Staal jouself vir ’n nuwe paradigma – en kies dienooreenkomstig

land-grond-landbou-onweer-donderweer-weerlig-wolke-deur-eugene-triguba-unsplash

Foto: Eugene Triguba/Unsplash.com

Deur Terence Corrigan

Die afgelope paar weke sou bevestig het – indien bevestiging hoegenaamd nodig is – dat beslissende veranderinge in Suid-Afrika se politieke gang in die vooruitsig is.

Dit is van seldsame belang vir enige land. Dit staan vas dat wat nou gebeur, een van die belangrikste ontwikkelinge – waarskynlikste dié belangrikste – sedert Suid-Afrika se demokratisering is. Dit beteken dat ’n nuwe paradigma daargestel is, en ou aannames bevraagteken moet word.

Waarskynlik die belangrikste aanwyser hiervan was president Cyril Ramaphosa se aankondiging dat die African National Congress (ANC) sou voortgaan met ’n wysiging van die Grondwet om onteiening sonder vergoeding (OSV) te bewerkstellig.

Die uitvloeisels van ’n wysiging van die Handves van Menseregte met ’n politieke doelstelling voor oë, kan nooit ’n geringe saak wees nie.  Dit geld soveel te meer wanneer die beskerming van eiendom, die vestiging van ’n suksesvolle markekonomie en ’n onontbeerlike verskansing van individuele vryheid die doelwit is.

Die werklikhede en implikasies van hierdie verandering word heeltemal te lig aangeslaan.

Een van die opvallendste aanwysers hiervan is die oorgeruste reaksie op hierdie ontwikkelinge. Sedert die saak na die ANC se konferensie in Desember verlede jaar op die voorgrond van Suid-Afrika se politiek geskuif is, het baie mense vasgeklou aan die hoop dat OSV in werklikheid ’n beperkte ingryping, hoofsaaklik simbolies van aard, sou wees wat op ’n aantal minder waardevolle bates gerig sou wees.

Groot vertroue is geplaas in versekerings dat dit nie die ekonomie sou ontwrig of voedselsekerheid sou bedreig nie. President Ramaphosa was “klaarblyklik” persoonlik teen hierdie handelswyse gekant. Baie ontleders het inderdaad beslis dat hy op meesterlike wyse ’n langtermynspel aan’t  speel was, wat die saak gemanipuleer het ten einde dit te beheer.

’n Verdere uitgangspunt is dat die gevolge van ’n roekelose veldtog van OSV selfverydelend sou wees. Grondpolitiek in Suid-Afrika – en veral landelike sake – staan altyd in die skadu van Zimbabwe. Suid-Afrika het genoeg geleer om die foute van sy noordelike buurland te vermy. Dit sou net nie sinvol wees nie. Die beste optrede sou dus wees om kalm te bly en te vertrou dat dinge vanself sal uitwerk.

En so is Agri SA se president, Dan Kriek, se beskouings, byvoorbeeld, ’n paar weke gelede in ’n uitvoerige onderhoud met Willemien Brümmer in Beeld geprofileer. Om landbou te ondermyn, is om ook die hele waardeketting wat daarop staatmaak, te ondermyn.  Buitendien is president Ramaphosa ’n intelligente man met kollegas wat “net soos ek en jy dink” aan sy sy. Dit sou net ondenkbaar wees.

Op soortgelyke wyse het professor Steven Friedman geskryf dat dit onwaarskynlik is dat ’n grondwetlike wysiging eiendomsregte ernstig sal bedreig, omdat dit sou beteken dat “die eiendom van elke ANC-kieser wat ’n huis besit, in gevaar gestel sal word”. News24 se Adriaan Basson het gesê dat dit ’n “allemansgeheim” was dat die president teen die wysiging van die Grondwet gekant was. En ’n Business Day-hoofartikel was van mening dat “Ramaphosa, wat nooit oorhaastig is nie, presies weet hoe dit gaan uitspeel”.

Dit sou ’n fout wees om dít sommer te aanvaar. Dit sou beteken dat veronderstel word dat elkeen op gemeenskaplike prioriteite en resultate ingestel is en dat almal dieselfde lesse uit die ondervinding van ander gemeenskappe sou leer. Dit is onloënbaar foutief.

Die handhawing van politieke mag vereis sy eie stel prioriteite, en dit geld soveel meer wanneer politieke denke hoogs ideologies is. Vir die ANC is die grondkwessie minstens ewe veel ’n politieke as ’n ekonomiese saak. Waarskynlik meer so.

