Staatsmanne soos Kissinger is yl gesaai

Henry Kissinger (Foto: Wikipedia)

In 1971 het ʼn Amerikaanse tafeltennisspeler sy bus in Japan verpas, wat tot ʼn historiese kettingreaksie gelei het wat gehelp het om die wêreld van ʼn kernoorlog te bewaar. Die speler, Glenn Cowan, moes nadat hy sy eie bus verpas het saam met die Chinese span ry. Hoewel die Chinese hom wantrouig aangegluur het, het een van hulle, Zhuang Zedong, hom met die hand gegroet en vir vyf minute deur ʼn tolk met hom gesels.

Toe die bus stop, het joernaliste foto’s geneem van die Amerikaner wat saam met die Chinese stap, en een van hulle het vir Cowan gevra of hy China sou wil besoek. “Natuurlik,” het Cowan die joernalis geantwoord. Die Chinese leier Mao Zedong het ʼn koerantberig oor die voorval gesien en besluit om die Amerikaanse span te nooi om in China te kom speel, wat toe in 1971 gebeur het.

In Washington was pres. Richard Nixon en Henry Kissinger, sy veiligheidsraadgewer, baie opgewonde oor die gebeure omdat hulle reeds gewerk het aan ʼn plan om kontak met die Chinese te maak. Hierdie sameloop van omstandighede het daartoe gelei dat eers Kissinger en later pres. Nixon ook China in 1972 besoek het en met Mao Zedong se regering ooreengekom het om betrekkinge tussen hulle te normaliseer.

Die belangrikste gevolg van hierdie ooreenkoms was dat Nixon en Kissinger die kommunistiese blok reg in die middel verdeel het. Dit het tot groot skokgolwe in die Sowjetunie gelei, en Moskou genoop om die eerste Kernsperverdrag in die geskiedenis met die VSA te sluit. Terselfdertyd het die Sowjetunie derduisende troepe uit Wes-Europa onttrek om na die Chinese grens te stuur. Europa was nou veiliger, en die Chinese nader aan die Weste.

Magsbalans

Deur hierdie dubbele diplomatieke meesterskuif met China en die Sowjetunie, het Nixon en Kissinger die globale magsbalans vir dekades beslissend in die guns van die Weste geswaai. In die proses het hulle die Demokrate se jarelange benadering van onversoenbare ideologiese konfrontasie met die kommunistiese blok in ʼn strategie omskep waar die Amerikaanse nasionale belang hulle internasionale beleid bepaal het. Hiermee het hulle die strategie van die Duitse staatsman Otto von Bismarck gevolg, wat geglo het dat ʼn moondheid beter verhoudinge met elke buurland moet hê as wat daardie lande met mekaar het.

Nixon en Kissinger het onder groot kritiek deurgeloop omdat hulle in die bepaling van buitelandse beleid die VSA se nasionale belang bo die bevordering van demokrasie gestel het. Hierdie kritiek het veral daaruit voortgespruit dat Nixon en Kissinger dit duidelik gestel het dat hulle nie beoog om kommunistiese diktature omver te werp nie, maar om geskille in belang van wêreldvrede eerder vreedsaam te probeer besleg. Hulle het egter soos die Britse staatsman Palmerstone geglo dat ʼn land nie ewigdurende vriende en vyande het nie, maar net durende belange wat altyd voorkeur moet geniet. Terselfdertyd was hulle standpunt dat dialoog konfrontasie as die belangrikste bepaler van buitelandse beleid moet vervang. Hulle siening was dat die Demokrate se beleid om kommunisme vanweë ideologiese redes omver te probeer werp en demokrasie orals af te dwing, konflik tussen supermoondhede onvermydelik sou maak, wat skrikwekkende gevolge vir die wêreld kon inhou.

Vierbeenstrategie

Dit beteken hoegenaamd nie dat Nixon en Kissinger “sag” op kommunisme was nie, maar bloot dat hulle strategie op sogenaamde “realpolitiek” gegrond was waar harde werklikhede in plaas van ideologie die deurslag gegee het.

Hulle vierbeenstrategie was eerstens om die globale magsbalans in die VSA se guns te herskik en tweedens dat nasionale belang in plaas van idealisme die belangrikste beleidsbepaler sou wees. Derdens het hulle die verskillende magsbasisse van die VSA op elke denkbare gebied sterk uitgebou. Die vierde been van die strategie was om vanuit hierdie posisie van krag diplomatieke betrekkinge met opponente aan te knoop en ooreenkomste op sleutelgebiede te sluit wat die wêreld ʼn veiliger plek gemaak het.

Die ooreenkomste met China en die Sowjetunie was nie Nixon en Kissinger se enigste prestasies nie. Hulle het ook die Viëtnam-oorlog beëindig en vrede in die Midde-Ooste bemiddel ná die 1973-oorlog tussen Israel en sy bure.

Nixon se nalatenskap

Dit is ʼn tragedie dat Nixon vandag net vir die Watergate-skandaal onthou word, byna soos ʼn rugbyspeler net vir sy laaste wedstryd. In werklikheid het hy saam met Kissinger op die hoogtepunt van die Koue Oorlog nie net die wêreld van hulle tyd ʼn veiliger plek gemaak nie. Hulle het terselfdertyd die omstandighede geskep vir pres. Reagan om gelyktydig die wapenwedloop met die Sowjetunie én die handelsoorlog met Japan te wen, en so die magsewewig vir dekades in die Weste se guns te plooi.

