Staat, nasie en kulturele identiteit

Afrikaner

Argieffoto.

Afrikaners het die Suid-Afrikaanse staat vir so lank geregeer dat ons ons identiteit grootliks met dié van die staat vereenselwig het. Dit is, byvoorbeeld, ’n algemene verskynsel dat baie Afrikaners hulself as “Suid-Afrikaners” beskryf, terwyl hulle eintlik “Afrikaner” bedoel.

Afrikaner-identiteit strek oor eeue, en het veel vroeër as die staat “van Suid-Afrika” ontstaan. Suid-Afrika is in 1910 as ’n Britse koloniale skepping gebore, nadat die Britte eers die swart volke en daarna die Afrikaners onderwerp het.

Suid-Afrika is nie ’n natuurlike land nie, maar eerder ’n landstreek soos Oos-Afrika of Wes-Afrika, wat uit verskillende volke en lande bestaan. Hierdie kunsmatig saamgestelde staat het egter met die jare op die oog af ’n permanente karakter gekry. Tog, as mens dieper kyk, is dit nie so nie. Die gebied het in die vorige eeu deur 6 staatkundige modelle gegaan.

Die eerste was die Boererepublieke en die kolonies van Kaapland en Natal. Die tweede was die militêre inlywing by Brittanje na 1902. Die derde was die status van selfregering wat in 1907 toegestaan is, en die vierde was toe die unie van Suid-Afrika in 1910 gestig is. Die vyfde was Republiekwording in 1961, en die sesde die 1994-bedeling.

Die gedwonge samevoeging van soveel uiteenlopende gebiede en volke in een staat, het daartoe gelei dat dit feitlik onmoontlik was om Suid-Afrika eenvormig as een land te regeer. Daar was net te veel botsende belange, ʼn te groot gebied en te veel verskille wat oorbrug moes word. Dit is selfs gesê dat om Suid-Afrika as ’n eenheidstaat te probeer regeer, net so onmoontlik is as om met ’n sak klippe te probeer swem. Die Britte het eers probeer, daarna die Afrikaners, daarna die Xhosa-geleide Mbeki-ANC, daarna die Zoeloe-geleide Zuma ANC, en vandag sukkel die Ramaphosa ANC steeds onsuksesvol.

Die verval van die staat is nie net tekenend van die ANC se swak regering nie, maar ook ’n gevolg van hierdie onmoontlike samestelling van die Suid-Afrikaanse staat. Die Switsers het al eeue gelede geleer dat die beste manier om komplekse state te regeer, is om hulle te desentraliseer sodat elke onderdeel die beste besluite in die lig van sy bepaalde omstandighede kan neem.

Hierteenoor het die opstellers van die Suid-Afrikaanse Grondwet ’n gewone meerderheidsbestel gekies wat te simplisties is om die kompleksiteite van ’n uiters heterogene land soos Suid-Afrika te bestuur. Die ANC-projek om die multikulturele werklikheid van die land met hul monokulturele ideologie te omskep in een gestandaardiseerde nasie, stuit teen die rotse van die werklikheid.

Die verval van soveel dorpe en staatsinstellings, saam met die opkoms van soveel niestaatlike ruimtes soos privaat hospitale, privaat dorpe en gemeenskapsprojekte, wys dat die staat se some al hoe meer langs gedesentraliseerde lyne lostrek. In plaas daarvan dat die staat die werklikheid omskep, begin die werklikheid gaandeweg die staat omvorm in meer bestuurbare dele.

’n Uiteenlopende nasie kan nie in ’n eenvormige staat ingedwing word nie. Die staat moet immers die nasie dien, in plaas daarvan dat die nasie die staat moet dien.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

marco polo ·

Dis so eenvoudig soos dit. Goed uiteengesit, Flip. SA moes nooit n enkele staat gewees het nie. Dit het nie in die verlede gewerk nie en gaan ook nie in die toekoms nie.

Deon ·

SA is en was nog altyd ‘n gedrog wat nooit moes bestaan het nie. Kodesa het tot verdere ellende bygedra. Nou probeer ons plak en pleister om dit te maak werk.

