Standbeelde vertel die verlede

Foto: UV

Die standbeeld van pres. MT Steyn is nou amptelik ook nie meer welkom op die Kovsie-kampus nie.

Die universiteitsraad het besluit die beeld moet skuif ná wat voorgehou is as ’n uitgerekte konsultasieproses, dinkskrums, voorleggings, insette, betoë en vertoë.

Eintlik was dit maar net die gewone “kom ons speel vir tyd” of “kom ons wens en hoop die probleem gaan weg” – ʼn benadering wat die meeste universiteitsbesture in 2018 ten opsigte van talle probleme en uitdagings gevolg het.

Daar kan baie gesê word oor die patetiese reaksie van universiteitsbesture wat duidelik nie die hedendaagse kulturele problematiek in die land kan pak nie en ook nie meer aan die hoof van instellings staan wat verdraagsaamheid, openlike debat, redevoering, wedersydse begrip, erkenning en respek vir verskillende identiteite en alle mense kan bevorder nie.

Dit is eenvoudig nie goed genoeg om aan te voer dat alle beelde uit die verlede aanstoot gee en teen die beginsels van inklusiwiteit en diversiteit is. Deur selektief met Suid-Afrika se geskiedenis en erfenis om te gaan, misken juis inklusiwiteit en diversiteit.

Om terug te keer na die verskuiwing van standbeelde die afgelope jaar of wat op Suid-Afrikaanse kampusse, het dit vir Suid-Afrikaners, en Afrikaners in die besonder, tyd geword om dalk te besin oor hoe ons na hierdie kwessie in die toekoms moet kyk.

MT Steyn gaan nou ’n rusplek by die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke in Bloemfontein kry – wat ook die goedkeuring van sy familie en nasate wegdra. Dit is goed en reg so, aangesien honderde voorleggings oor dié internasionale figuur en laaste president van die Vrystaatse Republiek op dowe ore geval het. Dit is klaarblyklik vir radikale jeugdiges onmoontlik om te verstaan dat Steyn, wat in 1916 dood is, niks met apartheid te make gehad nie. Des te meer is dit goed dat die Steyn-standbeeld skuif na waar dit na waarde geag sal word.

Net soos wat die Steyn-standbeeld suiwer om ideologiese redes verwyder is, was dit ook die geval met die standbeeld van CR Swart, die eerste staatspresident van die Republiek van Suid-Afrika – ook by die Universiteit van die Vrystaat.

By die Universiteit van Kaapstad het die standbeeld van Cecil John Rhodes, Britse mynmagnaat en eerste minister van die Kaapkolonie in die slag gebly, terwyl 75 kunswerke ook uit openbare ruimtes verwyder is.

By die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus was die standbeeld van die digter en Bybelvertaler Totius in die spervuur en nie meer welkom nie. Dít terwyl hy hom nooit met die politiek opgehou het nie en die NWU waarskynlik nie eens vandag sou bestaan het as dit nie vir hom was nie.

Ondanks dié treurige situasie, is daar egter ook ’n vlam van hoop waaraan Afrikaners moet bly vashou. Ons kan MT Steyn nog by die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke gaan besigtig. CR Swart is veilig op die Voortrekkers se plaas Doornkloof, buite Lindley in die Vrystaat. Totius het rus gevind in die voorportaal van die sinodesaal van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) in Potchefstroom. Rhodes se heenkome is wel nog ’n geheim, aangesien daar nog nie besluit is waarheen hy moet skuif nie. Maar ons het ’n plig om ons erfenis te bewaar en ook om dit aanhoudend op te soek en vir ons kinders te wys.

Al is ons erfenis nie waar dit altyd was en waar ons dit onthou nie, het dit nie verdwyn nie.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Charles ·

Baie dankie vir jou in-die-kol en opbeurende artikel,ek gaan TEN VOLLE akkoord daarmee, dit is so wonderlik om te dink dat Pres.Steyn nou GAAN WAAR HY HOORT!

