Standaardafrikaans moet ook nuttige plek hê

dr-leopold-scholtz-kruispaaie

Dr. Leopold Scholtz. Foto: Reint Dykema.

In die teenswoordige Suid-Afrika kan ʼn mens kwalik te veel oor taal – en dan veral die posisie van Afrikaans – praat. Die wyse waarop taalregte (nie net dié van Afrikaans nie; ook dié van ander inheemse tale) agtergestel word, noop jou om dit weer en weer ter sprake te bring.

ʼn Onlangse gesprek op die Suidoosterfees het nogal taamlike aandag getrek. Een van die sprekers, prof. Elvis Saal van Unisa, het die kern van die diskoers nogal baie beeldend gestel: Standaardafrikaans word oral uitgedaag; hy “loop hinkepink en die variëteite (soos Kaaps) kóm vir hom”.

Uit die uitvoerige verslag wat in die Afrikaanse Naspers-dagblaaie verskyn het, lei ʼn mens af dat heelparty van die deelnemers aan die gesprek relatief negatief teenoor Standaardafrikaans was. Dr. Gerda Odendaal, mederedakteur van die WAT en gespreksleier, het die kwessie van diversiteit in Afrikaans só gestel: “Maar die afgelope paar dekades is daar al meermale bewys dat Afrikaans gevorm is uit ʼn situasie waar mense uit Asië, Afrika en Europa in ʼn kontaksituasie was waar hulle ʼn gemeenskaplike kommunikasiemedium moes kry.

“standardAfrikaans is dus vir my ʼn brugbouer tussen mense van verskillende kulture, gelowe en selfs rasse… en wil ons juis vandag ʼn stem gee aan daardie variëteite of tongvalle van Afrikaans wat dikwels nog ʼn bietjie misken word.”

En Ria Olivier, projekbestuurder by die Afrikaanse Taalraad, het bygevoeg dat die standaardvariëteit in die klaskamer op skool aangebied moet word as “ook ʼn variëteit… soos al die ander”.

Die gemeenskaplike tema in al die bydraes was om Standaardafrikaans ʼn noot laer te laat sing, en die ander variëteite ʼn noot hoër.

Verre sy dit van my om Kaaps, Moslemafrikaans of Namakwalands gering te skat. Wat vandag Standaardafrikaans is, was 150 jaar gelede in dieselfde posisie teenoor Nederlands – ʼn patois wat as minderwaardig beskou is, as iets wat dalk in die kombuis geduld kan word, maar nie in die kerk of die klaskamer nie.

Dit kan ewenwel die moeite loon om na die taalsituasie in Europese lande te kyk om te sien of ʼn mens iets daaruit kan leer.

Al die moderne Europese tale huisves verskillende variëteite. In Nederland en Vlaandere kry jy naas “Algemeen Beschaafd Nederlands”, soos dit genoem word, ook plaaslike dialekte wat soms van streek tot streek of selfs stad tot stad wissel.

ʼn Boorling van Groningen in die uiterste noorde van Nederland sal gróót moeite moet doen om ʼn inwoner van Antwerpen in Vlaandere te verstaan as laasgenoemde sy eie dialek praat. So ook iemand van Arnhem in die ooste van Nederland en ʼn inwoner van ʼn volksbuurt in Rotterdam.

Iets soortgelyks geld vir Duits, Frans, Italiaans – noem maar op. Die variëteite bestaan almal langs mekaar.

Maar dit beteken nie dat die standaardvariëteite afgeskaal of geringgeskat word nie. Inteendeel.

Daar is ʼn praktiese besef dat die Europese taalmosaïek só ryk is dat dit op ʼn toring van Babel – en die verwarring wat daarmee gepaard gaan – kan neerkom as daar geen gemeenskaplike vorm is wat álmal kan praat en verstaan nie.

Dus kry jy “Algemeen Beschaafd Nederlands” in Nederland en Vlaandere, “Hochdeutsch” in Duitsland, Oostenryk, Luxemburg en dele van Switserland. En niemand maak ʼn probleem daarvan nie: Mense is trots op hul eie dialekte en praat dit graag, maar hulle weet ook dat die standaardvariëteit ʼn onmisbare praktiese doel het wat die lewe aansienlik vergemaklik.

Presies hoe dié standaardvariëteite daardie status bereik het, het met die geskiedenis te make.

In die Nederlandstalige gebiede was Holland ekonomies, polities en militêr die toonaangewende streek. In die Duitstalige gebiede het Pruise en die gebiede rondom die stad Hannover die toon aangegee, en in Frankryk was dit die dialek van die hoofstad en regeringsentrum Parys wat sy stempel op die standaardvariëteit afgedruk het.

Baie hang dus af van watter stad of streek die magtigste was. Daardie streek se dialek het dan die standaardvorm gewórd.

Daarmee word geensins gesê dat die standaard op welke manier dan ook régtig beskaafder of meer korrek is as die ander nie. Dis alles relatief. Dit het nou maar eenmaal so gebeur. Dis vir min mense ʼn probleem. Jy kry wel “deftige” mense wat ʼn “deftige” uitspraak hanteer en wat neerkyk op die “plat” uitspraak wat dikwels in die armer buurte of streke gehoor word, maar dít het nie regtig ʼn politieke dimensie nie.

