Spanje: Verkiesing in Katalonië los niks op nie

Foto: AP Photo/Emilio Morenatti

Na die ontbinding van die Katalaanse regering in November vanjaar deur die Spaanse regering, nadat eersgenoemde eensydige onafhanklikheid verklaar het, is ʼn nuwe verkiesing uitgeroep wat op 21 Desember plaasgevind het.

Die Spaanse regering met eerste minister Mariano Rajoy het gehoop dat sy duidelike optrede teen die Katalaanse separatiste die gees van verset gesmoor het en dat die burgers nou ʼn pro-Spaanse en samewerkende regering gaan instem.

Die onafhanklikheidsblok is inderdaad verdeel tussen die sentrum, linkse en verlinkse partye wat elkeen op eie houtjie deelgeneem het, terwyl die grootste twee met die vorige verkiesing nog as ʼn blok deelgeneem het.

Die Spaanse regering beweer dat net ʼn luidrugtige minderheid vir onafhanklikheid van Katalonië is, en dat die optrede van die Spaanse regering, asook die onbeholpe hantering van die onafhanklikheidsverklaring deur die eertydse Katalaanse leier Carles Puigdemont, wat tans in ballingskap in Brussel, België is, die meerderheid Katalane oortuig dat hulle beter vaar met die huidige status as deel van Spanje.

Foto: Xinhua/Guo Qiuda

Ook die ekonomiese gevolge, soos die onttrekking van talle maatskappye uit Katalonië en ʼn afname in toerisme sou die Katalane, volgens die berekening, oortuig om pro-eenheidspartye, verkieslik Rajoy se konserwatiewe Partido Popular (PP, Volksparty) te steun.

Dinge het toe heel anders uitgewerk as gehoop. Ten spyte van al die belemmering van die pro-onafhanklikheidspartye, met hulle leiers in die tronk of in ballingskap, het hulle nog steeds saam ʼn volstrekte meerderheid gekry. Die grootste party, interessant genoeg, is die liberale Ciudanos (die Burgers) met 37 setels (uit 135), wat die pro-eenheid kragte gebondel het en wat, anders as die Volksparty (PP), nie verantwoordelik was vir die hardhandige optrede teen die pro-onafhanklikheidsbeweging nie.

Dan volg die sentristiese pro-onafhanklikheidsparty Junts pel Cataluna (JpC, “Saam vir Katalonië”), Puigdemont se party, met 34 setels, en die linkse Esquerra Republicana de Cataluna (ERC, Republikeinse Linkses) met 32. ERC se leier, Oriol Junqueras, sit tans verhoorafwagtend in die tronk weens sy aandeel aan die eensydige onafhanklikheidsverklaring in November vanjaar. JpC en ERC het met die vorige verkiesing ʼn alliansie gesluit, maar nou op eie houtjie deelgeneem. Dan volg die Sosialiste met 16 setels, die protesbeweging Podemos (“Ons kan”) met 8 setels, die verlinkse, pro-onafhanklikheidsparty Cataluna Unidad Popular (CUP, Katalaanse Volkseenheid) met vier en laastens die PP met drie setels.

Foto: AP Photo/Emilio Morenatti

Die pro-onafhanklikheidspartye (JpC, ERC en CUP) het ʼn meerderheid van setels, maar wat persentasiesteun betref, bly Katalonië in die middel gedeel tussen steun vir pro-onafhanklikheids- en pro-eenheidspartye. Die deelname aan die verkiesing was met meer as 80% (met oor die vyf miljoen stemgeregtigdes) ook besonder hoog en niemand kan die geloofwaardigheid van hierdie verkiesing bevraagteken nie.

Die verdeeldheid binne Katalonië bly bestaan, met ʼn amper ewe groot pro-eenheid en pro-onafhanklikheidsblok. Mnr. Rajoy se kopseer van ʼn opstandige Katalonië begin weer van voor af.

