Solidariteit se netwerk van werk: ‘Ons help want ons kan en wil’

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit. Foto: Reint Dykema

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van die vakbond Solidariteit, het Woensdag hierdie toespraak by die vakbond se jaarlikse kongres by die Atterbury-teater in die ooste Pretoria gelewer:

Verlede week was ek by die ATKV-redenaarskompetisie se halfeindronde vir hoërskoolkinders. Wat ʼn motiverende geleentheid. Jong mense wat opstaan en hul saak stel. Hul oë is blink en vasberade.

In dieselfde week woon ek die Menlo-koorfees by. Elke koor was wêreldklas – Menlopark, Affies, Monumentpark en Wonderboom.

Die Timms, ’n internasionale vergelyking oor wiskundeonderrig, het gewys dat Suid-Afrika laaste op die wêreldranglys is. Afrikaanse skole is egter onder die top tien bo emigrasielande soos Australië, Engeland, Amerika en Nieu Zeeland. As jy dus ter wille van jou kind se onderwys wil emigreer, emigreer na ʼn Afrikaanse skool toe.

Ek hoor dikwels mense is bekommerd oor die jonger geslag. Ná die redenaars, koor die Timms-verslae en meer aan die beurt gekom het, het ek weer besef, vandag se jongmense kán.

Hulle skud hul vere reg vir die arbeidsmark, maar tussen die blinkoogkinders en die wêreld daar buite, is ʼn klomp monsters. Wat óns geslag moet doen, is om ʼn helpende hand te gee, om die skarnier te wees van jongmense na werkende mense.

Vandag stel ons Solidariteit Jeug bekend. Dit is Solidariteit se Helpmekaar in die werkplek.

Ons doen dit graag want ons kan, ons help al vir 116 jaar.

Ek vertel julle graag die storie van Solidariteit, werk, jongmense en Helpmekaar.

22 Junie 1902 – die geboortedag van Solidariteit. Duisende mense finansieel is geruïneer ná die Anglo-Boereoorlog en die ekonomie sukkel in die ná-oorlogse resessie. Mense stroom na die myne, op soek na werk.

By die werk word hulle gekonfronteer met ʼn nuwe monster; myntering. Die werkleeftyd op die myne was toe slegs sewe jaar en ʼn mynwerker se gemiddelde leeftyd was slegs 35 jaar. Vir pa’s met klein kinders was ’n lewe van slegs vyf en dertig jaar ontstellend. Die Witwatersrand en omgewing was bekend vir sy weduwees – vrouens wat hul mans aan myntering afgestaan het.

Die vakbond reageer deur, onder meer, met ʼn hulpfonds vir sy lede en weduwees. Mary Fitzgerald, die eerste sekretaresse van die vakbond en enigste werknemer, klim op haar fiets en ry van mynbaas tot mynbaas om geld vir die vakbond se hulpfonds in te samel.

So was Solidariteit se geboorte gekenmerk deur twee woorde: Werk en Helpmekaar. Fitzgerald se fiets roep elkeen van ons vandag op om spreekwoordelik op ons fietse te klim en mekaar te help. Dít is wat Solidariteit beteken: Saamstaan.

In dieselfde tyd word Suid-Afrika gekonfronteer met die probleem van oorlogswesies. Negeduisend Afrikanerkindertjies het mammas in die konsentrasiekamp en pappas op die slagveld verloor. So was dit ook met ʼn groepie van 28 oorlogswesies uit die konsentrasiekamp by Heidelberg. Ds. A.J. Louw ontferm hom oor hulle en ʼn skooltjie word in die kelder van die NG-klipkerk begin. Anna Basson en Katie Human was die eerste onderwysers. Hulle was die weeskindertjies se mammas en pappas. Hulle was onderwysers, opvoeders, rolmodelle, beraders en verpleegsters.

Juffrou Katie en Anna was die skarnier tussen die ontwrigte kind en ʼn toekoms.

Dit was die geboortetyd van Solidariteit en ons DNS is gedurende daardie tyd as’t ware bepaal.

