Staatsmedisyne erger as die siekte

Foto: JC Gellidon/Unsplash

Die hoë koste van gesondheidsorg maak ons almal siek. Dis ’n wêreldwye probleem, en daar is nie goedkoop oplossings nie.

Die Amerikaners bestee reeds 15% van hul reusebegroting aan gesondheidsorg, en dis steeds nie genoeg nie. Daar is wêreldwyd heftige debatte aan die gang oor wie se skuld dit is dat gesondheidsorg so duur is. Almal beskuldig almal. Die belangrikste rede vir die hoë koste is dat daar nie ’n prys op mense se lewens of hul gesondheid geplaas kan word nie.

As jou kind of jou ma se lewe in gevaar is, bereken jy nie hul gesondheid in geldwaarde nie. Die groot uitdaging is egter dat gesondheid wel geld kos, en die werklikheid is dat mediese inflasie al jare lank teen bykans dubbeld die gewone inflasiekoers styg. As dinge so aangaan, sal dit nie kan aangaan nie. Die groot vraag is of dit in wese ’n mediese of ’n ekonomiese probleem is. Anders gestel, kos medies te duur, of is die ekonomie te klein met te min geld om vir almal se gesondheidsorg te betaal?

Die miljoenrandvraag is egter wat die oplossing is om vir miljoene mense goeie gesondheidsorg te gee. Die probleem is dat politici beloftes gemaak het wat die ekonomie nie kan bekostig nie en wat ons swak staatsdiens nie kan uitvoer nie. Die feit is dat die regering besluit het dat die vryemarkstelsel nie vir medies werk nie en dat hulle die gesondheidsorgstelsel wil nasionaliseer – al gebruik hulle nóg sagter woordjies daarvoor. Die regering se prosesse werk genadiglik so stadig dat die inwerkingstelling daarvan nog jare gaan neem. Dit gee ons tyd om planne vir ’n beter stelsel te bevorder.

Te veel staat

Die kern van my standpunt is dat ’n deeglike oorweging van al die feite oortuigend daarop dui dat die probleem nie te veel mark is nie, maar te veel staat. Nie te veel vryheid of vryemark nie, maar te veel staatsinmenging. Dit is die kern van die probleem, al is daar ook talle gevalle van misbruik en uitbuiting deur die privaat sektor.

Kom ons kyk eers na die teorie van die ideale werking van ’n vryemark-gesondheidsorgstelsel, en tweedens hoe dit in die Suid-Afrikaanse praktyk kan uitspeel. Laastens sal ons na voorstelle kyk om die probleem op te los.

Vryemarkstelsel

Die vryemarkstelsel het al oor en oor bewys dat gesonde mededinging tot die beste resultate vir verbruikers lei. Die resep is welbekend. Mededingende maatskappye verbeter metodes en verlaag koste. Die gehalte van dienste en produkte styg voortdurend, en nuwe tegnologie, innovasie en navorsing lei tot nóg beter en goedkoper dienste en produkte.

Diegene wat nie kan byhou nie gaan onder, in ’n nimmereindigende proses van skeppende vernietiging. Namate pryse daal en die diens wyer beskikbaar raak of die produk orals gekoop kan word, val die pryse nog verder en groei die mark vinnig. Die verbruiker is die wenner, met beter en goedkoper dienste en produkte wat oral beskikbaar is. Dis die teorie, wat gewoonlik in die praktyk ook werk.

Maar, met private gesondheidsorg is hierdie proses net andersom. Mediese inflasie is baie hoër as gewone inflasie, en verbruikers se keuses word minder as gevolg van beperkings op dienste, medisyne en verskaffers. Dokters se professionele besluite in belang van pasiënte word al hoe meer aan bande gelê deur mediese administrateurs wat koste wil beheer. Die Raad op Mediese Skemas probeer die bedryf mikrobestuur en jaag koste net verder op met goed bedoelde oorregulering. Die bedryf groei nie, en staan die afgelope dekade teen ’n plafon van sowat 8 miljoen versekerdes.

Kruidenierskoste: blanko tjek?

Die vraag is hoekom die vryemarkstelsel op die oog af nie vir gesondheidsorg werk nie. Kom ons kyk na ’n vergelyking tussen mediese en ander uitgawes, soos kruideniersware.

