Staan sterk teen intimidasie om die knie voor #BLM te buig

Kallie Kriel is die uitvoerende hoof van AfriForum. (Foto: Rozier van Tonder/OkayDeer.)

Hoe is dit moontlik dat ʼn relatief klein groep radikale linksgesindes daarin kon slaag om selfs mense wat van beter behoort te weet, sover te kry om oor hulle voete te val om die knie te buig voor #BLM-beweging se uitgesproke Marxistiese agenda? ’n Agenda wat doelgerig daarop uit is om gesinswaardes, samelewinginstellings en die Westerse kultuur en -geskiedenis te ondermyn?

Hoewel swart lewens beslis saak maak, bevestig die feite egter dat die meerderheid swart lewens nie werklik vir die #BLM-beweging saak maak nie. Waarom anders swyg #BLM dan oor die oorgrote meerderheid moorde op swart mense: dié wat deur ander swart mense gepleeg word? Hulle fokus slegs op ’n baie klein minderheid van moorde op swart mense, naamlik dié wat deur wit mense gepleeg word. Die agenda daaragter is dat die #BLM-beweging hul doel vir die onderwerping van gemeenskappe met ’n Westerse kultuur wil bereik deur wit mense as sondebokke te brandmerk en skuldgevoelens by hulle probeer kweek.

Die linksgesindes slaag tans daarin om mense die knie te laat buig deur die illusie te skep dat hul standpunte die allesoorheersende openbare mening verteenwoordig, een waarby almal moet inval. Hulle kry dit reg deur op onverdraagsame wyse intimidasiestrategieë te gebruik om enigiemand wat dit durf waag om anders as hulle te dink valslik as rassiste en booswigte te brandmerk en tot personae non gratae te verklaar. Daarom sien ons dat selfs sommige sportsterre – uit vrees om uit die samelewing “gekanselleer” te word en om hul eie posisies te beskerm – soos ’n skool dooie visse saam met die stroom na die waterval dryf.

Die linksgesindes se diktering van die openbare agenda word moontlik gemaak deur die feit dat hulle die media oorheers – totaal buite verhouding tot hul getalle. Dink maar net hoe ’n mens selfs in sommige Afrikaanse media tot vervelens toe na dieselfde paar linkse stemme moet luister wat geheel en al uit voeling is met hoe die meeste Afrikaners en Afrikaanssprekendes dink. Winston Churchill het nie verniet gewaarsku dat mens nie gepubliseerde menings met die openbare mening moet verwar nie.

Wanneer die linksgesindes iets aanhoudend in die media sê of daaroor skryf, beteken dit beslis nie dat dit is hoe almal dink nie. En as die linksgesindes jou brandmerk en probeer “kanselleer” beteken dit beslis ook nie dat jy alleen staan nie. Die teendeel is waar. Hoe harder die relatiewe klein groep linksgesindes byvoorbeeld probeer het om AfriForum valslik as “rassiste” te brandmerk, hoe vinniger het AfriForum se steun gegroei. Die feit dat letterlik honderde swart mense – die misplaaste aanvalle ten spyt – AfriForum al om hulp genader het, wys dat redelike mense nie val vir die linkse onverdraagsaamheid en wanvoorstellings nie. Ook op voetsoolvlak huiwer swart plaaslike gemeenskappe geensins om met AfriForum saam te werk om gemeenskaplike doelwitte te bereik nie.

Gegewe die bogenoemde is dit makliker om die linksgesindes se diktering van die openbare agenda en intimidasiestrategieë teen te staan as wat baie mense dink. Elkeen van ons het ’n rol hierin te speel. Jy kan help deur die volgende te doen:

Staan vreesloos sterk, want jy is nie alleen nie

Die linksgesinde media en die politieke elite se enigste mag lê in mense se vrees om as randfigure uitgebeeld te word. Dié vrees rus op ’n illusie, aangesien daar ’n vinnig groeiende kritieke skare mense is wat nie meer op hul knieë val vir die afgesaagde intimidasiestrategieë en “kanselleerkultuur” van die linksgesindes nie. Jy kan dus sonder vrees sterk bly staan sonder om ’n randfiguur te wees, want daar is skares mense wat soos jy voel. Jy is beslis nie alleen nie!

 

Behou die morele hoë grond en bevorder wedersydse erkenning en respek

Die #BLM-beweging se rassistiese agenda kan en mag nooit deur ’n teenoorgestelde rassistiese agenda beveg word nie. Die regte ding om te doen, is om #BLM se polariserende optrede teen te staan deur wedersydse erkenning en respek tussen gemeenskappe beginselvas te bevorder.

Selfrespek is ’n voorvereiste vir wedersydse respek. Ons mag en behoort dus uit selfrespek te weier om die knie te buig voor diegene wat ons en ons nageslag aan hul linkse agenda wil onderwerp. Selfrespek bied ook ’n gesonde grondslag vanwaar ons mense uit alle gemeenskappe met respek kan behandel. As jy nie verwag dat ander die knie voor jou moet buig nie, is daar geen rede om die knie voor enige ander mens te buig nie.

Ken die feite, want feite wen

(Foto: AP Photo/Alex Brandon, File)

Linksgesinde radikales huiwer nie om wanvoorstellings te maak om skuldgevoelens by Westerse gemeenskappe te kweek nie. Daarom is dit belangrik dat jy jouself van die feite vergewis sodat jy jouself in die openbare debat kan handhaaf.

