Staan jy ʼn populis teë is jy die “vyand van die volk”

Supra Mahumapelo, die premier van Noordwes. Argieffoto: Premier.nwpg.gov.za

Die geweldpleging in Coligny, en veral die wyse waarop die Noordwes-premier, Supra Mahumapelo, die verhitte gemoedere met sy anti-wit propaganda aangejaag het, vestig die aandag op ’n verskynsel wat die laaste jare aandag getrek het. Dit is populisme.

Die begrip word afgelei van die Latynse woord populus of volk. Die Afrikaanse woord het egter ’n dubbelsinnige betekenis: Dit kan ’n etniese inhoud hê, soos in “die Afrikanervolk”, of dit kan ’n klasse-inhoud hê met die betekenis van “die gewone mense”. Die Latynse woord het eerder laasgenoemde betekenis.

’n Mens moet versigtig omgaan met die begrip populisme aangesien feitlik elke politikus wat stemme soek in ʼn sekere sin ’n populis is. Tog het geleerdes wat die verskynsel behoorlik ondersoek het, sekere gemeenskaplike eienskappe geïdentifiseer.

Een van dié wat dit dalk die intensiefste ondersoek het, is die Nederlands-Amerikaanse politieke wetenskaplike prof. Cas Mudde (tans aan die Universiteit van Georgia). In verskeie publikasies definieer hy populisme as (en laat ek ter wille van duidelikheid sy oorspronklike Engels gebruik) ’n ideologie “that considers society to be ultimately separated into two homogeneous and antagonistic groups, ‘the pure people’ and ‘the corrupt elite’, and which argues that politics should be an expression of the volonté general (general will) of the people”.

Populiste sien die teenstelling tussen dié twee groepe as moreel van aard. Populisme is op sigself nóg die kern nóg die verwerping van die demokrasie: “To put it simply, populism is pro-democracy, but anti-liberal democracy. It supports popular sovereignty and majority rule, but rejects pluralism and minority rights” (12 Mei 2015 op die webwerf Open Democracy).

Uit Mudde se definisie blyk dat populisme in wese niks met links en regs (vir sover sulke begrippe nog betekenis het) te make het nie. Of, dalk akkurater, populisme doen hom voor in sowel regse as linkse gedaantes en in verskillende mate van intensiteit.

Die bekendste voorbeelde van regs-populistiese groepe kom voor in Frankryk (die Front National), Nederland (Partij voor de Vrijheid), en Duitsland (Alternative für Deutschland). In Pole (Prawo i Sprawiedliwość) en Hongarye (Fidesz) is die regs-populiste selfs aan bewind.

Maar daar is ook links-populiste. In Griekeland regeer só ʼn party (Syriza), terwyl die Spaanse Podemos (vertaal as “ons kán”) die konserwatiewe establishment ʼn jaar of twee gelede kwaai die skrik op die lyf gejaag het.

Daar is ook populiste – pres. Wladimir Poetin van Rusland en Beppe Grillo van Italië – wat nie as links óf regs beskryf kan word nie.

Mudde wys daarop dat “suiwer” populisme nie bestaan nie. Regs-populiste verenig hul benadering met nativisme (volgens die woordeboek Merriam-Webster “a policy of favoring native inhabitants as opposed to immigrants”), en links-populiste met sosialisme.

Die oupagrootjie van alle moderne populiste was Adolf Hitler. Hy het sy beleid uitdruklik in die naam en in die belang van die Duitse volk gevoer en alle teenstanders – met inbegrip van die onafhanklike media – as die “vyande van die volk” beskryf.

Hitler was die prototipe van alle huidige populiste. Daar is geen populistiese heerser wat nie minstens protesteer (soos pres. Donald Trump van die VSA) teen die beperkings wat die regstaat aan hom oplê nie.

Die meeste breek dit trouens stelselmatig af. Voorbeelde is pres. Nicolás Maduro van Venezuela en pres. Robert Mugabe van Zimbabwe, asook premiers Viktor Orbán en Alexis Tsipras in Hongarye en Griekeland. In Nederland pleit die regs-populistiese Geert Wilders openlik vir die afbreek van die regstaat.

En dan is daar natuurlik ook ons eie pres. Jacob Zuma. Namate Zuma en sy ondersteuners in die ANC, soos Supra Mahumapelo, deur hul eie korrupsie en onbekwaamheid dieper in die probleme beland, soek hulle na ʼn sondebok – en soos populiste elders in die wêreld, vind hulle dit.

