Steeds ongewild en ongewilder in stryd om Amerikaanse presidentskap

donald-trump-vs-hillary-clinton

Foto: Youtube.com

Op 9 Augustus 1974 het Richard Nixon die eerste president van Amerika geword wat uit die amp bedank het. Weens die Watergate-skandaal was die Amerikaanse kongres op die punt om Nixon in ʼn staat van beskuldiging te plaas en hy het geen ander keuse gehad as om te bedank nie.

Die uitslag van ʼn peiling deur Morning Consult, ʼn navorsingsinstelling met ʼn bewese rekord van politieke peilings, toon vroeër vandeesweek dat 45% van Amerikaners Hillary Clinton se e-posskandaal as ʼn erger skandaal as Watergate beskou. Dit is ten spyte daarvan dat haar veldtog en verskeie groot media-instellings reeds herhaaldelik probeer het om dit te onderspeel.

Niemand kan meer ontken dat Clinton se veldtog toenemend deur die een skandaal na die ander gekenmerk word nie. In die nuutste peiling, deur die Washington Post en die ABC-nuusnetwerk, het 60% van Amerikaners aangedui dat hulle ʼn afkeur in Clinton het. Slegs 38% van Amerikaners is tevrede met haar.

In ʼn gewone presidentsverkiesing sou Clinton vandag, enkele dae voor die verkiesing, reeds afgeskryf gewees het. Die enigste vraag wat na die e-posskandaal, die Benghazi-omstredenheid, die duisende e-posse wat die afgelope tyd deur Wikileaks uitgelek is en haar duur en hoogs omstrede toesprake voor gehore in Wall Street, om slegs enkele voorbeelde te noem, oor sou wees, is met hoeveel persentasiepunte sy die verkiesing sou verloor.

Tog is daar min rede om te glo Clinton gaan verloor. Talle peilings wys die Federale Buro van Ondersoek (FBI) se nuutste ondersoek oor duisende Clinton-eposse, wat op ʼn assistent van haar se rekenaar gevind is, tot dusver nog nie ʼn uitwerking op Clinton se steunvlakke het nie. Dit kan vergelyk word met die omstrede video van Donald Trump wat onlangs uitgelek het, waarin hy nare goed oor vroue kwytraak. Dié omstrede video het ook nie die verwagte doodskoot aan sy veldtog besorg nie. Beide Trump en Clinton se beeld is lank reeds sodanig besoedel dat dit lyk asof geen skandaal die situasie meer wesenlik kan verander nie.

Oor die afgelope week het die verskil tussen Clinton en Trump in talle peilings gekrimp. Clinton is tans in die meeste peilings met tussen 1% en 5% voor. Enkele peilings toon selfs dat Trump met 1% tot 2% voorloop. Hierdie tendens het egter heelwat te make met kiesers, veral Republikeine en konserwatiewe onafhanklikes, wat kort voor die verkiesing net nie die bitter pil kan sluk om vir Clinton te stem nie en wat deur veral Trump se adjunkkandidaat, die briljante politikus Mike Pence, oortuig word om weer by die Republikeine tuis te kom.

Die realiteit is dat Amerika ʼn diep verdeelde samelewing is, waar tussen 90% en 95% van kiesers altyd vir dieselfde politieke party sal stem en baie moeilik daarvan sal afwyk. Hoewel baie Republikeine en konserwatiewe onafhanklikes oor die afgelope paar maande in peilings aangedui het hulle gaan nie vir Trump stem nie, begin hulle egter nou die realiteit aanvaar dat daar nie vir hulle ʼn beter alternatief is nie. ʼn Sogenaamde vernouing van die gaping in peilings is heeltemal normaal en vind gewoonlik in die laaste dae voor ʼn Amerikaanse verkiesing plaas.

Beteken dit nou dat Trump ʼn beter kans staan om die verkiesing te wen? Miskien kan die nuutste Clinton-skandaal nog ʼn klein uitwerking op die uitslag hê, maar in werklikheid is Trump se kanse vandag nie veel beter as wat dit verlede week of voorverledeweek was nie. ʼn Meerderheid van Amerikaners hou niks van Trump of Clinton nie. Die uitslag van die verkiesing gaan dus nie deur enige kandidaat se gewildheid bepaal word nie.

Wat gaan dan die uitslag bepaal? Vroeë stemme word reeds in talle state uitgebring en alles dui daarop dat Clinton se uitstekende strukture op grondvlak reeds vir haar vrugte afwerp. In Trump se guns tel die geweldige entoesiasme van sy ondersteuners. Clinton-ondersteuners is minder entoesiasties.

Die stempersentasie volgende Dinsdag gaan waarskynlik laer as in die afgelope vier verkiesings wees. Die uitslag sal dus bepaal word deur wie die moeite gaan doen om te gaan stem. Hier gaan dit ʼn stryd tussen Clinton se goeie strukture en Trump se entoesiastiese ondersteuners wees.