Daardie politieke dimensie bestaan egter wel in Suid-Afrika. Daar word die kwessie van Kaaps en ander Afrikaanse variëteite dikwels nie bloot as ʼn neutrale feit van die lewe gesien nie, maar as politieke verset teen Standaardafrikaans. En dit het alles met die kwessie van “wit Afrikaners” teenoor “bruin Afrikaanses” te make.

Vandaar dat prof. Saal kan sê Standaardafrikaans “loop hinkepink” en die “variëteite kóm vir hom”. Hy het daaraan toegevoeg hy bedoel dit nie lelik nie – “die tyd is maar net hier. Dit is tyd dat ons vir mekaar sê al ons variëteite kan naas mekaar bestaan eerder as wat ons die een wil uitdryf.”

Tussen ons: Dit het met die agtergesteldheid van bruin mense te make. As dié klassekwessie opgelos word, kan dit die taalkwessie moontlik ook oplos.

Dit was goed dat Saal die saak genuanseer het, maar was dit genoeg? Niemand kan hom as Namakwalander kwalik neem as hy trots op sy eie dialek is nie, maar moet Standaardafrikaans se status – dit is immers die noodwendige gevolg van sy standpunt – dan daaronder ly?

Laat die dialekte hul plek met trots in die Afrikaanse taalfamilie neem. Laat geen spreker wat (soos ek) tuis met Standaardafrikaans grootgeword het, neerkyk op Kaaps, Namakwalands of enige ander variëteit nie.

Maar kom ons besef ook onomwonde: Net soos jy ʼn noodsaaklike plek vir “Algemeen Beschaafd Nederlands” of “Hochdeutsch” het, moet daar ook ʼn nuttige plek vir Standaardafrikaans wees.

Afrikaans is tans onder ontoelaatbare druk van ʼn regering (plus sy soms Afrikaanse meelopers) wat die taal aktief ondermyn. Ons moenie toelaat dat ons daardie proses vergemaklik nie.

Kom ons hou op om rusie te maak oor iets van sekondêre belang soos Standaardafrikaans teenoor variëteite. Kom ons konsentreer op die hoofsaak: Die voortbestaan van ons moeder, Afrikaans, in al haar vorme.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Andries

Eers ‘n mededeling vir die interessantheid: Maartin Luther het die Bybel in sogenaamde ‘MittelHochDeutsch’ – die taal van sy streek – vertaal. Deur die algemene belangrikheid van die Bybel en die geestelike invloed op die sammelewing het die “Bybelse dialek’ die standaardnorm geword. Sonder ‘n standaard sal Afrikaans onherkenbaar verword – soos tans aan die gebeur is waar mense te lui geword het om moeite te doen. Daar is meer en meer voorbeelde van woorde waaarvan ek die oorspronklike betekenis in die Engelse woordeboek moet gaan soek om agter te kom wat gesê probeer word. Taal verskeidenheid of streekstaal mag… Lees meer »

Sokrates

“” Standaardafrikaans loop hinkepink en die variëteite kóm vir hom…” Hóé dinge gesê word is belangrik. Dit was die filosoof prof Johan Degenaar wat gesê het dat mens die vindingrykheid van taal ernstig moet opneem, want dit is nie net n passiewe en onskuldige spieël van die werklikheid nie. Inteendeel, ons woorde en hoe ons dit gebruik skep en herskep die werklikheid. Vir my klink bogenoemde uitspraak oor standaardafrikaans geensins neutraal of onskuldig nie. Ook nie vriendelik nie. Eerder “veglustig”, selfs venynig en leedvermakerig. Sou n drang na vergelding steeds maar die onderliggende motief wees? Ongeag of jy uiteindelik jou… Lees meer »

Petrus Albertus

Alles goed en wel om te sê “die variëteite (soos Kaaps) kóm vir hom”, vraag is hoé presies? Verskyn daar dagblaaie in Kaaps? Tydskrifte? TV reekse? Die rede vir standaardafrikaans se oorheersende rol is omdat die sprekers van standaardafrikaans bereid is en was om die taal uit te bou – en nie net nadat standaardafrikaans politieke mag bekom het nie. Die kaapse rol in die geskiedenis van die ontwikkeling van Afrikaans word ook dikwels oorbeklemtoon, terwyl die afstammelinge van die pioniers wat Afrikaans op trek geneem het self veel gedoen het om die taal te ontwikkel – dink maar aan… Lees meer »

Treurwilger

Drie puik leserskommentare hierbo slaan die spyker op die kop!

Standaard Afrikaans is die pronkstuk, die vlagskip, die res is ‘streeksdialekte wat”’n nuttige plek het”, met Namakwalands wat hartsnare roer.

Wyle Rhoda Kadalie praat in ‘n onderhoud van die wedersydse respek en liefde tussen Afrikaanse dosente en studente aan die destydse UWK.
Só jammer dat Afrikaans ‘n politieke teiken geraak het, en klaarblyklik steeds is.

eMzansibabwe

Ek stem saam met die skrywer. Tog moet ons ook bedag wees op die “Woke and Cancel Culture”-aktiviste met hul politieke motiewe. Daar is genoeg plek onder die son vir ‘n vele verskeidenheid van Afrikaans. Immers, is daar nie Amerikaanse Engels, Suid-Afrikaanse Engels en Australiese Engels nie? Aldra gaan daar ook Chinese Engels wees.