Solidariteit-krisisberaad: Raak nou só betrokke

solidariteit-bewegingTydens en na die Solidariteit Beweging se Krisisberaad wat op 5 Mei vanjaar gehou is, het verskeie beraadgangers gevra wat hulle kan doen om betrokke te raak by die inisiatiewe wat deur die Solidariteit Beweging aangepak word. Hier is ʼn klompie doendinge waaruit jy kan kies om die Solidariteit Beweging te steun. Die bal is in jou hande! skryf Flip Buys.

Akademia

  • Moedig mense om jou aan om te studeer – die regte vaardighede en kwalifikasies is onontbeerlik vir die toekoms.
  • Bevorder die idee om in Afrikaans te studeer – tref ’n onderskeid tussen onderrigtaal en werksplektaal.
  • Studeer terwyl jy werk – so doen jy waardevolle ervaring op en bekom jy ’n kwalifikasie met min studieskuld.
  • Werf jong werkendes om jou om ook by Akademia te studeer.
  • Registreer vanaf 1 Mei 2015 vir die 2016-studiejaar aanlyn op akademia.ac.za vir jou BCom-graad of Hoër Sertifikaat – jy kan nauurs in Afrikaans studeer.
  • Skrif in vir Akademia se Sakebestuurslypskool by sakeplankompetisie.co.za. Dit vind plaas op 27 en 28 Mei 2015 in die Akademia Studiesentrums landwyd.
  • Skryf in vir die Akademia Sakeplankompetisie voor 15 Julie, en staan ʼn kans om pryse ter waarde van meer as R1,2 miljoen rand te wen.
  • Hou die Akademia-webblad, akademia.ac.za, dop en volg Akademia op Facebook by akademiakampus om op die hoogte te bly met die jongste wat hier gebeur.

FAK

  • Sluit aan by die FAK. Sodoende ondersteun jy kultuur- en geskiedenisprojekte, terwyl jy deurlopend die FAK se publikasies gratis in die pos ontvang. Motiveer ook jou vriende en familie om aan te sluit.
  • Hou die FAK se Facebook-blad dop en bly op die hoogte van die FAK se projekte en publikasies.
  • Lees en leer soveel moontlik oor die Afrikanergeskiedenis. Onthou en herdenk die belangrike gebeurtenisse van ons geskiedenis. Die FAK Afrikaner-internetmuseum is die ideale plek om jou kennis omtrent Afrikanergeskiedenis te verbreed. Besoek gerus afrikanergeskiedenis.co.za.
  • Indien jy kinders op skool het, bly op die hoogte van wat hulle geleer word in Geskiedenis en maak kapsie teen die kriminalisering van die Afrikaner se geskiedenis.
  • Motiveer jou kinders om deel te neem aan die FAK Afrikaanse Ekspo.
  • Besoek die Afrikaanse Liedjietuin by die FAK Kantoor op monumentkoppie. Die Liedjietuin bevat ’n versameling van sowat 130 roosboompies, almal vernoem na Afrikaanse liedjies en kunstenaars. Die mooiste Afrikaanse liedjies se lirieke is in granietplate in die tuin verewig.

Maroela Media

  • Lees Maroela Media se nuus by maroelamedia.co.za, en volg hulle op Facebook, Twitter, Google+ en Youtube.
  • Deel Maroela Media se artikels en inligting op sosiale media met jou vriende.
  • Laai Maroela Media se gratis nuus-app vir slimfone af.
  • Stuur vir Maroela Media nuuswenke uit jou omgewing (gebruik die “Nuuswenke”-skakel op die tuisblad van die webwerf, of die “Nuuswenke”-funksie op die slimfoon-app).
  • Teken in op Maroela Media se daaglikse nuus-nuusbrief, en weeklikse lekkerlees-nuusbrief – gebruik die “Nuusbriewe”-skakel op die webwerf se tuisblad.
  • Neem deel aan sinvolle debatte en gesprekvoering op Maroela Media se webwerf onderaan elke artikel, asook op Maroela Media se sosialemediaprofiele, om jou stem te laat hoor oor aktuele kwessies wat die Afrikaanse gemeenskap raak.
  • Werf by sakelui wat Afrikaans goedgesind is ’n advertensie vir Maroela Media. Dis die Afrikaanse webblad wat die vinnigste groei en bied beslis goeie waarde vir adverteerders.

