Spanje: draai die politieke gety?

Die PP met hul plaaslike leier Isabel Díaz Ayuso kon hul steun verdubbel in die streekverkiesing in Madrid, Spanje. (Foto: En.wikipedia.org)

Daar was onlangs ’n streekverkiesing in die Spaanse hoofstad Madrid, wat ’n belangrike aanduiding vir die politieke stemming in die land is. Die uitslag was ’n triomf vir die konserwatiewe Volksparty (PP, Partido Popular) en ’n neerlaag vir linkse en liberale partye, by name vir die Sosialiste. Madrid word wel al lankal deur die PP in koalisie met die liberale Ciudadanos (die Burgers) regeer, maar die PP met hul plaaslike leier Isabel Díaz Ayuso kon hul steun verdubbel – van 22% en 33 setels na 45% en 65 setels. Ciudadanos, voorheen 19% en 22 setels, het heeltemal uitgeval. Die party is al geruime tyd op die afdraande pad, baie van hul ondersteuners het oorbeweeg na die PP toe. Die regse Vox (die Stem) het 9% en 13 setels, effens meer as met die laaste verkiesing. Vox het reeds aangekondig dat dit die PP sal steun sonder ’n formele koalisie, en Ayuso het dit verwelkom.

Ayuso kon die mense begeester met die slagspreuk “Vryheid pleks van sosialisme”, waarby vryheid hier konkreet die teruggawe van die gewone burgerregte wat voor die koronapandemie gegeld het, bedoel, en sosialisme die voorskriftelikheid en oorregulasies van die owerheid. Dat in tye waar die geloof in die sterk, regulerende staat onstuitbaar lyk, iemand in ’n belangrike Europese land met juis die teenprogram so ver kan wen, gee hoop. Konkreet het dit in Madrid beteken dat restaurante en kroeë, belangrike deel van Spanje se nasionale kultuur, oop is, ten spyte van die nasionale regulasies wat dit verbied.

Die Sosialiste (onder die Spaanse akroniem PSOE, of ook as Partido Socialista Obrero Espanol, bekend) het swak gevaar en geval van 27% na 17%, oftewel van 37 na 24 setels. Die twee ander linkse partye, die radikaal-linkse Podemos (Ons kan), wat op nasionale vlak met die Sosialiste regeer, en die streekparty Mas Madrid (MM) kon net min baat by die agteruitgang van die PSOE en staan op 7% en 10 setels (Podemos) en 17% en 24 setels (MM).

Podemos se geringe steun is veral ’n teleurstelling vir die nasionale leier Pablo Iglesias, wat as vise-eerste minister bedank het om sy volle gewig in die verkiesingstryd in Madrid, sy tuiste, in te gooi. Hy was reeds weens verskeie foute en uitsprake onder druk, maar het gereken dat sy bekendheid en sy nasionale profiel hom en sy party in die belangrike streekverkiesing in Madrid weer nuwe lewe gee. Die hoop het beskaam en Iglesias se komeetagtige politieke loopbaan, van een van die voorbokke van radikale studenteproteste en stigter van Podemos tot vise-eerste minister, is eers op ’n einde: hy het nog op die aand van die verkiesing sy bedanking as partyleier aangekondig. Die swak vertoning van die twee nasionale regeringspartye kan selfs tot ’n breuk lei, omdat Podemos dalk mag voel dat hulle met radikale opposisie beter vaar as om deel van die regering te wees.

Tans regeer die PSOE met sy leier Pedro Sanchez in ’n wankelrige koalisie met Podemos en verskeie streekpartye. Sanchez, aantreklik, taamlik jonk en welsprekend, was tot onlangs toe een van die sterre van die Europese hoofstroom linkses nadat hy die agteruitgang van PSOE gestop en omgedraai het met die laaste verkiesing. Sy regering het egter glans verloor en in Spanje is daar ook toenemende ongelukkigheid met die streng koronabeleid. Dit is juis in Madrid, eens die episentrum van die pandemie, waar Ayuso en die PP punte kon aanteken met ’n ontspanne koronabeleid. Die bevolking begin al hoe ongeduldiger raak met die regering wat geen plan het om die ekonomie weer aan die gang te kry nie en wat (die allerbelangrikste) toerisme juis nou aan die begin van die somervakansie net halfhartig toelaat.

Die PP het weens ’n korrupsieskandaal etlike jare gelede veel steun verloor, maar het dit nou agter hulle gesit en begin weer opgang maak. Die liberale Ciudadanos, deel van die sentrum-regse blok, is op die afdraande pad terwyl Vox, ná merkwaardige opgang die laaste paar jare, moontlik sy plafon bereik het.

In Spanje was daar tradisioneel ’n tweepartystelsel, met die Sosialiste links en die PP regs van die middel. In die laaste jare, soos wat al hoe meer partye hul verskyning gemaak het, is dit egter afgelos deur ’n stelsel van 2 blokke wat onversoenbaar teenoor mekaar staan. Dit verskil van byvoorbeeld Duitsland, waar daar net nog skakerings binne ’n sentrum-linkse blok bestaan waarbinne enige koalisies moontlik is, en die enigste regse party, die AfD, totaal en al geïsoleer is.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Vrijburger

You go girl!

Dries

Die wereld word stadig maar seker wakker. Sosialisme raak n onding

Therese

Interessante verwikkelinge in Spanje, en uitstekende nuus vir enige regdenkende mens.
Groot respek vir sakemense, soos dié in Madrid, wat ruggraat toon wanneer regerings op outokratiese wyse die gasvryheidsbedryf ‘n reusagtige knou gee wat binne dekades nie gaan herstel nie.
Sulke gesonde-verstand-denke is dun gesaai tydens die voortslepende Covid19 konsert.

Heinrich

Kan maar net wens dat SA se stemfodder ook eendag sal agterkom vryheid is stukke beter as sosialisme, maar die kultuur van agteroor sit en toelae ontvang gaan ons nie gou van ontslae raak nie. Vryheid sluit ook in die vryheid om te werk. Om te werk beteken om dit so goed te wil doen dat mense wil terug kom vir nog. Maar die wil bestaan maar baie nie…

Stephan

Maak nou nie saak WIE die leier van ‘n politieke party is nie, die wêreld-tendens is duidelik aan die terugkeer na die behoudende, met ander woorde na die konserwatiewe kant. In die afgelope paar jaar het Europa hierdie tendens ervaar, veral in die Germaanse lande. Dan is dit ook merkbaar in die oud-Slawiese lande waar hierdie tendens opgemerk word.

Dit is verblydend dat selfs die Hispaniese lande nou die tendens begin ervaar (Die laastes wat verstand gaan kry is Italië en Frankryk). Bravo Spanje!

My volk, keer terug na jou wortels, jou beginsels – dis jou behoud.