Staatskaping: Korea-styl

suid-korea-president-park

Die eerste vrouepresident van Suid-Korea, Park Geun-hye. Foto: Korea.net/Commons.wikimedia.org

Suid-Korea is vir meeste Suid-Afrikaners ʼn afgeleë plek iewers in die Ooste, wat bekend is vir produkte soos selfone, motors, TV’s en yskaste. Ons weet ook van Suid-Korea weens die pop liedjie “Gangnam Style” deur ʼn outjie genaamd Psy. Dié musiekvideo het alle vorige rekords oortref en is sedert 2012 ongeveer drie miljard keer op YouTube gekyk, ʼn destydse rekord.

Maar Suid-Korea is nie net ʼn plek van Gangnam- (dit verwys na ʼn baie ryk woongebied in Seoel) styl nie, dit is nou ook die middelpunt van ʼn korrupsie-en-staatskapingskandaal.

Die diktator en die kultus-leier

Die eerste vrouepresident van Suid-Korea, Park Geun-hye (in Oosterse lande word die van eerste geskryf) se skouspelagtige val as president is verlede Vrydag bevestig nadat die hoogste hof in Suid-Korea bevind het Park moet haar pos finaal ontruim.

Die storie oor Park se agtergrond en haar val is amper soos in ʼn TV-sepie.

In 1974 was Park se pa, Park Chung-hee, die militêre heerser van Suid-Korea. ʼn Noord-Koreaanse spioen is gestuur om hom dood te skiet, maar haar ma is egter dood in die aanval. Die dogter, Geun-hye, toe slegs 22, het daarna ʼn prominente rol in haar pa se presidentskap gespeel.

Hier het sy ook ʼn vreemde Christen-kultusleier, Choi Tae-min, ontmoet wat spoedig Geun-hye oortuig het dat haar ma se gees hom gevra het om die jong dogter leiding te gee. Geun-hye het op haar beurt goeie vriende geword met die kultusleier se dogter, genaamd Choi Soon-sil.

Park se pa is toe wel in 1979 in ʼn sluipmoordaanval dood – vermoor deur die hoof van sy intelligensiediens.

Nadat Park in 2013 verkies is as president van Suid-Korea, het sy in Choi Soon-sil ʼn gewillige bondgenoot gevind, wat haar ongelukkig op die ou einde haar presidentskap gekos het.

Park en Choi het vinnig agtergekom dat hulle mag kan misbruik. Choi het die vriendskap benut en basies van maatskappye wat gunstige reaksie van die regering benodig het omkoopgeld gevra, oftewel “skenkings” vir haar welsynsorganisasies. Park het eweneens maatskappye gevra vir sulke donasies deur haar vriendin se organisasies. Choi het ook onbeperkte toegang tot die president gehad en selfs amptelike verslae en dokumente van haar ontvang.

Nadat hierdie aangeleentheid op die lappe gekom het, is Choi einde 2016 gearresteer en Park deur die parlement in ʼn staat van beskuldiging geplaas (impeach). Vrydag is Park se staat van beskuldiging deur die hoogste hof bekragtig en sy gaan moontlik ook nou krimineel van korrupsie aangekla word.

Choi se rol in die regering is natuurlik ʼn goeie voorbeeld van staatskaping, wat in Suid-Afrika natuurlik net so kontroversieel is. Dis seker aan die een kant goed om te weet staatskaping en korrupsie is nie net ʼn verskynsel in Suid-Afrika nie, en dat mense wat soos die Gupta-boeties beheer neem van ʼn regering nie die uitsondering is nie.

Die ‘chaebol’ se beheer

Dit bring ons terug na Suid-Korea waar ʼn aantal baie sterk familiebeheerde maatskappye aangetref word en wat in die volksmond as die “chaebol” (of ryk klub) bekend staan.

Dis nou ook hierdie chaebol-maatskappye wat onder die vergrootglas is nadat die de facto-hoof van die reuse-Samsung maatskappy, Jay Lee, verlede week in hegtenis geneem is. Lee het blykbaar vir Choi $36 miljoen (R470 miljoen) “geskenk” om te help dat die regering Samsung se poging tot grootskaalse herstrukturering steun.

Samsung en ander chaebol-maatskappye het ná die Koreaanse Oorlog in die 1950’s vinnig vooruitgang gemaak. Park Chung-hee se ambisie was om die armlastige Suid-Korea aggressief as ʼn uitvoerder te vestig, en hy het in ʼn groep maatskappye goeie bondgenote gevind. Goedkoop lenings en ander hulp is gegee aan die maatskappye en binne ʼn dekade of twee was Suid-Korea ʼn geïndustrialiseerde uitvoerder.

Reuse-konglomerate het deur hierdie samewerking tussen die regering en ʼn handvol familiebeheerde maatskappye tot stand gekom. Suid-Korea se grootste tien chaebol-maatskappye beheer tans 80% van dié land se ekonomie.