Kraal

  • Word ʼn lid van Kraal-klub (dis gratis) en bly op die hoogte van al Kraal se publikasies. Stuur jou adresbesonderhede aan [email protected].
  • Koop ʼn Afrikaanse boek by Kraal Uitgewers as geskenk of vir jouself!
  • Lees Afrikaans.
  • Kom meer te wete oor die geskiedenis van Afrikaans in prof. Jaap Steyn se boek Ons gaan ʼn taal maak.  Die eerste oplaag is byna uitverkoop.
  • Besoek Kraal Uitgewers se webwerf vir nuus oor boeke en lekkerleesbrokkies oor woorde en geskiedkundige gebeure – kraaluitgewers.co.za.

 

Sol-Tech

  • Vertel vriende en familie van Sol-Tech se unieke Afrikaanse ambagsopleiding, en verwys hulle na die webblad sol-tech.co.za.
  • Praktiese werksplek-ervaring is ’n wesenlike deel van Sol-Tech se ambagsopleiding. Nader Ajani, Sol-Tech se plasingsmaatskappy, vir moontlike werksgeleenthede by werkgewers vir vakleerlinge, of vir werkgewers wat betrokke wil raak met die plasing van Sol-Tech-studente by ajani.co.za of e-pos [email protected].
  • Vergewis jouself van die voordele van moedertaalonderrig en ondersteun Afrikaanse opleiding op alle vlakke.
  • Maak seker dat ons jeug beroepsverwante vakke op skool neem, insluitend wiskunde en wetenskap, sodat teoretiese onderrig nie later herhaal moet word nie.

 

Helpende Hand

  • Ondersteun Solidariteit Helpende Hand deur aan te sluit as ondersteuner. Doen dit deur “Hand” na 34388 te SMS. Moedig ook jou vriende en familie aan om by Solidariteit Helpende Hand aan te sluit.
  • Stig saam met vriende ’n studiefonds waarmee behoeftige Afrikanerstudente se studie gefinansier kan word. Dit sal deur Helpende Hand vir julle geadministreer word.
  • Besoek www.helpendehand.co.za/sos-oorsig/ en raak betrokke by die projekte om Afrikanerskole in jou gemeenskap te ondersteun.
  • Raak betrokke by een van jou plaaslike Solidariteit Helpende Hand-takke se projekte om ’n verskil in jou plaaslike gemeenskap te maak. Besoek www.helpendehand.co.za vir meer besonderhede.
  • Volg Helpende Hand op Facebook en Twitter en teken in op Helpende Hand se gratis maandelikse elektroniese nuusbrief om op die hoogte te bly van Helpende Hand se projekte wat jy aktief kan ondersteun.
  • Ondersteun die plaaslike Helpende Hand-skenkingskantoor in jou omgewing. Besoek www.helpendehand.co.za vir meer besonderhede.

 

AfriForum

  • Maak AfriForum nog sterker deur by die organisasie aan te sluit. Doen dit deur jou naam na 32077 te SMS. Moedig ook jou vriende en familie aan om by AfriForum aan te sluit.
  • Raak betrokke by een van jou plaaslike AfriForum-takke se projekte om jou plaaslike gemeenskap te verbeter. Besoek www.afriforum.co.za vir meer besonderhede.
  • Skakel in by AfriForum se gemeenskapsveiligheidsinisiatiewe en buurtwag in jou omgewing. Indien daar nie een bestaan nie, help om een te stig. Besoek www.afriforum.co.za vir meer besonderhede.
  • Volg AfriForum op Facebook en Twitter en teken in op AfriForum se gratis weeklikse elektroniese nuusbrief, Vonkpos, om op die hoogte te bly van AfriForum se tientalle veldtogte wat jy aktief kan ondersteun.

 

Solidariteit

  • Ondersteun die Boufonds wat ontwikkelingsprojekte binne Solidariteit help finansier.
  • Lewer insette op die webwerf van die Krisisberaad – laat hoor jou stem oor wat moet gebeur en hoe.
  • Ondersteun Solidariteit se Regsfonds wat optrede teen onregverdige arbeidspraktyke finansier.
  • Ondersteun Solidariteit se VN-veldtog. Besonderhede volg binnekort.
  • Solidariteit Finansiële Dienste bied aan Solidariteit-lede en hul gesinne finansiële advies en verwante dienste. Maak van hul dienste gebruik.
  • Ondersteun KRAGDAG, wat deur Solidariteit gesteun word. Sien: kragdag.com.
  • Kry ʼn kwotasie by Virseker vir jou korttermynversekering. ʼn Persentasie van elke premie word oorbetaal aan die Virseker Trust, wat op sy beurt die Helpende Hand-beursfonds ondersteun.
  • Volg Solidariteit op Facebook en Twitter om op die hoogte te bly met al hul inisiatiewe en projekte.
  • Besoek Solidariteit se webwerf by solidariteit.co.za oor al dié inisiatiewe en projekte, en nog idees oor hoe jy betrokke kan raak.