In die VSA is die sondebok alles en almal wat die lewe vir Trump moeilik maak. In Europa is dit die Moslems, in Griekeland en Venezuela die nare kapitaliste. In Zimbabwe en Suid-Afrika is dit die rassistiese wit mense.

Het Suid-Afrika se probleme, aldus Zuma, dan nie begin die dag toe Jan van Riebeeck sy ongenooide bene op die Kaapse strand neergesit het nie? Bulder Julius Malema van die EFF en Mahumapelo nie gereeld dat die wit indringers swart mense se grond gesteel het en dus verantwoordelik is vir laasgenoemdes se armoede en ellende nie?

Deel van die probleem is natuurlik dat die populiste, of dit nou gaan oor dié in die VSA, Europa of Afrika, altyd ʼn egte en bestaande probleem aangryp. Dan gaan dit om ʼn deel van die kiesers wat ekonomies agterbly, om ʼn politieke stelsel wat nie (meer) behoorlik werk nie, om Moslem-immigrante wat dikwels in die bestaande gemeenskap onintegreerbaar is, om wit rykdom wat gebou is – soos die historikus GD Scholtz dit in die jare sestig gestel het – “op die sweet wat uit swart liggame rol”.

Die populiste gebruik met ander woorde iets wat hul gehore sal herken. Dat hulle in die proses sodanig kortpad met die waarheid vat en dit só oordryf dat dit in werklikheid op ʼn leuen neerkom, maak nie saak nie. Daar is ander dinge – soos politieke mag en persoonlike rykdom – wat vir hulle belangriker is.

In die geval van iemand soos Malema het hy sy oë duidelik op die presidentskap gerig. As hy dít verower het, is hý die baas en sal hy al die lastige beperkings wat die Grondwet aan hom oplê – die opposisie, die howe, die vrye media – nek omdraai.

In die geval van Zuma en sy gewese vrou, “dokter” (in hemelsnaam, moenie haar hoë titel vergeet nie!) Nkosazana Dlamini-Zuma, gaan dit daarom dat die aandag terwille van die behoud van die mag van hul eie mislukkings afgetrek moet word. Zuma se eie grootste prestasie was dat hy die land in rommelstatus ingelei en Suid-Afrika se naam wêreldwyd laat stink het; Dlamini-Zuma se termyn as sekretaris-generaal van die Afrika-Unie is gekenmerk deur haar feitlik totale afwesigheid van die toneel.

Maar, tipies van populiste, word hul opponente nie voorgestel bloot as mense wat anders oor sake dink nie. Nee, hulle is oneerlik, misdadig en moet met alle wettige en onwettige middele bestry word.

Hitler het sy opponente opgesluit of vermoor. Trump het gedreig om Hillary Clinton op te sluit, maar ontdek dat die regstaat hom nie toelaat nie. Poetin, Maduro en Mugabe doen dit al lankal.

Dit mag nie sover in Suid-Afrika kom nie. As ons eers ons regstaat verloor het, is die laaste reste van ons vryheid daarmee heen. Wil ons dít hê?

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

31 Kommentare

Vrydenker Watookal Vlakvark ·

My pa was ‘n skaapboer. Ek het gesien hoe dom ‘n skaap kan wees: volg net blindelings die boude van die medeskaap voor hom. Hulle sal nie vanself oor ‘n brug loop of in ‘n vertrek ingaan om geskeer te word nie tensy hulle skaap- of bokboude voor hulle sien nie.

George Orwell se boek “Animal Farm” is ast’ware my tweede bybel. Hy het die wese van menswees raakgesien: Die skape-mensdom wat blindelings die politieke demagoë en populiste en aktiviste volg. En dan is daar die varke-mensdom, gedryf deur gierigheid en magsbeheptheid wat die skape-mensdom misbruik om mag en aardse bronne te bekom.

En so herhaal die sepie “Animal Farm” homself deur al die eeue en lande. Wat is nuuts onder die son? Suid-Afrika 2017 Animal Farm? Of Suid-Afrika Post-ANC Animal Farm?

