Sowat van ʼn onbeholpenheid het ek nog net voorheen by die Lions gesien…

Die groot verrassings van die naweek het toe die SA-spanne in die Super 15 reeks bevoordeel. Wie sou kon dink dat die Crusaders en die Chiefs so gemaklik teen hulle Australiese teenstanders sou verloor?

Die Reds begin blykbaar hulle vorm van verlede jaar herwin en maak nou ʼn verbete terugvegpoging om te kyk of hulle verlede jaar se prestasie kan herhaal. Daar lê nog ʼn lang paadjie voor, maar hulle kan beslis nie buite rekening gelaat word nie. Enige span wat nog teen hulle moet speel, sal weet dat hulle in ʼn wedstryd om oorlewing was.

Die Crusaders het die Rebels totaal onderskat en die Rebels het eerste punte aangeteken. Daarna het die Crusaders getoon hoekom hulle onder van die grootstes in die kompetisie is, deur halftyd met 19 -10 voor te loop. Ná halftyd het die Rebels, met Curtley Beale aan die voorpunt, die bordjies verhang en uiteindelik met 28 -19 gewen.

Dit was geen plesier om Vrydagoggend na die twee SA-spanne op hul oorsese toer te kyk nie. Eers het die Lions, getrou aan die tradisie, met gemak teen die Blues in Auckland verloor. Die flou verskonings van spanbou kan nou maar gebêre word, want dit hou nou geen water nie. Sowat van ʼn onbeholpenheid het ek nog net voorheen by die Lions gesien. Geen ander span kon nog die peil bereik nie. Daar was nie sprake van strategiese denkwyse op die veld nie en die hantering en dom foute spreek boekdele.

In die professionele era is dit belangrik om te onthou dat jy net so goed is soos jou laaste wedstryd. So die wen van die Curriebeker is lankal vergete en ek dink die ondersteuners is in sak en as. Soos een van hulle op Facebook gesê het: “Los my alleen in my hoekie vir eensames”. Gelukkig behoort dié ondersteuner volgende jaar ʼn spanningsvrye Super 15 te beleef, want die Lions gaan nie daar wees nie. Die probleem wat nou kan ontstaan is dat die beter spelers groener weivelde kan begin soek soos nou die geval is met Doppies la Grange.

Wat die Bulls betref moet ʼn mens die befaamde gesegde van wyle oom Boy Louw in gedagte hou: “Look at the scoreboard”. Ek dink die Bulls het daaraan gedink toe die eindfluitjie blaas, want daar is omtrent niks anders om oor die wedstryd te sê nie. Dit spreek boekdele dat die Bulls wel met die middelmatige spel die wedstryd teen die Warathas kon wen. Hulle sal egter hulle spel dramaties moet verbeter as hulle nog punte op hul oorsese toer tot die logpunte wil byvoeg.

Beide spanne het die ander met die pak voorspelers probeer oorrompel en albei het gemengde welslae behaal. Die Bulls sal sekerlik nie met hulle spelpeil tevrede wees nie, maar ʼn wen op toer is ʼn wen, en dit plaas hulle, vir Vrydag altans, bo-aan die punteleer.

Met die gunste van die Reds bly die Bulls nou vir die eerste keer dié jaar die algehele voorloper op die Super 15 punteleer.

Die Sharks het vir die eerste keer die jaar die rugby gespeel wat almal weet hulle kán speel. Dit is ook die tweede agtereenvolgende oorwinning in vanjaar se reeks. Die voorspelers het die grondslag gelê en vir die eerste keer het ek die Sharks agterlyn, met Lambie die generaal, gewys waartoe hulle in staat is. Hulle het ook vir die eerste keer die jaar onder die eerste ses op die kompetisie ingeskuif.

Wat die straatgeveg in die Kaap betref, was dit ʼn wedstryd van twee helftes vir beide die Stormers en die Cheetahs. Waar die Stormers in die eerste helfte puik spel gelewer het, was hulle in die tweede helfte net op die verdediging ingestel en was hulle die hele tyd op die agtervoet. Die Cheetahs daarenteen het in die eerste helfte swak gespeel maar in die tweede helfte met skitterende spel vorendag gekom en byna daarin geslaag om die Stormers te klop. Gelukkig vir die Stormers het hulle verdediging gehou maar daar was beslis benoude oomblikke vir die stil skare. Die Stormers sal moet leer dat ʼn goeie skopper en rotsvaste verdediging nie genoeg is om die kompetisie te wen nie. Hulle sal hulle aanvallende spel in veral die agterlyn, dramaties moet verbeter.

Rugbygroete tot volgende week

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Polla Roux

Polla Roux is 'n oud-Westransvaler. Na draaie in die onderwys en korporatiewe wêreld, het hy vroeër vanjaar as Organisasiesekretaris by Solidariteit uitgetree.Hy het net meer as honderd Carlton-wedstryde agter die blad (1966-1976), het vir Noord-Transvaal gespeel en is na Springbokproewe genooi, maar sy loopbaan is deur 'n skouerbesering kortgeknip. Hy het gereeld as eerste liga-skeidsregter opgetree en was vanaf 1995 tot 1998 senior bestuurder by die Noordtransvaalse Rugby-unie en betrokke by die skep van die Bloubul-lied saam met Steve Hofmeyr.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.