Deur Daniël Goosen
Ons hoor dikwels vandag dat dit onwys is om jouself met ander te vergelyk. Jy is uniek en spesiaal nes jy is en jy hoef nie soos ander te wees nie. Dis die boodskap wat telkens deurgegee word. Alhoewel daar dalk wysheid in hierdie idee skuil te midde van die hiper-individualisme wat dit onderlê, kan dit eenvoudig nie met die geskiedenis gedoen word nie.
’n Mens kan so daaraan dink: ’n bepaalde motief herhaal homself en konfronteer die karakters van ’n sekere tyd. Hul reaksies op hierdie motief is egter waar mens juis vergelykend moet optree om ’n oordeel te fel. Een groep karakters reageer so daarop en ’n ander reageer so – die gevolge van die onderskeie reaksies kan opgeweeg word en dan eers kan mens begin dink aan wie hul tyd die beste aangewend het.
’n Motief wat homself konstant herhaal, is natuurlik dié van stigting en oorsprong. Hetsy dit nou die stigting van ’n gemeenskap, dorp of staat is, kan bykans elke volk hul oorsprong na ’n oomblik van ontstaan terugtrek. Dit is ’n bykans mitiese motief, dink maar aan Virgilius se groot epog, die Aeneïs. ’n Magiese verduideliking vir die glorie en mag van Rome via sy oorsprong.
’n Meer onlangse voorbeeld is natuurlik dié van Amerika se stigting, wat in die Amerikaanse verbeelding ook ’n magiese dimensie aanneem. Daar word konstant terugverwys na die ideale van die stigterslede binne die Amerikaanse politiek en populêre kultuur asof daar iets goddelik is aan dit wat hulle gedoen het. Die rede is natuurlik juis omdat stigting of ontstaan ten diepste ’n magiese verskynsel is. Dit is magies, want dit is ’n simboliese geboorte. Dit is die moontlikheid van lewe wat homself konkreet manifesteer en beliggaam. Presies soos wat ’n kind die wêreld binnekom as ’n begrensde en afhanklike wese, so word ’n nasie of ’n land gestig.
Begrensing speel dus hier ook ’n belangrike rol. Dit is daardie oomblik in ’n volk se kollektiewe geheue wat daar onderskei begin word tussen die eie en die ander. ’n Onderskeiding tussen terra nullius (niemandsland) en “ons grond” met die verdere onderskrif dat die stukkie aarde nou “ons verantwoordelikheid” is. Presies soos wat ouers na ’n pasgebore baba moet omsien, so moet daar na hierdie grond omgesien word. Tog, ook ná die nuwe gemeenskap wat daar gevestig word. Daar moet dus ’n bepaalde vorm van orde tot stand gebring word sodat hierdie simboliese kind kan groei en vooruit kan gaan. ’n Goeie orde is die voorwaarde vir mense om te floreer. Dit skep die moontlikheid vir vrede en samehorigheid, omdat dit juis ’n groep mense aan ’n sekere plek bind. As daar grense getrek word, is dit nie primêr om ander uit te hou nie, maar eerder om mense binne te hou. Ten einde om juis die gemeenskap te versterk en saam op te lig.
Die probleem is natuurlik dat alle stigtings nie ewe suksesvol is nie. Die mite, die magiese element mag dalk sterk in die populêre verbeelding staan. Tog, as die gepaardgaande orde swak is, kan die droom ook net vir so lank in die lug hang. Hier moet daar dus met ’n gesonde geskiedkundige aanslag na verskillende tydperke gekyk word om te vergelyk wat gebeur het.
Juis in Suid-Afrika kan so ’n vergelyking gemaak word. Die oorsprong en ontwikkeling van die ou Transvaalse Republiek en die nuwe Suid-Afrika onder “leiding” van die ANC.
