Staats-legitimiteit: Moenie burgerlike alternatiewe blameer nie, die staat ondermyn homself

Adv. Gerrie Nel (middel) Dinsdag (31 Januarie 2017) tydens 'n mediakonferensie in Centurion. By hom is Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, en Monique Taute, hoof van AfriForum se teenkorrupsie-eenheid. Foto: Marius Vermaak

Adv. Gerrie Nel (middel) Dinsdag (31 Januarie 2017) tydens ‘n mediakonferensie in Centurion. By hom is Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, en Monique Taute, hoof van AfriForum se teenkorrupsie-eenheid. Foto: Marius Vermaak

Deur Antoine Theron

In ʼn onlangse artikel in Beeld word gekla dat groepe soos AfriForum “alternatiewe staatsinstellings skep” en daardeur “die legitimiteit van die staat wil ondermyn”. Hierdie argument berus egter op ʼn oppervlakkige verstaan van wat legitimiteit behels. Moreel en geskiedkundig beskou gaan legitimiteit veel eerder oor geregtigheid as oor meerderheisteun.

Sukses ondermyn nie

Dit is altyd ʼn verleentheid vir die staat as private alternatiewe (sonder belastinggeld!) goedkoper, eerliker en beter resultate lewer. Die verleentheid is verstaanbaar – maar vanwaar Afrikaanse joernaliste se beskuldiging dat dit staatslegitimiteit ondermyn?

ʼn Suksesvolle alternatief ondermyn nie. My vrou se kookvernuf steek my brousels heeltemal in die skande. Maar ondermyn haar geurige disse my probeerslae? My tekortkominge was reeds daar – haar suksesse wys dit bloot uit. Soortgelyk, sou ʼn mens kon sê, is die sukses van alternatiewe soos tuisonderwys, private elektrisiteit of private vervolging. Dit ondermyn nie regeringspogings nie, maar wys eerder die erns van bestaande gebreke in staatsonderwys, Eskom of die nasionale vervolgingsgesag.

Waarom dan die onlangse paniek dat AfriForum se alternatiewe strukture darem nou te ver gaan en selfs, soos die artikel in Beeld uitroep, “sinistêr” en “gevaarlik” raak? Die gefladder wys die onrustigheid oor die brose aard van die Suid-Afrikaanse regering se legitimiteit – die einste legitimiteit wat die artikel so bo alle twyfel probeer stel.

Dit is die tweederangse kok wat benoud raak as iemand anders naby ʼn stoof kom. Want as ander wys dat hulle lekkerder kan kook, raak my aanspraak om die enigste kok te mag wees, wankelrig.

Legitieme regering?

Staatslegitimiteit is die kruks van die argument: Die Suid-Afrikaanse regering is legitiem, daarom is burgerlike alternatiewe wat meer suksesvol as die regering is, ondermynend.

Maar hierdie redenasie is onoortuigend. Dit is ʼn snaakse soort legitimiteit wat behels dat een groep die reg het om aan te hou droogmaak en al die ander verbied om iets beter te probeer skep. Ons sou net sowel die redenasie kon omdraai: Indien suksesvolle burgerlike alternatiewe werklik ondermynend is, beteken dit die staat se aanspraak was in die eerste plek twyfelagtig. Met ander woorde, die staat was toe al die tyd nie so legitiem nie.

Meerderheidsteun

Dit is die bedreiging van laasgenoemde gevolgtrekking wat maak dat staats-apologete die aanstelling van Gerrie Nel by AfriForum verwens. Vir hulle spruit legitimiteit nie uit geregtigheid, bekwaamheid en dienslewering nie. Hulle simplistiese idee van legitimiteit is belangrik, want dit strook met die hoofstroom politieke sienings in Suid-Afrika wat legitimiteit opeis vir die struggle, vir die verdrukking van minderhede, vir grondhervorming en vir die aggressiewe transformasie-agenda. Daardie formule vir legitimiteit is dit: As jy die meerderheidstem agter jou het, is jou instellings en pogings legitiem, anders nie.

