‘Stabiliteit’ wat Ystergordyn meegebring het, het ook maar in rook opgegaan

berlynse-muur

Foto: Photoholiday/Pixabay.com

Op 9 November 1989 – 30 jaar gelede – het die Berlynse Muur op ’n Donderdagaand geval. ’n Dag later was ek op die toneel om die aangrypende tonele te aanskou van Duitsers wat in hul honderdduisende op die strate dans, juig en huil.

Pres. Michail Gorbatsjof het sy soldate in Oos-Duitsland opdrag gegee om nie in te gryp nie. Dis ’n saak vir die Duitsers, was sy houding.

Hiervandaan het die momentum in die rigting van die Duitse hereniging 11 maande later onkeerbaar voortgedonder. Premier Margaret Thatcher van Brittanje en pres. François Mitterrand van Frankryk het nog probeer wal gooi, maar tussen Gorbatsjof, pres. George H.W. Bush van Amerika en bondskanselier Helmut Kohl van Duitsland is ’n proses wat baie maklik lelik kon ontspoor het, verstandig gehanteer.

Ons is nou drie dekades later. Hoe het die val van die Muur die wêreld verander?

In die eerste plek het dit die ineenstorting van die kommunisme as globale magsfaktor ingelui. Geen enkele voorbeeld van ’n suksesvolle kommunistiese land bestaan êrens nie; die prestige wat dié ideologie destyds op plekke in die Derde Wêreld gehad het, het verdamp.

Dit het ook die ideologiese mat onder die baie ortodoks-kommunistiese ANC/SAKP uitgepluk en aan pres. FW de Klerk die geleentheid gegee om die histories onafwendbare einde van apartheid hoofsaaklik vreedsaam teweeg te bring. Dat die ANC/SAKP sleg regeer, is nie De Klerk se skuld nie, al kon hy in die onderhandelings beter gevaar het.

Globaal het die internasionale politieke stelsel – twee magsblokke wat mekaar min of meer in ewewig hou en ’n soort perverse vrede meebring – dramaties verander. Die teenswoordige wêreld word veral deur toenemende onstabiliteit gekenmerk.

Die wegval van die gemeenskaplike bedreiging het meegebring dat Navo se samehang verswak is. Daarby hang ernstige vraagtekens oor pres. Donald Trump se bereidheid om Navo in stand te hou. Sy houding is dié van ’n sakeman pleks van ’n staatsman – hoeveel geld kos die bondgenootskap my, en hoeveel geld lewer dit op?

’n Egte staatsman dink dieper. Ja, geld is belangrik, maar geloofwaardigheid en betroubaarheid is eienskappe wat nie in geld gemeet kan word nie.

Hy het wel ’n punt dat Amerika se Navo-bondgenote meer aan hul eie verdediging moet bestee. Dié besluit is inderdaad in 2015 ná Rusland se onwettige besetting van die Krim geneem, en heelparty Navo-lidlande is goed op pad daarheen.

Andersyds het die Sowjetunie in 1991 in sy 15 deelrepublieke uiteengeval, waarvan Rusland die grootste is. Die chaos wat Rusland in die eerste jare ná die Koue Oorlog ondervind het, is met harde hand deur pres. Wladimir Poetin bedwing, maar ekonomies gaan dit nog maar so-so.

Poetin, ’n skitterende politieke taktikus, wil die ou Sowjetunie herstel as hy kan. Hy is soos ’n skaakspeler wat gapings in sy opponent se slagorde raaksien en dit genadeloos uitbuit, maar hy sal waarskynlik vir ’n omvattende oorlog terugdeins.

Rusland bly ’n bedreiging vir Europa, veral in die Oekraïne en die Baltiese Republieke. Maar Poetin se goeie skaakspel verhul die feit dat hy ’n minder goeie strateeg is, want sy bedreiging beteken dat Navo deesdae steeds meer aan sy strydkragte bestee en aktief vir ’n verdedigende oorlog teen Rusland beplan.