Pietman ·

Puik skrywe. Selfregering oor ‘n eie grondgebied is eenvoudig Afrikaners (en andere wat hul kultuurwaardes deel) se enigste werkbare langtermyn oplossing.

Etlike jare gelede was dit luid uitgebasuin: “Regeer ons goed of ons regeer onsself!” Sedertdien beleef Afrikaners dat toestande net verder agteruitgaan. Is hierdie skrywe ‘n aanduiding dat die sogenaamde “Plan B” nou uiteindelik in werking gestel gaan word? Samewerking onder Afrikanerorganisasies om aktief te werk vir selfbeskikking.

Afrikaners se strewe na selfbeskikking sal sekerlik ‘n moeilike stryd wees, maar indien dit nie met dringendheid aangepak word nie is die alternatief sonder twyfel dat Afrikaners net verder kultureel en ekonomies ontmagtig gaan word en alles waaraan ons bou eenvoudig onteien gaan word terwyl ons magteloos toekyk.

piet piet ·

Die meeste van ons dink net so maar ons nodig ons leiers in hierdie geval Dr Groenewald om die onderhandelinge aan die gang te sit ,gee ons n onafhanklike staat vir selfregering ,nie n apartheidstaat nie n staat waar almal welkom is wat onder die staat se wette en reels kan funksioneer.

Kobus ·

Dis die beste opsie. Nie perfek nie, maar mens raak ook moeg daarvan om jou bestaan die heeltyd te regverdig. So stil-stil begin dit nou ‘n tweede geslag Afrikanertjies raak. Wat gaan die ou ooms oor 25 sê? Wie gaan vir wie blameer?

Jerry ·

Pogings to selfbeskikking gaan net vir solank werk as wat die ANC staat dit toelaat. Staatsinmenging mbt n nuwe wapenwet om wetsgehoorsame burgers asook sekuriteitsdienste te ontwapen en gebeure rondom die rooimiere, Solidariteit se lysie van bekwame gekwalifiseerde mense en die Konstitusionele hof se tersyde stel van Jiba se skuldigbevinding en vonnis is reeds aanduidings dat die staat wel oor die magte beskik om ook weerstand en pogings tot groepselfbeskikking te fnuik, selfs in die hoogste hof! Skryf eerder vir ons oor hoe Solidariteit beplan om moontlike toekomstige parlementere wetgewing en n staatsafhanklike hoogste hof se beslissings teen selfbeskikking/vrye mark/privatisering te oorbrug ten einde steeds buite n sosialistiese staat te kan funksioneer. Ons ken die verlede, ons ken die hede en ons weet volgens talle aanduidings wat oppad is betreffende moontlike aanslae teen volgehoue pogings tot selfbeskikking, maar steeds weet ons nie hoe Solidariteit teen twee derde meerderheid parlementere wetgewing en staatsafhanklike konstitusionele hofbeslissings die toekomstige moontlike, en glo my, volgehoue aanslae gaan oorbrug nie!

Heinrich ·

Hoor hoor! Goeie artikel wat dit probleem (wat ons almal tog maar weet) saamvat, maar wat gaan ons doen?

Dries du Toit ·

Flip het net hier n waarheid en feite aan ons hier uitgewys. As almal net hierdie waarheid kan absorbeer en verwerk en daarmee saamstem kan oplossings begin soek word. Hy is ook hard op soek na oplossings. Jerry verag hom maar hy het self ook geen oplossing behalwe om voor die vyand te kruip nie. Daarvoor is ons regtig nie te vinde nie

Andreas ·

Ons sien mos vir der jare daar is maar geen wil, kundigheid het die mense in alle geval nie, die kapasiteit ontbreek, om ‘n multikulturele land soos Suid-Afrika met elf amptelike landstale en nog meer kulture te bestuur nie, daar sal ook nooit wees nie.

Dit druis ook in teen die kommunistiese sosialistiese ideologie van die ANC wat als self op ‘n simplistiese manier wil doen, hulle wil nie eens die ekonomie vir die ekonome en die privaatsektor gee om die land uit die moeras te laat opstaan nie, dis hoekom hulle als self wil beheer, dan het hulle dorpe van 239 munisipaliteite laat verval dat daar nie meer van diens sprake is nie, maar hulle wil superstede bou.

