Sosiaal ontwerpte armoede

Deur Bernard Pieters

bedelaar-armoede

Argieffoto.

Suid-Afrikaanse werkloosheidskoers:

15- tot 24-jariges: 63,9%

25- tot 36-jariges: 40,3%

Nasionaal: 32,6%

ANC se onwetenskaplike benadering

Basiese onderrig in ʼn kind en jongmens se moedertaal is die universele sleutel tot sukses. Dit is ʼn standpunt wat ons by die Kaapse Forum steun, maar dit is nie ʼn ideologiese standpunt wat ons probeer verkondig nie. Dit is ʼn bewese feit wat internasionaal deur die Verenigde Nasies (VN) onderskryf word, ʼn standpunt wat weer steun op dekades se studies van reg oor die wêreld. Om hierdie feit te ignoreer, is so teenproduktief soos om gravitasie te ontken.

Die ANC se politieke retoriek wat die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys (die Bela-wetsontwerp) definieer is dus ʼn doodgebore beleid. Dit skree politiek, maar bied geen prakties uitvoerbare verligting, hoop of oplossings vir die gewone mens nie.

Die agteruitgang van die skoolstelsel in Suid-Afrika is ʼn kwessie wat jaarliks vererger en gaan gepaard met gedwonge verengelsing. Dit is weens die prakties onuitvoerbare voorstelle daarin wat onderwysers se administratiewe werkslading nog verder gaan vergroot en onderrigtyd, die kontak met die kinders, verder verminder. In 2019 het die Teaching and Learning International Survey (Talis) bevind dat Suid-Afrikaanse onderwysers gemiddeld slegs 66% van hulle tyd aan onderrig spandeer. As dit nog verder verminder, ter wille van administratiewe pligte, kan dit tog net tot nadeel van die leerders wees.

Mag word gesteel by die gewone mens en vir die staat gegee

Waar skole en hul skoolbeheerliggame (SBL) tans oor die finale besluitnemingsmagte oor die taal- en toelatingsbeleid van hulle skool beskik, sien ons nou dat hierdie vorm van direkte demokrasie beperk gaan word indien die Bela-konsepwet aanvaar word. Die vraag is waarom? Vertrou die ANC nie die land se burgers om oor hul eie kinders en gemeenskappe te besluit nie? Waar het die ANC se sentraliseringsbeleid al gewerk? Deur die besluitnemer weg te neem van die mense wat beïnvloed word, val aanspreeklikheid weg, wat strategies sin maak vir ʼn staat wat vinniger sink as Eskom.

Tans het die mense die mag om hul leiers en verteenwoordigers te kies op gemeenskapsvlak en om hulle verantwoordbaar te hou vir hul besluite. Besluite wat deur die gemeenskap self beheer word, die mense wat hulle eie omgewing met sy unieke uitdagings en geleenthede vir onderwys die beste verstaan. ʼn Gemeenskap sal geen aanspreeklikheid kan toepas op die provinsiale hoof van onderwys indien die persoon ʼn besluit oor hulle skool se onderrigtaal neem wat nie die gemeenskap se behoeftes dien nie. Al uitweg sal regsaksie wees, wat ʼn onbekostigbare opsie vir die weerlose skole in die land is.

Maar net soos ʼn Saterdagoggend TV-advertensie… wag daar’s meer

Uit die ongeveer 24 000 skole in Suid-Afrika, waarvan slegs 1 250 Afrikaans is en al groep is wat deur die taalbeleidsbesluit geaffekteer sal word, is die vraag hoekom 34 nuwe artikels nodig is om 5,2% van skole van hul huidige grondwetlike regte te ontneem? Hoekom is die magtige ANC nou so bang vir 1 250 skole? Kry hierdie skole dalk iets reg deur demokrasie en wetenskaplike feite as basis van hul model te gebruik? Kan hierdie model dalk voorgehou word aan die massas as voorbeeld van gemeenskapskrag teenoor die mislukking van die staat soos met die bou van Sol-Tech ʼn paar jaar terug?

Wat gaan/ wil die ANC dus onder meer bereik deur die implementering van die Bela-wetsontwerp?

  • Totale gesentraliseerde beheer oor jou skool se taalbeleid
  • Die steel van jou stem as dit kom by jou plaaslike skool se daaglikse bestuur
  • Die vernietiging van suksesvolle staatskole
    • Sosialisme (die Nasionale Demokratiese Rewolusie van die ANC) maak almal tog gelyk deur almal ewe arm te maak, nie ewe ryk soos in feëverhale nie

Suksesverhale laat die staat sleg lyk en dit moet ten alle koste voorkom word. Na menige nederlae deur die staat, en veral die vernederende bloedneus vir Panyaza Lesufi se verengelsing-pogings met die hofuitsprake ten gunste van Hoërskool Overvaal se Afrikaanse taalbeleid, is die wetsontwerp se doel om die beheer van die gemeenskap te beperk baie duidelik en om ideologiese speletjies met die skolestelsel te bemagtig.

Lesufi het reeds op 22 Junie gespog dat hierdie wet hom in staat sal stel om Afrikaanse skole finaal toe te maak. Die politieke agenda en uiteinde is dus reeds duidelik en reeds sigbaar vir die publiek. Die vraag is of die publiek hierdie vernietiging van die skoolstelsels sal toelaat?

Die Wes-Kaap, enigste provinsie waar die ANC nie regeer nie, is die provinsie met die meeste Afrikaanssprekendes en sal dus die hardste getref word deur die wetsontwerp.

Voorstel

Herbesin oor die wetsontwerp se uitkomste, kyk na voorbeelde wat oor tyd die wêreld gelei het tot sukses. Sukses in diverse kulture, tale en volke. Volg hierdie voorbeelde waar moedertaal en direkte demokrasie toegelaat is. Waar mense op grondvlak toegerus was om hul eie probleme op te los. Laat vaar hierdie drakoniese politieke dokument en fokus op die verbetering van die stelsel ten bate van elke Suid-Afrikaner, en nie net die politieke elite nie.

  • Bernard Pieters is verbonde aan AfriForum en die Kaapse Forum.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

annie ·

Die ANC glo in sy hart, soos ander Afrikalande dat die Wêreld soos altyd, skielik hul te hulp sal snel; ons die Natuurkinders wat nooit verkeerd of sleg kan wees nie: Naturally good. Volgens die Bybel is almal van nature boos tensy ons tot inkeer kom. Engeland was ‘n voorbok met die teorie dat Afrika gebore Engelse engele is. Natuurlik is die teorie slinks aangegryp. Afrika was aan en aan, gryp en splash, wagtend op beter dae. ‘n Groot skok wag vir die baie koninkies op hul mankolieke troontjies.

Groen Ghoen ·

Wat absoluut fassinerend is, is dat die mense wie se regte vertrap word daarvoor gestem het, dit befonds deur getrou hul belasting te bly betaal, en meestal gelate net aanvaar. Slegs ‘n baie klein minderheid by name Afriforum bied weerstand. Alles presies net soos president paddakoker voorspel het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.