Steeds geen beslissing in soveelste Israelse verkiesing

Foto: (AP Photo/Ariel Schalit)

Dit was op 23 Maart die vierde algemene verkiesing in Israel in twee jaar. Die land het intussen Italië vervang as die spreekwoordelike voorbeeld van regerings wat nie hulle termyn voltooi nie, en van ingewikkelde, onstabiele en kortstondige koalisies. Dit is ook nie ʼn uitgemaakte saak dat hierdie verkiesing beter as die voriges gaan wees nie, want die kampe in Israel staan vas en skommelings vind gewoonlik net binne die regse en linkse blok plaas. Selfs binne die twee onversoenbare blokke is geweldige verskille. Die regse blok bevat as grootste party Benjamin Netanyahu se sentrum-regse Likud Party (“vereniging”) en verskeie godsdienstige partye. Nie almal binne die regse blok aanvaar ook Netanyahu as die natuurlike leier nie. Aan die linkerkant is die spektrum nog wyer, van die sentristiese tot verlinkse partye asook die party wat die Arabiese minderheid verteenwoordig. Eintlik is die linkse blok eerder ʼn anti-Netanyahu-blok en bevat ook nasionalistiese en liberale partye.

Israelse veiligheidsmagte raak slaags met betogers buite eerste minister Benjamin Netanyahu se ampswoning in Jerusalem. (Foto: Menahem Kahana/AFP)

Netanyahu regeer Israel sedert 2009 ononderbroke, en het reeds in die laat 1990’s die eerste keer die pos van eerste minister beklee. Hy is in Israel dit wat Trump in die VSA was en is: mense is óf mal oor hom óf haat hom. Hy het besliste suksesse om te wys: Onder sy bewind voer Israel tans ʼn suksesvolle inentingsveldtog teen die Covid-19-virus, wat die land amper weer laat terugkeer na ʼn toestand van normaliteit. Sy ekonomiese beleid was nog altyd suksesvol en hy het Israel ook veiliger gemaak. Verder was Netanyahu ook deel van sy bondgenoot Trump se suksesvolle poging om vrede te sluit tussen Israel en verskeie Arabiese state. Daar hang egter ʼn korrupsiesaak bo Netanyahu se kop, en talle mense is ook gewoon moeg vir hom en soek ʼn nuwe gesig en ʼn nuwe begin.

In die verkiesing is nie een duidelike wenner nie, maar beslis ʼn duidelike verloorder: Benny Gantz, wat met die vorige verkiesing die groot hoop aan die linkerkant was en mense kon saamsnoer en met sy party Blou-Wit (verwysende na die kleure van Israel se vlag) wat feitlik gelykop geëindig het met Likud. Omdat die twee partye ewe sterk was en geen koalisies aan die linker- of regterkant kon vorm nie, het hulle die ongewone stap gedoen om ʼn koalisie met gelyke magsdeling te vorm. Die leiers sou mekaar as eerste ministers na twee jaar afwissel. Netanyahu was slim genoeg om die eerste helfte van die termyn te vat en, so word beweer, die ooreenkoms te verbreek en nuwe verkiesings af te dwing sodat hy ʼn kans staan om weer sonder Gantz te regeer.

Of Netanyahu se plan uitgewerk het, is nog onseker. Sy regse blok het slegs 52 setels uit 120. Likud self het 30 setels, wat dit nog steeds die grootste party in die land maak, al het hulle verloor teenoor die vorige keer. Drie godsdienstige partye het onderskeidelik nege, sewe en ses setels. Die linkse blok, of eerder die anti-Netanyahu-blok, het 57 setels, maar is nog meer versplinter en ideologies uiteenlopend as die regse blok. Hulle het ook geen natuurlike leier nie, maar Yair Lapid, ʼn voormalige televisieaanbieder en leier van die liberale party Yesh Atid (“daar is ʼn toekoms”) met 17 setels verteenwoordig die grootste party in dié blok.

Dan is daar twee partye wat hulle nog nie verbind het nie en wat beslissend kan word vir die rigting waarheen die skaal sal neig: Yamina van Naftali Bennet met sewe setels is eerder regs (en hulle naam beteken ook juis “na regs”), maar sekulêr en Bennet se verhoudinge met sy eertydse bondgenoot Netanyahu is nie van die beste nie. Nogtans behoort hy eerder deel te neem aan ʼn regse koalisie. Dan is daar nog die Verenigde Arabiese Lys van Mansour Abbas met vier setels. Hulle hoort eerder tuis aan die linkerkant, maar kan met ʼn aansienlike toegewing deur Netanyahu oorgehaal word om hom te steun. Of die streng godsdienstige Joodse partye dit egter sal aanvaar, is die ander vraag. Ook Lapid poog om bondgenote bymekaar te maak vir ʼn koalisie. Ook ʼn vyfde verkiesing is ʼn moontlikheid.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.