Vyftig jaar later en ons bly getrou aan ons stigtings-DNS. In 1953 staan daar op die Helpende Hand se briefhoof: “Elkeen van ons gaan maar net een keer deur hierdie lewe. As ek dus enige weldaad kan bewys aan ʼn minderbevoorregte medewerker, laat ek dit nou doen.”

Ons praat vandag oor jongmense, werk en om mekaar te help. Om spesifiek jongmense te help, is ons hartsbegeerte.

Vanjaar is dit 116 jaar ná ons geboorte en baie het verander, maar baie is ook nog dieselfde. Vandag glo ons nog steeds in werk en om mekaar te help. Ons glo nog steeds aan daardie weldaad wat jy in hierdie een lewe van jou moet doen.

Ook vandag is Solidariteit daardie skarnier wat sy lede in die algemeen en jongmense in die besonder, moet help om goeie werk te bekom en te behou. Ons jongmense se uitdagings is groter, ons planne moet dus groter wees.

Ek stel Ruan Ehlers vandag aan julle voor. Hy het sy ambagskap as elektrisiën by Sol-Tech voltooi. Hy het sy eie besigheid in Piet Retief gevestig en neem nou ander in diens. Elke tien rand van Solidariteit-lede skep werk vir vele ander.

Tanya Ras was ʼn slagoffer van ʼn plaasaanval en moes ander moeilike uitdagings, soos siekte, trotseer. Sy het ʼn elite beurs deur Solidariteit Helpende Hand ontvang om by Akademia te studeer. Sy het haar graad in BCom Ondernemingsbestuur ontvang en was die tweede beste student oor die drie jaar van haar studies.

Vir Ruan en Tanya was Solidariteit ʼn skarnier – bloot ʼn skarnier – want verder het hulle self verantwoordelikheid geneem.

Ons doen dus dieselfde, maar net anders – toepaslik vir 2018. Ons sien hoe die staat verswak. Ons sien hoe die regering se rasse-ideologie ons jongmense verstik. Ons besef die verantwoordelikheid van die gemeenskap wat net groter word. Ons besef ons moet bou sodat ons jongmense kan werk.

Kom ons praat oor werk.

Solidariteit spits hom toe op werkgeleenthede – en watse edele werk is dít nie! Werk bepaal identiteit, dit gee betekenis en waarde. Deur werk kry jy toegang tot mediese sorg en aftreevoorsiening, betaal skoolgeld, dra by tot die kerk, ensovoorts.

Deur werk doen jy wat die Here wil hê jy moet doen. Jy help bou aan sy koninkryk en elke stukkie werk wat jy afhandel is geloofsbevestigend.

Volgens Jim Clifton, president van Gallup, is ʼn goeie werk die grootste behoefte van mense in die wêreld. Hy skryf in sy boek, The Coming Jobs War, dat die wêreld in ʼn oorlog vir goeie werk gewikkel gaan wees. Die wapenrusting teen só ʼn oorlog is kennis.

Daarom bou ons ons kenniswapentuig. Ons bou Akademia, ʼn privaat Afrikaanse universiteit van wêreldklas, op en vanuit ʼn Christelike grondslag.

Ons telematiese leermodel met sentrums landwyd is ʼn reusesukses. Ons het nog sentrums, self in Namibië, oopgemaak. Ons begin bou aan ons kontakmodel. ʼn Volledige op-kampus-model waar studente steeds volledig student gaan wees. Ons huur tans ʼn tussentydse kampus en het reeds agt grade vir die kontakmodel vir akkreditasie ingedien. Indien alles goed verloop, bied ons in 2020, komplimenterend tot ons huidige telematiese model, ʼn op-kampus-model aan. Dit is nie al nie. Ons beplan en ontwerp reeds aan ʼn volledige kampus. Tussen 2018 en 2019 dien ons nog dertig grade in en as alles vlot verloop, open ons ʼn groot nuwe kampus in 2023.

