Solidariteit se Orania-loodsprojek om werksmag te normaliseer

orania-werkskepping-01

Orania se tegniese kollege. Foto: Verskaf.

Solidariteit het met ʼn loodsprojek in Orania vorendag gekom om jongmense met werk, opleiding en verblyf te help. Flip Buys gee meer agtergrond hieroor:

Die stand van die land se werksmag is ten nouste verweef met die geskiedenis van politieke mag. Tydens apartheid het die werksmag soos ʼn cappuccino gelyk. Die boonste kwart was grootliks wit en die onderste driekwart meestal swart. Hierdie rassesamestelling van die werksmag was ook die groot rede vir die politieke omwenteling in die land. Die swart werksmag met sy vakbonde het die vryheidsmag van swart mense geword. Die trek van miljoene mense na werksgeleenthede in die stede het onvermydelike politieke gevolge gehad. Meer as enige ander faktor het die getalle-oorwig van swart mense in die werksmag, die vorige bedeling se einde beteken. Die ekonomiese kragte van integrasie was uiteindelik sterker as die politieke beleid van afsonderlikheid.

Omwenteling

Karl Marx het tereg voorspel dat demokrasie tot politieke mag vir die werkersklas in ʼn land sal lei, omdat hulle die meerderheid uitmaak. In Suid-Afrika het hierdie politieke magsverskuiwing ook tot ’n diepgaande verskuiwing in die werksmag gelei. Ons beleef nou die tweede deel van Marx se formule. Sy tweestap resep was eenvoudig: Kry eers die politieke mag deur demokrasie en gebruik dan die mag om ekonomiese herverdeling te bewerkstellig deur “gelykmaking”.

Daarom het die politieke omwenteling van 1994 vinnig ’n omwenteling in die land se werksmag veroorsaak. Hoewel die finale grondwet van 1996 net vir “gelykheid” voorsiening maak, het die ANC tydens sy 1997-konferensie in Mahikeng op ’n beleid van “verteenwoordigendheid” besluit. Hulle het daarna in 1998 rassewetgewing ingestel waarvolgens die werksmag die bevolkingsamestelling moes weerspieël. Die “transformasie”-rasseformule van 80 swart, 9 wit, 9 bruin en 2 Indiër is hiervoor gebruik en in wette, beleid en hofuitsprake bevestig.

Maar die transformeerders is nie eerlik nie. Die wet en transformasiewette is net op die boonste posvlakke van toepassing. Die wet bepaal uitdruklik net dat die posvlakke waar swart groepe “ónderverteenwoordig” is, “reggestel” moet word, en swyg oor die ander poste.

Apartheid voortgesit

Dit bring mee dat apartheid in die praktyk aan die onderkant van die werksmag voortgesit word. Dit is onbillik want die hele arbeidsmark behoort genormaliseer te word. Dit wys ook die skynheiligheid van die voorstanders van rassekwotas duidelik uit. Die ANC kla voortdurend oor topbestuursposte wat oorwegend wit is en voer aan dat apartheid daar nog voortgesit word. Hierdie poste maak egter minder as 3% van die land se werksmag uit. Aan die ander kant is hulle doodstil oor die grootste deel van die werksmag, waar “swart werksreservering” steeds in die praktyk geld.

Dit is egter nie net die regering wat skuldig is nie. Dit is nog ’n algemene praktyk dat die onderste posvlakke steeds as werk net vir swart mense beskou word, selfs deur jong wit mense en hul ouers. Dit maak dit baie moeilik vir wit jong mense om tot die werksmag toe te tree en hul pad boontoe oop te werk om sodoende die werksmag te normaliseer. In die praktyk lei dit tot die uitsluiting van wit jong mense.

Opleiding

Die statistikus-generaal het die land ’n tyd gelede regop laat sit met sy stelling dat die swart jeug vandag swakker opgelei is as hul ouers onder apartheid. Dit is ook met wit jong mense die geval. Die boonste kwart is grootliks dieselfde of hoër opgelei as hul ouers, maar die meerderheid is swakker opgelei – ’n vroeë aanduiding van komende armoede. Vir ʼn ekonomie om te vorder moet elke geslag in die breë beter opgelei as die vorige een wees.

Die top-Afrikaanse skole in die land laat mense verkeerdelik onder die indruk dat swak naskoolse opleiding ’n krisis is wat net die swart en bruin gemeenskap raak. Die werklikheid lyk egter anders. Die werklikheid is dat net 27% wit Afrikaanse jonges universiteit toe gaan. Die probleem lê by die bykans 75% wit jong mense wat al minder opleiding kry en al swakker toegerus vir die werksplek is.

