Staan die DA reg as die ANC sou skeur?

(Foto: Demokratiese Alliansie/da.org.za)

Op sy pas afgelope kongres moes die Demokratiese Alliansie (DA) sy politieke identiteit min of meer herontdek. Dit gebeur teen die agtergrond van ’n aantal politieke werklikhede, waarvan sommige taamlik onaangenaam is.

Die eerste is dat die demografie in ons land nou eenmaal dikteer dat enige party wat die regeringsmag by die stembus wil verower, die meerderheid swart mense agter hom moet skaar. Die steun van die minderhede – wit, bruin en Indiër – is goed en wel, maar dis nie genoeg nie.

’n Tweede werklikheid is dat die ANC in die gemoedere van verreweg die meeste swart mense nog steeds die aura van bevrydingsbeweging dra. Uit húl oogpunt gesien, is dit die ANC, nie die DA nie, wat die greep van die apartheidsregering gebreek en vryheid gebring het.

By dié tweede werklikheid hoort ’n paar belangrike nuanses.

So is dit, objektief gesproke, waar dat die ANC se vryheidstryd gevoer is onder die banier van die ortodokse Marxisme-Leninisme. As dié stelsel, soos die ANC wou hê, in Suid-Afrika ingevoer is, sou die onbetwisbare onvryheid van apartheid waarskynlik verbleek het vergeleke met dié wat op die land afgedwing sou word.

Vergelyk die beperkte vryheid onder apartheid maar met die situasie in die totalitêre diktature van die Sowjetunie en die lande agter die Ystergordyn. Die Marxisme-Leninisme se afstammelinge leef voort in China en Kuba, waar die suurstof van vryheid byna totaal weggesuig is.

Nog ’n nuanse is dat die ANC-regering sedert 1994 steeds meer gekenmerk word deur die dodelike driedubbele kombinasie van magswellus, onbekwaamheid en korrupsie. Te oordeel aan die dalende stempersentasies sedert 1994, sien ook die swart kiesers dié toksiese mengsel toenemend raak.

Daarom dat groter wordende getalle van hulle van die stembus wegbly. Hulle sien nie kans vir ’n party wat goue berge beloof, maar wat daardie goud slegs vir hulself toeëien nie.

Maar – en dis ’n belangrike maar – hulle sien (nog?) nie kans om vir die DA (of die VF+) te stem nie. Waarom nie?

Dink bietjie terug aan die jare vyftig tot tagtig. Die ou Nasionale Party (NP) se skuld aan magsmisbruik, onbekwaamheid en korrupsie was weliswaar nie ’n fraksie van wat ’n mens tans by die ANC sien nie, maar dit het die party se beeld destyds al by baie kiesers laat verbleek.

En tog kon die ou Sappe en Progge nooit eers naby aan ’n meerderheid van die wit stemme kom nie. Feit is dat die NP vir veral die Afrikaners was wat die ANC tans vir die swart mense is – ’n bevrydingsbeweging.

Dit was die NP wat die kulturele, ekonomiese en politieke wurggreep van die Engelssprekende Suid-Afrikaners op die land gebreek het. Dit was die NP wat gesorg het vir die herstel van die Afrikaners se selfrespek.

Dus het mense die party baie vergewe. En op stemdag hul kruisies agter die NP-kandidaat se naam getrek.

Dis opvallend dat die NP ná 1994, toe hy van sy aura as bevryder gestroop is, blitsvinnig gekwyn het. Dat ’n opperste liggewig en opportunis soos Marthinus “Kortbroek” van Schalkwyk die leier geword het, het ook ’n beduidende rol gespeel.

’n Soortgelyke proses speel hom tans in die ANC af. Hy dra steeds die aura van die brenger van vryheid vir die swart mense.

Wat daarmee saamhang, is die feit dat mense dikwels meer geneig is om onreg van hul eie mense te aanvaar as van “ander”. Die DA staan steeds bekend as die party van die wit mense, en solank hy dié beeld met hom saamdra, sal hy nooit aan die bewind kom nie.

