Staatsgreep: Turkse reaksie veroosaak dilemma vir Navo, EU en die Weste

Foto: AP Photo/Emrah Gurel

Foto: AP Photo/Emrah Gurel

Pres. Reçep Tayyip Erdogan se felle – sommige meen buitensporige – reaksie op verlede week se mislukte staatsgreep in Turkye het die Weste voor ’n yslike dilemma geplaas. Bly dié lande getrou aan hul beginsels, of geniet belange die voorkeur?

Dis duidelik dat die mislukte staatsgreep tans gevolg word deur wat neerkom op ’n tweede staatsgreep, dié keer deur Erdogan. Sy reaksie dui daarop dat hy die laaste reste van opposisie in sy land wil uitroei. Veral die beweging van die geestelike Fethullah Gülen, wat in Amerika in ballingskap leef, en wat vir die staatsgreep verantwoordelik gehou word, moet dit ontgeld.

Toe hierdie woorde geskryf is, is meer as 50 000 mense (militêre, regters, aanklaers, onderwysers, universiteitsdosente, joernaliste) reeds aangehou of uit hul werk ontslaan omdat hulle na bewering by die staatsgreep-poging betrokke was of ondersteuners is van die Gülen-beweging. In die internasionale media is foto’s geplaas van hoë offisiere voor en ná hul aanhouding, waaruit blyk dat hulle kwaai aangerand is.

“Ons sal die Gülen-beweging by sy wortels uittrek,” het premier Binali Yildirim aan die parlement gesê. En Erdogan het teenstanders van sy regime as “ongedierte” en “virusse” bestempel wat “uitgeroei” moet word.

Die heel eerste Westerse reaksie was om standpunt teen die staatsgreep-poging in te neem. Dit was immers ’n ondemokratiese en ongrondwetlike daad.

Maar Erdogan ontpop hom die laaste jaar of twee toenemend as ’n erg outoritêre politikus wat duidelik alle mag wil hê en by wyse van spreke geen ander gode naas hom duld nie. Hy het byvoorbeeld opposisiekoerante deur sy weermag laat beset, die redaksielede uitgeskop en sy eie mense in die redaksies aangestel.

Die publiek se reaksie wys groot steun vir hom. Baie mense meen hy is ’n kragtige leier wat Turkye se vergane glorie – die land se ryk het nog tot die 17de eeu immers van Egipte tot byna by Wenen in Oostenryk gestrek – sal herstel.

En sy teenstanders is geïntimideer. Vir sover hulle nog op vrye voet is, sit hulle in ’n hoekie en hou hul mond styf toe. Veral omdat Erdogan dreig om die doodstraf, wat al in 1984 afgeskaf is, te herstel.

Dit plaas die Weste – Europa en Navo – voor ’n yslike dilemma.

John Kerry, Amerika se minister van buitelandse sake, het al openlik gesê die Turkse regering se optrede gaan te ver. Lidmaatskap van Navo vereis die nakoming van demokratiese beginsels, het hy op besoek aan Brussel gesê, en Turkye se lidmaatskap kan opgeskort word. Hy het aangekondig dat Amerika nougeset sal dophou wat dáár gebeur, en sy beleid daarop sal baseer.

In reaksie op Erdogan se dreigement dat die doodstraf weer ingevoer word, het twee swaargewig- Europese politici, bondskanselier Angela Merkel van Duitsland, en die Europese Unie (EU) se hoë verteenwoordiger vir buitelandse sake en veiligheidsbeleid, Frederica Mogherini, gesê in daardie geval sal die gesprekke oor Turkye se toelating tot die EU subiet gestaak word.

Dit alles is egter makliker gesê as gedaan. Die probleem is dat Turkye in verskillende opsigte van deurslaggewende internasionale belang vir die breë Weste is.

Om mee te begin vorm Turkye geopolities en ideologies ’n brug tussen Europa en die Midde-Ooste.