En Lesufi spog dat hy dit sal regkry dat Afrikaanse skole, nie Engelse skole nie, Afrikaanse skole tot in drie moedertale onderrig sal kan gee.

Andreas ·

As mens moet raai waarom hulle dit so doen, dan lees mens in hul uitsprake, onder andere oor Apartheid, dat dit hul vrees is dat daar weer sodanige bestel sal ontstaan, of hulle gee dit voor en gebruik daardie argument om hul eie ideologie as die enigste werkbare oplossing voor te hou, skemer dit deur dat hul éintlike vrees is dat hulle bang is die wit mense, of die Afrikaner dan, om meer spesifiek te wees, gedy en laat hulle weer agter.

Andreas ·

Hehehe ….. want laat jy ons los, sal jy moet wikkel om by te bly.

Leon - Centurion ·

Kan nie met Flip oor die ontstaan van die Republiek verskil nie. Ons het die geleentheid vir onderhandeling vir selfbeskikking in 1994 verspeel. Dit voel asof die staatsverval nog ‘n geleentheid gaan bring. Ons moet gereed wees om ons saak te stel. Hoe gouer ons ‘n plan formuleer hoe beter. Soos die nuutste Hollandse steun wys kan die Westerse buitelanders groot hulp wees.

Jeremia ·

Die begrip, volk, geniet voorrang bo die gebruik van “nasie”. Laasgenoemde word dikwels, indien nie meestal, gebruik om uiters insklusief en ruimhartig almal in te sluit wat naastenby iewers en op een of ander wyse saamgeboender kan word.

Jerry ·

Stem saam met jou Leon. Enige toekomstige planne wat geformuleer word gaan aan gebeurlikhede moet voorsien te midde van n veel erger onstuimige politieke klimaat wat aan die kom is. Hoe meer binnelandse teenstand en buitelandse druk en hoe minder die ANC/eff hulle sin gaan kry, hoe rowwer gaan dit raak! Solidariteit is bereid om die roete te volg en moet daarom Virseker dat hulle lede ten volle gerat is en voorberei is vir die worst case scenario. Dit sou uiters domonnosel wees om teenstand te bied en druk op te plaas, maar nie ook gerat te wees vir die slegste gevolge wat moontlik daaruit mag voortspruit! Die stryd tussen Solidariteit en die ANC sal n reaksie teweeg bring vir elke aksie en sal ontaard in n kettingreaksie met gevolge tydens elke aksie! Ongelooflik baie faktore gaan in ag geneem moet word en die regte vooruitskattings gaan gemaak moet word anders kan dit lelik raak so laat in die nag!

Stephan de S ·

Die artikel bevat so n mondvol insigte en perspektiewe dat ek dit nog lank wil herkou. Maar dankie vir mense wat sulke duidelike lyne trek. Dit gee baie hoop.

Japie Venter ·

Flip ek en jy het al verskil. Dit gaan vir baie oor kulturele selfbeskikking teenoor selfbeskikking in n eie geografiese gebied. Die Afrikaner sal nie in n eenheidstaat oorleef nie. Kuturele selfbeskikking gaan ook nie die probleme oplos nie. Selfbeskikking vir die Afrikaner in n eie gebied is die enigste oplossing. Die wat die proses om met onderhandeling en aksies vir so n moontlikheid terug hou deur vas te klou aan die gedagte van kulturele selfbeskikking is besig om die Afrikaner n groot onguns aan te doen en baie kosbare tyd en geld te mors aan n oplosing wat nie gaan werk nie. Die gedagte van Afrikaner selfbeskikking het niks te doen met apartheid of rasisme nie. Dit gaan suiwer oor die oorleweing van die Afrikaner volk en ons kultuur

Andreas ·

Maroela, nou wanneer berig julle ook vir ons hieroor???
“Die Trust vir Afrikaanse Onderwys se MOS-inisiatief – gehalte moedertaalonderrig in Afrikaans!”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.