Staatskaping en monopolieë: Christene hanteer dit anders

jannie-pelser-01-featured

Jannie Pelser. Foto: Verskaf.

Deur Jannie Pelser

Dit is interessant hoe woorde en begrippe byna oornag bekend kan word. Die begrippe “wit monopolie kapitaal” en “staatskaping” is twee sulke voorbeelde.

Tydens die afgelope ANC-beleidskonferensie het die “wit” in wit monopolie kapitaal in die hek geduik. Monopolie kapitaal ongeag die kleur daarvan is onaanvaarbaar, is gesê (vergelyk Sarel van der Walt se artikel “‘Enige monopolie-kapitaal is sleg’, sê Mthethwa” op 3 Julie 2017 op Netwerk 24).

Interessant is ʼn artikel wat verskyn het op blackopinion.co.za en geskryf is deur Christopher Malikane wat aandui dat die term die eerste keer in 1962 gebruik is deur die SAKP wat juis gedurende die afgelope week hul 14de nasionale kongres gehad het en waar pres. Jacob Zuma nie welkom was om op te tree nie. “A narrative is now gaining momentum that the concept ‘white monopoly capital’, is an invention of some public relations firm called Bell Pottinger, which was founded in 1987, and that it does not exist in the literature of the national liberation movement” (“Some notes on white monopoly capital: Definition, use and denial”, 23 June 2017).

Die artikel wys duidelik dat die term wit monopolie kapitaal deel is en was van die revolusionêre beweging sedert ten minste 1962 en dat bewerings dat Bell Pottinger die term “ontwerp” het om die Guptas en sekere politici se belange te beskerm en die aandag van staatskaping af te trek sonder substansie is.

Dit is ʼn interessante artikel en help ʼn mens om die agterdog jeens sogenaamde monopolie kapitaal beter te verstaan. Feit van die saak is dat daar niks so verlammend is soos die menslike faktor nie en dat mag in enige iemand se hande meestal gevaarlik is.

Die mag en gesag waarmee regeer moet word, is die opstandingskrag van Jesus en die bemagtiging van sy Gees wat ʼn nuwe orde, die koninkryk van God, op aarde vestig. Ek wonder egter of mense hoegenaamd daarmee vertrou kan word?

Binne die konteks van die politieke sfeer word sommige daarvoor verwyt dat hulle in beheer is van sekere belangrike en strategiese bates en ander, veral agtergeblewenes, word van die voordele daarvan uitsluit. Monopolie beteken tog iets word net tot voordeel van sekere mense aangewend. Dis uitsluitend, eksklusief, selfsugtig en op selfverryking gemik. Dis onhoudbaar en onverdedigbaar. Terwyl sommige mense krepeer in ellende leef ander soos “voëls in die daggasaad”.

Dit is interessant dat met die gewilde Monopoly-speletjie ʼn mens aangemoedig word om soveel as moontlik te versamel. “Monopoly, real-estate board game for two to eight players, in which the player’s goal is to remain financially solvent while forcing opponents into bankruptcy by buying and developing pieces of property.”

Monopolie kapitaal verwys dan na bronne en middele waarvan ander uitgesluit word. Dit kan bestaan in fisieke goed soos die wye spektrum materiële dinge rondom ons: geld, geboue, fasiliteite, toerusting ensovoorts.

Kapitaal bestaan egter ook uit die nie-tasbare dinge wat aan ons toevertrou is: vaardighede, intellektuele vernuf, kreatiwiteit, geestelike en emosionele volwassenheid en ʼn hele ryke verskeidenheid van moontlikhede.

Vanuit ʼn Christelike perspektief is alles wat ons het aan ons geleen. Ons is rentmeesters en moet dít wat aan ons toevertrou is tot voordeel van almal bestuur en aanwend.

Dit is presies wat God aan die begin in gedagte gehad het toe Hy vir Adam en Eva die mandaat gegee het om die aarde tot beswil van almal te bestuur.

Sonde is per definisie selfsugtig en op eiebelang ingestel. Dit gaan oor soveel as moontlik vergader sonder om ander in ag te neem.

Monopolie sou beteken dat ons dit wat die Here in groot genade aan ons toevertrou het, net vir ons self hou. Daar is geen mededeelsaamheid of offervaardigheid nie. Dit kan nie en mag nie.

