Standbeelddebat en gevaar van onkundige, emosionele besluite

Die “Culture under fire”-uitstalling in Londen.

In 2016 het ’n verhoor in die Internasionale Strafhof in Den Haag, Nederland, plaasgevind, wat van groot belang vir erfenisbewaring was. Die beskuldigde was Ahmad al Faki al Mahdi, wat as lid van Al-Qaeda-verwante militêre groepe opdrag gegee het dat historiese erfenisbakens in Timboektoe, Mali, vernietig word toe dié magte die stad in 2012 ingeval het.

Aangesien die vernietiging van historiese erfenisbakens tydens militêre konflik ingevolge die Statuut van Rome ’n oorlogsmisdaad is, het die hof die reg gehad om hom te verhoor. Dit was die eerste saak van hierdie aard in dié hof. Al Mahdi is skuldig bevind en ten spyte van betoë ter versagting, tot nege jaar gevangenisstraf gevonnis. In Augustus 2017 is verder beslis dat skadevergoeding ten bedrae van byna drie miljoen euro aanvullend tot sy straf aan die plaaslike gemeenskap in Timboektoe betaal moes word.

Waarvan ons in die huidige standbeelddebat kennis moet neem, is die argumente wat die Internasionale Strafhof se aanklaer, me. Fatou Bensouda, aangevoer het. Sy het onder meer gesê: “Die verhoor van vandag is inderdaad histories. En dit is des te meer geskiedkundig met die oog op die vernietigende woede wat ons tyd kenmerk, waarin die gemeenskaplike erfenis van die mensdom onderhewig is aan herhaalde en beplande verwoesting deur individue en groepe wie se doel dit is om enige uitbeelding van ’n wêreldbeskouing wat van hulle wêreldbeskouing verskil, uit te wis deur die eliminasie van die stoflike verskynsels wat die hart van gemeenskappe is. Die uniekhede en waardes van hierdie gemeenskappe word dus eenvoudig misken en vernietig.”

Sy het bygevoeg dat die aanval op ’n gemeenskap se erfenis ’n direkte aanval teen die identiteit, herinneringe en toekoms daarvan is. Dit verarm nie net die betrokkenes nie, maar benadeel die universele waardes wat die internasionale gemeenskap verplig is om te beskerm.

Bensouda het gewaarsku dat die vernietiging van kulturele eiendom van ’n gemeenskap dikwels ’n voorspel tot die pleeg van meer gewelddadige optrede teen die gemeenskap self is, en dus nie geduld mag word nie. Sy het aanvalle op die kulturele erfenis van ’n groep beskryf as ’n soort oorlogswapen wat gebruik word om bewyse van die bestaan daarvan uit te wis.

In haar slotbetoog het sy beklemtoon dat die beskerming van kulturele erfenis ’n noodsaaklike onderdeel van die maatskaplike rekonstruksie en versoeningsproses na afloop van enige konflik is.

Hierdie uitsprake is ook aangehaal in ’n uitstalling wat in 2019 by die Imperiale Oorlogsmuseum in Londen gehou is. Die tema daarvan was “Kultuur in die spervuur.

In hierdie uitstalling is die verskynsel van erfenisskending in fyn besonderhede ondersoek. Onder meer is bevind dat dit op ’n verwerping van diversiteit neerkom, asook ’n grafiese manier is waarop ’n skrikwekkende boodskap oorgedra word, naamlik “gee toe aan ons, of verloor alles wat vir julle van betekenis is”.

’n Eeu gelede was hierdie debat ten spyte van enorme lewensverliese in militêre konflikte glad nie ter sake nie. Na afloop van die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) het Boere nie verwydering van Britse grafstene en gedenktekens geëis nie en in Vlaandere na afloop van die vernietigende Eerste Wêreldoorlog (1914-1918) is ruimte vir begraafplase en gedenktekens ter ere van soldate van die Britse Gemenebes en van Duitsland voorsien. ’n Mens sou gebeure wat tydens die konflikte plaasgevind het, as van die mees barbaarse in die geskiedenis kon beskryf, maar tog is die afloop daarvan deur erkenning en respek vir beide kante se seer en behoefte aan herdenking gekenmerk.

Wanneer die debat oor standbeelde in Suid-Afrika telkens weer opvlam, is dit teleurstellend om te sien dat die bogenoemde argumente bloot geïgnoreer word en kwaadwillige sowel as welmenende deelnemers aan debatte bloot op emosionele betoë terugval.