Hierdie verskynsel weerspieël die skeefgetrekte opleidingstelsel in die land. Daar is nog top-universiteite, maar die ou tegniese kolleges en die opleidingsentrums van sakereuse is óf baie swak óf drasties afgeskaal óf nie toeganklik vir wit en bruin kinders nie. Daarby is die Seta-stelsel ook sterk op ras gebaseer en kry wit jong mense feitlik nie hulp by die Nasionale Vaardigheidsfonds waartoe hul ouers maandeliks bydra nie. Maatskappye se rasseteikens vir opleidingsposte plaas in die praktyk meestal ’n verbod op die aanstelling van jong wit aansoekers.

Die voortsetting van die apartheidsarbeidsbestel en -kultuur in die laer poste sal verander moet word om vir almal toegang tot die intreeposvlakke te gee. Jong wit mense, werkgewers én die samelewing sal hierdie kopskuif moet maak. Die werksmag moet genormaliseer word sodat jong wit mense wat heel onder begin, ook soos Ben Schoeman en Ian McRae van ouds, tot heel bo kan vorder.

orania-werkskepping-02

’n Woonstelblok in aanbou om aan Orania se behuisingstekort te voorsien. Foto: Verskaf.

Orania-loodsprojek

Die struktuur van die arbeidsmark gaan egter nie vanself oornag verander nie. Solidariteit het talle projekte om die werksmag te normaliseer, soos ʼn tegniese kollege en studiehulp aan jong mense, maar meer is nodig. Daarom het Solidariteit besluit om ʼn loodsprojek op Orania aan te pak om te kyk hoe die werksmag genormaliseer kan word. Die lesse wat op ’n kleiner skaal in ’n nuwe ontwikkelende werksmag geleer word, kan dan mettertyd verder uitgebrei word. Terselfdertyd bied dit ’n oplossing vir energieke wit jong mense wat weens die skeefgetrekte rassestruktuur van die werksmag nie elders opleiding en werk kan kry nie. Dit geld veral vir jong mense in talle van die land se klein dorpies wat verval, of diegene in uitgewerkte myndorpe wat nie geleenthede kry nie.

Die loodsprojek behels hulp met opleiding, werk en behuising. Jong mense kry indiensopleiding in bouambagte by Orania se tegniese kollege, en word vergoed terwyl hulle werksondervinding opdoen. Solidariteit moes vanweë die groot behuisingstekort op die dorp met werkerswoonstelle begin om hulle te huisves. Dit word gebou met beleggerskapitaal wat van buite gewerf word. Hierdie loodsprojek bied ’n ideale geleentheid om te kyk hoe die werksmag genormaliseer kan word.

Die welstand van ʼn land word deur die welstand van sy werksmag bepaal. Vir ʼn land om te werk, het hy ʼn produktiewe, goedopgeleide en goedbetaalde “normale” werksmag nodig. Hierdie loodsprojek van Solidariteit wil ’n bydrae daartoe lewer.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Ou Vlakvark ·

‘n Briljante artikel, politieke insig en kreatiewe denke. Dankie.
Mag Orania eendag wêreldwyd bekend staan as die Sentrum van Vakmanskap-opleiding by Uitnemendheid. En mag toenemende opleiding ‘n drywer wees vir toenemende ekonomiese groei in Orania. Mag die dag aanbreek dat mense wêreldwyd hul kinders na Orania stuur vir uitstekende vakmanskapopleiding. En mag die dag aanbreek dat werkgewers wêreldwyd vakmanne van uitnemendheid by Orania werf om enige plek in die wêreld te kom werk.

Maggie Pringle ·

Ou Vlakvark. Ek stem met jou saam. Solidariteit doen uitstekende werk. Mag daar nog veel meer van hiedie soort instansies gebou word in Orania. Dankie Orania .
Sterkte vorentoe Solidariteit. Dankie vir julle harde werk onder die wit Afrikaners.

John ·

Dit is ‘n dringende behoefte maar almal kan nie in Orania gehuisves word nie. Bring die projekte na die mense elders. Verwaarloosde wit jongmense met pakkies toffies op straathoeke skree te hemele. Daar is nie eens werk by betaalpunte in winkels en as petroljoggies nie. Sakemanne skerm net vir hulself. Hoeveel boere het wit werkers soos in die VSA en die EU? Solidariteit se ster blink helder. Doen!

Faan ·

John, Solidariteit het landswyd baie projekte, hierdie is net ‘n bykomende projek vir die sentraal westelike deel waar daar geen ander opleiprojekte is nie.