Kinders van die Here weet dat hulle as gestuurdes die koninkryk se koms moet dien en fasiliteer. Hulle doen dit deur ander te dien met die gawes wat hulle het. Soms verontskuldig ons onsself dat ons nie geld het om te uit te deel nie. Dit mag waar wees, maar ons besit soveel ander gawes wat in belang van minderbevoorregtes aangewend kan word.

Daar is steeds honderde duisende mense wat nie kan skryf en lees nie. Daar is groot moontlikhede om lewensvaardighede, universele en veral Bybelse norme en waardes te deel. Ons kan hand- en ander vaardighede oordra aan dié wat nie daaroor beskik nie. Ons kan en moet uiteraard die Evangelie van vrede met alle mense deel.

Ons kan die verwysingsraamwerk van mense verruim deur met hulle te praat oor sake van die dag.

Monopolistiese optrede, die weerhouding van die ryke verskeidenheid kapitaal wat ons as God se kinders besit, mag nie vir selfbehoud ingespan word nie. Dis nie wat Jesus gedoen het nie. Hy het Homself resloos gegee aan mense wat dit nie verdien het nie.

Iewers het iemand tog sy kapitaal met ons gedeel: tyd, belangstelling, omgee, begrip, ʼn luisterende oor of ʼn vashou toe ons dit nodig gehad het.

Ons het met die onlangse Knysna-brande weer gesien hoeveel medemenslikheid daar by mense oor is. Dit moet egter soos ʼn stroom bly vloei totdat ons samelewing genesing gevind het en nie net vir noodsituasies geoormerk word nie.

Staatskaping is eweneens ʼn begrip wat wyd gebruik word. Die Guptas speel na bewering daarin ʼn nie te geringe rol nie. Die e-pos-boodskappe wat onlangs gelek is maak die omvang van staatskaping duidelik.

Staatskaping is om te steel by sommige en dit op ʼn bedenklike wyse vir jouself te hou. Miljoene rande se belasting word in die proses deur korrupte bedrywighede vir eie belang aangewend.

Dit is ontstellend dat Suid-Afrika onder ons neuse beroof word van haar bronne in belang van ʼn paar selfsugtige en gewetenlose mense.

Die waarheid het ʼn manier om uit te kom en die leuen sal die onderspit delf. Ek het ʼn sterk vermoede dit is wat tans gebeur.

Soos die Guptas sekere mense in hul greep kry tot dié mate dat selfs hul persoonlike veiligheid daarmee saamhang kry “die Guptas van die duisternis” eweneens ʼn houvas op die lewens van mense.

Efesiërs 6:12 lui immers: “Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug.”

Die probleem is dat ʼn mens naderhand so verstrengel raak in die duiwel se dinge dat jy nie kan los kom nie.

Die Bybel sê weerstaan die duiwel en hy sal van jou af wegvlug (Jakobus 4:7).

Die duiwel is geen geringe vyand nie. Hy het geen goeie bedoelings met mense nie. Vergelyk I Petrus 5:8 wat lui: “Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind.”

Alles waaraan hy raak, word letterlik en figuurlik bankrot.

Wanneer hy sy vernietigende werk in ʼn mens afgehandel het, verwissel hy van prooi.

Dit is nie baie mense wat die perspektief van die verlore seun ontwikkel en teruggaan na hul vader toe nie. Tensy ʼn mens die leuens uitdaag sal jy ʼn prooi daarvan bly en vergete wegraak. Vergelyk Lukas 15:18: “Ek sal dadelik na my pa toe teruggaan en vir hom sê: Pa, ek het teen God en teen Pa gesondig!”

Staatskaping is ʼn werklikheid. “Die Guptas van die duisternis” beloof die beste totdat jy in sy greep gekom het. Moenie toegee nie. Bied weerstand en leef.

Christene leef anders. Hulle besit die karakter en ingesteldheid van Jesus en leef die beginsels van sy koninkryk op aarde uit.

Ons het vandag weer ʼn geleentheid om dit te doen.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Eish ·

Nou ja, dis n ” interressante” dag wanneer geestelikes hul op die terrein van politiek bevind. Dink dit het voor 94 die laaste keer plaasgevind toe “beroepe” vaarwel toegeroep is ten einde politieke loopbane na te jaag. Dis verblydend ook aangesien die profetiese stem van die kerk lanklaas gehoor is in die kookpot van boosheid.

John ·

Sosialisme en kommunisme het ook nie hul beslag in die Bybel gekry nie. Ons dominees neig erg in die rigting van die Roomse Kerk. Geen sonde kan met welsynsdade ongedaan gemaak word nie. Punt.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.