Staatskaping, die marxistiese kabaal en SA se verkrummelde orde

sa-reserwebank

Die Suid-Afrikaanse reserwebank. Foto: Resbank.co.za

Deur Russell Lamberti: ETM Analytics

[Nota: Hierdie stuk is gebaseer op ʼn langer ontleding wat in September 2016 deur ETM Analytics aan hul hoofintekenaars vrygestel is en is met toestemming vir Maroela Media verwerk.]

Opsomming

Die ANC is deurspek met korrupsie en patronaatskap en faksies en binnegevegte is besig om die party, wat 104 jaar oud is, aan bande te lê. Die ANC beleef tans ʼn eksistensiële krisis. In dié ideologiese stryd om Suid-Afrika speel die tesourie en die Reserwebank, as primêre bronne van die staat se finansiële mag, ʼn sleutelrol.

Indien revolusionêre faksies ten volle beheer oor dié instellings bekom, sal dit ʼn katastrofale sosiale en ekonomiese ramp meebring. Maar die geveg oor die Tesourie wat tans woed, is slegs die voorgrondgeveg in ʼn groter toneel. In die agtergrond is ʼn breër ondergrawende Marxistiese ideologie, wat reeds diep by die staat ingegrawe is, in werking. Dit is hierdie ideologie, wat die staat as die skeidsregter oor die toekenning van hulpbronne en voorregte gebruik, wat die klimaat skep vir ʼn politieke ekonomie van patronaatskap.

In só ʼn raamwerk is dit onafwendbaar dat faksies ʼn stryd om beheer sal voer vir die staat se meganismes en hefbome van mag en is staatskaping bykans onvermydelik. Staatskaping verhoog die risiko vir die roekelose sistemiese misbruik van die Reserwebank en die Tesourie aansienlik.

Misbruik van dié instellings sal uiteraard verdere nadelige sistemiese disfunksie meebring. Om die nadelige sistemiese wanfunksionering van Suid-Afrika se politieke ekonomie om te keer, sal twee dinge vereis. Eerstens moet daar met politiek van patronaatskap weggedoen word, maar tweedens moet die ANC se toewyding aan ʼn sosialistiese bestel, soos in die Nasionale Demokratiese Rewolusie-dokumente (NDR) verwoord word, ook tot ʼn einde kom.

Oor die laaste 20 jaar het die ANC-regering se ryk erflating van infrastruktuur, ʼn mildelike invloei van buitelandse beleggings en robuuste regeringstrukture wat voor 1996 gestig is, ʼn diepgaande en toenemende disfunksie in die regering verbloem. Die laaste aantal jare is hierdie disfunksie toenemend ontmasker en dit kan nie langer versteek word nie. Hierdie disfunksie het sy oorsprong in die ANC se marxistiese revolusionêre meerderheidsoorheersende denkraamwerk, wat uitdrukking in die opruiende National Democratic Revolution (NDR) gevind het.

Dié ideologie het ʼn grootskaalse strukturele swakheid in die Suid-Afrikaanse staat geskep en gaan uiteindelik sy eie ondergang bewerkstellig. Daar is vier spreekwoordelike ruiters van selfverderf wat hiervoor verantwoordelik gaan wees:

  1. ʼn Ondergrawende regulatoriese kode wat grootskaalse oordragte van rykdom in die guns van gunstelinggroepe meebring.
  2. ʼn Ontwikkelingstaatideologie, waar die staat as hoofskeidsregter van elite rykdomversameling en -verspreiding optree en nie die mark nie;
  3. ʼn Onvolhoubare klein belastingbasis;
  4. Oormatige sentralisering van politieke mag in ʼn groot en etnies-uiteenlopende nasiestaat.

Die ANC se politieke bestel is tans hoogs kwesbaar en besig om voor ons oë te verswak. Druk vanuit verskeie oorde is besig om op die ANC-regering neer te daal en die ANC staar ʼn eksistensiële krisis in die gesig. Die kans bestaan nou dat Suid-Afrika nou sy mees stormagtige politieke fase sedert die 80’s en 90’s binnegaan.

Die ANC se eksistensiële krisis is tweeledig. Eerstens is die vraag of die ANC sy huidige binnegevegte gaan oorleef. Tweedens en waarskynlik die belangriker punt, is hoe die ANC as ʼn Marxistiese revolusionêre party, met ʼn selfverklaarde reg om permanente heerskappy, voortaan sy bestaan gaan regverdig. Laasgenoemde vorm die kruks van Suid-Afrika se politieke toekoms, wat gaan bepaal of ʼn pluralisties-liberale of sosialisties-totalitêre bedeling in die toekoms die lig gaan sien.