Meerderheidsteun is die towerstaf wat van ʼn pampoen ʼn koets maak, en waarsonder elke koets verdien om afgebreek te word tot dit soos ʼn pampoen lyk. Daarom is die regering van die “moderne Suid-Afrika” legitiem, maar nie van die “ou Suid-Afrika” nie. En daarom word die inisiatiewe wat die staat se falings in die vervolgingsgesag probeer ondervang betreur, want die meerderheid staan agterdogtig daarteenoor.

Bybelse geregtigheid

Vir ʼn morele perspektief op legitimiteit is dit egter onvoldoende om stembriefies te tel. ʼn Goeie beginplek is wat die Bybel leer oor regering: Alle mag kom van God. Wie ook al aan bewind is en hoe hulle ook al aan bewind gekom het, is deur God daar geplaas. In breë sin van die woord sou ons kon sê dat alle regerings daadwerklik aan bewind legitiem is – met of sonder meerderheidsteun!

In enger sin van die woord kan mens sê regerings is legitiem wanneer hulle geregtigheid uitoefen. God se troon is gebou op geregtigheid en reg. Wanneer regeerders die geregtigheid van God se wet verwerp, word hulle soos erdepotte vir wie God waarku dat Hy hulle sal verpletter met ʼn ysterstaf. So ʼn erdepot se legitimiteit is amper uitgedien. Die Bybel leer dan ook duidelike grense vir burgerlike onderdanigheid.

Juis ter wille van ware geregtigheid moet ons soms alternatiewe instellings oprig. Paulus skryf vir die Korintiërs dat hulle die regering se hofstelsel moet vermy en alternatiewe vir regspleging moet skep (1 Korintiërs 6). Van die regering se howe, regters, amptenare en regsreëls kon die Christene nie veel geregtigheid verwag nie. Onthou dat die Christene in Korinte ʼn klein minderheid was. Sal vandag se transformasie-ideoloë ook vir Paulus en die Korintiërs beskuldig van illegitieme ondermyning van die staat?

Bybelse geregtigheid is dus die goue maatstaf vir die legitimiteit van regerings. “Wat,” vra die kerkvader Augustinus in sy Stad van God, “is ʼn staat sonder geregtigheid anders as ʼn groot rowersbende? Ook die bende rowers word regeer deur hul leiers en ook hulle verdeel die buit volgens reëls.”

Twee van die Weste se bekendste rewolusies was Christelik-geïnspireerde versetbewegings wat juis die noodsaak van geregtigheid vir legitieme regering herbevestig het.

Nederlandse Opstand

In die 16de eeu kom duisende Nederlanders onder Willem van Oranje in verset teen hulle koning Fillip II.  Tydens hierdie Tagtigjarige Oorlog kom spoedig die onafhanklike Nederland na vore. Die opstandelinge was maar ʼn minderheidsgroepie in die groot Habsburgse ryk, en moontlik selfs ʼn minderheid onder die inwoners van die Nederlandse gebiede. Maar die meerderheidsteun van die Spaanse bewind was nie regtig ter sake nie. Die regering se legitimiteit is weggevreet deur sy hoë belastings, veragting van die Nederlandse kultuur en vryhede, verdrukkende godsdienswetgewing en die gebrek aan ware geregtigheid.

Die stryders se pleitskrif, die Plakkaat van Verlatinge van 1581, stel dit duidelik: God skep nie onderdane om bloot die regering se wette, hoe reg of verkeerd ook al, slaafs te gehoorsaam nie. God skep eerder regerings ter wille van die onderdane, met die plig om onderdane met regverdigheid en billikheid te regeer. Hulle plig is om die onderdane te beskerm teen alle geweld en verdrukking. As die regeerder versuim om dit te doen, verbeur hy sy legitimiteit.