Navo-vliegtuie opereer teen die terreurbeweging Islamitiese Staat (IS) vanaf die lugmagbasis Inçirlik in Suid-Turkye. Sonder Inçirlik sal Amerika en Navo probleme hê om al die IS-teikens in Sirië te bereik. Die maklikste alternatief is Jordanië, maar dié se lugmagbasisse is al klaar oorbevolk, en dit sal meet en pas kos om al die vliegtuie en grondpersoneel van Inçirlik na Jordanië te verskuif.

Turkye is al sedert 1923 ’n sekulêre staat met ’n streng skeiding tussen kerk en staat, anders as ander Moslem-lande wat dié onderskeid nie ken nie. As sodanig was die land ook tradisioneel ’n ideologiese alternatief vir fundamentalistiese state.

Erdogan het die laaste jare egter nie slegs die grond onder die demokrasie laat wegkalwe nie; hy het ook die rol van die Islam in die politiek vergroot. Hy het glad nie so ver soos byvoorbeeld die IS, Saoedi-Arabië en Iran – almal teokrasieë – gegaan nie, maar die gevaarligte in die Weste flikker al lank.

Turkye is voorts die land waardeur die meeste van die Midde-Oosterse vlugtelinge verlede jaar na Europa gestroom het. Die EU se ooreenkoms met Turkye om die tsunami te keer is vir Europa van groot belang. Die nakoming daarvan hang van die Erdogan-regering af, en Europese regerings is so bang soos die duiwel vir ’n slypsteen vir ’n herhaling van die 1,3 miljoen vlugtelinge wat die vasteland verlede jaar oorstroom het.

Daarby is Turkye ook belangrik vir die toenemende spanning tussen Rusland en die Weste. Die land beskerm Navo se suidelike flank.

Op die basis Inçirlik word tussen 500 en 1 000 Amerikaanse kernbomme aangehou. Dis onderdeel van die Amerikaanse kern-afskrikking teenoor Rusland en Iran. As Turkye se Navo-lidmaatskap opgeskort word, kom dit in die gedrang.

Ten slotte: Turkse grondgebied beslaan sowel die Europese as die Asiatiese kant van die Dardanelle, die seestraat wat die Swartsee met die Middellandse See verbind.Internasionale ooreenkomste gee Russiese oorlogskepe die reg om vryelik deur die nou seestraat te vaar. Maar in tye van spanning of oorlog kan Turkye dit as Navo-lid maklik vir die Russe sluit en Rusland as ’t ware in die Swartsee toesluit.

Uit dit alles blyk dat dit nie so eenvoudig is om Turkye uit Navo te dryf of selfs maar om sy lidmaatskap op te skort nie. Só ’n stap kan maklik daartoe lei dat die onberekenbare Erdogan van kamp verwissel en ’n Russiese bondgenoot word en/of aansluiting by Moslem-fundamentalistiese state soek.

Dit kan ook die einde beteken van sy samewerking om die vlugtelingstroom na Europa te keer. In daardie geval kan Europa opnuut met onhanteerbare hoeveelhede onwettige immigrante te make kry, mense wat ten beste bitter moeilik integreerbaar in die Europese samelewings is.

In die verlede het Navo om soortgelyke redes ook maar verskeie kere anderpad gekyk toe militêre staatsgrepe in Turkye plaasgevind het.

Dit is nou maar eenmaal ’n kenmerk van die politiek. As daar gekies moet word tussen belange en beginsels, sal belange normaalweg altyd wen.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Tiaan ·

Turkye probeer om almal tevrede te stel deur NAVO, EU, Rusland en ISIS gelyktydig te ondersteun, hulle kan onmoontlik almal tevrede hou

Theuns ·

Hallo Tiaan, Jy het n paar dae terug gese jy glo nie Rusland wil sy grondgebied uitbrei nie? Kan jy vir ons ‘n bietjie meer duidelikheid gee oor hoekom Erdogan optree soos hy optree? Wat is sy motief? Waar pas Rusland in die prentjie? Het jy mooi gelees wat Dr. Scholtz se? Sal dit wardeer as jy vir ons jou normale insigewende kommentaar kan lewer ivb met die Midde Ooste problem.