Die feit dat Hy nie welkom is by die “University of the Orange River Colony” nie,trek verskeie strepe;eerstens trek dit ‘n streep deur die oeverblindery dat die RSA as multikulturele,verdraagsame en plurale “samelewing” ooit ‘n sukses sou kon wees,en dat vreedsame naasbestaan en die uitoefening van jou taal en kultuur binne die smeltkroes volgehou kan word.Inteendeel-die stomme mense besef dit nie-maar die skuif van Pres.Steyn sanksioneer presies dit waarteen hulle kwansuis sou “veg”, nl. AFSONDERLIKE naasbestaan en- ontwikkeling, en rasseskeiding (wat in SA neerkom, rofweg a.g.v. geskiedkundige strominge, op kulturele skeiding) omdat die alternatief net DOODGEWOON NIE VOLHOUBAAR EN REALISEERBAAR IS NIE.

Tweedens,wys dit op die algehele flop wat die “ou Grondwetjie”,wat de Klerk en Kie ons mee opgesaal het,is- in die 90’s moes eerder op ‘n staatsvorm met wesenlike federale eienskappe beslis gewees het-wat sou die ANC(wat in elk geval nou internasionale regsnorme/waardes begin ignoreer/vertrap en maak net soos wat hulle wil-juis te wyte aan die patetiese GW) gedoen het as ‘n federasie as die enigste opsie aangebied was- hulle sou nie burgeroorlog kon ontketen omdat die onderhandelaars aandring op ‘n federasie nie!!. Dankie.

Debbie ·

Volgens LUR Butana Komphela moes die M.T Steyn standbeeld by UV verwyder word omdat hy ‘n “vernietiger van menselewens” was. Beteken dit dan dat die 1.8 miljoen rand se monument van Zuma by Marico ook verwyder gaan word aangesien hy die hele Suid Afrika vernietig het met sy staatskaping?

Charles ·

WAT!?
“vernietiger van menselewens”- VERDUIDELIK vir my die logika daarvan; en WAAR het die skepsel wat die belaglikhede kwytgeraak/ geuiter het, sy geskiedenislesse ontvang!?

Demmit!!!

Charles ·

WAT!?
“vernietiger van menselewens”- VERDUIDELIK vir my die logika daarvan; en WAAR het die skepsel wat die belaglikhede kwytgeraak/ geuiter het, sy geskiedenislesse ontvang!?

Demmit!!!

RG ·

Wonder wat van die Oorlog museums gaan word in die toekoms. Ons erfenis sal nooit verdwyn nie. Soos ons taal is dit hier om te bly. Slegs wanneer SA ophou biltong eet, sal dit verdwyn. Dink net, as dit nie vir die Afrikaner was nie, sou SA nooit biltong had nie. Julle is welkom.

Veritas ·

Wie wil nou in elk geval na ‘n klipbeeld kyk? Is dit regtig nodig om ‘n beeld van enigiemand te maak? Wat sou die rede wees om enigeen te probeer verewig deur ‘n klipbeeld van hom of haar te maak? Daardie persoon se innerlike of gees is die belangrikste dele van sy menswees. Dít is wat belangrik is. Sy voorkoms het absoluut niks met sy menswees uit te waai nie. Sover dit my betref, is alle standbeelde bloot die verheerliking van ‘n stoflike mens.
Hoe vinniger ons ontslae kan raak van alle standbeelde, hoe vinniger sal ons leer dat die innerlike van ‘n persoon, dít is wat onthou moet word en nie sy voorkoms nie.

rassie ·

Soms wonder ek hoeveel agter-kleinkinders nog hul oupa en ouma grootjie se grafte besoek. Of selfs oupa en ouma sin.

Moontlik was oupa en ouma grootjie nie polities so belangrik soos oom MT nie. Maar as dit nie vir hulle was nie was ek ook nie hier nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.