Staatsgreep in Mianmar: Wat gebeur nou?

Aung San Suu Kyi (links) en Min Aung Hlaing. (Foto: AFP PHOTO/MYANMAR STATE COUNSELLOR OFFICE)

Op 1 Februarie, die dag waarop Mianmar se nuutverkose parlement die eerste keer sou vergader, het die weermag ‘n staatsgreep uitgevoer.

Senior generaal Min Aung Hlaing het beheer oorgeneem en die regering van president Win Myint ontsetel. Myint en Aung San Suu Kyi, Mianmar se leier, is in aanhouding. Die visepresident Myint Swe, verteenwoordiger van die weermag in die kabinet, is as die waarnemende president aangewys, maar die de facto-leier is Min Aung Hlaing. Kommunikasielyne is afgesny en die stede word gepatrolleer. ’n Noodtoestand wat vir ’n jaar lank sal duur, is afgekondig.

Die rede vir die staatsgreep, volgens die weermag, is beweerde bedrog tydens die verkiesing wat in November plaasgevind het en om die oppergesag van die grondwet te beskerm. Blykbaar wou die weermag die verkiesing weens die koronaviruspandemie uitstel, maar die regerende National League for Democracy (NLD) asook die verkiesingskommissie wou dit deurvoer.

Die deelname was met 70% in die pandemie-omstandighede besonder hoog en blykbaar het die NLD nog op hul sukses van 2015 verbeter, waar hulle 58% van die setels behaal het (wat egter 80% van die verkose setels is, as die 25% gereserveerde setels vir die weermag afgetrek word), terwyl die pro-weermagparty USDP (Union Solidarity and Development Party) swak gevaar het. Die weermag wou die stemme laat oortel, maar dit is ook van die hand gewys. Dat die regering hulle nie meer aan die weermag se bedenkinge gesteur het nie, moes vir die generaals die indruk gegee het dat hul bevoorregte posisie in die nuwe termyn dalk teruggesny sou word deur ’n nog sterker NLD.

Die staatsgreep het egter vir almal gewys wie werklik die mag in Mianmar het. ’n Magstryd binne die weermag was glo ook een van die redes vir die staatsgreep. Min Aung Hlaing se termyn as hoof van die weermag sou binnekort eindig en deur die staatsgreep kon hy sy magsposisie behou. Daar was glo wel ongerymdhede met die verkiesing, veral in die afgeleë dele waar die minderheidsvolk woon was daar geen geleentheid om te stem nie. Talle ander mense het na bewering meer as een keer gestem.

Met die staatsgreep is die demokratiese eksperiment van Mianmar vir eers beëindig. Suu Kyi en haar NLD het vir dekades lank teen die militêre diktatorskap geveg. In 2011 het die regering van Thein Sein met hervormings begin wat op die algemene en demokratiese verkiesing van 2015 uitgeloop het, waar die NLD ’n groot oorwinning behaal het. Dit is deur die internasionale media opgehemel tot ’n sprokiesverhaal: Die uiteindelike oorwinning van goed oor kwaad, soortgelyk aan die gebeure in Suid-Afrika met die hoogtepunt van 1994. Maar anders as in Suid-Afrika het die ou maghebbers egter voor die tyd ’n grondwet geskryf wat hulle ’n deel van die mag waarborg, naamlik belangrike kabinetsposte, 25% van die parlementêre setels en ’n veto op grondwetlike wysigings asook die reg om in vermeende noodtye die beheer oor te neem. Suu Kyi en haar regering moes dus versigtig trap tussen die bevolking se hoop, die internasionale gemeenskap se verwagtings en die weermag se wakende oog.

Aung San Suu Kyi. (Foto: Bullit Marquez/AP)

Dit is nie die eerste keer dat die weermag verkiesings wat nie na hul wense was, ongeldig verklaar nie. In 1990 het die NLD, reeds onder Suu Kyi, ’n groot oorwinning behaal wat die destydse weermaghoof Ne Win bloedig beëindig het. Met die aanloop tot die verkiesing van 2015 was daar egter ’n lang oorgangstydperk en het dit gelyk asof die weermagleiers besef dat hulle nie vir altyd die eise van die bevolking ná vrye verkiesings kan ignoreer nie. Die laaste militêre diktator Than Shwe het hom van die politiek onttrek en dit het gelyk asof sy opvolger as weermaghoof, Min Aung Hlaing, die verkose regering se gesag aanvaar.

Die reaksie op die staatsgreep is in die Weste een van verbasing en ontsteltenis, maar in die streek self was die reaksie terughoudend. Daar kan verwag word dat Mianmar se magtige buurlande, soos China en Indië, asook Thailand oor die stap ingelig was en dit aanvaar of selfs goedgekeur het. Mianmar is deel van die streekorganisasie ASEAN (Association of South East Asian Nations), waar outokratiese regerings die reël is. Veral die buurland Thailand se leier Prayut Chan-o-cha behoort verheug te wees. Ook hy het deur ’n staatsgreep aan bewind gekom. China se regering, wat demokratiese bewegings onderdruk, sal in sy mou lag.

Alhoewel Suu Kyi die Weste ontnugter het omdat sy ’n pragmatiese en magsbewuste politikus is wat die onderdrukking van die Moslem-minderheid toegelaat het, is sy onder die bevolking nog steeds baie gewild. Die groot vraag is wat volgende gaan gebeur. Gaan die mense die staatsgreep gedweë aanvaar, of in opstand kom? En indien wel, gaan die weermag dit bloedig onderdruk soos in die verlede? Het Min Aung Hlaing hoegenaamd ’n langtermynplan of was dit ’n staatsgreep weens ’n gekrenkte ego?

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JohanR ·

Selfs voer die weermag hier in SA ‘n staatsgreep uit, sal die maar net domme wat domme sal vervang!

Fedup ·

Will happen in this country soon enough with the new chinese women in parliament.
How that happened is astonishing.

annie ·

Antie San moes mos die Nobelprys vir Vrede teruggee. Maar sy is ‘n groot vriendin van Obama wat gereeld soentjies met hom gedeel het. Hy het eens glo beweer dat hy as kind saam met sy ma op die trappe van die tempels in Mianmar gesit het, hoewel sy glo ma (wyle) skynbaar van Joodse afkoms was. Die waarheid sal ons nie weet nie. Maar siende dat Obama so te sè weer die prez van die VSA is, kan ons seker wees die woorde gaan vlieg indien nie ‘n paar koeèls nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.