Staatskaping: Wie waak oor ons (kriminele) staat?

Voorblad van die staatskaping-verslag wat op 2 November 2016 bekend gemaak is

Voorblad van die staatskaping-verslag wat op 2 November 2016 bekend gemaak is

Met die lees van adv. Thuli Madonsela, die gewese openbare beskermer se verslag oor die staatskaping, het ek besef dat dít nie die “bom” gaan wees wat pres. Jacob Zuma en sy trawante finaal gaan sink nie.

Dit gaan wel ons agbare president en ook die vertroue wat ons nog in sy amp en regering het, seermaak en lig boonop weer ’n hele paar opsienbarende besonderhede toe, maar dit beklemtoon helaas die futiliteit van die amptelike instellings wat ingevolge die Grondwet geskep is om te waak oor die staat en uitvoerende gesag te handhaaf. Dit spyt my om die openbare beskermer hierby in te sluit, ongeag die goeie werk wat ten minste deur Madonsela gedoen is om die letter en gees van haar kantoor se rol te vervul.

Die bevindinge

Staatskaping is nou al vir ’n wyle deel van ons politieke leksikon en diskoers en dit het al bo alle redelike twyfel bekend geword dat Zuma, sekere ministers en die Guptas al almal saamgesweer het om die staat in hul private guns te laat werk. Madonsela se verslag werp net nuwe lig hierop en staaf dit met harde feite, soos om die frekwensie van telefoonoproepe tussen bepaalde mense sowel as sekere mense se tydige en ontydige besoeke aan die Guptas se woning in Saxonwold, Johannesburg, te ondersoek. Die tydsberekening van sulke oproepe en besoeke is ook hoogs verdag.

Byvoorbeeld, Des van Rooyen, wat nou minister van samewerkende regering is en vir ’n paar dae minister van finansies was voordat hy deur Zuma met Pravin Gordhan vervang is, is die dag voordat hy in Desember as minister van finansies aangestel is by die Gupta-woning in Johannesburg opgemerk. Dit is werklik vreemd omdat hy as ’n dienende LP in Kaapstad moes wees. Hy is nog sewe keer in 2015 daar opgemerk.

Die Guptas het ook die tesourie as ’n bolwerk teen hul belange en gevolglike wanadministrasie beskou en daarom vir Mcebisi Jonas die pos van finansminister aangebied in ruil vir invloed en R600 miljoen. Jonas het dit van die hand gewys en die hele storie verklap en daarna is Van Rooyen genader. Nhlanhla Nene is ook weke voor sy afdanking al deur Jonas ingelig dat hy afgedank gaan word. Jonas het dit natuurlik via die Guptas uitgevind.

Die Eskom-baas Brian Molefe en die Guptas het ook blykbaar ’n knus verhouding en dit het aanleiding tot beweerde tenderonreëlmatighede en voorkeurbehandeling vir Gupta-maatskappye by Eskom gegee. Vytjie Mentor is daarbenewens glo die pos van minister van openbare ondernemings aangebied om by die SAL in te meng. Sy het nes Jonas dit van die hand gewys.

Die probleme

Dit is daarom nie verbasend dat Zuma oplaas nie die verslag se openbaarmaking wou stuit nie, want die bevindinge daarin vervat is grondig afgewater en gekwalifiseer terwyl die “remedies” wat deur Madonsela voorgestel word, die mag basies terug in die president se hande plaas. Die verslag is deurspek met woorde soos “bekommerd”, “mag”, “dalk” en “wou voorkom”. Bitter min daarvan is konkrete veroordelings en omtrent al die feite, hoe gebiedend en verdoemend dit ook al mag voorkom, is basies net sinspelings en kan ook as toevallighede vertolk word. Madonsela het juis haar spyt uitgespreek dat sy nie meer direk en uitgesproke oor Zuma se rol by die onderhawige bedrywighede was nie.

Met betrekking tot die onderskeie klagtes wat ondersoek word, verwys Madonsela telkens na hoe daar geen bewyse is dat sekere klagtes en bewerings ondersoek is nie. Hierdie gebrek aan optrede “kan” volgens haar inbreuk op verskeie stukke wetgewing en gedragskodes maak. Let wel, daar is geen besliste inbreukmaking volgens haar nie, net moontlike inbreukmaking. Sy het dit vir iemand anders gelos om oor die beslistheid daarvan te besluit. Daarbenewens kon ’n groot deel van die verslag nie klaargemaak word nie, want die OB is slegs R1,5 miljoen deur die staat gegun om dit te voltooi en Zuma het ook geweier om onderhoude daarvoor toe te staan.