Dat erfenis sterk emosies opwek, is ’n gegewe. Dat internasionale gebeure soos die aanvalle op beelde van kolonialiste en mense wat by slawehandel betrokke was in die res van die wêreld, plaaslike sentiment beïnvloed, is waar, maar net so behoort die redelike stemme wat internasionaal gehoor word, ook plaaslik in ag geneem te word voordat verklarings deur enkelinge namens hele gemeenskappe gemaak word.

Omdat niemand (hetsy ’n individu of gemeenskap) ’n vlekkelose verlede het nie, moet ons alle gebeure en figure wat ons voorafgegaan het, eerste in die konteks van hulle eie tyd beoordeel.

Tweedens hoef “herdenking” nie “verering” te beteken nie. Koningin Victoria (1819-1901) was die koninklike onder wie se septer die mees verwerplike vergrype teen my voorouers gepleeg is, dus gaan ek nie noodwendig blomme by standbeelde vir haar lê nie, maar dat sy ’n onontkenbare vormende invloed gehad het op die wêreld waarin ek vandag leef, is ewe waar. Ek hoef haar nie te vereer nie, maar ek gaan wel haar rol erken en herdenk, daarom aanvaar ek die bestaan van standbeelde vir haar in openbare ruimtes in die land.

Sy hoef nie eenkant in ’n “park vir Britse rolspelers” weggesteek te word nie, want dan kan ’n mens té maklik haar rol miskyk of ’n eensydige beeld van die verlede vorm. AfriForum het nog altyd die verskuiwing van beelde na temaparke (’n geliefde voorstel van die Suid-Afrikaanse regering) sterk teengestaan. Ongeag van wie so ’n park bestuur, of ons dit ’n park of museum noem, en hoe toeganklik dit vir die publiek is, word die beeld van openbare rolspelers met verskuiwing daarheen na ’n verskraalde konteks verplaas, waar hulle invloed bitter maklik geëtiketteer, genegeer of gestereotipeer kan word.

Ewe min beteken die behoud van uitbeeldings van Victoria dat erkenning aan ander tydgenootlike staatsleiers soos president MT Steyn (1857-1916), koning Moshoeshoe I (ca. 1786-1870) of koning Cetshwayo kaMpande (1826-1884), uitgesluit moet word. Hoe meer rolspelers in openbare ruimtes gesien word, hoe meer begrip word gekweek vir die ingewikkelde aard van die verlede en skep dit die geleentheid vir ’n gesonde openbare debat oor hulle onderskeie bydraes.

Die Bittereinder “veilig” by die Oorlogsmuseum in Bloemfontein.

Veiligheid word gereeld as motivering vir verskuiwing of verwydering aangevoer. Standbeelde en monumente is egter nie bloot net kunswerke wat ten alle koste bewaar moet word nie. Daar is ’n rede vir die bestaan daarvan waar dit staan, wat met enige verplasing verlore raak. Veiligheid is nêrens gewaarborg nie en die gevaar bestaan selfs met verskuiwing na ’n alternatiewe terrein, dat jy die bedreiging daarmee saam verplaas. Museums word dikwels as gewilde herplasingsbestemmings voorgestel, maar tans is al die museums in die land wanhopig aan die soek na befondsing om net hulle deure oop te hou. Omvattende sekerheidsmaatreëls is ’n luukse en berigte oor ideologiese herinruiming van museums is volop.

Die woord “herdenk” som die instelling waarmee ’n mens standbeelde en ander stoflike getuienis van die verlede moet benader, netjies op. Jy moet die invloed en betekenis van dit wat herdenk word, herbedink, maar jy mag nie sonder meer die geslagte na jou van die geleentheid ontneem om dieselfde te doen nie. Verwydering ontneem toekomstige geslagte van herdenking. Verskuiwing verander die konteks waarin jy individue, gemeenskappe of gebeure herbedink en moet daarom ook sover as moontlik vermy word. Net omdat iets vir lede van die huidige geslag met hulle bepaalde agenda kontroversieel is, is nie genoeg rede om daarvan ontslae te raak of voor ’n tydelike agenda te swig en dit te gaan “wegsteek” om kontroversie te probeer ontduik nie.