As ons met die Transvaal kan begin, sal mens sien dat die “ontstaansmite” in die Groot Trek te vinde is. Ek bedoel natuurlik nie dat die Groot Trek ’n mite was nie, maar dat dit in die volksverbeelding ’n mitiese dimensie aangeneem het. ’n Epiese tog vanaf koloniale onderdrukking tot onafhanklikheid met al die nodige dramatiese elemente soos uiteengesit in Virgilius se Aeneïs. Die Trekkers onderneem ’n reis deur ’n onbekende land en word in ’n konflik met ’n vegtersvolk vasgewikkel. Deur goddelike ingryping is die Trekkers egter ná die slag van Bloedrivier die oorwinnaars. Die lang tog kom tot ’n einde met die Trekkers wat hulle vestig in beide die Transvaal en die Oranje-Vrystaat. Hier, op die rug van die smart, tragedie, maar ook oorwinning en sukses van dié Trek, begin die Trekkers om ’n orde neer te lê. ’n Orde wat dorpe oprig, treinspore aanlê, skole stig en ’n funksionele regering op die been bring. Te midde van al die probleme wat maar met elke menslike instansie gepaard gaan, kon die republiek teen die einde van Paul Kruger se leeftyd die magtigste ryk op aarde militêr aanvat – as net ’n enkele voorbeeld.
Ten opsigte van die ANC se ontstaan, sien mens ook ’n epiese verhaal. Die geveg teen die onderdrukker is so oud soos tyd self. Beide historiese en mitiese voorbeelde van hierdie motief is legio. Dit is ’n verhaal wat mens, onder meer, konseptueel met die Israeliete se onafhanklikheidstryd teen die Egiptenare kan vergelyk. Die mite van die ANC se vryheidstryd hang nog dig oor Suid-Afrika en toenemend in die vorm van ’n rookskerm. Dit word konstant op teruggeval, met die verdere byskrif dat die sondaar in daardie verhaal steeds vir ons eietydse probleme geblameer kan word. Nog meer, die ANC word hanteer asof dit ’n geloof en nie ’n politieke party is nie. Mense stem jaar ná jaar vir hierdie party op grond van hul ontstaansmite en nie op grond van hul prestasies of beleide nie. Alhoewel die ANC se mite ’n kragtige een is, moet dit ook onderlê word deur ’n werkende orde wat die mite se ideale regverdig en realiseer.
Dit is hier waar ’n feitelike vergelyking tussen die ou ZAR en die RSA ’n verdoemende oordeel oor die ANC fel. Die kenmerkende eienskap van die ANC-regime is verval. Dit het die nasmaak van verwaarlosing te midde van kroniese wanadministrasie en blaamverskuiwing. Waar die Transvaal ’n werkende orde uit die niet geskep het, het die ANC aktief bykans enige orde teengewerk. Of dit nou ten opsigte van basiese infrastruktuur of maatskaplike uitreik is, kan die tendense van die ou Transvaal en die bedeling van vandag bes as omgekeerd eweredig beskryf word.
Dieselfde verantwoordelikheidsin wat die Voortrekkers vir hul nuwe republiek getoon het, is by die ANC totaal afwesig. Die land, as pasgebore demokratiese baba, word nie na omgesien en voor gesorg nie. Om die waarheid te sê, begin die geboorte van die “nuwe” Suid-Afrika al hoe meer na ’n miskraam lyk. Al wat die ANC op kan terugval, is die mite, die storie van hul ontstaan. Ten opsigte van daadwerklike vooruitgaan en bou, neig die antwoord na nul.
As erfgename van die ou republieke en dus ook die gees wat dit onderlê het, moes die Afrikaner toekyk hoe die land terugkeer na die wildtuin wat dit voor die republieke was. Ons het agtergekom dat gegewes soos lopende water, krag, onderwys, mediese sorg, beskerming van erfenis en vele ander, nie meer die normatief is nie. Dit word die uitsondering. Ons word egter ook, te midde van die kroniese verval, gekonfronteer met ’n verdere feit: Gegewe al die probleme wat daar ook al in die pre-apartheid-republieke was, het ons voorsate hier iets vermag wat werklik niks minder as uitsonderlik is nie.
Die doel van hierdie vergelyking is egter nie om in die verlede vas te sit nie. Die primêre funksie van so ’n vergelyking is juis om bouplanne vir die toekoms bymekaar te maak. Al verander die omstandighede ten opsigte van politieke bedeling, tegnologiese ontwikkeling en wêreldwye tendense, sekere goed bly konstant. Die gees van wat die republieke onderlê het, is steeds onder Afrikaners aanwesig. ’n Gees wat ten alle koste verder aangewakker moet word. ’n Geskiedkundige vergelyking is nie om met rooskleurige oë in die verlede vas te kyk nie. Dit is eerder om daardie tradisie van selfdoen en selfbou voort te sit. Iets wat die Afrikaner tans sterk mee besig is. Die onlangse opening van die nuwe Sol-Tech-kampus is ’n daadwerklike voorbeeld hiervan, maar is bloot net ’n enkele voorbeeld te midde van baie.
