Stakende studente stik aan giftige politieke dieet

Flip-Buys

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging. Foto: Reint Dykema.

Die bekendste resep van die linkse politiek was nog altyd die belofte dat politieke mag tot ekonomiese voorspoed sou lei. Die Ghanese onafhanklikheidsleier, Kwame Nkrumah, het dit die beste opgesom met sy skeeftrekking van die Bybel: “Gee ons allerseers die politieke koninkryk en alle ander dinge sal daarby gevoeg word”.

Karl Marx het hierdie linkse resep die eerste keer wêreldwyd bekend gemaak: “kry eers die politieke mag deur die stembus en gebruik dan daardie mag om die ekonomiese mag deur die instelling van sosialisme te bekom. Die ANC se dekadelange strydkreet kom ook uit daardie politieke resepteboek: die kortste pad na sosialisme is demokrasie. Daaruit het die SAKP en ANC se berugte tweefase rewolusiestrategie gespruit. Tydens die eerste fase word vir demokrasie geveg en daarna word die mag, wat so verkry is, gebruik om sosialisme in te stel. Dis hoekom grondwetlike kenners soos Professor Francois Venter sê dat die ANC by Kodesa toegewings gemaak het om die mag te kry, maar dat hulle nou die mag gebruik om hulle oorspronklike doelstellings te verwerklik.

Hierdie tweestap resep was baie gewild, want dit het belowe dat politieke mag ʼn kortpad na ekonomiese voorspoed is, sonder die lang harde pad wat ander ander politieke oortuigings vereis. Dit het vir die massas beter geklink om liewer elke vyf jaar te stem vir ʼn lewe, in plaas daarvan om elke dag hard te werk daarvoor.

Marx het sy resep selfs nog lekkerder laat klink deur ʼn stukkie onweerstaanbare ekonomiese versiersuiker by te voeg. Dit was sy spesiale heeljaar-verjaarsdag formule vir vergoeding: “werk volgens jou vermoë en verdien volgens jou behoefte”. Dit het in die praktyk beteken jy kan eintlik doen waarvoor jy lus is, en dan steeds nog genoeg kry om aan jou behoeftes te voldoen.

Armoede en verdrukking

Die gevolge hiervan was wêreldwyd voorspelbaar: armoede en verdrukking. Die rede hiervoor was dat die Marx-formule produksie ontmoedig en verbruik aangemoedig het, met armoede die onbedoelde, maar voorspelbare, gevolg. Om hierdie lande se ekonomieë te probeer red, was die sosialistiese state verplig om hul burgers te begin verdruk. Mense is gedwing om te werk soos die staat dit goeddink, die staat het besluit wie kry hoeveel kos en watter vergoeding en lewensmiddele, grond is van produktiewes afgevat en herverdeel en hele lande het polisiestate geword. Dit is natuurlik alles in die naam van “gelykheid” regverdig. Hierdie harde maatreëls was immers nodig om die lofwaardige einddoel van gelykheid te bereik. So het ʼn ideologie, wat hemel op aarde beloof het, uiteindelik hel op aarde geskep.

Oop tjekboek

Maar die ANC het niks uit die mislukte sosialistiese eksperimente geleer nie en ook niks van die sosialistiese politiek vergeet nie. Hulle het dekades lank vir hul ondersteuners vertel hul armoede en ongelykheid is net aan apartheid te wyte, terwyl hulle die talle ander redes, wat wêreldwyd tot armoede gelei het, doodgeswyg het. Die ekonomiese voordele van politieke mag is totaal oorskat, en die ANC se vereenvoudiging was dat apartheid witmense welvarend gemaak het sonder dat hulle daarvoor gewerk het. Hul oplossing was net so eenvoudig: verkry die politieke mag en gebruik dan hierdie staatsmag om die goeie lewe vir hulle ondersteuners te verseker. “A good life for all” het die baniere uitbasuin. Beloftes soos “jobs, houses” en ja, ook “free education” is aan hul kiesers gemaak.

Die ANC het nie aan hul ondersteuners vertel ʼn grondwetlike demokrasie is eintlik net ʼn prosedurele reëlboek wat sê hoe ʼn land gaan werk en hoe alles inmekaarsteek nie. Hul ondersteuners het nie ʼn voorskriftelike reëlboek verwag nie, maar ʼn oop tjekboek, wat kiesers na die verkiesing maar net kan gaan “inruil” vir huise, werk, toelaes en gratis onderwys.

