Staatskaping werp politieke boot in stormwaters

zuma-en-staatskaping-2

Foto van pres. Jacob Zuma: Siyasanga Mbambani, departement van kommunikasie

Deur Jaco Schoeman

Mnr. Jacob Zuma se voortgesette ampsbesetting as president van die RSA is bepaald nie meer in belang van ons land nie.

Die Afrikanerbond word gerig deur ons credo wat onder meer lui: Dat ons die aard en wese van ʼn ware demokratiese staatsbestel beskerm en bevorder en enige ondemokratiese aspekte en neigings met mening bestry; en daarom sal ons alles in ons vermoë doen om geregtigheid, billikheid en die hoogste etiese en morele waardes in Suid-Afrika te bevorder.”

Nadat die veelbesproke staatskapingsverslag uiteindelik openbaar gemaak is, is dit duidelik dat eie en persoonlike belang bo nasionale belang gestel is. Dit sal enorme gevolge inhou en die politieke boot gaan nog verder geskommel word. Ons is midde-in die stormwaters en sal intussen maar moet vashou, want die politieke woelinge wat in die afgelope paar jaar plaasgevind het, het almal ingetrek.

Ons het die stelselmatige erodering van die Grondwet, sy waardes en bepalings beleef en daaroor gewaarsku. Ons sou gehoop het dat met die Grondwet as basis en die Nasionale Ontwikkelingsplan as strategiese ekonomiese raamwerk, daar daadwerklik tussen die regering, die private sektor en die burgerlike samelewing suksesvol aan Suid-Afrika gebou sou kon word. Hierdie vennootskappe sou verteenwoordigend kon wees van die gebalanseerde middelgrond waarop die regering, in samewerking met ander rolspelers in die ekonomie en die samelewing, die volle potensiaal van Suid-Afrika in die beste belang van sy bevolking verder kan ontsluit. Dit het egter nooit gerealiseer nie en dus word dit al meer duidelik dat sommige politici slegs hulself bevoordeel het. Hiervoor is die staat en vele instellings mildelik gebruik, nie net vir eie bevoordeling nie, maar ook ingespan in politieke binnegevegte.

Dit bly nog steeds ons siening dat die Suid-Afrikaanse Grondwet nie ondergeskik kan wees aan ʼn ideologie nie. Dit wil egter al meer blyk dat staatskaping eerste gestel is, daarna ideologie en daarna eers die Grondwet. Hoe rampspoedig die bevordering van eiebelang sal wees, sal nog mettertyd uitkristalliseer. Die bevordering van eiebelang is ʼn resep vir konflik en rampspoedig vir die heil van Suid-Afrika en al sy mense.

Ons moet weer terugkeer na die Grondwet as basis en vertrekpunt. Daar is ʼn nuwe moraliteit nodig. Mnr. Zuma se optrede en verleenthede raak nou te veel. Hy het nou bo alle twyfel gewys dat hy nie die vermoë of wil het om as staatsman op te tree nie, maar veel eerder alles moontlik sal doen ter beskerming van sy eie belang binne sy party.

Die streep is lankal getrek deur grondwetlike beginsels en daarom is die ampseed wat hy afgelê het, met sy inhuldiging as president, nie die papier werd waarop dit geskryf is nie. Onder meer het hy onderneem dat hy: “… sal bevorder wat tot die voordeel van die Republiek is en sal afweer wat die Republiek kan skaad;  die regte van alle Suid-Afrikaners sal beskerm en bevorder; en aan almal reg sal laat geskied.”

Mnr. Zuma het nou die punt bereik waar sy voortgesette ampsbesetting as president van die RSA nie meer in belang van die land, sy mense of ons grondwetlike demokrasie is nie.

  • Jaco Schoeman is die voorsitter van die Afrikanerbond.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Jan ·

Jaco, deur na hom as “mnr Zuma” te verwys, betoon jy respek aan hom wat hy beslis nie verdien nie. Ek persoonlik weier om na hom te verwys as mnr Zuma of president Zuma.

humor ·

Hierdie z sal nou in sy skoene gestuit moet word. Hy het die potesiaal om selfs mogabe te oortref.

John ·

Miskien kan die Afrikanerbond ons ‘n groot guns doen en ‘n reis deur Afrika onderneem en ‘n fotoalbum vir ons saamstel van foto’s van Afrikaleiers in hul troonkamers. Ons almal het groot verwagtinge maar ons prez reis graag oraloor Afrika en dan sal ons verstaan hoekom hy optree soos hy optree. Alle staatsleiers in Afrika sien hulself as magtige konings soos uit die dae van Toetankamen. Hoe groter die ‘show’ hoe meer respek het sy onderdane vir hom. Geen uitsmyter gaan die ANC-leier by die deur uitgeskop kry nie…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.