Beteken dit dan dat iemand soos Mmusi Maimane, wat die DA in ’n soort “ANC lite” wou omskep, iets beet had? Was dit dan reg om byvoorbeeld regstellende aksie te omhels in die hoop om swart stemme te trek?

Die DA het nou teen sulke beleidsrigtings besluit. Hy het teruggekeer na sy oorspronklike uitgangspunt, dat niemand bevoordeel mag word op grond van sy velkleur of groepslidmaatskap nie, maar op grond van individuele omstandighede. As jý as individu ekstra hulp nodig het, goed en wel, maar nie ómdat jy swart is nie.

Op kort termyn gaan dit die DA benadeel. ’n Klomp gekleurde politici het die party verlaat, en een (Herman Mashaba) het selfs ’n nuwe party gestig om die DA se onlangse “ANC lite”-benadering voort te sit.

Daar is swaargewig- politieke waarnemers wat meen Mashaba se party gaan nêrens kom nie. Maar afgesien hiervan, is daar goeie redes waarom dit reg is dat die DA op sy skrede terugkeer.

Argieffoto

Die doeltreffendste vorm van politiek voer is nie om bloot te práát nie, maar om te dóén. Dis juis een van die besware wat baie mense van alle groepe teen politici van alle kleure het, dat hulle alles belóóf, maar vervolgens op hul louere rus.

Die DA is in die gelukkige posisie dat hy een provinsie – die Wes-Kaap – en ’n aantal munisipaliteite regeer. Daardie kans moet hy aangryp om in die praktyk te wýs dat hy ’n beter alternatief as die ANC is.

’n Mens moet weliswaar nie naïef hieroor wees nie. Jy moet nie verwag dat die DA selfs op grond van sy bewese bestuursuksesse op kort termyn ’n deurbraak sal maak nie; dit kan in beginsel jare duur voordat dit werklikheid word.

Máár: In die politiek kan dinge skielik in ’n stroomversnelling raak. In die politiek, het premier Harold Wilson van Brittanje in die jare sestig glo gesê, is ’n week ’n lang tyd.

Die verskille tussen die kampe in die ANC word steeds groter. Enersyds is daar pres. Cyril Ramaphosa se kamp, wat lýk of hy eindelik teen korrupsie wil optree; andersyds die kamp van Ace Magashule, wie se doel die voortsetting van selfverryking is.

Nou ja, uiteindelik sal ’n mens natuurlik moet sien wat gebeur. Gaan Ramaphosa voort met sy kruistog teen korrupsie, of word hy in die moeras ingesuig en geneutraliseer?

Indien hy voortgaan, gaan die ANC skeur? As dít gebeur, moet die DA reg wees om die situasie uit te buit. Dan kan hy sy bewese rekord en stemkrag as hefbome gebruik om toegewings van die ANC in ’n koalisieregering te verkry.

Hoe ook al, uiteindelik moet die DA getrou aan homself en sy gewete wees.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Josef du Toit

Mens sou dink dat beleid belangrik is. Tog fungeer veel suksesvol sonder ‘n weldeurdagte en konsekwente beleid, dikwels met môre- en aandpraatjies wat gedurig verander met die windrigting. Dis eerder identiteit wat alles oorheers. Die Demokratiese Alliansie is nou maar eenmaal ‘n blanke Engelstalige party, en die party van ander wat hulself graag by blanke Engelstaliges wil skaar.

annie

Liberales en progressiewes glo almal dat ewige dankbaarheid/(onderdanigheid) sal volg na hul groot opofferinge vir ‘n saak (wat eerder aan hulself eer en roem sou bring) maar dit doen toe nie en watter ontnugtering. Die patetiese migrante/werkers wat orals deur hulpvaardige o so edele redders aan wal gebring word, help hul toekomstige base op hul eerste treè na hul land se troonkamer.