Sommige meningsvormers probeer byvoorbeeld om mense wat die #BLM-beweging se Marxistiese agenda uitwys belaglik te maak deur hulle af te maak as behep met die “rooi gevaar”. Eerder as om hiervoor te val, vergewis jouself van #BLM se eie dokumentasie, wat duidelik uitwys dat hul agenda nie edel is nie.

Die #BLM gaan ook selektief met moordsyfers om sodat die indruk geskep word dat polisiegeweld en wit mense die grootste bedreiging vir swart lewens is. In die VSA word sowat 2 500 swart mense elke jaar deur ander swart mense vermoor. Dr. Regina Nuzzo, statistikus van die American Statistical Association, is onlangs deur Reuters aangehaal dat die kans vir ’n swart Amerikaner om deur ’n ander swart mens vermoor te word sowat 56 uit een miljoen is. Daarteenoor is swart mense se kans om deur ’n wit mens vermoor te word maar vyf uit een miljoen. Deur hieroor te swyg, sê #BLM dat nie alle swart lewens vir hulle saak maak nie. Om die waarheid te sê, wys die geweld, moord en plundering wat met baie #BLM-betogings gepaardgaan dat niks en niemand behalwe hul eie ideologie vir #BLM saak maak nie.

Volgens die Washington Post is 14 swart en 25 wit ongewapende mense in 2019 deur die polisie doodgeskiet. Hoewel dit dus op die oog af lyk of swart mense se kans, proporsioneel tot hul bevolkingsgrootte, dus groter is om deur die polisie doodgeskiet te word, vertel prof. Roland Fryer – ’n swart akademikus van Harvard – se navorsing ’n ander verhaal. Hy het gevind dat, in gevalle waar dit vir die polisie toelaatbaar is om dodelike geweld te gebruik, die kans van swart verdagtes 24,2% kleiner is om geskiet te word vergeleke met mense wat nie swart is nie.

Die persepsie dat swart mense buite verhouding deur wit mense vermoor word, is nie op feite gebaseer nie, maar is grootliks die gevolg van selektiewe verslagdoening oor moorde. Ook in Suid-Afrika kry die enkele wit-op-swart-voorvalle van geweld op plase gemiddeld 16 keer meer blootstelling as swart-op-wit-geweld. Drie gevalle waar wit mense die beskuldigdes was, het byvoorbeeld meer mediadekking gekry as 150 plaasmoorde saam wat deur swart mense gepleeg is.

Bou ’n beter toekoms met selfvertroue

Enige gemeenskap wat selfvertroue verloor, is op ’n pad na ondergang. Juis daarom moet ons te midde van #BLM se pogings om skuldgevoelens te kweek met nuwe ywer en selfvertroue ’n beter toekoms vir ons en ons nageslag help bou. Dit kan ons vermag deur die waardegedrewe gemeenskapsinstellings wat #BLM so graag wil vernietig in beskerming te neem en sterker in ons plaaslike gemeenskappe te help vestig. Ons kan, ongeag wat op nasionale en internasionale gebeur, plaaslike gemeenskappe versterk deur ons kerke, skole, buurtwagte, maatskaplike instellings, gemeenskapsakeondernemings, klubs en ’n gesonde gemeenskapslewe uit te bou. Ons gemeenskappe is ons reddingsboeie in onstuimige tye. Dit is waarom AfriForum en die Solidariteit Beweging ons gemeenskappe op nóg groter skaal gaan help versterk deur middel van die ankergemeenskapstrategie wat ons tans verder ontwikkel. Ons nooi jou uit om met selfvertroue regop en saam te staan om dit te bereik.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Kallie Kriel

Kallie Kriel is die Uitvoerende Hoof van AfriForum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Adam Adriaan ·

BLM is so agterlik dit regverdig geen kommentaar nie.

Chris ·

Wie en wat is dit? Oor so maand of drie is dit ook van die toneel af.

Andrew ·

Ongelukkig nie. As daar nie teen die propeganda opgestaan word nie sal dit net al erger word

Piet ·

Ai ou Pienkie. Wat van jy kry vir Ponkie dan gaan huil julle weer by die Amerikaanse regering (by John Bolton!?) oor ons land. Dis mos presies wat ons voorouers gedoen het toe hulle onder die Britte wou uit – gaan huil en kla by ou boet. Nie die probleem self probeer aanvat nie.

Mauritz ·

Ek wonder net of my gewese sporthelde die knie buig omdat hulle onnosel, liggelowig of geldgierig is.

koos10 ·

Jy ondersteun BLM of jy is ‘n rassis. Daar is nie ‘n middelweg nie, volgens BLM en hulle ondersteuners.
Hoekom sal BLM hulle doel vernietig met feite?
Ek glo baie sterk in my hart dat dit een van die dinge in die Bybel is waarteen ons gewaarsku word.

Andrew ·

Ek is bevrees die blm aanslag gaan net vererger tensy teengestaan word deur n paar dapper individue met n platform tesame met die ondersteuning van ons, die average joe. Ek maan mense om te staan. Staan vir God, staan vir geregtigheid , staan vir orde, staan vir die lewens van almal, maar bly trots en bree bors staan

Prikkie ·

Stem saam met jou Andrew. Klompie leë blikke wat lawaai maak. Ignoreer hulle.

Niklaas ·

Dit wil voorkom asof hierdie beweging net (met ander motiewe) gerig is op publisiteit en reklame.
Die gewese sporthelde sal ook nie so passievol kniel en vuis bal , as daar geen media dekking en TV kameras op hom gerig was nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.