeie nuus dat julle die armes in die land help. Baie dankbaar daarvoor. Ek wil net graag hoor wat julle doen inverband met al die moorde op blankes. Wat doen julle oor ons erfenisse – standbeelde wat miskien vir sommige mense niks beteken nie, maar vir andere baie. Waar gaan ons met ons klagtes heen……ek sal enige antwoord hierop baie waardeer.

Ansie ·

Wonderlike goeie nuus dat julle die armes in die land help. Baie dankbaar daarvoor. Ek wil net graag hoor wat julle doen inverband met al die moorde op blankes. Wat doen julle oor ons erfenisse – standbeelde wat miskien vir sommige mense niks beteken nie, maar vir andere baie. Waar gaan ons met ons klagtes heen……ek sal enige antwoord hierop baie waardeer.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.