Ons bou Sol-Tech, reeds erken as een van die top-tegniese kolleges in Suid-Afrika. Ons is reeds ver gevorder met die beplanning van ʼn eie nuwe kampus vir Sol-Tech. Die grond is aangekoop, boupermitte is verkry en binnekort kan ons begin. Die groot nuwe aankondiging is dat Sol-Tech sy programaanbod gaan uitbrei na iets groter as net ambagsopleiding.

Ons bou S-Leer wat fokus op voortgesette opleiding. S-leer gaan beroepsgerigte opleiding aanbied vir Solidariteit-gildes of beroepsverenigings. Ons beplan kennisfeeste so groot soos kunstefeeste.

Ons bou binne die Solidariteit Helpende Hand die Studiefondssentrum wat reeds die afgelope jaar ʼn rekordbedrag van sowat R40 miljoen aan studente toegeken het.

Ons gaan binnekort groot aankondigings maak oor die Skoleondersteuningsentrum wat openbare Afrikaanse skole moet help om uitnemend te wees en om ʼn volledig Afrikaanse privaat onderwysantwoord te bied. Dit gaan in nou samewerking met die Afrikaanse Onderwysnetwerk en Trust vir Afrikaanse Onderwys aangepak word. Dit gaan ʼn groot projek wees.

Ons gaan ons lede ook volgens hul beroepe organiseer. Ambagslui gaan verantwoordelikheid vir ambagslui neem. Kommunikasiepraktisyns gaan sorg dra dat jongmense internskappe binne hul beroepe kry, verpleegsters gaan saam opstaan vir hul beroep, ingenieurs gaan verantwoordelikheid neem vir voortgesette opleiding in hul beroep, regslui gaan kandidaatprokureurs oplei. Ons gaan help mekaar in die werkplek nuwe betekenis gee. Ons voorsien ʼn netwerk van Solidariteitgildes wat gaan help om ons lede se spesifieke werk te beskerm. Dit maak ʼn nuwe en reusemark vir Solidariteit oop.

Ons bou aan WerkNet (ʼn werksplasingsportaal), Talentwerf (ʼn splinternuwe belangstellingsbepaler) en nog vele meer.

Ons webbladsy, die Solidariteit Wêreld, gaan die poort na hierdie reusenetwerk van werk wees.

Twintig jaar gelede het ons al gesien die beroepswêreld en die politiek gaan radikaal verander. Ons het toe al begin bou aan ʼn groter Solidariteit-netwerk van werk. Ons wil op elke vlak en in elke stadium van ons lede se werk betrokke wees.

Ons ledetal is op ʼn rekordgetal van 180 000, maar die Solidariteit-netwerk maak ons reikafstand soveel groter. Ons kan dubbeld so groot wees met 360 000 lede of trippel so groot met 540 000 lede.

Waarmee bou ons? Met die tien rande van gewone Solidariteit-lede. Elkeen van julle help bou. Jy help om ʼn fiets te trap om ʼn weldaad vandag te doen.

Onthou, ons bou nie vir onsself nie, ons bou vir die volgende geslag. Die geslag wat nou opstaan en met blink oë deelneem aan redenaarskompetisies, kore, sport, ensovoorts.

Vandag stel ons ʼn nuwe groot skarnier bekend: Solidariteit Jeug. Dit is ʼn skarnier wat jongmense van die skool, universiteit of kollege na die arbeidswêreld neem. Ons gee inligting, help met CV’s en voorbereiding van onderhoude. Ons help met mentorskappe, internskappe en werkplasing. Ons wys die krag van Helpmekaar. As ons jongmense op grond van ras geboelie word, is ons daar, ons help. Ons, die ouer geslag is die jonger geslag se skarnier. Die staat gaan dit nie wees, groot korporatiewe maatskappy gaan dit nie wees nie, ons wil dit wees. In die verlede het die stelsel gehelp. Vandag is die stelsel die gemeenskap wat help.

Kortom, ons is aan jou kant.

As ons skarnier jou gehelp het, moet jy weer help en so help elkeen iemand.