 

Wil jy meer weet?

Persone wat hulp nodig het of voorstelle het met ʼn gemeenskapsprojek of aksie in hul omgewing wat nie kan skakel met een van die bogenoemde inisiatiewe nie, kan dit gerus met André van der Merwe bespreek. Sy e-posadres is [email protected], en sy kontaknommer is 012 644 4379.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Johan Vermaak ·

Hoe raak ek betrokke by die bevordering van gebiedsgebonde selfstandigheid?

Jaco Prins ·

Baie dankie julle, dis ‘n goeie begin. Hoe kan die van ons wat tans sonder ‘n inkomste sit en dus nie finansieel kan bydra nie betrokke raak?

Marcus Pawson ·

Jaco, daar is hande nodig in AfriForum se takke met projekte in plaaslike regering, omgewingsake en veiligheid. Kies waar jy jou vrywillige bydra wil gaan maak deur self doen aksies.

Ant ·

Jammer ek wil nie afbreek nie maar dit wil voorkom die krisis beraad doen-dinge hierbo genoem, is gemik om geld te kry vir bestaande aksies. Sekelik moet daar eerder gekyk word om klein groepe te aktiveer in gebiede waar ons mense woon om die bestaande verval op die grond aan te vat. Elke plek se problem is nie dieselfde nie, en terwyl dit wonderlik is dat solidariteit en sy affiliate die groter stryd aanvat, is dit na my mening nou tyd om die klein gevegies ook te wen. As ons enigste behoud is om meer geld vir Solidariteit se bestaande programme te gee, gaan ons mos niks nuuts bereik nie? Waar is ons strategiese ontleding per area?

Gemsbok ·

Ek vermoed die opvolgvergadering wat vir 10 Oktober beplan word, waar die taakspan wat deur die krisisberaad opgerig is terugvoer gaan gee oor hul werksaamhede, die bykomende inligting en nuwe inisiatiewe sal uitwys waarna jy verwys.

Intussen het baie plaaslike dorpe reeds Afriforum takke om die unieke probleme van daardie dorp te help aanspreek. Sluit by jou plaaslike tak aan. Indien daar nie een is in jou dorp nie, kontak Afriforum vir hulp om een op te rig.

Albert ·

Dit was die Tusentydse Afrikaneraad se beleid om alle organisasies wat iets doen tot voordeel van die Afrikaner te ondersteun, of jy noodwendig volkome met hule saamstem of nie.
Solidariteit en Afriforum het in hul afwesigheid geskitter en nou bepleit hulle samewerking en betrokenheid maar ek sien nie dat hulle ander aksies en organisasies ondersteun tensy dit hule eie inisaitief is nie – ondersteun hulle byvoorbeeld die VF se protesaksie teen ESKOM more by Megawatpark ?

Juan Olivier ·

Ek sal julle ondersteun en help sodra julle ophou om julle net Afrikaners te noem. Die Boerevolk sal nooit vry wees as hulle dink hulle is Afrikaners. Gebruik liewer die naam van “Boere-Afrikaner” dan sal ek saam julle staan. Dis die 20 000 Afrikaners wat die Boere rebelie in 1914 onderdruk het en dis die Afrikaners in die NP wat die Boere beweging in 1949 vernietig het wat die Boere Republieke wou herstel. Die dag toe die Voortrekkers getrek het het hulle hul afgeskei van die and Afrikaners of Cape Dutch wat gelukig was met die Engelse regeering oor hulle en ‘n nuwe volk gemaak naamlik die Boerevolk.

Armando Pellencin ·

Olivier, enige verskoning om nie deel te neem nie!

Frik Lotz ·

Raak ook betrokke by die politiek en gaan stem vir n party soos die VF Plus wat al vir jare lank die vaandeldraer is van minderheidsregte. VF Plus is enigste politieke party wat veg vir die Afrikaner se regte want hul doen en praat nie net nie.

Mike ·

Waaroor het die krisis beraad gegaan om meer steun aan Soliforum of oor hoe om die Afrikaner se toekoms te red? As ek hierdie artikel lees dan weet ek nie of dit bv. my kinders kan red uit die kloue van ‘n waardelose onderwys stelsel of om die meerderheid Afrikaners van selfbesluitneming te verseker nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.