MCH ·

Wat gaan dit keer? Die weghol trein het al soveel spoed opgebou dat slegs ‘n wonderwerk dit tot stilstand kan bring. Kundigheid is grootliks ‘n miete in die status quo. Moraliteit ‘n hersenskim. Die volgende wat ernstig gaan swig voor die populistiese aanslag is groot besighede wat nou ernstige boetes opgelê gaan word vir gebrek aan transformasie op topbestuursvlak. Dit is die setel van kundigheid. Eerste fase BEE was redelik eenvoudig want laer vlak poste is oorvereenvoudig en belyn met fyn uitgewerkte prosedure en beleid. Kundigheid is eenvoudig hoër op in die hiërargie geakkommodeer, vandaar die “wanbalans,”. Indien talent soos die van ‘n Christo Wiese, Whitey Basson, Jannie Mouton, Bidvest, en ander ankers van die ekonomie hierdeur hul bydrae ontsê word, het ons ernstige probleme. Tiger Brands het myns insiens die beste gedoen in die opsig deur kundige voorheen benadeeldes op die direksie en bestuur te kry. Tog is die struktuur so saamgestel dat geen enkele direkteur op loop kan gaan en riskante aksies kan loods, of plein skelm raak nie. Huidige finansminister se uitsprake oor radikale ekonomiese transformasie voorspel ook niks goed vir groot besigheid nie. Die popo is vinnig op pad fan toe.

Pietman ·

Ek glo die demokrate en Hillary Clinton is populiste. Hulle verdeel die land in twee groepe. Pro-integrasie ( anti-blank) en anti-integrasie (pro-blank). Wit mense moet die afstaan van hul politieke mag verwelkom en aanhelp . Anders as veralgemenings deur reges is linkses se veralgemenings nie op feite gebasseer nie. So bv is onwettige immigrante ‘n “bate ” vir die land. Die feite wys egter dat hulle abnormale hoë werkloosheid , staatstoelaes ontvang en misdaadrekords het. Die linkses glo hulle het die morele hoë grond en gebruik propaganda metodes soos ” herhaling” , koppeling met of “Muishonde”, en etikette om mense te breinspoel. So bv word Trump en enige regse (Orban, Wilders ens) altyd gekoppel aan “muishonde” soos Mugabe , Hitler en Malema. Dit word oor en oor herhaal. My voorspelling is dat die skrywer sal volhard in hierdie metode.

Leopold Scholtz ·

Beste Pietman, ek sal inderdaad volhard in die metode om genuanseerd na die waarheid te soek. As jy my daarvoor wil verkwalik, moet dit maar.

Rupert Ashford ·

Hallo Leopold. :-) Noudat jy praat van “genuanseerd”. Wil jy vir ons vertel dat die “establishment” insluitende die hoofstroommedia met volle integriteit werk en ons hulle “leiding” klakkeloos moet navolg? Wat het destyds aanleiding gegee tot Hitler in Duitland? Wat dryf Hongarye wat tans “afstig”, die opkoms van Wilders, Le Pen en Trump of is die mensdom net “boos” teenoor die “wat beter weet”?

Elisabet ·

Wit rykdom gebou op sweet wat uit swart liggame rol……………. in Europa is wit rykdom gebou op sweet wat uit wit liggame rol.
In my ouerhuis het ons wittes gesweet onder die fisiese werk wat ons verrig het.

Dirk Breytenbach ·

En ons help die leuen om te gedy deur soos skape geykte leuens soos “gebou in die sweet van swart mense”, “grond gesteel”, “wit mans is arrogant” en “radikale transformasie” te herhaal sonder om dit in konteks te plaas, te bevraagteken of te verifieer tot ons eie nadeel. Daar sal altyd twee pole wees maar tussenin moet die waarheid bedryf word.

John ·

Dus is Hillary Clinton die populis wat Trump as agterbaks en gevaarlik wil bewys. Om telkens ‘n glo ongewilde persoon, afhangende van eie oortuiging as populisties uit te kryt, is onwetenskaplik en subjektief. Die outeur val in elke artikel vir Trump aan en staan vir alles wat die Amerikaanse nuusnetwerke opdis. Ons eie grapjas, Noah, se foto hang seker lang sy geliefde Nederlandse historikus se foto bo sy bed. Wie is eintlik populer in die VSA, Clinton en haar menseregte-beleid wat op die arme immigrante se lewensstryd vestig en juis nie op die intellektuele meer invloedryke ryker klasse wat Trump ingestem het nie. Die CNN en sy skokgolfbrigade soek altyd bloed en deesdae Trump se kop op ‘n skinkbord voor die dansende Clintons, die FBI en die Pentagon-nazi’s… Die’ blydskap gaan van korte duur wees… Hou so aan en kyk… Clinton en Zuma verskil soos dag en nag en ‘n vergelyking poog bloot om Trump te verkleineer.