Gordhan se sleutelrol

Pravin Gordhan, minister van finansies, se huidige sleutelrol in Suid-Afrika se voorgehoue stabiliteit toon juis hoe ver die premie op Suid-Afrika se regering reeds verswak is. Dit is ironies en kommerwekkend dat Gordhan, wat geen ridder-op-ʼn-wit-perd in die huidige ekonomiese penarie is nie, nou as politieke redder en laaste skans teen ekonomiese verval staan. Tydens Grodhan se vorige termyn is Suid-Afrika se regering ʼn verdere R1.5 duisend miljard in die skuld ingesleep en die weg na rommelkredietstatus so te sê gebaan.

Die skerp verswakking van die rand met die onlangse Gordhan-Valke-fiasko dui daarop dat die markte sien die kwessies oor die beheer van die tesourie is uiters belangrik. Tog is die moontlikheid van oorname van die Tesourie deur ʼn sekere elite-groep, wat daaruit voordeel wil trek, slegs ʼn eng gesprek wat ʼn meer omvattende probleem miskyk. Die gevaar is dat ʼn eng fokus op die tesourie se gebeure, die breër staatskaping deur ʼn groter marxistiese kabaal, wat reeds by die sleutelhefbome van beleidsmag stelling ingeneem het, nie sal verreken nie. Die vraag is nie soveel wie aan beheer van die tesourie gaan staan nie, maar eerder of die ANC en sy alliansievennote van die NDR gaan afstand doen.

ʼn Sosialistiese rewolusionêre stelsel neig altyd om mag oor hulpbronne as ʼn monopolistiese skeidsregter in homself te setel, waarna hulpbronne vir politieke gewin uitgekeer kan word. Dit is die neiging wat die dryfkrag is van toenemende korrupsie, baantjies-vir-boeties-politiek en staatskaping self. Sonder ʼn omkeer van dié breër marxistiese staatskaping kan die individuele gevalle van staatskaping nie gestuit word nie.

Binne die ANC is die groot geveg ook nie tussen korrupte marxistiese huursoekers en liberale sentriste nie, maar eerder tussen korrupte marxistiese huursoekers en dogmatiese marxistiese ideoloë.

Die Marxistiese ideoloë sien die plunder en korrupsie van die huursoekers as ʼn aanval teen die legitimiteit van die staat, wat die broodnodige hefbome van mag vir die implimentering van hul NDR besit. ʼn Voorbeeld hiervan is uitsprake deur Mcebisi Jonas, Gordhan se geagte adjunk, wat onlangs in geen onduidelike terme nie, sy toewyding aan die NDR in hierdie konteks bevestig het. Jonas is een van diegene wat aanvoer dat staatskaping (soos hy dit sien) die doelwitte van die NDR ondergrawe. Daar word ʼn aantal gedeeltes uit sy April 2016-artikel op die SAKP-webblad aangehaal:

“The fact that our dirty laundry [Jonas verwys hier na die beweerde staatskaping deur die Gupta-familie] is on public display reflects as positively on the robustness of our democratic and watchdog institutions as it reflects negatively on our own integrity. But there is no escaping the fact that it seriously undermines our ability to lead society through the current phase of the NDR.”

Jonas verlang na ʼn sentrale staatsbeheerde ekonomiese model waar:

 “…the state and capital move beyond traditional paradigms towards a system of reciprocal incentives and trade-offs in the national interest…”

 “At the centre of this new economic governance model must be a clear and decisive system for distributing rewards and costs. This will necessitate trade-offs being facilitated between the state and capital, between foreign and domestic capital, between corporate capital and SMMEs, between established industry players and new entrants; between capital, labour, and consumers; and between the formally employed and unemployed.”

Hy beklemtoon sy tema verder in ʼn volgende paragraaf:

“In line with current thinking on the developmental state, a shift to this approach will require new and heightened levels of political maturity, as well as more centralised and streamlined economic policy co-ordination and authority. It will also require new state capabilities to be developed and sustained over time (in critical areas such as industrial policy design and implementation, trade and market intelligence, public investment structuring, and transaction and project management, among others).  The state also needs to be further embedded in an alliance of popular and progressive forces to regain legitimacy and avoid narrow capture.”