Polisieman

Kissinger het wel sterk voorbehoude oor Amerika se rol as “globale polisieman” gehad. Hy het gesê dat dit welvaart mag benodig om dit te beskerm, maar dat die koste van hierdie militêre mag terselfdertyd die welvaart kan wegvreet. Hy het ook gewaarsku dat die VSA se aandrang op “volle sekuriteit” noodwendig daartoe sou lei dat ander lande dan “volledig onseker” sou voel en met ʼn wapenwedloop sou begin wat globale spanning sou opjaag.

Kissinger het ʼn skerp sin vir humor gehad, en het eens opgemerk dat dit gevaarlik was om vyande met die VSA te wees, maar dat dit dodelik kon wees om die VSA se vriend te wees!

Rusland en wêreldvrede

Staatsmanne soos Kissinger wat diep in die geskiedenis onderlê was, is yl gesaai. Die vraag ontstaan hoe anders die wêreld sou lyk as sy opvolgers sy strategiese insig sou hê. Nixon en Kissinger het besef dat China te reusagtig is om vir altyd buite die wêreldorde te laat. Hulle insig was om ʼn destyds onderontwikkelde China as ʼn teenwig teen die destyds magtige Sowjetunie aan die kant van die Weste in te trek.

Daar bestaan min twyfel dat Kissinger ná die val van die kommunisme in die Sowjetunie en die opkoms van China daarna, die Russe weer aan die kant van die Weste sou intrek as ʼn teenwig teen die Chinese. Dit sou verseker dat die Weste deur vennootskappe met die Russe, Japan en Indië steeds die globale magsewewig op ʼn basis van vier teen twee teen China en die Moslemwêreld sou beheer. Dit sou ook die oorlog in Oekraïne verhoed het, waarteen Kissinger jare lank gewaarsku het.

Die Weste en China is aan die begin van ʼn nuwe Koue Oorlog wat veel erger gevolge as die vorige een kan inhou, veral omdat deurwinterde staatsmanne met die nodige globale strategiese insig skynbaar skaarser as hoendertande is.

Tog is daar hoop dat ʼn diplomatieke argitektuur weer ontwerp kan word wat wêreldvrede en ekonomiese voorspoed kan meebring. Asië behoort die kernfokus hiervan te wees. China se bure soos Taiwan, Suid-Korea, Viëtnam, Indië, Japan, Indonesië en die Filippyne is grootliks van die VSA afhanklik vir hulle veiligheid, maar van China vir hulle voorspoed. Dit bied die kans vir ʼn versigtige balanseertoertjie vir bekwame diplomate wat die geskiedenis verstaan, in plaas van amptenare wat net in politieke ideologie opgelei is en verwaand glo dat die “Weste die beste” is.

Die VSA se grootste uitdaging is om nie die Chinese kop aan kop te konfronteer soos dit deesdae soms gebeur nie, maar om hulle terselfdertyd te verseker dat die Weste nie aggressiewe bedoelings het om die Chinese staat omver te probeer werp nie.

Die toekoms van ons planeet gaan dalk net bepaal word deur die wisselwerking tussen Westerse verwaandheid, Moslem-onverdraagsaamheid, Chinese, Russiese en Indiese selfgelding en Afrika se demografie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Michael ·

Kissinger was bloot ‘n uiters bose man-verantwoordelik vir die dood van miljoene onskuldige mense. Om hom ‘n staatsman van formaat te noem is net so boos. Werklik teleurgesteld dat die skrywer so naief in sy beskouing van die geskiedenis is en Kissinger se rol daarin

Kosie ·

Ek wonder self van wanneer af word heuning so om ‘n krimineel se mond gesmeer. Hoeveel mense het nie hulle lewens verloor direk as gevolg van besluite wat hy gedryf het nie, en tog probeer die skrywer ons oortuig hy was so ‘n besonderse staatsman. Nee meneer die skrywer, ek dink jy sit dit pot heeltemal mis. Kisinger was boosheid van self en sy bydra tot die vernietiging van Suid-Afrika moet mens ook nie uit die oog verloor nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

SA het ook vir Kissinger se mooi praaitjies geval. Toe volg die SAW se duur avonture in Angola as deel van Amerika se buitelandse beleid. Nugter weet waarom Kissinger nou bewonder wonder word.

Jakkie ·

Kissinger het net VSA invloed en belange bevorder ten koste van die res van die wêreld.

annie ·

Ons het darem ook ‘n staatsman van formaat gehad in Eric Louw wat nie ten volle gewaardeer is nie. Pik Botha het sy deel gedoen.

groenboer ·

Dit is goed en wel vir ‘n land om nasionale belang bo beginsels te stel. Maar dit maak van Amerika ‘n uiters wispelturige en onbetroubare vennoot in enigiets, omdat elke nuwe regering ‘n nuwe idee het van wat in nasionale belang is, en Amerika dus berug geraak het daarvoor dat hy eenvoudig nie by ooreenkomste hou nie.

Enige ooreenkoms met Amerika is net ‘n ooreenkoms met die huidige administrasie, en oor vier jaar stap Amerika dalk eensydig uit dit uit, wanneer dit die nuwe administrasie nie meer pas nie. Oekraïne is tans besig om hierdie les op die duur manier te leer…

Jax ·

Die beste stuurman staan aanboort nie aan die wal nie – nie een van ons was daar toe daar destyds besluite geneem moes word nie. Daarby is daar altyd die kwessie van verskillende kante van n saak. Die hede is anders; los die ou koei in die sloot en voer die koei(e) wat tans leef, die regte voer wat alleenlik verkry sal word deur n rotsvaste verbintenis met die Een wat ons almal geskape het. Nie net op Sondae van 9 tot 10 nie, maar elke liewe oomlik van elkeen van ons se lewens!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.