Wanneer ’n mediese fonds met ’n soort “kruideniersfonds” vergelyk word, raak dit duidelik hoekom die stelsel nie kan werk nie. Gestel mense betaal ’n soortgelyke bedrag as wat hulle aan ’n mediese fonds bestee, aan ’n “kruideniersfonds” waarmee hulle by kettingwinkels en slaghuise kan koop wat hulle nodig het. Min mense gaan minder gebruik as wat hulle betaal, en die meeste gaan meer uitgee. Dit gaan bykans dieselfde uitwerking as ’n blanko tjek hê, waar iemand anders belowe het om in te staan vir die koste. Die kliënt en die winkel se belang lê by hoër aankope, terwyl die “kruideniersfonds” wat die rekenings moet betaal, die prys van lidmaatskap sal moet verhoog om nie bankrot te speel nie.

Kosteverskuiwings

Die gevolg hiervan is kosteverskuiwings. In enige bedryf behoort mededinging die waarde vir verbruikers mettertyd te verhoog namate gehalte verbeter en koste daal. In private gesondheidsorg gebeur dit egter nie. Daar is in plaas van werklike kosteverlaging, eintlik net kosteverskuiwing – van die mediese fonds na die fondslid, van die werkgewer na die werknemer, van die hospitaal na die mediese fonds en andersom.

Kosteverskuiwings lei egter nie tot waarde vir enige rolspeler nie, omdat besparing vir die een net ekstra koste vir die ander is.

Die meeste maatskappye probeer hul mediese uitgawes beheer deur ’n verskuiwing van koste na werknemers. Hulle het die mediese bydraes van werknemers gesny of vasgepen, aftreemedies uitgefaseer, keuses beperk of heeltemal wegbeweeg van mediese voorsiening. Mediese fondse word duurder, en word gevolglik al hoe meer op grond van koste gekies en nie vir die waarde wat hulle bied nie.

Tot dusver het mededinging pasiënte se keuses en toegang tot behandeling beperk, in plaas daarvan om versorging te verbeter en doeltreffendheid te verhoog. Stygende koste en regulering het daartoe gelei dat hospitale, mediese fondse en groepe diensverskaffers vir oorlewing begin konsolideer het, sonder dat pasiënte noodwendig bevoordeel is.

Inteendeel, groot kommer bestaan dat die oorheersing van die mark deur enkele hospitaalgroepe en ’n reus soos Discovery eerder tot nadeel van verbruikers strek. Die vraag is of bykans monopolistiese praktyke nie daartoe bydra dat koste buite verhouding tot stygings in die gehalte van mediese sorg en die uitkomste van versorging styg nie. Dié bedryf sal moet werk aan die persepsie dat hiperwinste versamel word ten koste van die welvaart en gesondheid van miljoene fondslede.

Verkeerde mededinging

Die vraag is of daar werklik sprake van gesonde mededinging in gesondheidsorg is.

Daar is wel skerp mededinging tussen mediese fondse, maar moontlik nie genoeg by die veel belangriker voorkoming, diagnosering en behandeling van siektetoestande nie. Gesondheidsorg behoort soos enige ander bedryf te wees, waar koste en gehalte gelyktydig kan verbeter as verskaffers in die behandeling van sekere toestande spesialiseer. Waar fondslede egter tot sekere netwerke van diensverskaffers beperk is, word vrye mededinging doeltreffend geblokkeer. Indien daar wel mededinging is, is die doel gewoonlik kostebesparing, en nie beter dienslewering nie.

Die vraag is ook of kruisaandeelhouding deur diensverskaffers nie tot botsende belange en hoër koste vir fondslede lei nie.

Die doelwit van mededinging behoort daarop gemik te wees om die waarde van die gesondheidsrand te verhoog, wat beteken dat daar gefokus moet word op die gehalte van behandelingsuitkomste per rand bestee.

Gesondheid is nie ʼn kommoditeit waar koste die enigste faktor vir mededinging is nie. ʼn Kortsigtige fokus op korttermynkoste alleen kan die langtermyngesondheid van fondslede ondermyn. Die doel behoort te wees om te belê in behandeling en praktyke wat gesondheid en waarde oor die langer termyn volhoubaar verhoog.

Kennis is mag

Die vrye beskikbaarheid van en toegang tot inligting vorm die basis vir mededinging in enige bedryf.