Met ander woorde, volgens Jonas, moet die staat die bepalende rol in alle ekonomiese aangeleenthede speel en as skeidsregter in besluite oor produksie, verbruik en inkomste- en rykdomherverdeling optree. Die toepassing hiervan sal natuurlik die rol van die mark in ekonomiese aangeleenthede verder moet inperk.[1]

Hierdie is ʼn skrikwekkende vooruitsig van ʼn marxistiese kabaal, wat met alle redelike realiteit gebreek het. Die groot ironie is dat dit juis die beleidsvoorskrifte van die NDR, die ontwikkelingstaat se paradigma en radikale regulatoriese inmenging by die markekonomie is wat korrupsie, baantjies-vir-boeties en staatskpaping aanvuur deur ʼn onskeidbare verband tussen die staatsbeleid en die verdeling van hulpbronne daar te stel. Dié spilpunt van korrupsie is presies hoekom sosialistiese stelsels altyd in stelsels van patronaatskap ontaard. Tog glo SA se marxistiese ideoloë hulle is uitsonderlik genoeg om die uitsondering op die historiese reël te wees.

Hierdie toedrag van sake laat ʼn mens wonder wat presies die redes vir die huidige ekonomiese en finansiële onstabiliteit is. Is dit slegs president Zuma se baantjies-vir-boeties-politiek, of die breër marxistiese kabaal wat sedert 2009 onder die Zuma-administrasie floreer het? Dit is natuurlik ʼn strikvraag, want beide speel ʼn rol. Maar eersgenoemde is slegs die meer sigbare simptoom van die onstabiliteit wat eintlik vanuit laasgenoemde as die meer onderliggende rede voortvloei en Suid-Afrika se ekonomie en belangrike beleidsinstellings uiters kwesbaar laat.

Solank as wat die onderliggende strukturele marxistiese sienswyse die regering oorheers, sal nepotisme en baantjies-vir-boeties-politiek voortduur en bykans onmoontlik wees om mee weg te doen. Verder sal onverbiddelike druk voortdurend aangevuur word om die Tesourie en die Reserwebank aan meer onverantwoordelike bewaarders oor te dra. Soos die NDR en sy vier ruiters van selfverderf die ekonomie lam lê en chroniese sistemiese kwesbaarheid skep, sal die meedoënlose marxistiese denkwyse toenemend druk vir nog sterker beheer oor die hefbome van staatsmag uitoefen. Die geskiedenis leer ons dat indien hierdie toedrag van sake nie omgekeer word nie, nadelige gevolge bykans onvermydelik is.

Ligpunte

Tog is daar ʼn aantal ligpunte wat na vore tree. Die DA se opkoms in drie van land se vier groot metropolitaanse areas is een ligpunt. Dié suksesse van die DA gee aan die land se grootste opposisieparty ʼn stewige strategiese vastrapplek in die groot sentra van mag en is ʼn groot wond aan die ANC se patronaatskapstelsel. Terwyl die DA ʼn brandmuur teen verdere verval is, is hul werk uitgeknip om die ingewikkelde metro’s goed te bestuur en nuwe swart kiesers te werf. Ten spyte van ʼn apatiese ANC-kieserspoel en ʼn groot opkoms van DA-kiesers in die 2016 munisipale verkiesing, het die DA nogtans slegs 27% van die nasionale stemme gewerf. Die party se groot uitdaging is om in 2019 apatiese kiesers in DA-stemme te verander.

Die ander ligpunt is dat die ANC-faksies se binnegevegte die hele gemors, van ʼn hopelose, regressiewe poging om Suid-Afrika deur amptelike bevelskrifte in belang van ʼn elite-netwerk te beheer, aan ʼn nou meer verligte kieserspoel ontbloot.

Verder het die rooier as rooi EFF in die munisipale verkiesing swakker presteer as wat sommige politieke strateë verwag het. Tesame met kiesers se apatie teenoor die ANC, dui dit daarop dat die linkse politieke handelsmerk miskien swakker is as wat sommige ontleders gedink het. Dit laat ʼn groot gaping vir ʼn nuwe magsentrum om na vore te tree: moontlik ʼn politieke beweging wat sentristies, baie meer markvriendelik en tog eg swart Afrikanisties is. Só ʼn beweging kan selfs rede vind om kragte met die DA saam te snoer. Dié moontlikheid sal ʼn welkome uitkoms van die huidige stormagtigheid wees en is tans waarskynlik die beste waarvoor Suid-Afrika kan hoop.