Dit is geen geheim dat grondhervorming nooit vir die regering ’n prioriteit was nie en, in die lig van die veranderende struktuur van die Suid-Afrikaanse samelewing, is dit verstaanbaar. Suid-Afrika het ’n verstedelikende bevolking waarvan die aspirasies toenemend is om in stede te woon, salarisbetalende werkgeleenthede te vind en te behou en toe te sien dat hul kinders vir meer winsgewende loopbane opgevoed word.

Dit is inderdaad billik om te sê dat, hoewel ’n grond- en landelike hervormingsprogram – indien suksesvol geïmplementeer – vir Suid-Afrika ’n mate van ontwikkelingsbelofte bied, dit onwaarskynlik is dat dit vir die ekonomie as geheel transformerend sal wees.

Op die keper beskou was “die grond” nog altyd ’n sensitiewe en hoogs gelaaide aangeleentheid in Suid-Afrika, ’n aanduiding van die onbillikheid van Suid-Afrika se geskiedenis. En, soos mnr. Kriek kan getuig, manifesteer dit dikwels in vyandigheid teenoor wit kommersiële boere. Laasgenoemde het ietwat van ’n “Feindbild” – letterlik, ’n beeld van die vyand – geword en is lank as ’n vyand gestigmatiseer. Hulle word vir allerlei euwels verantwoordelik gehou en van allerhande misdrywe beskuldig. (Inderdaad, soos in die onlangse skietery by Bergville, brei dit uit na die toeskrywing van kriminele dade aan “boere”, selfs wanneer die beweerde skuldiges nie op plase woon en nie in die landbou werk nie.)

Vir die ANC is “die grond” deel van ’n verhaal. Dit is ’n diep emosionele saak waaromheen die party-elite kan verenig – in die ANC sowel as in die Economic Freedom Fighters (wees op die uitkyk vir ’n moontlike eenheidsooreenkoms). Dit voorsien ’n vorm vir wat kwansuis met Suid-Afrika verkeerd is en die rigting wat dit voorskryf, beloof ’n ideologies bevredigende uitkoms.

Verder pas die vermindering van eiendomsregte in by die ideologiese standpunt van baie ANC-lede. Of die Grondwet eiendomsregte behoort te beskerm of nie – en hoe dit behoort te gebeur – was een van die sake wat die ernstigste by die konstitusionele onderhandelings betwis is. Sterk meningsrigtings in die party het nooit met hierdie idee vrede gemaak nie. Party was ten gunste van die uitbreiding van die diskresie van die staat om met die ekonomie in te meng as deel van die bou van ’n magtige Oos-Asiatiese styl van ontwikkelingstaat. Andere sou dit verkies as ’n stap in die rigting van ’n sosialistiese samelewing. Albei is in ooreenstemming met die ANC se strategiese paradigma, die sogenaamde Nasionale Demokratiese Revolusie.

En om hierdie rede sal die kwessie van OSV nie met grond eindig nie. Grond sal waarskynlik ’n eerste stap wees, ’n presedent wat die weg baan vir verdere vervreemding in ander sektore.

Ja, hierdie roete sal koste verg. Drastiese koste, wat ongetwyfeld deur die maghebbers erken word. Die vraag is nie of hierdie koste bestaan nie, maar of dit as die moeite werd beskou word. Want dit sal ekonomiese koste wees, wat deur die hele land gedra sal word, terwyl die voordele as politieke wins gesien word wat deur die party geoes sal word.

Die beskouing is dat ’n nuwe ekonomiese en maatskaplike orde oor die langer termyn sal ontwikkel – een wat regverdig en moreel meerderwaardig is en waarin ’n behoorlik bemagtigde en welwillende staat ’n toekoms van oorvloed vir almal kan lewer. (Terloops, die lesse wat uit hierdie perspektief van Zimbabwe geleer kan word, is minder oor die gevare van ekonomiese ineenstorting as wat dit gaan oor die verlenging van regering deur ’n bevrydingsbeweging, strategieë vir beleidsuitvoering ondanks “teen-revolusionêre”-weerstand en die herstabilisering van ’n nuwe samelewing – waarvan die laaste punt ’n onafgehandelde taak is.)

