Sonder ʼn erfenis verloor ʼn volk sy identiteit

Afrikaner

Argieffoto.

Wanneer ʼn mens na die temas op koerante se voorblaaie kyk, lyk dit of politiek en ekonomie die spil is waarom die wêreld draai. Mense vergeet daarom maklik hoe ʼn belangrike rol erfenis en identiteit speel.

Alle groot militêre konflikte van die twintigste eeu het wortels in kultuurkwessies gehad. Die betekenis van dié sake kan dus nie ontken word nie. By ʼn byeenkoms van die VN se Forum oor Minderheidsaangeleenthede in 2014 het ʼn kenner op die gebied van massa-gruweldade (mass attrocities), dr. György Tatár, beklemtoon dat die oorsprong van volksmoord dikwels in die kweek van minagting vir die geskiedenis en erfenis van ʼn bepaalde groep lê. Deur hulle erfenis te stigmatiseer of tot misdaad te verklaar, word ander gemeenskappe van dié groep vervreem. Daardie eienaardige verskynsel waaroor dr. Dirk Hermann onlangs vir Maroela Media geskryf het, naamlik oikofobie – die afkeer van die eie – vind dan ook plaas en invloedryke meningsvormers ontken hulle identiteit of distansieer hulle van hulle eie groep: ʼn soort selfmoord onder die waan van selfbehoud. Hoe verder die situasie vererger, hoe makliker raak dit om geweld teen die gemeenskap te probeer regverdig.

In Suid-Afrika is die skending van erfenis deesdae gereeld in die nuus. Erfenisbakens soos standbeelde en grafte word deur vandale en misdadigers, byvoorbeeld koperdiewe, geteiken.

Enkele voorvalle van polities gemotiveerde skendings het ook deur die jare hier voorgekom. ʼn Bekende voorval is ʼn saak wat in die hooggeregshof in Pretoria aangehoor is. ʼn Burgemeester van Standerton, me. Queen Radebe, het naamlik in 2007 ʼn Groot Trek-gedenkteken wat by dié dorp se stadsaal opgerig is, met ʼn slootgrawer laat verwyder en vernietig. ʼn Plaaslike DA-raadslid en AfriForum het haar persoonlik vir die skade aanspreeklik gehou en die hof het gelas dat sy die teken moes herstel.

Sedert 2015 se #Rhodesmustfall-veldtog, groei die voorbeelde van ideologies geïnspireerde vandalisme teen erfenis. Standbeelde word met verf toegetakel, aan die brand gesteek of geheel en al vernietig. Kampusprotes het ook al verwerplike gevolge gehad, soos die verbrand van skilderye in Februarie vanjaar by die Universiteit van Kaapstad (UK) en die afbrand van die regsbiblioteek by Howardkollege van die Universiteit van KwaZulu-Natal. ʼn Tragiese aanvullende gevolg van die UK-voorval is die universiteit se toepassing van selfsensuur nadat die skilderye verbrand is, met meer kunswerke wat verwyder is omdat dit die protesterende studente en dekoloniseerders sogenaamd sou aanstoot gee.

Erfenisskending is verder nie net beperk tot tasbare bakens nie. Herhaalde pogings om ten spyte van openbare sentiment die name van dorpe, stede, strate en nou selfs skole om ideologiese redes te verander, kom op dieselfde vandalisme neer as wanneer ʼn fisieke baken soos ʼn standbeeld vernietig word. Wetgewing bepaal duidelik dat name gewysig kan word om skeldname te verwyder en verwarring weens byvoorbeeld duplikasie te voorkom, maar wanneer die wetgewing misbruik word om te verander bloot om ʼn eie politieke stempel op die landskap te probeer afdruk, ontken dit die geskiedenis se spore en moedig dit ʼn kultuur van wedersydse disrespek en polarisasie aan.

Suid-Afrika het uitgebreide erfenisbewaringswetgewing, maar die toepassing daarvan is die probleem. By ideoloë ontbreek die wil om dit te doen, hulle aksies gee aanleiding tot die reeds genoemde aanvullende vergrype van selfsensuur en vir diegene wat wel ter beskerming van erfenis wil optree, is die regsprosesse dikwels so stadig en duur dat dit nie eens as ʼn opsie oorweeg kan word nie. Dit laat ʼn mens met die vraag wat gedoen kan word wanneer ons bewus raak van die bedreiging van ʼn erfenishulpbron.

Selfsorg vir erfenisse is een moontlike oplossing. In AfriForum Gemeenskapsake se maand van selfstandigheid, wat tans in volle gang is, sien ons hoe gemeenskappe byvoorbeeld in Heilbron, Vryburg, Standerton, Bethlehem en Vereeniging self inspring om bakens skoon te maak en te beveilig.

