Somaliland: Verkiesing vir president in nie-erkende staat

somaliland

Vroue in die Somaliland-streek van Somalië, wat die kleure van die Somalilandse streeksvlag dra, neem aan ’n parade vir die UCID-party deel voor parlementêre verkiesings in 2005. Foto: F. Omer/Commons.wikimedia.org

Somaliland, die noordwestelike deel van Somalië wat sedert 1991 ʼn eie staat is wat egter nie internasionaal erken word nie, hou tans sy presidentsverkiesing. Daar is drie kandidate en sowat 700 000 geregistreerde kiesers uit ʼn bevolking van 3,5 miljoen.

Die land is feitlik 100% Moslem en ook etnies homogeen (alle inwoners behoort tot die Isaak-stam van die Somali-volk). Al word Somaliland nie internasionaal erken nie, was daar internasionale waarnemers en ook finansiering vanaf die buiteland by die verkiesing teenwoordig.

Dit is al die derde, relatief vreedsame, vrye en regverdige presidentsverkiesing agtereenvolgens, wat ʼn prestasie is vir ʼn streek wat wemel van diktatorskappe en oorloë. Nog meer besonders is dat Somaliland in ʼn lang proses van oorlegpleging en konferensies tussen veral die stamhoofde en familieowerstes ʼn eie demokratiese pad uitgewerk het en nie ʼn Westerse model wat nie werk nie sommer net oorgeneem en dan laat misluk het nie.

Een rede, ironies genoeg, dat Somaliland so stabiel, relatief demokraties en ekonomies ten minste op aanvaarbare peil is, is die nie-erkenning van die land as onafhanklike staat. Omdat Somaliland erkenning wil kry, moet die land homself as modelrepubliek vertoon en bewys. Ander lande in die streek, wat dadelik erkenning gekry het, soos Eritrea en Suid-Soedan, het kort ná onafhanklikheid gedaal tot ʼn diktatorskap of burgeroorlog.

Een van hulle eerste handelings was dan ook om ontwikkelingshulp te vra, iets wat ʼn nie-erkende staat soos Somaliland nie kan doen nie, en daarom op sy eie bronne moet staatmaak. Ekonomiese ontwikkeling en politieke stabiliteit gaan hand aan hand, en daarom het die land die pad van konsensussoeke en oorlegpleging gekies, met ʼn raad van clan-oudstes as tweede kamer, wat die land se streek-clan-strukture in ag neem. Demokrasie het ontwikkel en nie bloot begin en geëindig met ʼn presidentsverkiesing sonder regeringsverandering sedertdien nie, die gewone patroon in Afrika.

Histories het die land en sy bevolking ook ʼn sin van eie identiteit. Somaliland was in die koloniale era ʼn aparte, Britse kolonie (1884-1960), maar het kort ná onafhanklikheid in 1960 met die voormalige Italiaans-Somaliland saamgesmelt om die republiek Somalië te vorm.

Hoewel al twee dele deur Somali bevolk is, het die sterk stam- en clan-strukture veroorsaak dat daar geen gemeenskaplike nasionalisme ontwikkel het nie. Boonop was die mag in die hoofstad Mogadisjoe in die suide gesetel en is Somalië deur ʼn sosialistiese diktator, Mohammed Siad Barre, regeer wat ʼn beleid van “verdeel en heers” toegepas het om aan bewind te bly.

Barre het ook die Isaak-stam, wat in die gebied van Somaliland woon, onderdruk en probeer uitroei omdat hulle vryheidsgesindheid en opstandigheid teenstrydig met sy sentralisasie van mag was. Hy is in 1991 ontsetel en ʼn magsvakuum het ontstaan wat tot die steeds durende burgeroorlog gelei het. Somalië is net op skrif ʼn staat, en die internasionaal erkende regering beheer net die hoofstad en enkele ander dele van die land en word boonop militêr deur troepe uit Ethiopië, Kenia en die VSA gesteun. ʼn Terreurgroep verbonde aan Al-Kaïda, Al-Sjabaab, beheer dele van die land en saai terreur.

Somaliland kon uit die algehele chaos van Somalië uitbly omdat die Isaak-stam nie, soos ander stamme en groepe, oor beheer van die hele land geveg het nie, maar slegs beheer oor eie grondgebied wou hê, wat in ooreenstemming met die destydse Britse koloniale grense is. Barre se onderdrukking van die Isaak het ook enige gevoelens van ʼn gemeenskaplike Somali-nasionalisme by hulle tot niet gemaak.

Somaliland is wel nie ʼn modelrepubliek nie. Korrupsie is hoog en verkiesings word dikwels uitgestel, maar dit is in die konteks van Afrika en veral van die besonder onstabiele Noordoos-Afrika ʼn voorbeeld van ʼn werkende staat. ʼn Groot ekonomiese inspuiting word beplan deur die Verenigde Arabiese Emirate, wat in Somaliland se belangrikste hawestad Berbera ʼn nuwe hawe en ʼn militêre basis wil bou. Dit beteken ook de facto-erkenning van die regering en die staat Somaliland.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk as navorser, argivaris en toergids vir die Orania Beweging in Orania, is ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling en skryf is veral politiek, geskiedenis, reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae