Soweto-opstand: Laaste spyker in apartheid se doodskis

Een van die bekendste foto’s uit die Soweto-opstande. Hector Pieterson (12) word deur Mbuyisa Makhubo gedra ná die Suid-Afrikaanse Polisie hom geskiet het. Sy sussie, Antoinette Sithole, hardloop langs hulle. Hector is met sy aankoms by ʼn plaaslike kliniek dood verklaar. Foto: Sam Nzima - Dzambukira, Proud (5 November, 2006). "Remember, Remember the Fifth of November". Harvard Computer Society., Fair use

Een van die bekendste foto’s uit die Soweto-opstande. Hector Pieterson (12) word deur Mbuyisa Makhubo gedra ná die Suid-Afrikaanse Polisie hom geskiet het. Sy sussie, Antoinette Sithole, hardloop langs hulle. Hector is met sy aankoms by ʼn plaaslike kliniek dood verklaar. Foto: Sam Nzima – Dzambukira, Proud (5 November, 2006). “Remember, Remember the Fifth of November”. Harvard Computer Society., Fair use

Vandeesweek word die tragiese gebeure van 16 Junie 1976 herdenk, toe Soweto ’n spontane uitbarsting van frustrasie en woede beleef het. Albei kante – sowel die opstandelinge as die polisie – het hulle op daardie dag en die maande daarna aan buitensporige geweld skuldig gemaak, iets waarvan die gevolge tot vandag toe met ons land is.

Die vonk in die kruitvat was die feit dat dr. Andries Treurnicht, toe adjunkminister, swart skole wou dwing om sekere vakke deur middel van Afrikaans te doseer. Maar die kruitvat, bestaande uit jare lange griewe, diskriminasie, vernedering en armoede, het al lankal bestaan en het net vir ’n vonk gesoek om te ontplof.

In elk geval het die vonk in die jare hierna grotendeels irrelevant geword. Geweld – aan albei kante – het amper die norm geword. Dit het Suid-Afrika se eietydse geskiedenis deurslaggewend beïnvloed.

Die opstand van 1976 het die ANC met sy broek op sy knieë gevang, want die opstand was eerder geïnspireer deur die fel nasionalistiese swartbewussynsideologie (wat eerder ooreenkomste met die radikaliserende Afrikanernasionalisme van die jare dertig en veertig vertoon) as met die moeë halfgebakte Marxisme van die ANC.

Maar die stroom militante jonges wat oor die grense na ons buurstate gestroom het, is begroet deur die enigste beweging wat enigsins ’n struktuur en organisasie gehad het, die ANC. En dié het vinnig in die gaping gespring om die jonges vir hóm te wen.

In die laat jare sewentig het die ANC dus, deels om die jonges te wys dat hy iets beteken, met ’n reeks gewelddadige aanslae in Suid-Afrika begin. Daar was aanvalle op Secunda, Sasolburg, die Booysen-polisiekantoor, Voortrekkerhoogte, ensovoorts.

In die SAW-hoofkwartiere het in daardie tyd juis ’n nuwe benadering veld gewen. Waarom wag tot die vyand – Swapo in Angola en die ANC in Mosambiek – die grens oorsteek en hier kom moeilikheid maak? Gaan pak hulle in hul basisse, ontwrig hul planne en skiet hulle voordat hulle hierheen kom!

In Angola het dit vanaf 1978 tot verskeie grootskaalse SAW-operasies gelei, en in Januarie 1981 is geoordeel dat die tyd ryp was om ook die ANC in Mosambiek te pak. Dit het gelei tot ’n aanval op ’n aantal ANC-huise in die woonbuurt Matola in Maputo, waarin 12 mense gesterf het.

Oliver Tambo, ANC-leier, was woedend. Op die 12 se begrafnis het hy wraak gesweer en gesê “we will engage the enemy at the level which the enemy himself has prescribed”.

Tot in dié stadium het die ANC sy bes gedoen om geen onskuldige bloed te vergiet nie. Maar selfs edele voornemens is selde bestand teen die haas onkeerbare momentum waarteen geweld dikwels eskaleer.

Dit was ook in dié geval so. ’n Eerste waarskuwing van waartoe die stryd sou degenereer, is gegee op 20 Mei 1983, toe 19 mense dood en oor die 200 beseer is in ’n bomontploffing in spitstyd in Kerkstraat in Pretoria se middestad.

Twee jaar later het die ANC ’n “raadplegende konferensie” in Kabwe, Zambië, gehou, waar nog verder gegaan is. Daar is besluit dat die vrees vir burgerlike ongevalle nie meer ’n hindernis in die ANC se gewapende stryd mag wees nie.

In die jare hierna het dit bloedig geblyk. Bomme het in Wimpy Bars, kroeë, winkelsentrums, sportstadions, ensovoorts ontplof. Landmyne is op plaaspaaie geplaas, wat veel meer swart plaaswerkers as wit boere gedood en vermink het.

Die waarheid is dat die ANC in sy metodes niks verskil het van die huidige Moslem-terreurbewegings soos Al-Kaïda, Islamitiese Staat, Boko Haram of Al-Shabaab nie. Die motiewe en onderliggende ideologie was anders; die metodes was dieselfde.