Willie ·

Gerhard, ons lei Messelaars, Loodgieters, en Elektrisiëns op, met 5-weke kort kursusse vir teëlaars, pleister en ander. Die jonges begin met sowat R6000 pm as helpers terwyl hul opgelei word, en ons bou tans studente woonstelle waar hulle van die einde vd jaar af vir ongeveer R1500 pm sal kan bly. Bg syfers net benaderd, dit kan verander nav omstandighede.

Eish ·

Soos altyd, word ek aangenaam verras deur die pro-aktiewe optrede van Solidariteit. Werklikwaar prysenswaardig. Ek het lank reeds die bekommernis gehad oor die 75% van blanke kinders wat nie tersiêre opleiding kry nie. Nie almal van ons is universiteitsmateriaal nie. In die vorige bedeling het van die groep byoorbeeld polisie of weermag toe gegaan en deur die jare hul opgewerk. Ek is diep dankbaar dat die kwessie op hierdie wyse aangespreek word. Dit getuig van weldeurdagte besluitneming.

My ander bekommernis is die ontferming oor diegene wat reeds die byt van verarming gevoel het en geen heenkome het nie. Diegene is wyd versprei oor die ouderdomsgrens heen. Is daar nie blanke plakkerskampe waar die mense met waardigheid en veiligheid die verarming kan deurleef nie? Diegene wat deur die beproewing moet leef is gewoonlik randfigure vanweë skaamte wat hul laat onttrek aan die samelewing. Hierdie is n netelige kwessie wat gewoonlik maar verwyte en veroordeling ontlok van die “have’s”

Elizabeth ·

Op papier lyk dit uitstekend. My kinders, wat op ‘n disintegrerende kleindorpie woon, het ook so gedink, aansoek gedoen en NIKS het gebeur nie. Hulle word opgewonde gemaak deur een mens, maar wanneer die reëlings getref moet word, is daar geen teken van administrasie nie, die telefone lui, maar word nie beantwoord nie, e-posse word nie beantwoord nie. Hulle word onderhoude belowe, maar meer as 18 maande later het niemand hulle nog gekontak nie. Daar is geen manier waarop mens met hierdie mense in verbinding kan tree nie. Hulle sal eers hulle administrasie op grondvlak moet opgradeer voordat hulle sukses kan behaal. En dan is daar natuurlik die koshuismentaliteit … “thou shalt not …”, “thou shalt not …”, “thou shalt not” … voornemende belangstellendes moet mooi besluit of hulle kans sien vir al die reëls en regulasies … dis nou te sê as hulle die mense wat al die goeie dinge reël ooit in die hande kan kry!!

Delia ·

Gaan enigiemand van hierdie instansie vir Elizabeth op haar skrywe antwoord? Flip Buys?
Sien uit daarna om dit te lees!

Eish ·

Dit is n geldige punt en n reuse bekommernis.
Reëls en regulasies is noodsaaklik vir ordelike naasbestaan, maar asseblief tog nie weer die Broederbond mentaliteit nie. Navrae wat soos beskryf hanteer word laat n wrang smaak in die mond.
Iemand wat n vervoeronderneming na Orania wou skuif, het met n vorige artikel kommentaar gelewer dat hy basies slegs sy besigheid sou bestuur, maar nie langer eienaar wees nie.
Hierdie klas van klagtes maak mens verseker nie ooroptimisties nie en behoort aangespreek te word deur rubriekskrywers en instansies onder bespreking.

Dieter ·

Elizabeth, Orania is ‘n dorp soos enige ander, behalwe dat dit ‘n privaat dorp is. Ek weet nie watter werkgewer het jou kind nie teruggebel en hoekom nie. Hier is bykans 100 maatskappye in privaatbesit, en die meeste soek na jong werknemers wat wil en kan werk. Die reëls word deur die inwoners vasgestel, soortgelyk aan die reëls in die landswye privaatdorpe. Eish se inligting dat jy jou besigheid se besit verloor en dit net mag bestuur is verkeerd. Kom kyk en besluit self.

Frans de Klerk ·

Elizabeth, ek sal graag die probleem wat jy ervaar het wil opneem en poog om dit uit te sorteer. Jy sal dus vir my meer besonderhede moet gee aangesien hier tientalle ondernemings in Orania is en ek nie sal weet waar om te begin nie. Skakel my gerus by 053-207 0063 (kantoor-ure) of stuur ‘n e-pos aan [email protected].

Groete.

Frans de Klerk
Dorpsbestuurder
Orania

Realis Erdvark van [email protected] ·

Voor 1994 het die ANC-leierskap hulself voorgedoen as die kampvegters vir Vryheid, Gelykheid, Geregtigheid en “Demokrasie”. Maar sedert 1994 het die ANC-leierskap sy ware kleure gewys. Maar ek glo Suid-Afrika, ‘n koloniale denkproduk met onrealistiese grense gaan waarskynlik uiteindelik verkrummel in soort-soek-soort groeperinge. Hongerte en dors en magstryde gaan die proses verhaas.