Wat ons as Solidariteit bied, is nie die gedrag van ʼn gemeenskap wat ontbind of weggaan nie. Wat ons bou, is groot. Dit móét groot wees, want ons bou ʼn toekoms vir ons, ons kinders en kleinkinders. Dit moet dus hou. Vir die ANC, Malema en al die ander raasbekke sê ons ons is hier om te bly, maar ons gaan nie stilbly nie. Ons gaan nêrens nie. My tienerdogter sal dit vir julle sê. In your face!

Vir 116 jaar is ons ʼn skarnier vir derduisende mense om werk te bekom, daarin te bly en te vorder.

Vir elke jongmens sê ons vandag: Ons is aan julle kant. Ons sal sover ons kan, jul skarnier wees, maar ons besef ons skarnier sal groter, sterker en anders moet wees as ooit vantevore. Ons bly egter bloot ʼn skarnier, die verantwoordelik bly steeds elkeen s’n. Elkeen kry ʼn opdrag van die Here, vir ʼn spesifieke tyd en plek. Ons opdrag is om te help, maar jou opdrag bly jou verantwoordelikheid.

Raak betrokke, help ons bou aan Solidariteit Jeug. Dis die regte ding om te doen.

Ons mag nie klein dink nie, ons mag nie klein doen nie, want ons bou aan ʼn toekoms waarin ons, ons kinders en kleinkinders, vry, veilig en voorspoedig kan wees.

Ons help ons jongmense, want ons kan en wil. Van 1902 tot vandag gaan dit vir ons oor jongmense, werk en Helpmekaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

JC ·

Wonderlik, baie dankie Dr Hermann. Ek weet eerlikwaar nie waar ons sonder julle sou gewees het nie.

Eish ·

En hoor jy die magtige dreuning?
Oor die veld kom dit wyd gesweef.
Die lied van n volk se ontwaking.

Mensig, maar dit is absoluut inspirerend!
Dis die materiaal waarvan wonderwerke gemaak word!
Gesindheid.

Andrea ·

Dit is fantasties, dis so inspirerend om n kykie in die langtermyn beplanning van bv Akademia te kry.
Maar, my liewe dinamiese mede-Afrikaners op wie ek so trots is, en teenoor wie ek só dankbaar is vir die inisiatiewe:
Die groot krisis is die gebrek aan veiligheid. Wat gaan ons daaromtrent doen? Ek is self n akademikus; ek sien dus die noodsaaklikheid van hoë gehalte, moedertaalonderrig baie duidelik in. Maar dit gaan ons nie baat as ons mense aanhoudend uitgemoor word nie. Ons moet, móét n veilige omgewing vir ons en ons kinders skep. Julle met die wonderlike inisiatiewe en die dinamiek om te beplan en te doen , soos met Akademia, asb, laat ons koppe bymekaar sit en iets doen aan ons veiligheid. Laat dit prioriteit wees. Natuurlik is daar inisiatiewe, maar dis nie genoeg nie. Asb, roep weer n beraad oor veiligheid uit. Gebruik jul ongelooflik dinamiese denke om n werkbare plan daar te stel. My kinders het ge-emigreer na privaat Afrikaans-Christelike skole. Dankie Vader vir die voorreg daarvan. Maar ek wil hê hul moet lewe en werk in veiligheid. n Toekoms hê. Nie net omdat hul goed gekwalifiseerd is nie, maar omdat hul veilig is. Dis my plig as ouer om daarvoor te sorg. Help my daarmee, asb.

Kobus ·

Jy kan nou maar eenmaal net nie ‘n goeie man onder kry nie.

Jacques du Plessis ·

Ek is 65 jaar jonk. Ek is n boer. Ek bang niks. Ek help en bou my gemeenskap. Ek is lid van solidariteit en wil help in landbouwetenskappe. Mooiloop

Johan Piek ·

Absolute briljante toespraak deur Dirk Hermann ! Dit het net weereens my vertroue in Solidariteit en AfriForum bevestig. Kwaliteitleiers met integriteit , doelgerigtheid en deursettingsvermoeè !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.