Spanje: Verkiesing sonder ’n duidelike mandaat

pedro-sanchez

Pedro Sanchez, die leier van die Sosialiste (PSOE) in Spanje. Foto: Psoe Extremadura/Commons.wikimedia.org

In Spanje het in die pas afgelope algemene verkiesing die Sosialiste (PSOE) met hul leier, Pedro Sanchez, as wenner na vore getree, met sowat 29% van die stemme en 123 setels. Dit is ’n verbetering teenoor die laaste verkiesing in 2016, waar hulle 23% en 85 setels gekry het.

Sanchez was die eerste minister van ’n wankelrige en kortstondige koalisieregering uit ’n verskeidenheid linkse- en streekpartye, maar het sy meerderheid verloor nadat die Linkse Katalaanse Republikeine (ERC) hul steun onttrek het. Daarom was ’n vervroegde verkiesing nodig.

Alhoewel 28% min is in vergelyking met die tye waar die Sosialiste alleen die volstrekte meerderheid gehad het, kon Sanchez wel die agteruitgang van die Sosialiste omkeer. Dit is in teenstelling met die hoofstroom-linkse partye orals in Europa, wat verkiesing ná verkiesing verloor. Die Sosialiste het ook stemme teruggewen van die verlinkse Podemos (Ons kan), wat net 14% en 42 setels kon wen (teenoor 21% en 71 setels met die vorige keer).

Die konserwatiewe Volksparty (PP) het sterk teruggesak en net 17% en 66 setels gekry (teenoor 33% en 137 setels voorheen). Hulle is gestraf vir die korrupsieskandale uit die tyd van die PP-regering (2011-2018), alhoewel die nuwe en jong leier, Pablo Casado nie self daarvoor verantwoordelik was nie. Dit is ’n gevoelige hou vir die eens magtige party. Die liberale Burgerlikes (Ciudadanos) met hul leier, Albert Rivera, kon hul steun aansienlik verbeter en het 16% en 57 setels gekry (teenoor 16% en 32 setels in 2016).

Die groot oorwinnaar was egter die verregse party Vox (die Stem), wat eers betreklik onlangs die politieke toneel betree het. Hulle kon 10% van die stemme en 24 setels kry. Dit is die eerste keer sedert die einde van die Franco-bewind in 1975 en die begin van die demokrasie dat ’n party regs van die PP verteenwoordiging in die Cortez (Spaanse parlement) het. Spanje is die laaste land in Europa waar nog nie ’n verregse party in die parlement verteenwoordig is nie.

Die tye waar die toneel deur twee groot partye links en regs van die middel oorheers (Sosialiste en Volksparty), is ook in Spanje beslis verby. Podemos het al ’n paar jaar gelede die linkerkant deurmekaargekrap en stemme by die Sosialiste afgeneem, nou doen Vox dit aan die regterkant en met die Volksparty. Vox se opgang hang veral saam met die toenemende instroming van onwettige immigrante uit Afrika, veral sedert Sanchez se regering, asook met die afskeidingspoging van die Katalane. Vox is uitgesproke teen albei gekant en staan vir Spaanse nasionalisme.

Streekpartye van die Katalane, Baske, Galisiërs en ander speel ook met elke verkiesing ’n rol. Veral in Katalonië was die stempersentasie hoog en was daar sterk steun vir die Linkse Katalaanse Republikeine (ERC). Hulle kan die nodige stemme vir ’n volstrekte meerderheid aan ’n linkse blok uit Sosialiste en Podemos besorg, maar sal wel hul pond vleis in die vorm van groter outonomie vir Katalonië eis en is boonop onbetroubare vennote.

Die vorige koalisieregering onder Sanchez het juis weens die ERC uitmekaargebreek. Sanchez word reeds deur die regterkant beskuldig dat hy verantwoordelik is vir die moontlike opbreek van Spanje deur die separatiste te veel tegemoet te kom. Die amper-afskeiding van Katalonië in 2017 het gemoedere in Spanje hoog laat loop en die links-regsverdeling nóg versterk.

In Spanje is (anders as in Suid-Afrika) die regse partye sentralisties ingesteld en die linkses meer toegewend teenoor etniese minderhede en streke.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk as navorser, argivaris en toergids vir die Orania Beweging in Orania, is ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling en skryf is veral politiek, geskiedenis, reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Liberaal ·

Moois so spanjaarde, julle moet nou ook met transformasie met die werksplek begin en julle geleenthede, inkomste en uiteindelik eiendom aan die immigrante weggee, julle sal sien, dit kom, ons linkses stel dit netnie nou al so kras nie.

Nope ·

Daar is baie goeie redes, soos dat kata baie meer welaf is en die res van spanje op hulle teer.

jacdo ·

ek kan nie verstaan waarom Katalonië en Galisië wil afskei nie. Hulle tale is basies dialekte van Spaans en Spanje is ook SONDER goed soos:
beurtkrag
misdaad buite beheer
vuil swak staatshospitale
skole waar leerders onderwysers aanrand
en en en. my lys is eintlik BAIE lank.
hulle moet net 1 week in SA kom bly, dan sal hulle terugkeer Spanje toe en die Spaanse regering se voete soen wanneer hulle jammer sê dat hulle ooit so dom was om af te skei vanaf land en regering waar amper ALLES reg werk.

Nico K ·

Vir ons mag dit onverklaarbaar lyk dat die Katelane wil afskei, maar dit is so dat elke minderheid in alle land ongelukkig is, maak nie saak hoe voorspoedig daardie land is nie.

Therese van Schalkwyk ·

Baie interessante artikel.
En ‘n baie aantreklike Spanjaard! :-)

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.