Amerikaanse Rewolusie

Soortgelyk was die versetstryd in 1775-1783 van die 13 Britse kolonies in Amerika teen hulle eie staat, die Britse regering van koning George III. Die onafhanklikheidsgesindes was in alle opsigte ʼn minderheid. Die bevolking van die kolonies was maar omtrent 2,7 miljoen en lank nie almal was eensgesind nie. Daarteenoor was die bevolking van Brittanje bykans 8 miljoen, sonder die inwoners van die ander Britse kolonies.

Hoekom het Amerikaanse Christene ʼn leidende rol in die versetstryd gespeel? Nie omdat koning George ʼn gebrek aan meerderheidsteun gehad het nie! Dit was omdat die regering se arrogansie, intimidasie en boelie-taktiek (byvoorbeeld die huisvesting van soldate in gesinne se wonings), hoë belastings en geldgrype die staat se uitoefening van geregtigheid verdonker het.

Suid-Afrika

Moreel en histories beskou, is geregtigheid – die geregtigheid van God se Woord –  ʼn sleutelvraag wanneer ʼn mens besin oor legitimiteit. Juis daarom is Suid-Afrika se probleem dieper as wat die oppvervlakkige getokkel op die enkele snaar “meerderheidsteun” laat klink.

Ons regeerders is so besig om hulle eie beursies vol te stop, of só obsessief aan die werk om hulle wêreldbeskouing op die samelewing af te dwing, dat hulle hul primêre taak – om kwaaddoeners te straf en deugsames te beskerm – heeltemal verwaarloos.  Intussen word lewe, liggaam en eiendom op die grond vertrap.

Wanneer ʼn regering nie meer menselewens kan (of werklik wil ) beskerm nie, faal hy in sy mees basiese plig om geregtigheid uit te oefen. So ʼn staat ondergrawe sy eie legitimiteit.  Dit is onnodig om ander sondebokke te soek.

  • Antoine Theron is ʼn doktorale student aan Calvin Theological Seminary in Grand Rapids, Michigan in die VSA.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

humor ·

Dankie skitterind. Ek gaan dit stoor ter voorbereiding van my geloftefeestoespraak. Die historiese voorbeelde kan gerus deur ons in ons omstandighede erns geneem word.

Henry ·

Volgens gesghebbende sensusopnames is daar nagenoeg 7,2 biljoen mense in die wêreld, waarvan ongeveer 2,2 biljoen aanhangers van die Christelike geloof is. Die meerderheid behoort aan die Rooms Katolieke Kerk. Dws amper een derde van die wêreld se bevolking is Christene wat ook die grootste enkele groep verteenwoordig en wie se geloof op die inhoud/voorskrifte van die Bybel berus.

Interessantheidshalwe. Terwyl die Christen bevolkings van Europa en die VSA ‘n duidelike afname toon, groei die Christengeloof, veral die charismatiese weergawe, met rasse skrede in Subsahara Afrika.

Alhoewel ek grootliks met die skrywer saamstem – vir wat dit werd is! :-) – oor die vereistes/kenmerke van ‘n sg legitieme/wettige(?) regering, is ek skepties oor die algemeen geldigheid wat aan die Bybel as morele kompas toegeken word. Meer as twee derdes van die planeet se bevolking aanvaar of gebruik nie die Christelike Bybel as rigtingwyser vir hul gelowe of ongelowiggeite se morele waardes nie.

Sal graag wil hoor/sien wat die skrywer en/of ander lesers se beskouinge hieroor is, siende dat die meerderheid van ons planeet se bewoners nie noodwendig dieselfde morele kompas as Christene het nie.