Tog, hoe belangrik die wedywer tussen Navo en Rusland ook al is, dit is nie die belangrikste element van die huidige wêreldorde nie. Rusland se ekonomie is ewe groot as dié van Spanje, en hy sal geen langdurige oorlog kan volhou nie.

Nee, die belangrikste element is toenemend die wedywer tussen die Weste (veral Amerika) en China.

China is besig aan ’n ekonomiese, politieke en militêre opmars wat skrik vir niks. Die land se ekonomie groei nou weliswaar stadiger as in die verlede, maar skop steeds stof in die Weste se oë.

Militêr is die land besig om ’n weermag op te bou wat ontwerp word om selfs dié van Amerika te oorwin as hulle sou bots. Veral sy vloot, waarmee hy mag ver van sy eie kuste kan projekteer, groei dramaties.

In die Westerse media gis kenners dat China dié krag kan toets teen Taiwan, wat hy as afvallige provinsie beskou. Die Chinese het Trump blykbaar deurgekyk en besluit dié man sal nie oorlog oor Taiwan maak nie.

In die Suid-Chinese See het China eenvoudig sy sterker elmboë gebruik om rotse tot eilande om te tower en die grens tot vlak voor die kuste van Borneo, die Filippyne, Indonesië, Maleisië en Viëtnam te trek. Die eilande word in vinnige tempo tot sterk militêre basisse opgebou.

Op politieke vlak is die Chinese regering besig met ’n nuwe “syroete”, só genoem na die handelsroete wat eeue gelede tussen die Chinese en Romeinse keiserryk bestaan het. In die proses het China sy ekonomiese (en dus ook politieke) invloed uitgebrei na Afrika, Sentraal-Asië en selfs Latyns-Amerika.

Trump se reaksie is om met ’n handelsoorlog te dreig. Dalk ’n verkeerde taktiek, want die geskiedenis wys onteenseglik dat niémand ooit só ’n konflik wen nie; álmal verloor.

Luidens berigte kan ’n handelsooreenkoms egter binne afsienbare tyd die “oorlog” tussen die twee beëindig. ’n Mens sal maar moet wag en sien wat die besonderhede is – as dit gebeur.

Elders in die wêreld broei dit ook. Indië en Pakistan, albei met kernwapens oorgehaal, sit en grom vir mekaar, veral oor die provinsie Kasjmir, waarop hulle albei aanspraak maak.

As die twee aanmekaar spring, kan dit van ’n plaaslike katastrofe tot ’n globale een ontwikkel. Dis glad nie onmoontlik dat Rusland en China (dalk selfs Amerika?) ingesuig kan word nie.

Ten slotte is daar die probleem van Islamitiese terrorisme en alles wat daarmee saamhang. ’n Soort burgeroorlog woed tussen die twee hoofstrome van die Islam, die Soenniete en die Sjiiete, iets wat al Iran, Saoedi-Arabië, Jemen, Sirië en Turkye ingetrek het.

Langs die kantlyn gebruik Poetin ook sy elmboë om Rusland se invloed in die Midde-Ooste te vergroot. Trump gee hom die ruimte, waardeur Amerika se invloed juis afneem.

Die groot kommer betref die tradisionele vyandskap tussen Iran en Saoedi-Arabië. As Iran, soos gevrees word, kernwapens ontwikkel, kan dit die hele streek in vlamme laat opgaan.

Dit wil natuurlik geensins sê dat dit alles gáán gebeur nie. Die punt is bloot dat die stabiliteit wat die magsewewig van die Koue Oorlog (soos versinnebeeld deur die Berlynse Muur) meegebring het, in rook opgegaan het. In die plek daarvan het ons ’n groeiende onstabiliteit wat veel makliker as vroeër ontsporings kan veroorsaak.