Betroubare inligting maak dit vir verbruikers moontlik om vergelykings te tref om te verseker dat hulle die beste waarde vir hulle geld kry. Dit verseker terselfdertyd dat diensverskaffers hulself teen die res van die mark meet, en dwing hulle om te verbeter om steeds mededingend te bly.

In Suid-Afrika bestaan daar nie inligting oor diensverskaffers se ondervinding en resultate met die behandeling van spesifieke toestande nie. New York het ná net vier jaar se publisering van data die laagste risiko-aangepaste sterftesyfer na hartomleidings van enige staat gehad!

Ongeag die probleme wat daar met die verskaffing van vergelykbare data kan wees, is daar niks wat verbeterings in dié bedryf vinniger versnel as die beskikbaarheid van inligting nie.

Staatsvoorskrifte verhoog koste en verswak diens

Tot dusver is die tekortkominge in die vryemarkstelsel vir mediese sorg bespreek. Die stelsel sal beslis verbeter moet word voordat dit soomloos kan werk. Hoewel die vrye mark sy foute het, is staatsvoorskrifte in die geheel die eintlike fout. Kom ons kyk vinnig hoekom.

Staatsinmenging het gelei tot verhoogde mediese koste, swakker diens en sieker mense in Suid-Afrika. Hierdie ongesonde toedrag van sake is veroorsaak deur die volgende staatspraktyke:

  • Oorregulering wat koste opjaag;
  • Prysvasstelling wat byvoorbeeld die mark vir medisyne verwring, apteke toemaak en vrye mededinging verhoed;
  • Plafonne op die ontwikkeling van meer hospitale wat kunsmatige tekorte skep wat pryse dus opstoot;
  • Regulasies wat die opleiding van meer dokters en spesialiste verhoed en wat só tekorte skep wat pryse opjaag;
  • Die platval van die openbare verpleegopleidingstelsel en die oorregulering van privaat opleiding;
  • Die afskaling en uitfasering van belastingvoordele vir privaat indiwidue;
  • Die mikrobestuur van mediese fondse deur staatsvoorskrifte wat premies opdwing;
  • Die Raad op Mediese Skemas wat met mikroregulering koste opjaag, byvoorbeeld dié van voldoening; deur alle opsies te dwing om wins te maak en so kruissubsidiëring verhoed; koste te verhoog deur voorgeskrewe minimum voordele; groter skemas te bevoordeel en dit vir kleineres onmoontlik te maak om te bly voortbestaan; deur die stel van onnodige hoë reserwevereistes; die vereiste dat alle lede dieselfde betaal ongeag risiko en koste; en politieke transformasievereistes, wat lankal besig is om die mediese bedryf met die onbekostigbare doelwitte van die NGV te belyn.

Staat die probleem

Kortom, die staat se beheer oor die mark is die grootste oorsaak van die probleem wat ten opsigte van mediese sorg ondervind word, en dit is nie die oplossing nie.

Die probleem is gevolglik nie dat die vrye mark nie werk nie, maar dat die mark nie vry is nie.

Die staat se agenda is deursigtig: nasionalisering deur regulering. Anders gestel, gebruik staatsinmenging om privaat mediese sorg te ondermyn deur koste só te verhoog en diens te verlaag dat dit onvolhoubaar word en dwing dan ʼn nasionale gesondheidsversekering op almal af omdat dit lyk asof dit die laaste oplossing is wat oorgebly het. Die rede daarvoor is natuurlik om miljoene rande se privaat geld te kan gebruik om die staat se sukkelende sosialistiese stelsel in die naam van gelykheid en “medies vir almal” te befonds.

Die probleem is net dat geld nie die hoofrede vir die mislukking van die huidige swak stelsel vir openbare gesondheidsorg nie, maar die staat se eie swak bestuur met sy onwerkbare personeelbeleid as hoofrede daarvoor.

Natuurlik is daar baie goeie bedoelings ook om goeie en bekostigbare mediese sorg vir almal te verseker. Maar, soos Milton Friedman gesê het, ʼn beleid moenie aan sy bedoelings gemeet word nie, maar aan sy uitkomste, en die geskiedenis getuig daarvan dat lande met ʼn genasionaliseerde stelsel swakker gesondheidsuitkomste, gerantsoeneerde mediese sorg, lang wagtye, ʼn groot tekorte aan dokters, ʼn skaarste aan medisyne, ondoeltreffende hospitale en verouderde en onvoldoende mediese toerusting het.