Samsung is natuurlik wêreldwyd bekend as reuse-verskaffer van elektriese en elektroniese ware, maar in Korea is Samsung soveel meer. Samsung het belange in Korea se konstruksiebedryf, die bou van skepe, klerereekse, chemikalieë, versekering, kredietkaarte, hospitale en selfs ʼn Disney-styl pretpark. Tans beheer Samsung in Korea sowat 25% van die hele ekonomie, oftewel $262 miljard, net so bietjie minder as die hele Suid-Afrikaanse ekonomie.

Die vernaamste chaebol-families is al voorheen van korrupsie aangekla, maar daar het nie veel daarvan gekom nie. Die groot families wat die grootste vier chaebol-maatskappye beheer is:

  • Samsung: Die Lee familie (sien beskrywing hierbo)
  • LG: die Koo-familie. Hulle vervaardig slimfone, TV’s, toestelle en chemikalieë.
  • Hyundai: Die Chung-familie. Hulle vervaardig motors, skepe, staal, hysbakke en is betrokke by konstruksiewerk.
  • SK: Die Chey-familie. Hulle is betrokke by energieproduksie, telekommunikasie, chemikalieë en konstruksie.

Die chaebol-konglomerate het nou ook sinoniem met arrogansie geword – arrogansie wat net deur staatskaping en korrupsie gevoed kan word, soos maar te deeglik hier in Suid-Afrika bekend is.

Hier is een so ʼn voorbeeld: In 2014 veroorsaak die Korea Lugdiens se visepresident dat ʼn vlug vir ure vertraag word weens haar vloermoer oor die wyse waarop vlugkelners neute bedien het! Die publiek is dus lank reeds keelvol vir die bedorwe chaebols se mag in die land.

‘Drain the swamp’

Saam met Park se jongste politieke skandaal het die Koreaanse publiek nou hul aptyt verloor vir staatskaping en korrupsie. Maar die publiek sit met ʼn reuse-dilemma: Hulle wil graag hê die mag van die chaebols moet verbreek word, maar aan die ander kant is die hele ekonomie so afhanklik van die chaebol-maatskappye dat radikale veranderinge die maatskappye in duie kan laat stort en die ekonomie oneindig kan benadeel.

Die tyd sal leer of korrupsie en staatskaping in Suid-Korea deur hul howe getakel gaan word.

Hoe dit ook al sy, die magsmisbruik deur Park, asook korrupsie deur die Samsung-hoof Lee, is kenmerke van ʼn wêreldwye probleem wat seker demokrasie en ekonomiese vooruitgang se grootste vyand is. Die politieke en ekonomiese stelsels in lande soos Suid-Korea en Suid-Afrika, maar ook in Westerse demokrasieë soos die VSA, het sodanig agteruitgegaan dat kiesers in baie lande toenemend van die “stelsel” ontslae wil raak, oftewel “drain the swamp” soos pres. Donald Trump van die VSA daarna verwys.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Nico Stegmann

Nico Stegman is ’n onafhanklike skrywer met 30 jaar ondervinding in navorsing en analise oor diplomatieke en internasionale aangeleenthede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

John ·

Die wereldleierskap deur die eeue in ‘n neuetedop. Val die sluwe leier, word ‘n volgende een aangestel. Mag trek korrupsie aan soos ‘n magneet. Hoe is die Christelike geloof nie verdraai en misbruik in Suid-Korea nie. Hartseer.

johan II ·

En dan wil die westerse media vir ons vertel hoe sleg noord korea is…en Mr.Trump…ek glo gn Jood meer nie, jammer…ek begin dink hulle het die 9/11 aanval ook gedoen? Wie anders het toegang en die brone???

Daan ·

Baie interessant wat geld kan doen. Ek dink wat in 1972 gebeur het. Kissinger en ek dink Nixon het na Saudi gegaan en voor gestel dat olie in dollar verkoo word en in ruil sal die VSA Saudi beskerm. Saudi het in gestem en die dollar het die britse geld vervanga as wereld valuta. Die VSA het van die goud standaard af gegaan want die wereld moes dollar he om hulle invoere te finansier. So, Saudi handel net in dollar en die VSA beskerm hulle en Saudi koo VSA bonds. Die VSA is altyd in n oorlog om die dollar te beskerm. Kadafi van Libie wou n Libiese dinar wat deur goud beback is begin maar dis a bedryging vir die dollar en Kadafi lewe nie meer nie.Sadam wou olie verkwansel in euro en wou vand die dollar onstlae raak en hy lewe ook nie meer nie. Iran lewer olie aan China en Rusland in goud en die dollar nie, so Iran is a bedryging.Die idee was om Iran van kern tegnologie te verskaf want as Irael bedeig genoeg voel sal hulle Iran uithaal, en nie die VSA nie.Goeie taktiek. Soos in Suid Korea gaan alles oor geld en mag. Die nuus soos CNN word deur 6 organisasie beheer, so hulle vertel ons net wat hulle hulle wil he ons moet weet. Baie nuus is verdraai om die geld magte se belange te beskerm en te bevoordeel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.