Boerseun ·

Uiteindelik. Open nou net onder Akademia n mediese kampus op Orania, sommer n akedemiese hospitaal ook.

Theresa ·

Dit sal haarfyn beplan en bestuur moet word. Anders gaan die hele dorp se wese daaronder ly. Een voorbeeld is om geen mens ooit toe te laat wat later springend in die straat is omdat hy ontevrede is oor iets nie. ASSEBLIEF dink baie, baie mooi.
Sou verseker hierdie spesifieke kollege voorstaan. Maar dink gerus daaraan om ook so ‘n kollege gelyktydig in bv. Pretoria of iewers op die platteland te vestig.

Pieter ·

Theresa, Solidariteit het reeds ‘n groot kollege in Pretoria, en Akademia sentrums op 12 dorpe landswyd.

Gemsbok ·

Daar is reeds ‘n SolTech en Akademia in Pretoria en Orania is “iewers op die platteland.”

bgj van der westhuizen ·

ek stem saam ons sal n oplieding self moet begin en daar is genoeg ou ambag mense wat hulle reg kan leer om n ambag te doen wat die kennis het

Johan Neuteman ·

Ek het ook nog baie vrae, maar mens kan nie ontken dat Solidariteit allerhande dinge aanpak wat opbouend lyk nie. Is Solidariteit ook betrokke by die koop en privatisering van Affies in Pretoria?

Gerad ·

Pragtig Solidariteit!
Maar ons moet nie kinders in die skool omgewing vergeet nie. Dit is bekend dat hulle breingolf frekwensie tot 7 jaar in ‘n hipnotiese staat is. Daarom leer hulle taal so gou aan.  Maar hulle leer ook hulle moontlikhede en beperkinge dan aan. As hulle tot 7 glo hulle kan, is dit vir hulle so. En ongelukkig anders om ook.
Daarom dat die Finlands skoolstelsel soveel meriete bied. Kinders mag nie huiswerk kry of eksamen skryf voor 16 nie.
Elon Musk het bv ‘n eie skool vir sy 5 seuns. Sy filosofie is dat die gereedskap (tange en moersleutels) kom nie voor die probleem nie. Sit eers die enjin neer om uitmekaar gehaal te en kry dan die gereedskap. Musk erken hy het skool gehaat. Sy kinders is mal oor skool. Dis hoe skool moet wees. Dis hoe ons ‘n verskil kan maar.
Ons moet kinders in ‘n omgewing plaas waar hulle oortuig word om in hulle self te glo. Die res gebeur vanself.
Ons moet hulle oplei vir die toekoms. Meer as ‘n ambag, graad of professie. Hulle moet in hulle self glo. Hulle moet oortuig wees hulle kan.

Daan ·

Gerad, die Solidariteit Helpende hand se Skole Ondersteuningsentrum (SOS) bedryf projekte by 500 Afrikaanse skole, waarvan baie die vernuwende sake wat jy noem aanspreek.

Jerry ·

Goeie opbouende inisiatief wat seer sekerlik nie deur radikale ANC en EFF lede geteiken sal word nie, want dit is in Orania. Privaat universiteite, kolleges en koshuise in die res van Suid-Afrika wat tot stand gebring word vir die Afrikaner sal een of ander tyd onder skoot kom van die radikales, “mark my words”. Die Afrikaner is die teiken en die radikales sal enige Afrikaner belange wat beskerm word en verder ontwikkel word teiken, omrede dit die radikales se strategie is om die Afrikaner in te trek by konflik. Hulle weet die Afrikaner gaan een of ander tyd swig voor die versoeking en dan kan die radikales alles wat swart is teen alles wat wit is, mobiliseer. Moeilike tye le voor, so wees verdraagsaam, geduldig en oopkop met Afrikaner inisiatiewe.

Riena ·

As ons so van nuwe ontwikkelings en uitbreidings hoor, is ons almal opgewonde en skep moed. Ons moet egter nie vergeet om kinders te kry nie, want soos die wiel draai en die infrastruktuur en administratiewe agterstand word uitgesorteer, moet daar kinders wees wat dit kan vul. Oor agtien jaar kan daardie selfde nuwe kolleges leegstaan as ons nie vandag self ook daaraan werk nie. Kry meer kinders!

Henning ·

Dit alles kos reuse bedrae geld en almal sal moet saam help en hulle beursies oop maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.