Staatsbestuurde gesondheidsorg is al genoeg keer getoets om onomwonde te kan sê: Dit lei tot swakker gesondheidsorg, verminderde toegang tot dienste en hoër koste. Daarom lê die oplossing eerder by pasiënt-gesentreerde hervormings as by hardhandige staatsinmenging.

Welstand: die oplossing lê in leefstylveranderings

Die publiek het egter die grootste verantwoordelikheid vir hul eie welstand. Dokters en aptekers kan jou help as jy siek is, maar elke mens moet aan sy of haar eie gesonde welstand werk. Die meeste siektes het immers voorkombare oorsake, soos swak eetgewoontes, min oefening, rook, oorgewig en ʼn ongesonde leefstyl. Dit help nie ons verwoes en verwaarloos ons liggame teen groot koste en kla dan oor die koste en diens van die mediese bedryf wat ons weer gesond moet maak nie.

Daarom moet ons eerder ʼn nuwe “gesondheidstelsel”, as ʼn nuwe “siekesorgstelsel” ontwerp. Kom ons ontwikkel eerder ʼn nuwe en gesonder leefstyl omdat voorkoming nog altyd beter en goedkoper as genesing was. Voltaire het gesê ons offer die helfte van ons lewe ons gesondheid op vir meer geld, net om in die tweede helfte die geld te moet opoffer om ons gesondheid te probeer terugkry.

Beste in die Weste

Suid-Afrika se privaat mediese stelsel het sy probleme, maar dit is nog steeds van die beste in die Weste. Daar heers kommer dat die huidige, ongesonde privaat mediese sorg die staat kan aanmoedig om na ʼn rampspoedige nasionale gesondheidsversekering (NGV) te beweeg.

Rolspelers in die bedryf behoort hul sake vinnig in orde te kry in belang van ʼn volhoubare en lewenskragtige privaat gesondheidsorgbedryf.

Die NGV hou wel ʼn groot bedreiging vir almal se gesondheid in, maar weens die staat se onvermoë is dit eerder soos ʼn skilpad as ʼn kwaai renoster wat op ons afpyl.

Daarom is dit lewensbelangrik dat ons die tyd nóú gebruik om die beleid te beïnvloed.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Merie Perd. ·

Mnr. Buys, Baie dankie vir jou uitgebreide repliek op die hoe koste van medisyne en ook mediese versorging.
My broerskind, was self n slagoffer, van verkeerde staats hospitaal medisyne, en is na 2 weke in die intensiewe sorg eenheid oorlede. Die dokters se hande was afgekap omdat hulle nie toegelaat was om die regte medisyne om sy toestand mee te behandel, aan te koop nie. Die dokter het my self die lys van toegelate medisyne gewys en bevestig dat nie een hiervan geskik was vir die behandeling van die siekte toestand nie. Wat die prys van mediese sorg aanbetref sal daar n alternatief gevind moet word. Daar sal ook aandag gegee moet word vir die ontsmetting van die hospitale se lugversorging eenhede.

Gert Bezuidenhout ·

Mnr Buys as ek reg verstaan g is u beswaar dat die staat nie in staat is om die Nas Gesondheidsplan te implementeer en of te bestuur nie ! Ek stem saam met die korruptheid wat hoogty vier is dit ‘n gegewe. Ek en my vrou is pensioenarisse waarvan ons Hospitaalplan ons Baie meer kos as wat ons pensioen is !!!! Wat stel u voor is die oplossing vir ons en daar is miljoene in dieselfde finansiele verknorsing.

Neels ·

Die mediese fondse, private gesondheidpraktisyns, farmaseutiese groepe, werkgewers, en vakbonde het te lank gesloer om met werkbare alternatiewe vorendag te kom. Ons weet die kern van die probleem is die nutteloosheid van die huidige regering, insluitend die verval van openbare hospitale, swak bestuur en tenderbedrog. Die dokters is goed, en verpleegsters is ongemotiveerd. Dit kon insluit gedeeltelike privatisering van staatshospitale en klinieke wat ook private dokters kon aanstel. Of die staat sou luister weet ek nie, maar dit is nou te laat en water oor die brug.

Kobus ·

Alle besluitnemers is verantwoordelik vir die gesondheidsdilemma. Dit kom al vir ‘n baie jare, nou is dit op ons. Gierigheid bly maar ‘n probleem in die mediese wêreld. SA is en bly ‘n lae middel inkomste land waar min mense luukses kan bekostig. Selfs mense wat nou aftree met goeie medies staar onsekerheid in die gesig. Die res gaan ook eendag oud word.