Verwyder en verskuif kom neer op ’n soort sensuur. Hierdie aksies kan, afhangend van die uitgangspunt van die toeskouer, beleef word as simboliek van onderskeidelik skulderkenning of skuldontkenning. Dit is ’n kniebuiging voor die klein groepie radikale aktiviste, terwyl die groter gematigde gemeenskap geïgnoreer word. Laasgenoemde laat hulle toenemend intimideer om stil te bly ‒ as stilswyende standbeelde dan té aanstootlik is om in die openbaar verdra te word, mag die vredeliewende enkeling of gemeenskap tereg vra watter kans dit het om gehoor en gerespekteer te word.

Hierdie is die standpunte wat ons moet oorweeg wanneer ons vinnig en maklik ’n oordeel oor die spore van die verlede wil vel. Gaan ons ’n keuse maak met die oog op korttermynkitsoplossings, of met die oog op langtermynoplossings wat meer moeite en sterker leierskap gaan verg, maar kan bydra daartoe dat ons ’n beter wêreld vir ons kinders nalaat?

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Alana Bailey

Alana Bailey is lid van die Afrikaanse Taalraad en adjunk uitvoerende hoof van AfriForum (verantwoordelik vir internasionale skakeling, taal en kultuur).

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Piet ·

Weereens, hoekom het ons standbeelde van mense? Dit saai altyd net onnodige onmin en is teenstrydig met nasionale solidariteit. Gedenk gebeure in geskiedenis, nie mense nie. Ruk hulle almal af, van Paul Kruger tot Mandela. Eenvoudig

Dirk Mostert ·

Moenie nasionale solidariteit voorhou nie. Dit bestaan nie! Standbeelde herinner aan die geskiedenis. Aanvalle op ons geskiedenis en standbeelde is vyandelikheid teenoor ons.

Henk ·

Dit gaan nie oor die mens nie , maar wat die persoon gedoen het wat onthou word . Jy sien die vernietiging daarvan verkeerd . As n volk se kultuurgoed vernietig word is hulle besig om dié volk te vernietig .

Jean ·

Skuif al die standbeelde wat die mense nie van hou nie na Orania.

J ·

Alana jy sit die pot mis!

Rewolusionêres stel nie belang in die meriete van die gesprek of die standbeeld nie.

Hulle val standbeelde aan (en individue soos Trump, De Klerk en Zille) vir die SENSASIE wat dit veroorsaak.

M.a.w dit is alles PUBLISITEITSFOEFIES om hulle AGENDA te bevorder d.m.v. gratis publisiteit in die media.

Want die breindood media ‘basuin’ die sogenaamde “protes” wêreldwyd uit.

As die sg ‘protes’ (vandalisme, terrorisme) GEEN MEDIADEKKING kry nie sal dit ophou.

Alana ·

Nee, AJ, dis presies wat ek sê. Dit gaan ook nie net oor die publisiteit nie, Isis en ander magte vernietig / plunder erfenisse waaroor nie eers berig word nie, want aanvalle op erfenis is ‘n aanval op die gemeenskap tot wie die bepaalde erfenis spreek self. Soos bo genoem is dit ‘n afdreigmiddel en magsvertoon as jy erfenis takel – en minder blootstelling vir die lafaards wat dit doen as om in die openbaar ‘n standpunt te stel.

Die probleem is welmenende mense dink as erfenis verskuif of verwyder word, word die probleem opgelos, asof die vernietiging nie saam kan trek nie en die ware probleem daarmee opgelos gaan word. Al twiet Trump en Zille nooit weer nie, gaan daar nie vrede en stilte neerdaal nie, maar met elkeen wat swyg en elke beeld wat uit die openbare oog verdwyn, gee ons toe aan rewolusionêre en staan ons figuurlik en soms selfs letterlik grond af. Die emosionele besluite lê nie soseer by die vandale nie, maar by die mense wat aan hulle druk toegee.

Therese ·

Skitterende betoog deur Alana Bailey!
“Herdenking” beteken inderdaad nie noodwendig “verering” nie.
Sonder erkenning van onderskeie kulturele erfenisse kan daar geen sprake van versoening wees in enige plek ter wêreld nie.
Talle leserskommentare, maar veral dié van ons eie Afrikaner-mense, oor hierdie onderwerp laat ‘n mens se hart ineenkrimp.
Geen wonder die Westerse beskawing is onder beleg nie.

Henk ·

@Therese , dit wat jy geskryf het is so waar ! Dan sien ek die wit Afrikaans sprekende krieketspelers wat die knie buig en hulle het nog nooit hulle monde oopgemaak teen die plaasmoorde nie . Wat n ruggraatlose klomp jellievisse !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.