Piket ·

Die hele strekking van die Bybel, begin tot end is Reg en Geregtigheid.
Dit is tot opbouing en verheffing van alle mense wat Matt. 23 : 23 eer en navolg.
Geen, maar geen nadeel is verbonde aan die navolg en uitoefening van GOD se Reg en Geregtigheid nie, alleen die teenstanders van GOD en sy Woord sien dit as ‘n bedreiging en doen alles in hulle vermoë om dit te ondermyn en tot niet te maak. Maar ek het nuus vir hulle, GOD slaap nie.

willie ·

Goeie stuk. Aan Henry. Jy is skepties oor die algemene geldigheid wat aan die Bybel as morele kompas toegeken word, waar meer as twee derdes van die planeet se bevolking nie die Christelike Bybel as rigtingwyser gelowe se morele waardes gebruik nie. Jy gee die antwoord waarom die planeet in so ń gemors is. Sy Woord is ń lig vir ons pad, en ń Lamp vir ons voet.

Johann ·

Mens kan ook sekerlik kyk hoe dit in daardie lande en gemeenskappe gaan, waar die Christelike leer, nie die morele kompas is nie. En dan is daar natuurlik dié op eie vasteland.

Anoniem ·

Die Bybel leer ons om te onderskei tussen reg en verkeerd. Iemand wat nie die Bybel se gesag aanvaar nie, het ‘n ander verstaan van reg en verkeerd. Die ANC se vergrype word nie noodwendig deur almal in die land as verkeerd gesien nie – vir sommiges is dit juis die “regte” ding om te doen!

As Christen het ek al lankal besef dit gaan in Suid-Afrika nie meer oor ‘n stryd tussen wit en swart nie, maar oor ‘n stryd tussen goed en kwaad. Ek weet ook dat die Goeie uiteindelik sal wen, al is dit dalk eers met die wederkoms.

Leendert ·

Dankie, baie insiggewend. Dan, nie net die artikel in Beeld het gal gebraak nie. Die ANC se vroueliga het net so tekere gegaan, erg, en Afriforum uitgekryt dat hulle nie saam met die meerderheid wil werk nie, maar sekere dinge net vir hulself wil opeis. Jy het dit in jou paragaaf onder die opskrif Meerderheidsteun saamgevat.

Ou Legitieme Erdvark ·

Geagte mnr Theron,
Baie dankie vir hierdie artikel, onderspan deur historiese gevallestudies. Na my beskeie mening ken te min Suid-Afrikaners hul genealogie en die geskiedenis en het derhalwe min uit die verlede geleer om op te kan voortbou. Hulle het ‘n swak fondament vir sinvolle voorstelle en gefundeerde redenasies by toekomsbeplanning. Derhalwe val hulle die prooi van onkunde, slagspreuke, ongetoetste persepsies, skuldgevoelens, minderwaardigheidskomplekse en tradisionele feodale lojaliteit tot die eie groep as vlugoord vir oorlewing. Hierdie onkunde-slawekettings sal eers verbreek moet word alvorens ons ‘n volhoubare welvarende Suid-Afrika sal beleef. Opbouende opvoeding, onderwys en opleiding is die hamer, beitel en aambeeld om mense uit hul slawerny van onkunde, misbruik en korrupsie te bevry.

Piet Snot ·

Baie dankie, Antoine. Jou verduideliking van die alternatiewe regspleging vir die Korintiërs maak die privaatvervolging vir my sinvol.
Tong in die kies: jou verdere argumente oor nie-legitimiteit van die huidige regime klink vir my baie na die ANC argumente teen die vorige regering wat ek in die 80’s gelees het.

John ·

Hoeveel regerings in die geskiedenis het soos De Klerk & kie op grootdoenige wyse met die wereld wat glo ‘handeklap’, uit pure banggeit ‘n land oorgegee aan ‘n ander groep sonder skoot en skaamte? Nou wil die’ ontvangers natuurlik die res op ‘n skinkbord he. Waar het soiets ook al gebeur sonder enige teenstand; kaart en transport… en taxi-geld, en sonder redelike vergoeding? En ouers kan gerus die Koran bekyk. Moenie skrik nie. Lees op die web oor Islam (wat maar eers teen einde 700 nC ontstaan het) en wat hulle glo en oor wereld-oorheersing. Niemand waag dit om die’ inligtig oor te dra nie. Ons moet dit self doen. Ons kinders hoor daarvan en ons moet weet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.