Eensame stemme soos Dr Van Zyl Slabbert se luide waarskuwings dat die politiek verwagtings skep waaraan die ekonomie nie kan voldoen nie, is in die wind geslaan. Die grondwet het immers uitdruklik in bepalings soos artikels 26 en 27 “sosiaal-ekomomiese regte” belowe, soos behuising, medies, kos, welsyn, toelaes en bestaansekerheid. Die fynskrif het wel bepaal dit moes stelselmatig in werking gestel word. Maar na meer as 20 jaar van ANC-regering, voel talle van hul ondersteuners nou die ANC het nie sy belofte van ʼn goeie lewe nagekom nie. Wie gaan nou vir hulle verduidelik dit is ekonomies nie eens vir ʼn ekonomiese supermoondheid, soos die VSA, moontlik om vir almal te sorg nie. Nie politici wat weer die volgende verkiesing wil wen nie!

Die langpad is die kortpad

Maar waar pas die studente-opstande by hierdie prentjie in? Daar word bereken sowat 80% van swart openbare skole is disfunksioneel, wat beteken die meeste kinders in daardie skole is nie goed genoeg vir universiteitstudies voorberei nie.

Daarby het die regering sedert 1994 nie groot nuwe universiteite gebou nie, hoewel hulle universiteite gedwing het om aan toegang aan dubbeld die aantal studente te gee. Terselfdertyd het hulle die universiteite vir jare onderbefonds. Miljarde rande is aan studentebeurse spandeer, maar die skema is so swak administreer dat feitlik niemand hulle studiegeld terugbetaal het nie.

Die gevolge van al hierdie botsende beleidsrigtings was voorspelbaar: minder as 50% van studente kry uiteindelik hul graad, terwyl 70% van diegene op die staat se studiehulp nie hul grade kry nie. Die eindresultaat is dus ʼn woedende teleurstelling van duisende studente wat voel hulle het nie ʼn kans in die lewe sonder ʼn universiteitskwalifikasie nie.

Hulle teiken gevolglik die universiteite as simbole van hul vernietigde hoop op ʼn goeie lewe en beloofde toekoms. Hulle is kwaad vir die “Westerse kennis” en witmense in die algemeen, omdat hulle steeds bly glo hulle is benadeel en wit studente kom steeds deur vanweë voortgesette bevoordeling.

Die aktiviste weier om te glo dat die meeste wit studente se ouers sukkel ook om hulle op universiteit te hou, dat baie wit studente ook nie deurkom nie en dat diegene wat wel deurkom, vir jare lank ongelooflik hard werk om hul grade te behaal. Hulle sien opstande as ʼn moontlike kortpad na sukses en begryp nie die langpad is die enigste en kortste pad nie.

Soveelste ontnugtering

Baie stakende swart studente voel dus die “stelsel” het hulle in die steek gelaat en wil hulle nou woedend wreek op die universitêre rotsmuur waarteen hul toekomsdrome vasgehardloop het. Hulle wil die stelsel, wat hulle ideale verpletter het, nou omverwerp en begryp nie hulle is nooit vertel hoe moeilik dit werklik is om blywende sukses op skool, universiteit en daarna lewenslank in die werksplek te behaal nie.

Hierdie studente is maar net die jongste ontnugterde slagoffers van ʼn politieke hongerdieet wat al tot soveel smart en lyding in Oos-Europa, Afrika, Suid-Amerika, Asië en Rusland gelei het. Die ANC en EFF se leiers het niks uit al hierdie politieke werklikheidsreekse geleer nie. Daarom herhaal hul ondersteuners nou dieselfde historiese lesse.

Die wêreldbekende Amerikaanse politieke wetenskaplike van Harvard, Professor Fukuyama, het reeds in 1993 die land gewaarsku: The main obstacle to black social modernization in the future may well be the belief in socialism on the part of the ANC and its communist allies.

Socialism has always presented itself as a higher and more progressive form of social organization than capitalism. But in the contemporary world, socialism has been revealed to be an obstacle to social and economic modernization – the hallmark of a certain kind of backwardness that needs to be overcome, just like illiteracy and superstition. The countries of Eastern Europe are now moving rapidly backward into the future, undoing the legacy of forty years of dictatorship and socialist planning. Let us hope that South Africa, as it makes the necessary transition to democracy, does not move forward into the past.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Flip Buys

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

31 Kommentare

jongste oudste gewildste
Theuns

Dagse Flip. Uitstekende kommentaar. Jou skrywe maak die modus operandi van die verlore student duidelik!

JC

Sjoe, die artikel is uitstekend!
Dankie Flip, wyse woorde van ‘n wyse man!

JC

Sjoe, die artikel is uitstekend!
Dankie Flip, wyse woorde van ‘n wyse man!!!

Nita

Dit is nou die stem van rede. As dit nou net wyd en syd deur Suid-Afrika verkondig kan word. En as die wat hoor dit sal glo!!

Plutarch

Ongelooflik insiggewend. Baie dankie.