Dat die voorstaanders van die kerk van Karl Marx tot nou toe só erg daarin misluk het om die nasionale welvaart te vermeerder, of om die beloofde Utopia met dwang te skep, bring hulle geensins van stryk af nie. Maar, wat die ANC se binnegevegte betref, hetsy dit marxistiese huursoekers, of die ware marxistiese ‘gelowiges’ is, is dit noodsaaklik dat albei faksies verloor vir Suid-Afrika om te wen.

Nota:

[1] Eie klem bygevoeg.

 

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

21 Kommentare

JC ·

Goeie artikel, RSA sal op die ou einde wen! (met behulp van DA, en sy alliansie vennote bv. Vryheidsfront Plus, UDM, COPE ensomeer)
In my opinie het die tyding klaar onomkeerbaar gedraai. Slegte nuus vir ons kaders in die ANC!!
Dis waar, ‘n Nuwe rewolusie het aangebreek, maar nie die NDR nie hehe!! Een van ‘n heel ander gedaante.

Max ·

JC terwyl die DA , Mammon en die ANC hand op die blaas sit, sal niks verander of verbeter nie !

Theuns ·

Ja ek stem 100% dat die ‘n besonderse artikel is wat alles se wat die kommentare van die MM bydraers se! Die artikel maak duidelik wat die ANC in 1994 ontvang het van die sogenaamde minderheid en in wat Suid Afrika in ontaard het nou in 2016! Die ANC speel met vuur. Hulle dink regtig die Afrikaner en ons wit Engelse langenote gaan niks vermoedend na die slag kamers gelei word? Ons moet terug vat wat FW weggegee het!

Theuns ·

Dankie JC, jou eie bydraes is uitstekend.Ek sal saam met jou Oorlog toe kan gaan! Groete.

Max ·

Alle ideologiee het net twee boustene, nl. materie en energie. Wie finansier die ANC vanaf hul stigting ? Die VSA, Brittanje, ens. Dr. Verwoerd is vermoor omdat hy n Christen is en Chritelike beginsels toegepas het !

Nita ·

Die DA het tot 2019 tyd om hulle stempel af te druk en te bewys hulle kan metro’s en munisipaliteite ordentlik bedryf. Indien hulle slaag sal hulle beslis meer steun verwerf in die 2019 verkiesing.

John ·

‘n Uitstekende en angswekkende spieelbeeld van SA. Wat mens baie laat wonder is waarom die Marxistiese ideologie juis so aanvaarbaar is vir die ANC hoewel dit klaaglik misluk het (met groot lewensverlies) elders in die wereld. Hier en daar, soos in N-Korea en Sjina, bly die ideologie nog vasskop veral waar die massas tot totale onderdanigheid gedwing wil word. Jaloesie en parasitisme is twee arms van die pes wat te verstane juis om die’ redes verduur word deur diegene wat dit ‘onder lede’ het. Die EFF se beleid staan lynreg teenoor die’ van die DA. Die ANC gaan die’ kloof dieper grawe en vol gif strooi. Indien die Christelike leerstellings van onderdanigheid aan die Opperwese, naasteliefde, selfgenoegsaamheid en verantwoordelikheid nie gedy nie, is daar min hoop op ‘n verandering van rigting in die politieke landskap.

Zet ·

John jy sê dat jy; “…wonder waarom die Marxsistiese ideologie juis so aanvaarbaar is vir die ANC hoewel dit klaaglik misluk het…” maar moet nie uit die oog verloor dat die sogenaamde ‘Vryheidsvegters’ juis in die Kommunistiese lande, ondermeer Rusland, hul militêre opleiding verwerf het nie en dat die Kommuniste hard aan die werk was gedurende die vroë negetien-honderds om hul ideologieë te bevorder met die doel, glo ek, tot wêreldoorname.

Skatymir ·

Die rooi gevaar waarskuwing van PW waarmee die spot gedryf was het toe waar geword. Die kortsigtigheid van die ou Nasionale regering is verstommend. Hulle het dit gesien kom maar het blykbaar aan ontkenning gelei. Daar was tog goeie voorbeelde soos Oos Duitsland vs Switserland. Wat het hulle gedink? en kyk waar sit ons nou.