John ·

Die neseiers van die private hospitale gaan geplunder word om die beplande dienste en uitbreidings te kan bekostig. Sodra krisisse ontstaan sal apteke gedwing word om hul voorrade af te staan en pasiènte sal oorgeplaas word na private inrigtings vir behandeling sonder vergoeding vir die beter dienslewering wat die instansies af gaan rem tot op staatshospitaalvlak. Sekere fabrikate se medisyne sal afgedwing word op pasiènte, soos iemand hier ook aandui. Wit pasiènte word nou glo reeds in staatshospitale afgeskeep.

Danie ·

Dit is beslis nie net wit pasiënte wat afgeskeep word in staatshospitale nie. My ondervinding is dat pasiënte van alle rasse groot uitdagings in die gesig staar wanneer hulle staatshospitale besoek. Waarom moet alles ‘n raskleur kry?

Kallie Grafie ·

Hier in Vereeniging het ek by `n oogkundige pryse gekry vir `n oogtoets, brille en raam. Omtrent R300, indien jy nie aan `n mediese fonds behoort nie, soos ek. Omdat my suster aan Discovery mediesefonds behoort, het dit haar vierkeer soveel gekos. `n Bekende oogkundige-ketting (hul logo is groen en blou) vra jou R3000 vir die toets, raam en brille.

Toe ek aan `n mediesefonds behoort het, was ek gewoonlik een keer per maand by die dokter. Nou, sien ek hom miskien een keer per jaar.

CHAPPIES ·

Ek vat nou so aan my 60’s en kort so 4’krone dan is my mond weer vol tande, sien!
GLO MY…eerste tandarts vra my R165 000,00..!!!!! En die tweede tandarts R 150 000,00…!!!!
TOTALE kranksinnigheid!!
Ooo…jaaa…en ek moet hulle asb eers SELF direk betaal

Knapsekêrel ·

Dit is moontlik baie goedkoper om na Kuba te reis en die krone daar te laat doen.

kolla ·

Ek behoort nie tans aan ‘n mediese fonds nie. Paar maande gelede gaan ek na ons local tandarts toe en vra hoeveel om twee tande te trek, R1500. Ek ry vandaar af na die plaaslike staatskliniek (wat ook ‘n tandarts het). Daar gekom was dit te laat (tandarts werk net daar tot 12h00) maar die tandarts was nog daar. Ek sê vir die ou ek het ‘n noodgeval. Hy sê oukei en vra die suster om my te boek vir die volgende oggend (hy vra toe ook of ek pille vir die pyn wil hê). Wel, die tande is die volgende dag getrek, my niks gekos nie.

Christo Louw ·

Jy meld nie of dit standaard krone of eers inplantate met rifopbou is nie. Dis nie die behandeing wat duur is nie ; dis jou nalatigheid of ongeluk wat kos

Jerry ·

Die Afrikaner het sy verstandige kopskuif gemaak en is besig om besigheidsbelange na die buiteland te skuif. Mediese fondse gaan iets drasties en soortgelyk moet doen om die fondse uit die staat se kloue te hou! Die ANC se plan na staatskaping fase 1 is om met grondwet gesteunde wetgewing die wit monopolie kapitaal wat nog oor is in fondse en finansiele instellings, asook met belastingbetalers se geld die ekonomie te herstel vir die ANC vir nasionalisering en verandering en om sodoende die ekonomie te beheer en te besit. Die BRICKS lande met China aan die spits staan geruime tyd reeds gereed om groot geld in SA te bele, maar eers nadat die wit monopolie kapitaal fondse leeg gemelk is en koloniale stelsels vervang is met kapitalistiese sosialistiese stelsels wat deur die ANC staat beheer word! So ja, dit is die ANC se plan en “if you cant beat them, join them” of skuif na die buiteland. Hou jy jou besigheid in SA sal demokratiese grondwet gesteunde wetgewing toenemend die lig sien wat jou uiteindelik sal dwing tot oorgawe. In die ANC ideologiese konsep vir verandering bestaan daar nie so iets soos n minderheidsgroep met regte en n eie akademia nie! Slegs die Zulus sal n uitsondering op die reel wees agv hulle velkleur en moontlike bedreiging wat hulle mag inhou!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.