Leopold Scholtz ·

Beste John, soos gewoonlik skel jy weer dat dit ‘n naarheid is. Vir die rekord, ek is geen bewonderaar van Noah nie; dis ‘n strooipop wat jy opstel om met ‘n groot gedruis af te skiet. Jy beweer ek beskryf mense as populiste “afhangende van eie oortuiging”. Dan het jy wraggies die artikel nie verstaan nie. Ek het juis ‘n objektiewe maatstaf geneem, soos deur Cas Mudde geformuleer. Gaan lees die artikel weer.

Therese van Schalkwyk ·

Of:

Staan jy die establishment teë is jy ‘n “populis”.

Groot waarheid in die gesegde: Herhaal ‘n leuen genoeg en dit word die waarheid.

As Angela Merkel bv. genoeg kere vertel hoe goed multikulturalisme vir Duitsland is, glo al wat Duitser en nie-Duitser is haar uiteindelik.

Leopold Scholtz ·

Beste Therese, kan jy my vertel presies wanneer het Merkel ges^e multikulturalisme is “goed vir Duitsland”? Nee, jy kan nie. Want dit het nooit gebeur nie. Inteendeel, haar woorde was “Multikultiralismus ist absolut gescheitert”. En haar minister van binnelandse sake, Thomas de Maziere (ook van die CDU) het onlangs ges^e die immigrante moet die Duitse kultuur as “leitkultur” aanvaar. Jy moenie so jok nie, jong!

Therese van Schalkwyk ·

Ja, ja, ja, almal ken daardie berugte sinnetjie van Merkel, so asof háár verklaring dat multikulturalisme ‘n flop is ‘n openbaring vir die mensdom moes wees. Alhoewel, vir liggelowige linkses was dit heel waarskynlik en selfs ek was in 2010 nog ‘n taamlike bewonderaar.

Die Merkel wysheid het egter heeltemal te laat gekom en in al haar aksies en woorde sedertdien weerspreek sy haarself gereeld, behalwe natuurlik voor en tydens verkiesings.

In die woorde van die Franse historikus, Emmanuel Todd: “Unknowingly, the Germans are on their way to again take their role as bringers of calamity for the other European peoples, and later for themselves”.

John ·

Leopold jy kan nie kritiek hanteer nie en almal wat van jou verskil, moet onnosel wees. Nederland, soos die res van Europa, word deur Nazi-nasate gebruik om Rusland te treiter weens hul oorwinning oor hul ouers/voorvaders. Die VSA is deur Obama omskep in ‘n mekka vir migrante/liberales/sosialiste/terroriste. Ek verstaan presies wat jy beoog… breinspoeling op die holruggeryde ‘goody-goody’ Hillary-CNN-tema dat die wereld weer ‘n paradys sal wees sonder Trump. Navo soek geld en die Pentagon WW3. Jy weet seker dat objektiwiteit nie bestaan nie, ook nie by jou nie. Die vraag is net waarom is jy so giftig teenoor Trump? Daar is gewoonlik ‘n eenvoudige antwoord.

Leopold Scholtz ·

Vir John: Jong, jy bevestig presies my oordeel oor jou. Lekker dag.

Broer van Vrydenker Watookal Vlakvark ·

Beste Leopold,
‘n Goeie artikel oor sondebokke en populisme.
Die oplossing vir hierdie populisme-probleem is dat die hele kieserskorps lees- en skryf- en rekenvaardig moet wees. Hulle moet ‘n koerant kan optel en lees en hul eie besluite kan neem vir welke politieke party om te stem. Sonder ‘n behoorlik geskoolde kieserskorps is “demokrasie” ‘n klugspel en ‘n teelaarde vir populisme op die Skaapplaas Animal Farm.

Leopold, ons Burgery van Varkerasies kyk uit na jou volgende artikels oor die Homo sapiens soogdiere.