DewaldS ·

As jy in die rigting van die Swartsee beweeg vanaf die Middelandse-see beland jy eers in die Egeïse-see – daar is nie ‘n spesifieke seestraat daarvoor nodig nie. Vanaf die Egeïse see moet jy deur die Dardanelles seestraat vaar om in die see van Marmara te wees en dan weer deur die Bosphorus seestraat om in die Swartsee op te eindig. Die Montreaux konvensie – wat aan Turkeye magte gee om deurgang deur die Dardanelles en die Bosphorus te beheer, werk bietjie meer ingewikkeld as wat hierbo beweer word.

Daar is maar 5% van Turkey se grondgebied in Europa. Hulle kulktuur verskil totaal van die Westerse kultuur. Die feit dat Turkeye lid van Navo is (en amper ‘n EU-lid geword het), behoort enige regdenkende mens te laat wonder wie se belange word eintlik gedien deur hierdie verdrae en ooreenkomste. Dis moeilik om te sien hoe Europa se belange gedien word hierdeur, want dit lyk of die Russe nie eintlik Europa se vyand is nie, maar eerder die vyand van die VSA en die internasionale elite en media? Die volgende stap is dan om te wonder wie die staatsgreep ge-orkestreer het om vir Erdogan te probeer uitwerk?

Loeis ·

Jy is heeltemaal reg: die VSA meng in en Europa betaal (heel gewilliglik ook) die prys.

Theuns ·

DewaldS, Jammer om te se maar jy praat sommer n klomp tjol!

Henry ·

Jis ou Theuns,
DewaldS het duidelik ‘n baie ingeligte en intelligente bydrae gelewer. Jou neerhalende opmerking, sonder enige motivering, staan in skrille kontras.
My poging sal waarskynlik nie geplaas word nie, maar nou het ek darem my mening oor die ongeregtigheid gelewer.
Aquila non capit muscas.

Loeis ·

Leopold, jy mis ‘n hele paar punte, almal wat teen NATO wys:
1 Iran het toe, nes Irak, nie kernwapens vervaardig nie, en dit is Bush se “missile shield” wat die Russe geprovokeer het om self hul verdediging teenoor Oos Europa op te skerp.
2 Die Amerikaners en Britte se lugaanvalle het maar beperkte sukses – teen hierdie tempo gaan die konflik nooit ophou nie,
3 dit is onder meer die lugaanvalle wat die vlugtelingstroom na Europa veroorsaak het,
4 ‘n klomp mense in Europa is dalk “bang soos die duiwel vir ‘n slypsteen” vir golwe vlugtelinge, ander verwelkom hulle, nes hul polities korrekte regerings.

In kort, Europa is die slagoffer van die NATO lande se voortdurende inmenging in die midde ooste.

Terloops, die vlugtelingkrises laat mens onwillekeurig dink aan Dlamini Zuma en haar ideaal van Afrika paspoorte wat nou begin waar word. Elke ramp is grootter as die vorige.

Leopold Scholtz ·

Beste Loeis,
1. Inderdaad, Iran het toe nie kernwapens vervaardig nie. Maar onthou, die land het maar eers ‘n paar maande gelede formeel afstand daarvan gedoen.
2. Ek stem.
3. Die lugaanvalle het slegs ‘n beperkte rol gespeel. Die groot oorsaak is die burgeroorlog. Daar is nie eintlik tussen die vegtendes te kies nie – Assad, die rebelle, IS, die Russe, Navo – almal dra by tot die probleem.
4. Sommige regerings het aanvanklik die vlugtelinge om humanitere redes toegelaat. Die onbeheerde stroom het almal groot laat skrik. Vandaar die ooreenkoms met Turkye. Van die “welkomskultuur” is min oor.
5. Met respek, jy oordryf Navo se rol in die ontstaan van die vlugtelingkwessie heel erg. Kyk my punt 3.
Groetnis vir jou.