Na my mening het ’n Sunday Times-voorbladartikel derhalwe dieselfde uitwerking as ’n verslag deur die OB omdat wolf skaapwagter gemaak word met die remediërende stappe. En ten spyte van hofuitsprake en amptelike verklaring deur ampsbekleërs dat die OB se bevindinge bindend is, word haar voorgestelde straf en regstellings weer eens aan die staat, en meer spesifiek die president, oorgelaat om te voltrek. In hierdie geval moet die president, wat uiteraard ’n sentrale rolspeler in hierdie sages is, ’n kommissie van ondersoek aanwys en dit moet deur ’n regter wat deur die hoofregter (niemand anders nie as Zuma se pel, Moegoeng Moegoeng) aangestel word, gelei word. Die president moet toesien dat die kommissie voldoende gefinansier word en daarna sal hul bevindinge weer terug na die president gaan en dan na die parlement, wat weer deur die president se plan van die bevindinge se inwerkingstelling gelei moet word. Die OB moet ook aan die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) aanbevelings doen as vervolging moet geskied.

Ten minste was die OB se kantoor onder Madonsela ’n openbareskakeling-vlieg in die ANC-salf, maar met Busisiwe Mkwhebane aan die stuur blyk dit vroeg reeds dat sy nie eens stof gaan opskop nie en selfs ’n wapen in die staat se korrupte arsenaal kan word. My prognose is dat ons eerstens ’n afgewaterde verslag van die kommissie van ondersoek, wat waarskynlik nie onpartydig kan wees nie, gaan sien. Die president gaan derhalwe min inwerkingstelling van enige strafmaatreëls aan die parlement met sy ANC-meerderheid aanbeveel en die nuwe OB gaan niemand by die verpolitiseerde NVG verkla nie. Die howe waarop almal nou hul hoop wil plaas en wat weliswaar vanjaar al etlike grootse prestasies op hul naam het, gaan waarskynlik nooit ’n saak aanhoor wat uit hierdie verslag voortspruit nie. Daarvoor gaan die NVG sorg.

John Kane-Berman, oudhoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge, het hierdie verskynsel onlangs raak saamgevat toe hy die onderskeid tussen ’n wettelose land en staat getref het. Volgens hom is Suid-Afrika met sy hoë misdaadkoers, onwettige en onbeheerste stakings en selfs roekelose bestuurders lank reeds ’n wettelose land. Maar met Zuma se kaping van die NVG en ander instellings het Suid-Afrika se staat ook kriminele afmetings aangeneem.

Die oplossing

Suid-Afrika is ’n verstedelikende land met 65% van die bevolking wat reeds in die stede woon. Stedelinge toon uiteraard heelwat onderskeidende kenmerke van hul landelike landgenote. Stede het groter middelklasse, die mense is beter ingelig en belese, hulle is rasbewus maar minder etnies ingestel en verwag beter regering en aanspreeklikheid van die bewindhebbers. ʼn Mens hoef nie verder as die uitslag van vanjaar se plaaslike verkiesing vir bewyse hiervan te kyk nie.

So, as die staat regter, jurie en laksman is en wil wees en die regering kwansuis die slagordes teen die samelewing wil opstel, wat staan ons as burgers te doen? Dis eenvoudig: Ons moet ons menings laat tel. Die verkiesingsuitslae het gewys die ANC is wel sensitief vir hoe die publiek reageer op sekere gebeure en die golf binne die party het na gelang van die publiek se onvergenoegdheid met die huidige toedrag van sake gedraai. Terwyl die ANC die platteland nog vir lank sal regeer, is dit die stede wat in die toekoms gaan tel.

Maar vir alle mense om verandering en aanspreeklikheid te eis, moet ons goed ingelig wees. Suid-Afrika het, ondanks die ANC se pogings om mense te muilband, vrypostige, dapper en goed gevestigde media. Hulle is ontsaglik krities oor Zuma, maar ook oor die algehele situasie in die land.

Dan het ons eweneens ’n sterk burgerlike samelewing met heelwat kritiese stemme wat onafhanklik van die regering staan. Die Solidariteit Beweging, Helen Suzman Stigting, SAIRV en talle meer staan onverskrokke op teen die ANC-dwingelandy en -korrupsie. Afrikaners en Afrikaanssprekendes het byvoorbeeld die krag van gemeenskap herontdek in hierdie uitdagende tye en vorm toenemend ’n verenigde vuis teen allerlei vergrype. Politieke gesprekke oor nuwe skikkings en wysigings aan die Grondwet wat die mag van die president en uitvoerende gesag inperk, kan en moet deel word van Suid-Afrikaners se psige en tot nuwe akkoorde lei. Die hartseer deel van baie van die huidige vergrype is dat dit geheel en al grondwetlik is.