Rupert Ashford ·

In alle regverdigheid teenoor die NP regering van destyds was ons in ‘n wereldwye tydsgees van optimisme vasgevang. Die Berlynse muur het geval, een na die ander oos-Europese land het die juk van kommunisme afgegooi, selfs Rusland was daarmee besig en almal het geglo die kommunisme se doppie is geklink en die ANC sal noodgedwonge baie meer pragmaties moet wees omdat die magte in beheer van die wereldpolitiek die weste was. Binnelands was die meerderheid blankes sat vir die stryd en het daar ‘n soort mini-herlewing in die Kerk plaasgevind wat ‘n groot invloed gehad het veral onder die leierskap van die blankes om te soek na vrede. En toe neem ons die stap terwyl kommunisme toe net bietjie le en bloei en homself herverpak…en vandag sit ons waar ons sit met nog ‘n “Afrika Sosialisme” eksperiment wat op hande is…

christine ·

Nee Max hopelik nie Du Preez nie. Dinge het net na Dr Verwoerd se dood gebeur. PW was egter nie deel van die nie hy was gebruik as n brug tot hulle pion reg was vir skuif. Vandaar af is drade weer opgetel.

John ·

Die groot voorraad wapens wat destyds van witmense ingevorder is… waar is dit? Wie het beheer daaroor? Of is dit deel van die regstellende aksieplan vir latere verspreiding en hergebruik? AfriForum vind uit asb.

Merkur ·

Baie interessante, en ek dink belangrike informasie.
Ek is dankbaar dat daar so iets is wie Maroelamedia.

Ek hoop nie dat ek ooit spyt gaan wees om volgende te sê nie, maar ek hoop, dat as die ekonomie sou ineenstort, (wat ek nie wens nie) ons dalk ons land dan sal kan terugvat.

Hierdie staat onder die ANC, as hy ooit ’n legitimiteit gehad het, wat ek nie glo nie, het hy dit defnitief verloor.

Die redding deur ’n moontlike koalisie tussen die DA en ’n hopenlik mark-oriënteerde swart Afrikanistiese fraksie of partei, klink vir my ’n bietjie té optimisties.
Hoe lank kan ’n mens van optimisme, wat die ANC betref, leef?
Of soos ek die skrywer verstaan is daar nog die hoopvolle moontlikheid, dat die swart oormag homself vernietig.

Merkur ·

Om dit gematig te sê: Daar is nog die hoopvolle moontlikheid, dat die korruptes en die marxiste, mét hulle volgelinge, mekaar en hulself vernietig.

(Ook dié in die artikel genoemde feite, maak ’n mens woedend.)

REAList ·

‘n Lang geskryf deurspek met anglisismes.
Som dit net op deur te noem dat politikuste hulself te reg op skatte gegee het sonder om te sweet vir dit.
Die wapentransaksie was die afskop. Met ‘n valse ontleding van die sekuriteitsprobleme wat ons in die gesig sou staar.
Die volgende stap was dir RDP behuisingkwessie wat so edel geklink het.
Die volgende stap was die infrastruktuuropgradering wat so agteruit gegaan het ….
Die volgende stap was die 2010 sokkerfasiliteite wat deur almal gebruik sou word in die toekoms…
En toe kom Etolling….
En toe die Guptas ….
En nou die swaard wat ons koppe gaan afkap – Atoomkragstasies.
Griekeland gaan ryk lyk in vergelyking met die RSA in die toekoms!
Hierdie diefstal sal net gekeer kan word deur landsburgers wat sal opstaan om die ANC finaal keel af te sny.

Chris Erasmus ·

In die middel 80’s het ek ‘n dokument onder oë gehad wat van die Kommunistiese Party in die destydse USSR aan die SAKP gestuur is. Daarvlogens is die “plan” uitgestippel tot ‘n vreedsame oorname van die land. In kort het dit daarop neergekom om alle sosio ekonomies, sosiale en maatskaplike strukture te “transformeer”. Die veiligeidsdienste en die burgery te ontwapen en die totale aanslag op die Kerk en gelowiges. Alles het sover volgens plan verloop. Ons is aan die neuse rongelei en bedrieg tgv sport en internasionale betrekkinge. Soos die Ingelse sal sê, “we were foxed”

Fanie ·

Die land moes in ’94 verander vanweë bevolkingswerklikhede, nie agv ‘n bose komplot nie. Die NP onderhandelaars het wel grootskaals drooggemaak, maar die ANC sou selfs ‘n beter ooreenkoms nie eerbiedig nie. Ons het in wese ‘n getalleprobleem, nie ‘n politieke een nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.