Bert ·

Maroela Media bereik ‘n laagtepunt met die plasing van Leopold Scholtz se meningstukke. Dit is regtig nie moeilik om deur die fopnuus en agenda’s van die hoofstroommedia te sien nie. Daarom het ek o.a my Netwerk24 subskripsie gekanselleer en hierheen migreer. Nou ag Maroela Media klaarblyklik Mnr Scholtz as gesaghebbend genoeg om ook hier sy establishment menings te deel. Dit is nie dat mens nie ander menings wil lees nie. Maar Scholtz is heel duidelik ‘n hoofstroom joernalis wie uit op ‘n Trump jag is. As Maroela reken dat Scholtz se menings gewig dra, sê asb so dat die van ons wat ‘n probleem daarmee het, ander planne kan maak.

Henry ·

Beste Bert, soos die oom sê.
Laagtepunt vir seker en reeds vir hoevele weke, maande(?) aan die gang.
Promoveer jouself uit die moeras, want hier is daar geen hoop of wetenswaardigheid wat die oompie en sy ondersteuner(s?) vir jou kan vertel nie.

chris ·

Baie dankie mnr Scholtz vir u artikels. Dit bied insiggewende perspektiewe en die inhoud is verseker die oordenking werd!

Ook komplimente vir Maroela, dat julle ook mnr. Scholtz se artikels plaas. Moenie julle laat sensureer deur hierdie kommentare nie! Vrye media is die laaste redding van ons demokrasie, en dis julle, Maroela en mnr. Scholtz, wat die media vry hou. Dankie dat julle die hoop op ‘n beter toekoms lewend hou.

Bert ·

Jy sit ongelukkig die pot mis. Hierdie het niks met ‘vrye media’ te doen nie. Maroela Media en haar prinsipale, aan wie ek ruimskoots elke maand ‘n bydrae lewer, wil klaarblyklik die harte en siele van die Afrikaanse establishment inkatrol en sodoende die beweging versterk. Dit impliseer ‘n quid pro quo na beide kante toe: Maroela [en haar prinsipale] moet meer sentrum regs word en mense soos Scholtz geleenthede gee. Sy teenwoordigheid beteken weer dat die establishment moet besef dat Maroela [eintlik haar prinsipale] toe nou nie sulke nare regses is nie. Scholtz is hier om Afriforum te normaliseer vir die Afrikaner establishment. Die gevaar is natuurlik dat Maroela gaan opgaan in die hoofstroommoeras van establishment denke. So ons dans die dansie en sal sien waar dit eindig.

Rupert Ashford ·

Ek stem Chris. Al wat mens van ‘n nuushuis vra is dat hulle gebalanseerde beriggewing en/of opinies moet gee, maw dieselfde saak van verskillende kante bekyk. Ons kan regtig nie kla daaroor op Maroela nie. Om die kommentare in konteks te plaas moet mens dalk byvoeg dat die Maroela-lesers dalk ‘n “spesiale” groep kan wees wat bestaan uit ou HNP en KP mense wat nog altyd ultra-konserwatief was, dan ook ‘n groot klomp wat destyds sou “Ja” gestem het en wat intussen ontnugter geraak het en nou enigiets wat van die hoofstroommedia en politieke establishment kom met meer as net ‘n knippie sout neem (once bitten twice shy soos haar majesteit se klomp sou se), en dan ‘n kleinerige maar baie raserige groep “modernes” wat hier is of omdat hulle uit beginsel weier om te betaal vir iets soos N24 of net hou daarvan om met die “konserwatiewes” te veg. :-) Ons is nie ‘n hoofstroomgehoor nie…

Therese van Schalkwyk ·

Rupert Ashford

Stem saam, groot waardering vir die puik artikels met ‘n verskeidenheid van opinies op Maroela!

Die feit dat lesers hul eie sienswyse oor sake kan gee, is ook ‘n unieke voorreg en Maroela se kommentaarbeleid stel gerus dat ordelikheid verseker word.

Wanneer ‘n leser ‘n ander sienswyse as enige van die skrywers huldig, moet dit nie as persoonlike kritiek vertolk word nie. Behoede ons van ‘n webwerf waar almal dieselfde dink en mekaar gedurig op die skouer moet klop om nié van “skel, jok of los met die waarheid” beskuldig te word nie.

Henry ·

Stem weereens met jou saam Bert.