Helaas het die wêreld ’n ernstige tekort aan verstandige staatsmanne wat dit kan voorkom.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Marthinus Willemse ·

So, as Navo se “samehang” deur Gorbatjof se afskaffing van die Warskou-Verdrag verswak is, waarom bestaan Navo nog? Om Amerikaanse wapenvervaardigers ryk te maak, of Europa werklik te verdedig?

As Obama en sy sotlike kabinet hul verstand gebruik het, en besef het dat die Oekraïne nie Berlyn is nie, dis op Rusland se grens, sou die Krim nie geannekseer gewees het nie. (Historici soos Stephen F Cohen, John Mearsheimer en Richard Sakwa praat van Poetin se anneksasie van die Krim as `n “herinlywing”.)

Oor Poetin wat “die ou Sowjetunie wil herstel”: Hy het eenkeer gesê, “Enigeen wat nie spyt is oor die einde van die Sowjetunie nie, het geen hart. Enigeen wat dink jy kan die Sowjetunie herskep, het geen verstand.”

Met ander woorde: ek as Afrikaner is hartseer oor die ou SA wat nie meer is nie, maar ek wil dit nie terug hê nie want dit was `n immorele, onmenslike regime. Dis wat Poetin oor die Sowjetunie probeer sê.

Hans Richardt ·

China is ekonomiese voorspoedige kommunistiese land, selfs bedreiging vir VSA se ekonomie.

PietS ·

Leopold, MM is nie lief om my bydraes te plaas nie, maar ek gaan ten minste probeer. Wat die militere krag van China aangaan. Dit is al meer as 2000 jaar terug geprofeteer in Openbaring dat twee honderd miljoen oosterse soldate sal opruk om Israel te probeer verwoes. Rusland mag dalk ook deel daarvan wees.

Abigail ·

PietS, mag ek die hoofstuk en vers in Openbaring kry, asseblief.

PietS ·

Abigail

Ek probeer jou antwoord maar MM wil nie my skrywes plaas nie.

Openbaring 9:16 en 16:12. Lees ook Asian Nations Strengthen Military Cooperation op die web, dan sal jy ‘n beter prentjie sien van wat werklik aangaan.

Jaap Folmer ·

Het jy onder ‘n klip geleef sedert daardie tyd, Leopold Scholtz? Of het jy nog nooit van die Europese Unie gehoor? Dit is wat die instabiliteit sedert die val van die Muur bekamp het. Ja, Poetin het nou sy boetie in die White House wat probeer om die Weste te vernietig en sy vriendjies soos Farage en Johnson in Engeland wat julle Afrikaners so aanbid.

Maar Trump se Titanic sink reeds. En die EU het standgehou en selfs die Britte het nou spyt.

Fanie ·

Jaap, so van ‘n klip(kop) gepraat….. Dankie vir ‘n deurdagte artikel Leopold.

Frans C ·

Die gemors in Suid Afrika is direk die gevolg van F W de Klerk se swak onderhandellaars,wat volgens Andrew Feinstein uitgelag is oor hoe maklik hul uitoorlë is.
De Klerk se groot fout was dat hy met ‘n kommunistiese gedrewe onderhandellaars aan een tafel gaan sit het.
Hy het sy fout te laat besef toe oorlede Pres. Mandela hom in die privaat en openbaar
so swart gesmeer het dat hy wat de Klerk is gedreig het om hom aan die Nobelvredesprys verrigtinge te onttrek.

Suid Afrika bestaan uit ‘n verskeidenheid van volke en dit hulle wat na ‘n vredesberaad
genooi moes gewees het om die pad vorentoe te bepaal.Dan sou die kleinste volke wat
nou worstel om erkenning te kry ‘n bydrae kon gelewer het en nie soos tans aan die
mislukking van die ANC onderworpe gewees het nie.

Nee wat de Klerk is maar soos ‘n klein seuntjie op hoërskool wat graag saam met die groter seuns wou speel,maar toe fyngemaal is deur die hardebaarde tot so’n mate dat die gekoei in Leon Lemmer: Rina Venter oor die oorgang na swart meerderheidsregering
onthul word.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.