Sportliggame rig hul eie galg op

Sportminister Fikile Mbalula. Foto: Flickr/GovernmentZA

Sportminister Fikile Mbalula. Foto: Flickr/GovernmentZA

Laksman en regter Mbalula, ook bekend as die minister van sport, het op 25 April die vier groot sportfederasies, atletiek, netbal, rugby en krieket, ’n groot straf opgelê. Die voorreg om internasionale sporttoernooie aan te bied, is herroep omdat sekere rassekwotas nie bereik is nie.

Die ironie is dat hy optree ingevolge ’n handves en ooreenkomste wat deur dié sektor self (met sy swaard oor hul kop) opgestel is. Anders gestel, dié sektor het sy eie klagstaat opgestel, eie galg gebou en Mbalula was sy hande in onskuld.

Sport in Suid-Afrika word gereguleer deur die Wet op Nasionale Sport en Ontspanning. Hierdie wet verbied die minister om in te meng in die keuse van sportspanne. Hierdie verbod is ook in ooreenstemming met eise van internasionale sportkodes.

Die wet maak egter ook daarvoor voorsiening dat beleid geformuleer en regulasies uitgevaardig mag word. Dit sluit onder meer regstellendeaksie-maatreëls in. Die wet verleen magte aan die minister om in te gryp as die sektor nie aan beleid en regulasies voldoen nie. Die teenstrydigheid is dat die wet aan die een kant sê die minister mag nie in sport inmeng nie, maar aan die ander kant mag hy regulasies uitvaardig en optree indien die wet nie nagekom word nie.

Na aanleiding van die wet is ’n Nasionale Plan vir Sport en Ontspanning ontwikkel en uit hierdie plan is ’n transformasiemanifes ontwikkel. Dié manifes is deur die ganse sportbedryf en die kabinet aanvaar. Die handves stel dit dat sy fokus is om die demografiese profiel van sport te verander. Hoewel die regering nie transformasie mag afdwing nie, gebruik hy die swaard van erkenning, finansiering en politieke druk om sportunies in ’n transformasiedrukgang in te dwing.

Die manifes stel dit dat dit nie die regering se beleid is om die rassesamestelling van sportspanne te bevorder of aan sportfederasies voor te skryf hoe om hul spanne te kies nie. Nee, dit is ’n edele proses wat uit die bedryf self kom, die bou van ’n eie galg. Indien sportliggame nie by hul eie ondernemings bly nie (wat ’n klagstaat word), sal die laksman ingryp om die edele doelwitte van die bedryf te beskerm – geen regeringsinmening nie, bloot selfregulering.

Die manifes lui ook dat apartheid die rede is dat verskillende mense verskillende sportsoorte beoefen. Was dit nie vir apartheid nie sou alle Suid-Afrikaners in gelyke mate aan alle sportsoorte deelgeneem het. Die manifes en rassekwotas is dus bloot aanvaar om die ongelykhede (nie deur kulturele voorkeur teweeggebring nie) wat deur ’n stelsel daargestel is, reg te stel.

Om die bedryf te help om sy eie edele doelwitte te bereik, het die minister ’n sporttransformasiekommissie, genaamd die “Eminent Persons Group”, aangestel om vordering aan die hand van die manifes te meet. Dié kommissie het weer op sy beurt ’n sporttransformasiebarometer saamgestel om vordering mee te meet.

Die barometer het gelei tot transformasieooreenkomste waartoe die federasies hulself verbind. Hierdie transformasieooreenkomste het kwotas daargestel vir elke sportsoort. Rugby het byvoorbeeld in sy strategiese plan ’n kwota van 60%-verteenwoordiging van swart spelers op alle vlakke van die sport, wat tot op o. 16-vlak strek, vir 2019 vasgestel. Indien dié kwotas nie bereik word nie, kan strafmaatreëls ingestel word.

Die strafmaatreëls sluit onder meer in dat die minister finansiering kan onttrek en dat dié sportliggaam se voorreg om internasionale sportbyeenkomste aan te bied, opgeskort kan word. Rugby onderwerp homself dus aan vrywillige straf soos voltrek deur die minister.

Dit is op grond van hierdie strafmaatreëls dat die minister van sport aangekondig het dat die vier sportfederasies die voorreg verloor om internasionale toernooie aan te bied.

Op grond van die gewig van die wet, politieke druk, dreigemente en regulasies het die minister sportfederasies gedwing om vrywillig transformasieteikens op te stel waaraan hy hulle meet en straf as hulle nie hul eie selfregulering nakom nie. Die vraag is of dit regmatig is en of dit as nie-inmenging geag kan word.

Die antwoord is voor die hand liggend – dit is onregmatig en dit kom neer op inmenging. Net ’n dwaas sal dink dit is vrywillige regulering.

Die howe het reeds bepaal dat die verhouding tussen rugby-unies en spelers dié van werkgewer en werknemer is. Die enigste wet wat regstellende aksie tussen werkgewers en werknemers reguleer, is die Wet op Billike Indiensneming. Hierdie wet verbied kwotas en volgens die wet kan werkgewers die inherente vereistes van ’n pos, beskikbare vaardighede of enige ander billike rede aanvoer as rede waarom die nasionale demografie nie as teiken gestel kan word nie. Ingevolge hierdie wet tree die minister en die rugby-unies onregmatig op deur kwotas daar te stel. Die rugby-unies kon nievoldoening regverdig deur aanspraak te maak op die inherente vereistes van die pos en natuurlik die internasionale kodes waaraan hulle moet voldoen.