Clinton loop steeds voor in die stryd, maar met ʼn lae stempersentasie en die vraag oor wie presies die lang toue by stempunte gaan aandurf, is hierdie ʼn onsekere verkiesing met heelwat verrassings wat in sommige state en streke verwag word.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Louise E ·

Nie een van hulle is president-materiaal nie. Nou voel hulle hoe dit sou voel om in Suid-Afrika te bly :-).

humor ·

Hoe lyk dit vir my die meeste van die wereldse hoelui het maar dieselfde streke as z.

Piet ·

Louise ek sal liewers niks se oor ons president nie. Kan jy hom voorstel in ‘n debat teen ander partye soos Trump en Clinton in Amerika? “All the continents can fit into Afrika” is een van sy belaglike uitlatings! Hoe dink jy sal hy kan praat oor ‘n land se begroting want hy kan nie tel nie? Ek moet se, dis jammer dat goewerneur Mike Pence nie deelgeneem het aan die verkiessing nie – hy sou maklik gewen het.

Lalla ·

Mens sal nou regtig sweer dat die VSA niemand beter het om te staan as presidents-kandidaat nie. Altwee van hulle is lagwekkend. Arme Amerika, hulle gaan ‘n tweede SA word met ‘n nar vir ‘n president, wie ook al wen!!

gatiep ·

Dat iemand soos sy nog in die verkiesing is se vir my daar is groot vout met die wereld. Hoop regtig Trump kom in anders is ons gewone mense verlore in die nuwe wereld wat die clintons probeer skep.
Ek laat my nie vertel dat daar n man is wat nog nooit iets vir sy vriend gese het van n vrou nie. Al vout met Trump was dat iemand dit getyp het. Dis eintlik belaglik en vieslik van die clintons om dit vir die wereld te vertel en te se daardeur kan hy nie verkies word nie terwyl sy n lys vol groot misdade teen haar het.
Dink baie mense lewe in n TV droomwereld van hulle eie en poer maar net so voort met wat tv se is reg of verkeerd.
Dink n 3 jarige sal beter wereld besluite kan neem as die lot wat nou in beheer is van USA ek dink nie die Amerikaners gaan langer daarvoor staan nie.
Hulle gaan hulle land terugvat al beteken dit nou ook met geweld.

John ·

Ek weet nie waar het jy jou info gekry oor wie tans voor loop nie. Die media bv CNN, Foxnews, rapporteer dat sy die heeltyd voor loop.
Gaan na Yahoo toe, nie Google nie en jy sal ‘n ander prentjie kry

Jaco Kleynhans ·

John. Ek het ‘n groot verskeidenheid van bronne – ook individue binne die politieke partye wie ek goed ken. Terloops ek het in 2004 vir die Bush-veldtog gewerk en verstaan redelik goed die binnewerkinge van die veldtogte.

Vaalseun ·

Dalk moet ons net eers kyk of Zuma nie soos Hlaudi en Lucky vals kwalifikasies op sy aansoekvorm vir President ingevul het nie. En ek is seker, soos vir ander topposisie-aansoeke moes hy ook psigometriese en aanlegtoetse aflê. Dis tog ook in openbare belang dat ons weet wat die President se IK is. Want ons moet ‘n slim man as President hê, want hy moet mos Pa staan vir al die regte wat die Grondwet aan ons belowe, of hoe?

Riaan ·

Hierdie is die derde skrywe van Jaco Kleynhans wat ek onder oë kry tov die Amerikaanse verkiesing, en ek weet nie of dit my verbeelding is nie maar ek kry die gevoel dat hy bitter graag wil sien dat Clinton die verkiesing moet wen

Jaco Kleynhans ·

Riaan. As jy in my persoonlike standpunt belangstel: Ek dink Clinton sal ‘n baie swak president wees en sy hou eintlik wesenlike risiko’s vir die VSA in. My artikel gaan egter nie oor my persoonlike opinie nie, maar wel oor die werklikheid wat tans in die VSA afspeel en dit is dat Clinton na alle waarskynlikheid die verkiesing sal wen. Ek het in 2004 vir die Bush-veldtog gewerk en weer darem redelik wat om dop te hou om te weet hoe die verkiesing gaan ontplooi. Daar is min dinge wat tans in Trump se guns tel.

Piet ·

Vaalseun waarvan praat jy nou? Zuma het net n groot X op n skoon papier getrek en dit ingedien as CV.

DewaldS ·

Ek dink nie juis dis oor enige fout met Trump nie. Jaco weet maar net hoe werk die electoral college en watter van van die lede ge-inkorporeer is in internasionale strukture met ekstra agendas behalwe die VSA.

John ·

Die Demokrate sal enigiets doen (soos ons ANC) om nie hul warm stoele af te staan aan die opposisie nie. Hulle sit nou in topposte en kan toutjies trek en knoei. Clinton gaan nie weer nie kans kry om te staan nie, daarom gooi sy kole vir al wat dit werd is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.