Dit is ’n kostevoordeelberekening wat uitstekende sin maak vir baie wat gesagsposisies in Suid-Afrika beklee. Dit is ook ’n waarskuwing oor die vestiging van hoop op die idee dat president Ramaphosa gekant is teen OSV en besig is om die “langtermynspel” te speel.  Wat sy persoonlike geneentheid ook al mag wees, sal sy dade minstens so sterk deur politieke dryfvere as deur hul onvermydelike ekonomiese gevolge gerig word.

(Trouens, heersende realiteite – veral ’n staat wat onbevoeg gemaak is – sou enige kans op sukses met die bestuur van die proses verswak, maar om ideologiese redes sal hierdie oorweging waarskynlik grootliks buite rekening gelaat word.)

Die aanslag op eiendomsregte het in elk geval stellig te vinnig beweeg en het te prominent geraak vir president Ramaphosa om nou sonder probleme terug te draai. Hy het self tot hierdie momentum bygedra – dit is moeilik om te dink aan ’n ander saak waaraan hy soveel oordrewe en moreel gelaaide ondersteuning verleen het. Die vraag oor of hy bereid sou wees om die ekonomiese skade met die voortsetting van OSV te aanvaar, sou beantwoord moes word deur sy instemming om ’n konstitusionele wysiging te lei.

Die veldtog vir OSV-verteenwoordig is ’n diepgaande gevaar vir Suid-Afrika. Dit laat ’n mens wonder hoe om te reageer. Ons by die Instituut vir Rasseverhoudinge was nog altyd ten gunste van sterk, onomwonde teenkanting teen slegte idees – nou niks minder as onder apartheid nie – want aktiewe burgerskap vereis dit. Daarom het ons ons duidelik uitgespreek in die weerstand teen OSV. Ons nooi alle Suid-Afrikaners wat ’n voorspoedige toekoms soek, uit om by ons aan te sluit.

Ander mense moet natuurlik self besluit oor die standpunte wat hulle wil inneem. Dit is egter noodsaaklik dat hulle ’n duidelike begrip moet hê van die realiteite wat bestaan. Enigiets anders sal waarskynlik net neerkom op ’n onderhandeling oor die voorwaardes van hul eie ondergang.

  • Terence Corrigan is projekbestuurder by die Instituut vir Rasseverhoudinge. Lesers word genooi om by die Instituut vir Rasseverhoudinge aan te sluit in ons teenkanting teen die instelling van onteiening sonder vergoeding deur ’n SMS na 32823 te stuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Paul ·

Suid Afrika word in die proses gedekoloniseer, van Europese en Westerse waardes waaraan ons ons gemeet het, ontwikkeling, wat oor jare deur die geskiedenis die land ingekom het, gestroop. ‘n Nuwe Suid Afrika word deur ‘n rasgedrewe ideologiese disfuksionele regering stelselmatig op ons afgedwing, ‘n land wat soos die res van Afrika gaan lyk.

Asie ·

Kolonisasie is in volstoom aan die gang, westers uit en Asiatiese kolonisasie vervang dit baie vinnig.

dejager ·

Goeie skrywe.Almal verwys heeltyd na die gevaar van OSV vir die ekonomie.Daar is ń ander gevaar wat stabiliteit oornag kan laat verdwyn.Dié gevaar is dat ń slagoffer van OSV die reg in eie hande kan neem.Die gemiddelde SuidAfrikaner van westerse oorsprong ag privaatbesit as heilig.Dit is gegrond in ons geloof en in ons kultuur.Ons loop nie eers goedsmoeds oor ń ander man se grond nie.Die bybel leer ons al geslagte om andere se besittings nie eers te begeer nie.Dit maak ook nie saak as die wetskrywers wette maak nie-ek eien myself en ook my buurman die reg toe om sy besittings met geweld(selfs doodslag) te beskerm.Dit is ń universele reg in die westerse beskawing.As die huidige regering homself wil verander in ń rower van mense se besittings gaan hy probleme kry.Wie gaan ń verontregte slagoffer van OSV voel is die rower wat hom beroof het?
Ek voorspel dat Malema en Ramaphosa heelparty meer lyfwagte gaan benodig.
Die ergste is dat die OSV slagoffer dit met ń rein gewete voor God sal kan doen.ń Dief is ń dief.

Francois vRvO ·

@dejager , stem saam met jou.
Maar dit is presies wat ANC / Eff wil he , sodra die eerste skote klap , kondig die ANC ‘n noodtoestand af en dan is al ons pensioenfondse ook daarmee heen.Dis verloor verloor altwee kante toe.

