Spanje: Katalaanse referendum in die wiele gery

katalonië-flickr

Op 1 Oktober sal die Katalane in die noordooste van Spanje ook stem of hulle onafhanklik wil wees. Foto: SBA73/Flickr.com

Die Katalaanse regering beplan om op 1 Oktober ʼn referendum oor onafhanklikheid te hou.

In die geval van Groot-Brittanje en die referendum oor Skotse onafhanklikheid drie jaar gelede, het dit die steun van die Britse regering geniet. In teenstelling daarmee maak die Spaanse grondwet geen voorsiening vir afskeiding nie en het die grondwetlike hof die referendum verbied. Die streeksregering van Katalonië het egter nog steeds voortgegaan met die voorbereidings.

Nou het die sentrale regering, oftewel die regsgesag, opgetree: Katalaanse amptenare wat die referendum help reël, is in hegtenis geneem en departemente van die streeksregering is beset deur die Guardia Civil, die militêre polisie. Ook die minister van ekonomiese sake van Katalonië, Jose Maria Jové, en ander ministers is in hegtenis geneem. Miljoene stembriewe en pro-onafhanklikheid-pamflette is gekonfiskeer en webwerwe geblok. Amptenare wat voortgaan met die reëlings is ook deur die hof beboet vir elke dag wat hulle aanhou om die referendum te reël. Woedende skares het rondom die staatsdepartemente saamgedrom en die polisie uitgejou en die regering van Katalonië het belowe dat hulle met die referendum sal voortgaan. Dit gaan nou egter prakties moeilik wees.

Die Katalaanse streeksregering en sy president, Carles Puigdemont, het die Spaanse regering daarvan beskuldig dat hulle Katalonië se outonomie feitlik opgehef het, asook van ʼn de facto-instelling van ʼn noodtoestand. Die Spaanse departement van finansies het inderdaad die verantwoordelikhede van die Katalaanse een oorgeneem. Finansies is altyd die hoeksteen van enige regering en enige land se selfstandigheid.

Daar was al in 2014 ʼn nie-amptelike referendum oor onafhanklikheid, maar dit was nie bindend nie en die Spaanse regering het dit net verbaal veroordeel. In daardie stadium was daar nog ʼn meer gematigde regering aan bewind wat net die bevoegdhede van die Katalaanse regering wou uitbou. Sedert 2016 regeer daar egter ʼn links-nasionalistiese koalisieregering in Katalonië, wat binne 48 uur ná ʼn suksesvolle referendum onafhanklikheid wil verklaar.

Anders as die onafhanklikheidsbeweging in Baskeland, wat met terrorisme en ontvoerings gepaard gegaan het, is die Katalaanse onafhanklikheidsbeweging sover vreedsaam, wat dit meer aanvaarbaar maak en hulle meer internasionale simpatie besorg. Dit kan egter wees dat daar in reaksie op die Spaanse optrede nou ʼn militante beweging ontstaan wat nie meer skrik vir sabotasie en geweld nie. Sowel in Baskeland asook in Katalonië is die stryd vir onafhanklikheid tradisioneel ʼn strewe van linkse groeperings en partye, alhoewel burgerlike partye in die laaste tyd ook meer ten gunste van onafhanklikheid is.

Die optrede van die staatsgesag het die potensiaal om die Katalane nog meer vasbeslote te maak om voort te gaan, en kan diegene wat tot dusver teen onafhanklikheid was, oortuig om uit solidariteit nou daarvoor te wees. Aan die ander kant kan die Spaanse Hooggeregshof nie ʼn bindende uitspraak maak en dit dan nie afdwing nie. Die Spaanse regering is onder druk van die meerderheid Spanjaarde wat geen opbreek van hulle land wil hê nie. Wat nou kort is ʼn onafhanklike bemiddelaar, maar wie sou dit wees? Die Europese Unie was al in die geval van Skotland krities teenoor afskeiding en verdedig ten eerste die status quo. Al is die Katalane omtrent almal pro-EU (nes die Spanjaarde), is die EU juis teen enige nasionalistiese sentiment gekant wat noodwendig met die stigting van ʼn nuwe staat gepaard gaan.

Katalonië het sowat 7.5 miljoen inwoners en is die mees welvarende deel van Spanje. Die onafhanklikheidstrewe gaan tradisioneel oor taal, kultuur en identiteit, maar deesdae ook al hoe meer oor die ekonomie. Katalonië is outonoom en daar is geen beperking op die Katalaanse taal binne Katalonië nie, maar die Katalane voel dat hulle as hardwerkende en meer ontwikkelde volk die arm en agterlike dele van die Spaanse Suide moet onderhou.

In die nie-bindende referendum van November 2014 het sowat 80% vir onafhanklikheid gestem. Die stempersentasie was egter te laag om gesaghebbend te wees en teenstanders van onafhanklikheid het nie die moeite gedoen om te stem nie. Die beoogde referendum van 1 Oktober is deur die streeksregering gereël en is van ʼn baie meer amptelike en gesaghebbende aard. Juis daarom kon die Spaanse regering dit nie ignoreer nie.

Onlangse peilings wys dat dit nog steeds net ʼn minderheid (alhoewel meer as 40%) is wat vir onafhanklikheid is, maar die laaste tyd se gebeure kan die skaal verder na hierdie pro-onafhanklikheidskamp laat swaai. Voorstanders sowel as teenstanders van onafhanklikheid in Katalonië is dit wel eens dat hulle oor die kwessie wil stem. Geen volk hou daarvan om deur ʼn ander een voorgeskryf te word nie. Die referendum gaan heel moontlik soos in Skotland verloop, waar ʼn klein meerderheid besluit om nie die kans op vryheid aan te gryp nie, omdat die uitdagings te groot is.

Die huidige konflik roep by talle Katalane herinneringe aan die verlede op, toe die Spaanse diktator Franco (hy was van 1939 tot 1975 aan bewind) die Katalaanse taal en identiteit onderdruk het, en die Guardia Civil getroue uitvoerders van Franco se beleid was.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk as navorser, argivaris en toergids vir die Orania Beweging in Orania, is ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling en skryf is veral politiek, geskiedenis, reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Therese van Schalkwyk ·

Baie interessant!
Verstaan nou uiteindelik waarom die Spaanse regering so daarteen skop … Katalonië onderhou die arm Spaanse suide. Kon nog nooit behoorlik agter die kap van die byl kom nie.
Daar is dus géén hoop vir patriotiese Kataloniërs nie.
Hierdie verskynsel, waar ‘n relatief klein groep mense hard werk om vir die massas te sorg gebeur wêreldwyd en kring uit, eerder as wat dit verminder.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.