Dit is nog nie duidelik hoe ʼn regering gevorm kan word uit partye wie se leiers in die tronk is of teen wie ʼn lasbrief uitgereik is nie. Die artikel 155 van die grondwet, wat Katalonië se outonomie op ys sit, geld nog, maar sal na die vorming van ʼn wettige regering (en na ʼn verkiesing wat Rajoy self uitgeroep het) weer buite werking gestel moet word. Die pro-onafhanklikheidsblok sal waarskynlik nou baie stadiger en versigtiger te werk gaan en sal eers ʼn konfrontasie probeer vermy, maar die einddoel van onafhanklikheid vir Katalonië bly op die horison.

 

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk as navorser, argivaris en toergids vir die Orania Beweging in Orania, is ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling en skryf is veral politiek, geskiedenis, reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

Frans C ·

Die verkiesing is vir die Spaanse regering ‘n verleentheid,wat die onafhanklikheidsbeweging
as ‘n minderheidsbeweging afgemaak het.Die hardhandige optrede het toe net die teenoorgestelde uitwerking gehad as wat deur hul verwag is.

John ·

Rajoy en Zuma is baie dieselfde en beide klou vir lewe en dood aan hul mag. As soiets hier sou plaasvind, sal die uitloop veel erger wees.

DewaldS ·

Ek wens rubreikskrywers wil ophou om na politieke partye as links of regs te verwys – dis totaal verwarrend. Of begin ten minste jou rubriek met jou definisie van links of regs – haha – daai definisie gaan dalk langer neem om vas te vat as die rubriek?

Veritas ·

Dewald, ‘Links’ en ‘Regs’ soos wat politici die terme gebruik, is eintlik heel eenvoudig. Wanneer jy meer liberaal is as die hoofstroom, is jy links en andersom vir die konserwatiewes. Die probleem is dan om die hoofstroom te beskryf. Die ‘Oningeligtes’ klink vir my na die regte term om te gebruik siende dat dié groep skynbaar nie weet waaroor die verskille gaan nie en dus maar aankarring en glo dat die huidige regering die norm bepaal.

DewaldS ·

Liberaal aangaande watter kewssies? Onafhanklikheid vanaf ‘n groter regering spesifiek in etniese volksverband – kom ons wees nou ernstig – in bv Suid_Afrika sal dit as ultra-regs beskryf word.

werner ernst ·

Dankie Sebastian vir die artikel. Alhoewel die dreigement van die spaanse regering dat hulle Katalonie ekonomies gaan laat betaal vir hulle onafhanklikheidstrewe, nie heeltemal gewerk het nie, is dit interessant dat die slefde taktiek gevolg is as in SA in 1993/4. Die NP het ons ook laat verstaan dat ekonomiese agteruitgang ons voorland is. Wat ons hieruit kanleer is dat ekonomiese selfstandigheid en beheer oor eie instellings nodig is voor politieke beheer verkry kan word. Orania se beginsels van eie grond, eie instellings en eie arbeid is dus n voorvereiste vir ons stryd ook.

jaco ·

Ek kan nie verstaan waarom hierdie mense van Spanje wil afskei nie. Hulle moet eerder wag daarmee totdat die volgende in Katalonië voorkom:
-Beurtkrag
-Korrupsie
-Swak en vuil staatshospitale
-Regstellende aksie wat minderhede PERMANENT arm en werkloos wil maak
-Misdaad wat onbeheerbaar hand uitruk
-Nkandla-tipe paleise vir politici gebou met belastinggeld
En so kan my lys aan en aan en aangaan. Kortom; dié katalane wat nou so graag om emosionele redes wil afskei, moet net 1 week SA toe kom. Hulle sal daarna gaan kruip voor die Spaanse regering en sê “jammer, ons het nie besef hoe bevoorreg ons eintlik is nie”

DewaldS ·

Dalk is hulle slim genoeg om te wil afskei voordat sulke omstandighede op hulle afgeforseer word? En terwyl hulle nog in ‘n posisie is waar hulle ekonomiese mag het?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.