Turksvy ·

Baie interessant. Erdogan gebruik nou die geleentheid om sy teenstand finaal uit te roei. Dit is so n lekker verskoning dat ek wonder of statsleiers in die toekoms dalk dit as n strategie sal gebruik: laat jou vyand toe om staatsgreep te reel, selfs al weet jou intelligensiediens dit. Laat jou intelligensie bloot net info insamel oor wie jou vyand is.

Truksvy ·

Turkye se mag het destyds for oostenryk gestrek Ja, maar strek dit nie vandag baie verder nie? Groot woongebiede en sekere ekonomiese sektore word deur Turke beheer regdeur duitsland, Engeland, regdeur EU, en hulle word sterker by die dag.

Leopold Scholtz ·

beste Truksvy, Volgens die sensus van 2011 het Duitsland ‘n bevolking van oor die 80 miljoen gehad. Onder hulle was sowat 3 miljoen wat minstens een ouer van Turkse afkoms het. Teen hierdie agtergrond meen ek opreg jy oordryf nou darem. Maar dat die aanwesigheid van soveel moeilik integreerbare Moslems ‘n probleem is, kan nie ontken word nie. Moet dit net nie groter maak as wat dit is nie, sou ek reken.

Theuns ·

Beste Leopold, is dit nie eienaardig dat die staatsgreep plaasvind kort nadat Erdogan Rusland omverskoning gevra vir die afskiet van een van sy vegvliegtuie nie? Ek verstaan Poetin en Erdogan is nou weer groot pelle?

Leopold Scholtz ·

Beste Theuns, nee, ek sien self nie enige verband nie. Poetin en Erdogan het wel hul geskille bygele, maar groot pelle is hulle – voorlopig altans – nie. Maar dit kan natuurlik wel verander. Lekker dag vir jou.

Theuns ·

Beste Leopold, bly jy is nog op die forum. Ek het jou vir n paar dae gemis maar vandag het jy weer daarvoor vergoed!

HV ·

—– Erdogan misbruik die situasie om sy teenstanders uit te roei deur hul in hegtenis te neem —— dit is nou n lekker stukkie propaganda, nee meneer dit is mense wat hoogverraad teen Turkye gepleeg het. Wys my dié land waar persone wat n staatsgreep geprobeer uitgevoer het hul so ligte tikkie op dié pols gee en sê moenie weer nie hoor. Vroeër is verraaiers voor n vuur peleton gesit. Eish dink net wat sou Amerika doen. Soos ek dit sien. Erdogan was 100 % pro NAVO, hy was voor in die koor met die demonifisering van Putin en Rusland, hy het gejuig toe die vliegtuig afgeskiet is. en daar spring hy om en vra vir Putin onverskoning oor die veg vliegtuig. Hoekom? Ek sou sê Erdogan het bewus geword van die broeiende staatsgreep (dit is een van die redes vir die mislukte staatsgreep) en dat Amerika daar agter sit. Daarom die skielike ommeswaai, want Turkye kan Amerika nie vertrou nie.

DewaldS ·

Watter intelligensie-dienste op hierdie planeet – behalwe die van Rusland – sou hom kon help om die staatsgreep te fnuik?

André ·

Dalk bietjie laat bygekom, maar ek wil net weet vir gewone regsdenkende mens sou dit beter gewees het as die staatsgreep geslaag het of moet mens bly wees dit het misluk.

HV ·

Die nuus is uit. Rusland waarsku Turkye van die staatsgreep ure voor dit plaasvind. Dalk jou atw Dewalds.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.