Terselfdertyd het die staat met buitensporige geweld geantwoord.

Die hedendaagse teorie oor onlustebestryding, gebaseer op jare lange, wêreldwye ervaring, is dat die polisiebeamptes wat daarby betrokke is, voldoende toegerus en opgelei moet wees, en dat hul doel moet wees om die rus met so min geweld moontlik te herstel. Die polisie bestaan ook maar net uit feilbare mense, en hul begryplike reaksie is om die blikskottels wat soveel nonsens aanjaag lekker te d****r.

Dis wat in 1976 en dikwels tot 1994 gebeur het. Die polisie was swak met beskermende kleding – skilde, helms, ensovoorts – toegerus, en die opleiding hopeloos onvoldoende.

Die gebruik van maksimum pleks van minimum geweld teen onluste (tensy dit regtig nie anders kán nie), so wys die praktyk, wakker net méér geweld aan. En só eskaleer sake en slaag die polisie en die owerheid nie in hul strategiese doel, naamlik om die orde te herstel, nie.

Natuurlik kan die staatsgeweld só kwaai wees dat dit die opstandelinge laat tou opgooi. Maar op die duur veroorsaak dit ’n etterende sweer wat vroeër of later weer met groot geweld oopbars.

Helaas is die enigste les wat ’n mens uit die geskiedenis kan leer dat die mensdom blykbaar nie in staat is om lesse uit die geskiedenis te leer nie. As jy kyk na die wyse waarop die polisie in ons land dikwels tans teen gewelddadige betogings optree, is geen ander gevolgtrekking moontlik nie.

Enige regdenkende mens sal groot simpatie hê met die polisiebeamptes wat met ’n gewelddadige betoging gekonfronteer word. Dis menslik om ’n mengsel van vrees, woede en wraakgevoelens te ervaar – en daarvolgens te handel.

Dis wat by Marikana gebeur het. Die skuld is nie primêr die manne op die grond aan albei kante s’n nie; dit lê by diegene hoër op wat die taktiese besluite geneem en nagelaat het om die polisie behoorlik toe te rus en op te lei.

In ieder geval, die gebeure van Junie 1976 was in verskeie opsigte deurslaggewend. Apartheid was – agterna gesien – reeds ’n mislukte beleid; die stroom swartes na die “wit” gebiede kon nie gekeer word nie, die ekonomie het hulle ingesuig, en die tuislande was (ondanks edele aanvanklike bedoelings) in die praktyk ’n morele sousie oor naakte wit baasskap.

Junie 1976 was die laaste spyker in apartheid se doodskis. Selfs die strafste beleid kan voortbestaan as ’n voos bevolking dit passief aanvaar, maar die gebeure van laat 1989 in Oos-Europa het gewys dat selfs die kommunistiese diktature nie teen massale volksopstande kon standhou nie.

Wat vanaf 1976 gebeur het, is dat die swartes hul passiewe aanvaarding van apartheid teruggetrek het. Hulle het apartheid prakties geveto.

En daarmee was die oorgang van 1994 onafwendbaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Theuns ·

Leopold. ek stem saam met jou en ek sien jou kommentaar is gebaseer op die verlede. Ek verstaan ook hoekom. Maar hier is die paradoks! ‘n swart regering is aan bewind wat “hell bend” is om teen die minderheid, witmense veral, te diskrimineer en ek will amper ‘n parallel trek met ‘n NASA Artikel oor ‘n vraatsugtige (Glutinous) Ster wat in tagtig jaar alles om hom verslind het en in die proses oorverhit het en nou weer besig is om aftekoel. Waneer gaan ons die nodige afkoeling kry sodat ons net weer normaal elke dag kan lewe en met ons lewe aangaan. Ons kan beslis nie 80 jaar vat om normaliteit te kry nie? Apartheid was sowat 48 jaar. Die nuwe bedeling is al 22 jaar aan die gang? Wil die ANC ook 48 jaar neem om hulle doelstellings te verwesenlik? Leopold kan ek jou mening oor bogenoemde skrywe kry! Baie Dankie.

Leopold Scholtz ·

Beste Theuns, die enigste moontlike reaksie van my kant op jou skrywe moet wees Ja en Amen. Ek stem 100% saam. Die ANC is ‘n ramp vir die land. Ons kon nie op die ou pad voortgegaan het nie, en teen 1990-’94 was die destydse regering se beweegruimte deur die magsverskuiwing op die grond beperk. Maar sedertdien het die ANC net van kwaad na erger gegaan.

Johannes Froneman ·

Uitstekende artikel. Maar opskrif is oordrewe en klop nie met teks nie.

Hendrik ·

Ja nee dit is deel van die geskiedenis en niemand probeer dit wegsteek nie. Nou is ons 22 jaar later na 1994 met nuwe uitdagings. DIt is duidelik dat die ekonomiese momentum van die apartheidsjare nou tot niet is. Dit is nou nodig om beperkende wetgewing, teenoor minderhede, af te skaf om die ekonomie te red sodat almal in die land kan baat vind. Ek praat nou van ekonomies beperkinge soos BEE, AA, kwotas ens. Indien nie sal die minderhede hul passiewe aanvaarding van die huidige bedeling moet terugtrek en die nuwe bedeling veto deur nie meer aan die huidige demokrasie deel te neem nie.

