Hoe ernstig kan ʼn mens ʼn ope brief deur sakemense, wat dink staatlikheid en nasiebou is geen ideologie nie, opneem? In die brief op Sondag, vra 33 HUB’s en direksievoorsitters vir ʼn baie nouer verhouding tussen die sakewêreld en die staat. Hulle skryf ook:
We have previously been able to find common ground and put ideologies aside in the spirit of nation-building.
Let op hoe die dominante politieke paradigma, naamlik staatlikheid, gerieflik as neutraal aangebied word, terwyl alles wat van sulke polities korrekte hokuspokus afwyk verwerp word as “ideologie”. Die ironie is dat staatlikheid – die nasiebouprojek vir die massavervaardiging van die perfekte homogene staatsburger, gestroop van enige verbintenisse wat in die weg van sy onverdeelde staatsburgerskap mag staan – die mees dominante, totalitêre ideologie van ons tyd is.
Hierdie – en die res van die brief – getuig van ʼn erge mistasting oor die oorsake vir die uitrafeling van die samelewing in Suid-Afrika. Die probleem is nie te weinig “eenheid” nie, maar eerder die staat se volgehoue maatskaplike ingenieurswese om “eenheid” te bewerkstellig; dit is nie dat die Nasionale Ontwikkelingsplan nie geïmplementeer word nie, maar eerder die onophoudelike pogings om die ekonomie te beplan; dit is nie die gebrek aan ʼn “gemeenskaplike visie” nie, maar eerder die nimmereindigende maatreëls om om ʼn “gemeenskaplike visie” te smee. Die probleem is nie die verkeerde soort intervensionisme nie, maar die intervensionisme self.
Dat Business Day vandag die ope brief opvolg met ʼn hoofartikel tot lof van dié sakeleiers, herinner ons aan Leon Louw se waarskuwing – net verlede week in die einste koerant – oor die joernalistiese aptyt vir intervensionisme.