Staatsgreep in Soedan: terug na die slegte verlede

Abdel Fattah al-Burhan (Foto: Ashraf SHAZLY/AFP)

Die hoopvolle en baie delikate demokratiseringsproses in Soedan is skielik deur die staatsgreep van generaal Abdel Fattah al-Burhan tot stilstand gebring.

Al-Burhan was hoof van Soedan se soewereine raad, bestaande uit verteenwoordigers van die weermag en van die demokrasiebeweging, saamgevat in die breë alliansie Forces of Freedom and Change (FFC).

Die hoogste gesag aan die burgerlike kant is eerste minister Abdalla Hamdok, wat nou ontsetel en in hegtenis geneem is. Al-Burhan het verklaar dat die oorgangsproses wel voortgaan, maar dat die raad ontbind en die eerste minister en kabinet vervang gaan word omdat hulle ondoeltreffend was. Of die oorgangsproses na demokrasie steeds voortgaan kan bevraagteken word. Dit bring ’n einde aan ’n baie bemoedigende proses van gesamentlike bestuur, waar beide kante ingestem het om die land deur ʼn lang oorgangsproses na volwaardige demokrasie te lei, nadat massabetogings in 2019 tot die val van generaal Omar al-Basjir, die langdurige en wrede diktator, gelei het.

Die oorgangsraad kon Soedan se dekadelange isolasie weens steun aan Islamitiese fundamentalisme verbreek en het tradisionele vyande soos die VSA en Israel as vriende gewen en ook groot finansiële steun ontvang. Daar kon ook met verskeie etniese guerrillagroepe in Soedan, wat die diktatorskap en sy Islamitiese ideologie beveg het, vrede gemaak word. Dit was die laaste tyd een van die min hoopgewende stories uit Afrika.

Al-Basjir is tans in aanhouding en staan aanklagte van korrupsie in die gesig. Hy word egter ook deur die Internasionale Strafhof in Den Haag van oorlogsmisdade beskuldig. Die burgerlike kant van die bewind wil Al-Basjir laat uitlewer, terwyl die militêre kant hom liewer tuis wou verhoor, moontlik uit vrees dat Al-Basjir met sy volksmoordverhoor die vinger na medepligtiges in die weermag soos Al-Burhan kan wys.

Al-Burhan sou oor ʼn maand vir ʼn burgerlike hoof van die oorgangsraad moes plek maak in lyn met die onderhandelde oorgang na demokrasie en dit sou moontlik wees dat hy vorentoe self verhoor sou word vir sy rol in die onderdrukking van die demokrasiebetogings in 2019. Verder was dit eenvoudig ook ʼn kwessie van ego en gesag: Al-Burhan het nie Hamdok se gesag aanvaar nie en het homself as die meerdere in die regering beskou. Toe burgerlikes teen verswakkende lewensomstandighede betoog het, is Hamdok se posisie verswak en die weermag het sy kans gesien om te midde van onsekerheid as die redder op te tree. Dit is egter ʼn groot waagstuk, want ten spyte van ontevredenheid oor sekere aspekte van die oorgangsproses kan aanvaar word dat die oorgrote meerderheid Soedanese die demokratiese proses steun en die idee van die terugkeer na ʼn militêre diktatorskap verafsku. Ook die internasionale isolasie sal nou weer terugkeer. Selfs lande soos Saoedi-Arabië en die Verenigde Arabiese Emirate, albei monargieë en tradisioneel vriendelik met Islamitiese gesagstate soos Soedan, kan nie nou openlik die staatsgreep steun nie.

Een land met parallelle met Soedan wat betref die lang militêre diktatorskap, oorgangsproses na demokrasie en ʼn terugval na militêre beheer, is Mianmar (Birma) in Suidoos-Asië. Sedert die staatsgreep in Februarie vanjaar is die weermag onder generaal Min Aung Hlaing weer aan bewind, na ʼn burgerlik-militêre magsdelingsfase van enkele jare. Nes in Soedan was die ware rede vir die staatsgreep die vrees dat die weermag hulle langdurige invloed en hulle ekonomiese voordele kan verloor met ʼn sterkerwordende demokratiese bewind.

Ook Min Aung Hlaing se termyn as weermaghoof was naby sy einde, en om sy politieke lewe te verleng moes hy die staatsgreep uitvoer. Die militêre bewind is internasionaal geïsoleerd en het net enkele ondersteuners. Aansienlike dele van die bevolking is sedert die staatsgreep teen die bewind in opstand en die land kom net nie tot rus nie. Die mense op grondvlak gee nie moed op nie, maar die weermag gee ook nie bes nie, want ʼn terugkeer na die status quo van burgerlik-militêre samewerking is nou nie meer moontlik nie.

Vir Soedan voorspel die toedrag van sake niks goeds nie. Daar is ʼn moontlikheid van ʼn burgeroorlog soos in Mianmar, waar die aanvanklik vreedsame betogers nou ondergrondse rebellegroepe gevorm het wat die regeringstroepe gereeld aanval, wat op hulle beurt weer bloedig wraak neem. Mianmar is nie heeltemal geïsoleerd nie, met China en Rusland wat ten minste agter die skerms die bewind ondersteun uit eie ekonomiese en strategiese belang.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
AW

Ja Nee !!

Baardman

Is dit nie wat hier ook beplan word nie