Willem ·

En skielik het CR ‘n bontgenoot met sy grondhervorming in Theresa May gevind, iemand van buite Afrika en dit nogal die Britse eerste minister. Nou is hy opgepomp en stoom met die land voort na selfvernietiging.

Paul ·

Terloops, as ek reg het was grond nooit in die verlede vir die swart mense diep emosioneel nie, dit is net so van verlede jaar af wat Julius en CR die vure stook en populistiese uitsprake maak. CR probeer vir almal van “sy” mense wat wil hoor nou vertel dat hulle eintlik boere is. Nou wat nou, wil hy “sy” mense in die stede terug platteland toe lok? En Julius gaan net so tekere, as hy dan so in die verbystap ‘n stem optel, waarom nie, sy volgelinge is mos maar eintlik landelik.

Celtis Africana ·

Ek wonder tog of ons minderheid genoegsaam weerstand kan bied teen die Tsunami van die beoogde Sosialistiese staat?
Of gaan ons eenvoudig in die loopgrawe kanonvoer word?
Daar is slegs een manier om uit te vind…
Selfbeskikking bly n alternatief wat al duideliker wink.

Jerry ·

Niemand van ons is so alles wys dat ons weet wat die dag van more vir ons inhou nie. Dit is om hierdie rede waarom ons gebeure van die verlede en tendense asook die huidige gebeure en tendense ontleed ten einde so akkuraat as moontlik vooruitskattings te kan maak van wat moontlik in die toekoms kan gebeur. Dit bring mee dat verskillende ontleders, verskillende vooruitsigte daar stel agv verskeie beinvloedingsfaktore soos bv ideologiese verskille. Die skrywer reken dat die ANC gaan voort stoomroller met die NDR en dat onteiening sonder vergoeding gaan plaas vind en dat eiendomsreg gaan wegval en doen hy dus, n beroep op Afrikaners om by sy organisasie aan te sluit en om sy vooruitskatting te ondersteun, ten einde, soos hy dit stel, n slegte saak te beveg. My vooruitskatting dui egter daarop dat die teenoorgestelde gaan gebeur, deurdat die NDR tot stilstand gedwing gaan word deur westerse ingryping van voorwaardelike investering en dat die huidige OSV wetsontwerp onttrek gaan word om hersien te word om voorsiening te maak vir onteiening teen vergoeding en dat die term OSV verander word na grondhervorming. Hierdie is n goeie voorbeeld van n ontleding van dieselfde gebeure, maar met verskillende vooruitskattings. My vooruitskatting asook die skrywer se vooruitskatting mag dus, dalk reg wees of dalk verkeerd wees. Die skrywer is egter wel reg oor een ding wat ek met hom oor saam stem en dit is dat mense self moet besluit oor die standpunte wat hulle wil inneem.

Pietman ·

‘n Ander moontlike vooruitskatting is dat die riviere vol melk loop en dat al die bome lekkergoed begin dra. Dit kan ook dalk gebeur, Jerry. En iemand kan seker maar kies om dit te glo.

Die verskil is dat Terence se vooruitskatting op feite berus, maar joune en myne op wensdenkery.

Hans Richardt ·

Net soos daar Art 235 swart tradisionele gebiede met gewaarborgde grondbesit teen onteiening is, so wil ek gelyk voor die reg behandel word en dieselfde regte kry in bepaalde ooreengekome gebiede!!! Dis die enigste paradigma skuif wat ek wil maak, geen politieke korrekte halfgebakte Codesa weer van vooraf nie.

aj ·

Die mag wat regerings kan uitoefen op burgers word daagliks minder a.g.v. die inligtingsrevolusie.

Groepe mense kan hulself maklik organiseer om selfregerend te word sonder dat die SA Regering daarvan weet.

Bemagtig jouself en jou gemeenskap deur selfbeveiliging, selfvoorsiening t.o.v. elektrisiteit, water en ander dienste ens …. en vergeet stelselmatig dat daar ‘n SA Regering is.

Hans Richardt ·

Mense praat maklik op sosiale media. Solank daar nie Art 235 grondwetlike ooreenkoms is nie, kan daar nie internasionale erkenning kom nie. Geen man of kolkektief bly op afgesonderde eiland in eeu van inligtingstegnologie nie! Geen storietjies rondom onderwerp meer nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.