Die teenstaan van pogings om erfenis te stigmatiseer en kriminaliseer is ʼn tweede opsie. Om dié rede staan AfriForum byvoorbeeld die verskuiwing van monumente en standbeelde teen. Elke baken wat met erfenis verband hou, herinner aan gebeure van die verlede. Waar so ʼn baken aanvanklik dalk as teken van verering vir iets of iemand opgerig is, verloor dit mettertyd dié inhoud en word bloot ʼn teken van herinnering. Of die besoeker die gebeure wat daarmee verbind word goedkeur of nie, word irrelevant. Dit word ʼn merker van die breë verloop van die geskiedenis, oop vir interpretasie en herinterpretasie na willekeur. As sulks stimuleer dit debat en besinning oor die invloed van die verlede op die hede, en hoe ons optrede dan weer die toekoms kan raak. Dit is juis ook daarom dat selfsensuur, soos die verwydering van die kunswerke (waarna bo verwys word), veroordeel moet word. Openbare ruimtes, en veral dan ook universiteitskampusse, moet die vryheid van spraak en denke aanmoedig wat op hierdie wyse om erfenis kan plaasvind. Deur tekens te verwyder, word die verlede nie verander nie; ons hede, denke en begrip word bloot verskraal.

Suid-Afrika is nie uniek in die geworstel oor die plek en bewaring van erfenis nie.  Die onlangse saak van die internasionale strafhof in Den Haag teen Ahmad al-Faqi al-Mahdi, wat as lid van Al-Kaïda-verwante militêre groepe opdrag gegee het dat monumente in 2012 in Mali vernietig word, is ʼn interessante voorbeeld in die verband. Al-Mahdi is tot nege jaar gevangenisstraf vir sy dade van erfenisskending gevonnis. Tydens sy verhoor het die strafhof se aanklaer, me. Fatou Bensouda, hierdie belangrike standpunt in haar betoog gestel:

Today’s trial is indeed historic. And it is all the more historic in view of the destructive rage that marks our times, in which humanity’s common heritage is subject to repeated and planned ravages by individuals and groups whose goal is to eradicate any representation of a world that differs from theirs by eliminating the physical manifestations that are at the heart of communities. The differences and values of these communities are thus simply denied and annihilated.

Sy het verder bygevoeg dat die aanval op ’n gemeenskap se erfenis ʼn direkte aanval teen die identiteit, herinneringe en dus ook die toekoms van gemeenskappe is. Dit verarm en benadeel die universele waardes wat die internasionale gemeenskap verplig is om te beskerm. Sodoende word aanvalle op die kulturele erfenis van ’n groep ʼn oorlogswapen wat gebruik word om bewyse van die bestaan van die groep uit te wis. Ten slotte het sy genoem dat die beskerming van kulturele erfenis ’n noodsaaklike onderdeel van die post-konflik- sosiale rekonstruksie- en rekonsiliasieproses is.

Die laasgenoemde stelling is presies die teenoorgestelde van ideoloë in Suid-Afrika se betoog dat versoening alleen moontlik is as alle tekens van die vorige bestel, hetsy monumente, standbeelde, plek-, straat- of skoolname, uitgewis word of uit die openbare oog verdwyn.

Die uitspraak van die hof onderstreep die aanklaer se standpunte en hoewel Suid-Afrika tans ʼn proses voortdryf om aan deelname en erkenning van die internasionale strafhof te onttrek, kan die inhoud van die saak nie plaaslik geïgnoreer word nie.

Al is erfenis onlosmaaklik deel van ʼn groep se identiteit, is dit nie die eksklusiewe eiendom van daardie denkgroep, gemeenskap of selfs een spesifieke era nie. Die belang daarvan strek oor grense van idees en tyd. Die miskenning, skending of vernietiging van erfenis is ʼn misdaad teen die mensdom as geheel. Juis daarom moet ons alle moontlike metodes – van selfsorg en kennisverspreiding tot regspleging – inspan om erfenis te bewaar en die skenders daarvan aan die kaak te stel.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Alana Bailey

Meer oor die skrywer: Alana Bailey

Alana Bailey is lid van die Afrikaanse Taalraad en adjunk uitvoerende hoof van AfriForum (verantwoordelik vir internasionale skakeling, taal en kultuur).