Sommige lesers en skrywers het blykbaar nog nie tot die ontdekking geraak dat ons gewone plebs, danksy internet, vrye toegang tot die planeet se media het nie. Toegang wat ons vanuit enige staat en/of gebied se media ingelig hou oor wat, waar, wanneer, hoekom, oorlaat, omlaat en wat ‘n mens ookal aan kan dink. Letterlik uit die betrokke perde of donkies se bekke uit.

Om nuwe, oftewel oorspronklike insigte van gebeure oor die buitewêreld heen, hier te herhaal, is eintlik onmoontlik. Dis ou nuus en eintlik nikseggend. Ampertjies so nutteloos as wat ‘n siel sou probeer om lesers in uitgediende ideologiese boksies te plaas.
:-)

Ou Opbou Erdvark ·

Lank gelede het kollegas om die teetafel gekla oor die groot inkomstes wat internasionale sportmense verdien. Toe antwoord my mentor: “En wat verhinder jou om self ‘n internasionale speler te word en baie te verdien.”

Nou-ja, wat verhinder mense wat ongelukkig is met Maroela Media en NETWERK24 om hul eie nuusmedia te begin? So word die seuns van die manne geskei.

Kom ons wees opbouend met opbouende voorstelle ter verbetering van wat ookal. Kom ons fokus op die 20% wat ‘n 80% opbouende impak in hiedie lewe sal hê.

Nel ·

Natuurlik het Merkel eers “Multikulti” voorgestaan. Sy het dan self erken dat Duitsland se poging om ‘n multikulturele gemeenskap daar te stel misluk het. Gaan lees haar toespraak tydens die Christian Democratic Union se byeenkoms in The Guardian UK edition; Angela Merkel: German multiculturalism has ‘uterly failed’.

Frik Lotz ·

Die linkse liberaliste is mos altyd reg en kan nie kritiek teen hul hanteer nie. Daar word altyd met minagting gepraat van ons mense wat trots is op ons taal, kultuur, herkoms, geskiedenis en glo in selfbeskikking. Ons kry dan die etiket van ver-regs, rassis of sogenaamde “populiste”.

Leopold Scholtz ·

Vir Rupert Ashford: Beste Rupert, jy verdraai my woorde darem baie moedswillig. Gaan lees weer.

Leopold Scholtz ·

Vir Therese van Schalkwyk: Beste Therese, Merkel se wysheid het nie “heeltemal te laat” gekom nie; dit dateer al van ‘n paar jaar gelede. Laat ek jou ook daaraan herinner dat die ooreenkoms met Turkye, waardeur die stroom vlugtelinge dramaties afgeneem het, grotendeels op haar inisiatief geneem is. En dit terwyl daar geen sprake van ‘n verkiesing was nie. Nee, jong, moenie so los met die waarheid omgaan nie.

Reinhardt ·

Uitstekend uitstekend. Ek geniet werklik jou opinies Leopold, ek dink nie ekt al ooit iemand anders se opinies gelees wat so na aan my eie is nie.
Werklikwaar onpartydige skrywes.

Frans C ·

Die Weste lei na die 2de wêreldoorlog aan ‘n skuldige gewete wat voortgespruit het die feit dat hul niks gedoen het kollektief, om die Nazi-misdade te keer nie. Hulle het toe met ‘n skok wakker geword toe hul agterkom dat die gerugte waar was.

Hierdie skuldgevoel het ook na vore getree tov van voormalige kolonies en het Suid Afrika se afsonderlike ontwikkelingsbeleid,kortweg later kortweg apartheid genoem ook onder skoot gekom met die gevolge wat welbekend is.

Hierdie skuldgevoel het ook instrumenteel geword vir die oopstelling van grense en was dit
opmerklik dat immigrasie dwarsoor die wêreld toegeneem het.Ook Suid Afrika het ‘n land vir immigrante veral uit stamlande geword.Hierdie stroom het naderhand tot nadeel van die blanke bevolking opgedroog,aangesien die vrees ontstaan het, dat die Afrikaner se taal en kultuur,verswelg sou word onder immigrante veral uit Oos-bloklande.

Die pendulum het dus vroeg in Suid Afrika na behoudend geswaai onder die NP-beleid.Tans
onder die ANC-regering is die grense oop.Ook plaaslik begin weerstand teen dit ontwikkel.
Party mense noem dit populisme,maar dit is eerder ‘n stryd om selfbehoud,die nie opgaan
in ‘n verswelgende massa,soos wat tans met die blanke plaaslik gebeur.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.