Ten spyte daarvan dat gewelddadige skurke op kampusse protes goedkoop gemaak het, hang die toekoms van ons as individue, gemeenskappe en die ganse land nie van die staat af nie, maar van ons as burgers se uiteenlopende soorte protes en optrede.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is ʼn entrepreneur, sake-konsultant en onafhanklike politieke kommentator.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Leendert ·

Jy is 100% reg. Madonsela het, as ek reg lees, ook van ander Rubrieksrywers en verslae in die media, net bevindings oor Eskom gemaak. Ek is verbaas dat sy die verslag so geplaas het, met grotendeels “bewerings” en opdragte aan ander om die werk te gaan voltooi, betreffende die ander aangeleenthede. Dalk is dit tog beter dat die verslag in die openbaar is, maar ons sal moet sien hoeveel gewilligheid daar van die huidige OB, en die persone wat Madonsela genoem het, gaan wees om die ondersoek tot ‘n punt te dryf. Dan glo ek sy het ‘n kans gevat om die onklaar verslag met “bewerings” die lig te laat sien, in so verre dit haar onkreukbare geloofwaardigheid en optrede om die verslag wel bekend te maak, nie bevraagteken gaan word nie, ek glo dit gaan. Dat sy ‘n berekende besluit met die verslag en die wyse waarop dit opgestel is, geneem het, is egter gewis.

Nel ·

Goeie stuk Eugene.
Ek stem saam die verslag sê eintlik maar net wat ons almal alreeds weet. Ongelukkig niks konkreet genoeg om dié paling vas te trek nie.

John ·

Ons kan ons blou skree. Die De Klerk-stigting en andere kan op perkament in skoonskrif hul misnoee te kenne gee. Te laat. Die land is onder beleg en ons regering keur dit goed. Selfs ‘n spreekbeurt in die VV sal niks oplewer nie. Die Israeliete was vir eeue in Egipte en elders as gevangenes aangehou. En ons het met oop oe in die val gestap.

Johann ·

Ek is verbaas om te lees dat Moegoeng Moegoeng “Zuma se pel” is. Het hy dan nie juis in die onlangse verlede uitspraak téén Vader Jacob gelewer nie? Of onthou ek mis?

jan ·

Hy het nie ‘n uitspraak teen Zuma gegee nie, net bevestig dat die OB se bevindings wetlik afdwingbaar is. Dit was toevallig oor haar verslag betreffende Nkandla. Al wat nou gaan gebeur is dat Moegoeng ‘n regter gaan aanstel, wat hy glo die jop gaan doen en onpartydig wees. So hy gaan nie ‘n ooglopende Zuma kader aanstel nie. Kyk dan ook wat die nuwe OB se rol gaan wees.

Terloops, kyk wat het Moegoeng oor die straatname van Pretoria ‘n tydjie gelede beslis, so hy is maar ‘n “donker perd”.

REAList ·

Hierdie verslag is soos die lou water wat ons weet niemand van hou nie. Dit skep net negatiewe verwagtinge van wat gaan kom.
Dit was ‘ n mors van tyd om dit te lees.
Ek is verbaas or die kommentaar gewers wat die toekoms so reg kan voorspel.
Gee die regter die gereg kans om hul gang te gaan met die ondersoek.
Thuli het dit 100% reg gedoen want ons president het geen gronde om die verslag en die ondersoek te stop nie.
Van die joernaliste het dit reg wanneer hulle sê dat die ANC gestraf gaan word wanneer hulle mense (Zuma ingesluit) op televisie ondervra gaan word.
Onder eed sal hulle moet verduidelik hoekom hulle dinge gedoen het.
Dit gaan NIE maklik wees nie.
Veral aangesien dit oor SES maande gaan geskied.
Ek sien dit as die Rubicon vir die huidige regering.
Hulle sal dit nie oorleef nie en sal boet met die volgende verkiesing.
En Zuma word gesin as “a dead man walking”.
Sy ondersteuners moet nou blitsvinnig agter hulself begin kyk. Die meeste van hulle is nog jonk en kan baie jare in die tronk deur bring
Rugstekery sal aan die orde van die dag wees.
Die beter nuus is dat die korrupsie se handbriek vas gemaak is.
Die, veral die, “nuclear powerstation” sage waar die regering hulself onaantasbaar gemaak het, sal nou anders gskied.

Theuns ·

Dr. Brink baie goeie kommentaar en ek is bly dat jy nie “doekies omdraai” nie! Jy gee die feite soos dit is. Dankie!

lettie ·

Ek is trots op Suid-Afrika dat mense oor die hele etniese spektrum begin opstaan teen die magsmisbruik van Zuma. Zuma kon dalk in Robert Mugabe n boesembondgenoot gekry het oor magsmisbruik en gedink het Suid-Afrikaners sal net so hulpeloos wees soos die Zimbabweers, maar hy het sy moses lelik teegekom. Ons moet bid dat Zimbabwe ook n vry land kan word .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.