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

13 Kommentare

JC ·

Dankie Alana; vir alles wat julle by Afriforum doen vir Afrikaners !!
Sonder julle sou ons sekerlik verlore gewees het!

antonie ·

maar ook geskiedenis van n dorp word vernietig. soos by welkom se eerste mynskag waar in baie ou tydse water pomp wat hulle pragtig geverf het,wat langs die ingang van ou st.helena 4 # was, seker al verwyder en le by n skrootwerf. In n kuierplek (bar) is n wiel wat met drankbottels toegerus is, dit lyk baie soos een van twee rooi ‘wiele’ van n baie groot brandblusser wat ek destyds 25 jaar gelede gesien het by welkom myn se ‘office building’ in die voorportaal. Ek weet dit was tegnies AAC se eiendom, maar erens kan iemand n museum met die interresante goed toerus. Die afgelope 55 jaar plus het baie mense (wit en swart) gewerk in nagenoeg 25 mynskagte en baie mense het gesterf met longsiektes en ongelukke net om die blink metaal uit die grond te kry.

Peet Schabort ·

Baie goed en interessant jou bydrae tot ‘n hoogs bedreigde onderwerp.
Daar moet egter aandag gegee word aan die daarstelling van ‘n museum. Ek en nog vele ander persone sit met artikels wat nou tuishoort in ons eie Afrikanermuseum. Daar is sovele mense wat aan my sê dat hulle nie weet waarheen met hul kosbaarhede.
Afriforum en/of Solidariteit sal dringend hieraan aandag moet skenk. Die Erfenisstigting is meer gerig op die bewaring van artikels maar nie die uitstalling daarvan soos met ‘n museum waar dit dan besigtig kan word.
Dink daaraan want die tyd loop uit vir baie van ons met museumstukke.

Otter ·

‘n Goeie artikel wat belangrik wys hoe onregverdig die veldtog teen die Afrikaner is, en hoe nadelig vir ons en ons kinders.

John ·

Erfenis moet elke dag aan gebou word; dit is ‘n aaneenlopende stroom van ‘doen’ van ‘n kultuur. Simboliese dae, feeste en kulturele aktiwiteite is belangrik. In SA is die belangrike dae in die geskiedenis deur die regering afgewater tot hulle feesdae en die Afrikaners aanvaar dit gelate. Beelde en museum gedenk die dooie nie die lewende nie. Afrikaners moet meer dinge saam doen. Die breinspoelprogram van die vyand van ons kultuur het by baie die idee ingebed dat samesyn met ander kulture die behoud van die eie bewerk. En so word ons beroof.

ada ·

Ons erfenis sal nooit verlore gaan nie. Dra dit net oor aan julle kinders.

Merkur ·

Kennisverspreiding oor die omvangryke geweld teenoor wit en Afrikaanssprekende mense en kultuur in Suid-Afrika is een van my belangrike aktiwiteite in Duitsland.
Die oorlogsverklaring aan wit mense en Afrikaanssprekendes neem ek aan.

Waarheid ·

Dankie MERKUR doen so voort. Die waarheid sal altyd seëvier en triomfeer sal met TROTS waarheid bly glo wat gestaaf kan word met BEWYSE.

Maria van Dieweeck ·

Ek dink ook ons moet meer byeenkom. Nie net vir kamma rocksterre se ‘shows’ nie. Plekke soos Midmar dam ens, vir nasie bou tye, geskiedkundige opvoerings en, en

adriana ·

My kinders was in die Voortrekkers en het ongelooflike kennis oor ons erfenis daardeur opgedoen Ek is baie dankbaar daaroor.Hulle sal dit weer aan hulle kinders oordra. Dankie aan almal wat voortveg vir ons erfenis. Geskiedenis oor onsTaal en bestaan kan nooit vernietig word nie.

Phillip du Randt ·

Baie dankie vir julle positiewe pogings om die afrikaner se saak te verbeter reg oor die wereld. Ek is net hartseer as ek kyk op sosiale media hoe afrikaners mede afrikaners afbreek en sleg se. Dit lyk vir my hulle is bang om te erken hulle is ook deel van hierdie volk. Ek voel hulle dink dat die regerende party hulle meer gesind sal wees as hulle,hulle eie afkraak en ontse. Gaan aan met julle goeie werk julle is kampioene.

Hendrik ·

Kleinfontein se museum is nou deur sy ontwerpstaduim en fondse moet nou gein word om die gebou te bou. Daar is natuurlik in die ontwerp gekyk na die humiditeit en temperatuurvlakke vir ordentlike bewaaring van artikels.

Gert ·

Dis wonderlik om te lees hoe ons mense saam begin praat oor die behoud en die toekoms van ons afrikaner kultuur. Dis my droom dat ons sal ophou om te kritiseer en die goeie einskappe in elke broer en suster raak te sien en dat ons saam as ‘n afrikaner gemeenskap ons talente tot beskiking sal stel tot die groei en vooruitgang van ons land en ons en ons kinders se lewens hier in Suid Afrika. Baie hande maak ligte werk :-)

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.