TTh ·

Elke jaar word die patetiese verhaal aangepas, Sharpville se insident het ‘n ander oorsaak gehad wat dit tot ‘n mate geregverdig het dat die polisie moes optree. Die ANC het SA op n goue skinkbord van 21 ton goud gekry danksy die onwettige regering van FW en sy rampokkers. Die ANC het niks verdien nie, die NP ook nie. Oorlede Dr Verwoerd het n fantastiese plan gehad wat hy nooit kon implementeer nie agv sy moord. Die ANC sou dan verval het en dinge sou anders in SA gewees het vir alle etniese groepe dink ek. Wat maak dit vandag saak – niks, vir my is jeugdag eintlik ‘jong terroriste dag’.

TTh ·

Apartheid is sterker as ooit en baie lewendig, ‘n enorme reus geword sou ek dink. Geen doodskis daar gewees nie. Alles net skyn. Ons maak maar nog stees of dit nie daar is nie…

vierkleur ·

Nou is die blanke mensdom op daai punt in die land ,waar ons redelik moeg is vir die ANC waarop hulle ons hanteer en diskrimeneer.

So moet ons ook nou bomme en landmyne begin plant om n punt te bewys?
Ons weermag het terroriste gaan aanval, maar die ANC het nie geskroom om onskuldige mense op te blaas nie

christine ·

O ja more sal hulle vir Hecter Pieterson weer tor vervelings toe heen en weer in ons sitkamer rondsleep om die rassehaat aan te blaas voor die verkiesing, wens net ons te weet wat sal gebeur as ons so aangaan hoeveel van ons sal geskiet word? Ook 38? Hulle hou nie van Julle en Hulle stories nie maar hoekom betaal ek as n witte R135 vir n nuwe ID boekie en n swarte betaal R38 vir sy Nuwe ID diskrimenasie uitbeiting?

Wicus ·

Dankie Leopold. Die lewe het my geleer jy verneder geen mens en dwing niks af nie, dit haal jou wel in, en dit is wat nou gebeur.

1976 was inderdaad ‘n spyker in die doodskis maar nie die enigste nie. Tuislande kon ‘n werkbare oplossing gebied het, die burgery het daarvoor gestem maar homself gerysmier deur goedkoop arbeid te gebruik. Jy kan nie ‘n man se arbeid gebruik en dan nie verwag hy gaan jou later insluk veral as hy nog in die meerderheid is nie.

Ek is bevrees, dit gaan nog lank baie slegter gaan voor dit beter sal gaan, tensy daar in eie geledere baie hard met nugtere denke en leierskap gewerk word. Ons kom tans tweede want ons verstaan nie die psige van die huidige massa nie, en ja, die toestand raak meer plofbaar!

Kaspaas ·

Baie interresante artikel net iets wat ek op gelet het in die en baie soort gelyke artikels en dit is glad nie kritiek nie net n waarneming. Ek dink nie die betrokkenheid van die Weermag in binnelandse Stabiliteit en onluste beheer van middel 80’s tot laat 90’s word die erkenning gegee wat ek glo dit verdien nie. Dalk is die rede die konteks van die storie maar met geen tot bitter min opleiding vir stedelikke oorlogvoering of onluste beheer is van hulle verwag om Stabiliteit te handhaaf in townships met n paar polisie manne van die binnelandse stabiliteits eenheid.

Liz ·

Om ons liewe land te red moet die Arbeidswetgewing drasties verander word. As dit in plek was dan hrt ons nie ekonomies gesit waar ons sit nie. Dan het ons nie ‘n Marikana gehad nie. Mense word toegelaat om soos stout kinders aan tehou om ‘n tantrum te gooi totdat hulle, hulle sn kry. En hulle gaan elke keer verder en verder en gevolglik kry ons ‘n Marikana. Nou word die Polisie uitgemaak as die varke maar wat moes hulle gedoen het? Net as jy self al voor ‘n massa gestaan het wat op jou afstorm mag jy ‘n opinie gee. En hou net ingedagte jy het nie tyd om gou alle opsies te oorweeg. Ons Polisie van vandag is korup, onopgelei en onervare. Hulle het nie ‘n idee wat behels skarebeheer. Die ou Polisie word so sleg gemaak maar dis tyd dat almal in die land oor apartheid kom en saamwerk in belang vd land. Kry vd vorige pilare terug en gebruik hulle kennis en ervaring om ons land weer op die been te kry want hierdie BEE mentaliteit het reeds ons ekonomie gebreek! So what wat jou kleur is, kan jy die werk behoorlik doen. Al ons primêre strukture is in die moeilikheid van medies tot Polisie tot Opvoeding. As daar nie dringend ingegryp word in Arbeiswetgewing om beleggings te lok gaan ons rommelstatus kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.