- Daniël Goosen beskik oor ’n BA-honneursgraad in visuele kultuurstudies en doen vanjaar ’n internskap by die FAK.
Daniël, ek het groot waardering vir jou bruisende idealisme. Maar kom ons onthou: dood het ‘n oorsaak. En die ellende wat ons nou beleef, onder hierdie wanfunksionerende regering, het ‘n baie lang aanloop en ons voorgeslagte is nie sonder skuld nie. Maar jy is reg: mens kan nie in die verlede vashaak nie…ons moet ter wille van ons nageslag vorentoe beur en ons Christelike erfenis laat voortleef. Die tyd vir herbou is hier. Maar voordat ons kan begin , moet ons eers van ‘n hinderlike gewoonte afsien: ‘n nare ” siestog-arme- benadeelde-ons”- houding het posgevat by baie van ons mense.Dit maak ons sinies, negatief en baie onlekker.
Die ellende wat ons nou beleef het ‘n 25 jaar aanloop, ten spyte van hoe Links dit wil probeer inkleur, verpak of verkoop.
Gemeet teen die heersende tydsgees, was Afrikaners regdeur die eeue lammetjies wat weggetrek het van onderdrukking of oorheersing, onderhandel het vir grond met nomadiese mense groepe, saboteurs gevangenisstraf opgele het ipv die doodstraf soos wat in die VSA en VK sou gebeur, en uiteindelik in kinderlike onkunde alle vorme van mag en bestuur op ‘n skinkbord oorhandig het. Laasgenoemde het geen gelyke in die Geskiedenis nie, en meeste van die objektiewe historici – plaaslik en internasionaal sukkel nog om dit behoorlik te ‘verduidelik’.
Terloops, vir ons “Christelike erfenis om voort te leef” sal dit jou in direkte konflik plaas met ‘n regering wat ‘n Christelike Grondwet (“In nederige erkentlikheid teenoor die Almagtige God…”) by die venster uitgegooi en vervang het met “In die naam van die MENSE…
Ten spyte van die las wat Apartheid meegebring het in die psigiese samestelling van SA en die ewige skuldkompleks wat ons al ‘n kwart eeu opgelê is, word dit ‘n al hoe dunner halmpie waarna gegryp sal kan word.
Groot, oordonderend en skrikwekkend hang die korrupsie, onbevoegdheid en mislukkings van die ANC. ‘n Boosheid wat dreig om ‘n jong demokrasie, ekonomiese vooruitgang en ‘n kans op versoening tussen die rasse in SA, finaal te verbrysel.
Dankie vir ‘n inspirerende artikel Daniel.
Die verskil in uitkomste onder die ANC het juis te make met wat ons glo en nie soseer met velkleur nie.
Dis ‘n probleem vir die ANC dat my kinders uitstyg (ongelykheid). En hulle styg uit nie omdat hulle die mees dinamiese kinders is nie maar oor dit wat hulle glo en vanselfsprekend aanvaar.
Soos dat ons vandag kan besluit wat ons moet doen om sekere doelwitte in die toekoms te bereik.
Hierteenoor die oortuiginging dat ons vandag moet besluit wat ons moet doen om dit wat in die verlede gebeur het reg te stel. Die verskil in benadering is sigbaar in die skreiende verskil in uitkoms.
Dit herinner ongelukkig aan Susan se kommentaar hieronder, alhoewel sy dit dalk nie so bedoel nie. Sy vra dat voor ons begin bou ons eers van ‘n nare houding moet afstand doen. Dit sou beteken dat ek is verlam is omdat ander dalk nie van hulle houding afstand doen nie.
Maar nee ek sal self verantwoordelikheid neem en bou ten spyte van ander se houding.
Sjoe! Hoe ingewikkeld kan mens nie raak as jy net jou bestaan wil definieèr veral nadat die ‘raskundiges’ met jou kop gesmokkel het nie. Wanneer rasse en kulture ontmoet spat die vonke. Punt. Om terug te kyk en dan oè ten hemele te rig om een groep te blameer vir jou eie tekortkominge en minderwaardigheidsgevoel weens die stryd om in ‘n ander vorm te wil transformeer, met die hand op die Bybel, is wèreldwyd die speletjie. Kul jou hier, flous jul daar. Wie loop tans voor?