Internasionale sportkodes soos die Olimpiese Handves en die regulasies en verordeninge van internasionale rugby bepaal dat regerings nie in sport mag inmeng nie; dat die beste spanne gekies moet word; en dat daar nie op grond van ras gediskrimineer mag word nie. Die Suid-Afrikaanse regering oortree hierdie internasionale regulasies op verskeie vlakke.

Die plaaslike sportfederasies het hul eie galg gebou omdat hulle nie die demokratiese selfvertroue gehad het om die minister uit te daag toe hulle kon en moes nie. Hulle het ’n doodse vrees vir die laksman en is bereid om vrywillig gehang te word sodat hulle nie doodgemaak word nie. Hulle het dus die skaal van magsbalans heeltemal in die minister se guns geswaai wat hom in staat stel om sy rasse-ideologie deur te druk.

Sportliggame bestaan juis om in die belang van sport op te tree en moet magsvergryp balanseer. Hulle tree egter op soos lojale onderdane en voed so magsmisbruik.

Solidariteit en AfriForum het besluit om ’n omvattende strategie van stapel te stuur om die magsbalans in sport te verbeter. Dit sal plaaslike hofaksies en internasionale klagte by die Verenigde Nasies, die Internasionale Arbeidsorganisasie en verskeie internasionale sportliggame insluit. Ons doen egter ook ’n beroep op plaaslike sportliggame om op te staan vir hul sportsoorte en nie toe te laat dat hulle deur politiek geboelie word nie.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Dirk Hermann

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

10 Kommentare

Jan maak n Plan ·

Die regter en laksman moet net pasop dat hy nie self aan die galg gaan hang nie.

Henk Venter ·

Wat is die presiese finansiele bydra wat die ANC, skuus, regering, maak tot rugby en atletiek? Atletiek is vir jare al sonder borge en word in hierdie land ERG afgeskeep. Rugby word DIK geborg deur die publiek via belaglike pryse op Vodacom selfoonkontrakte en Multichoice subskripsie gelde. En dan noem ons nie die honderde kleiner borge nie. En o ja, dan is daar nog Absa, Sasol, FNB, Castle om net ‘n paar te noem….

Henry ·

Sterkte en alle sukses word u toegewens.
Intussen kan lede van Afriforum en Solidariteit op alle moontlike wyses hierdie poging ondersteun. Ons is reeds deel van ‘n groep wat twee seisoene gelede besluit het om nie ons seisoenkaartjies wat ons jare lank besit het, te hernu nie. Ons woon dus nie meer enige internasionale-, Superrugby- of Curriebeker-wedstryde by nie.
SARU is oa afhanklik van toeskouergelde. Dit is ‘n maklike metode om ons teenstand vir die politieke speletjies van die ANC regime en hul lakeie in die besture van die onderskeie provinsies, te toon.
Hoe minder toeskouers opdaag om na kwota rugby te kyk, hoe gouer kan die finansiële krane leeg loop.

Boela ·

Hoor hoor! Ek het Suid-Afrikaanse rugby en krieket heeltemal afgesweer as gevolg van politieke inmenging in dié sportsoorte. Kyk dit nie eers meer op TV nie. Ek kyk eerder Engelse sokker waar spelers, ongeag kleur of etnisiteit, op grond van meriete gekies word. Of dan individuele sporte soos internasionale tennis of Formule Een. Dit was ‘n bevrydende ervaring om my nie meer oor Suid-Afrikaanse rugby of krieket te hoef te verknies nie!

Theo ·

Net so Henry. Dis ook my manier om teenkanting te toon teen ANC inmenging in sport en SARU se slapg.t onderdanigheid aan die laksman en regter soos korrek hierbo beskryf. Skande!!!

Lance ·

Gaan self nie meer na enige wedstryde self nie en ons kyk ook nie meer op tv nie ….ons vind nou as gesin dat ons meer gesels en ons eet weer saam …het ten goede vir ons gewerk.

Theuns ·

Dankie AfriForum en Solidariteit dat julle alle dokumente onder die vergrootglas neem wanneer dit kom by sulke insidente soos Sport Kwotas. Julle het die vermoe om al die wurms te sien wat deur die Administrateurs en die Minister misgekyk word. Ongelukkig se dit ook iets
van die intelegensie van die Minister en Sport Administrateurs en is klinkklare bewys dat hulle almal maar deel van die “Soustrein” is. Wat ‘n skande!

JB ·

Mnr. Herrmann jul moet asseblief dit onder die IRB (en ander wêreldbeheerliggame van sport) se aandag bring dat kwotas blatant indruis teen hul grondwet/statute. Waarom laat hul dit toe dat dit in SA gebeur?

Michael ·

Ek het gedog ons is ‘n demokraties land, maar met die regeering(ANC) en al hulle voorwaarders en dinge wat afgeforseer word en grond wat gevat gaan word, kom dit maar baie kommunisties voor. Net gewonder.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.