Steenkoolengels

steenkool-braaivleisvuur-vuur-01

Foto: Markus Spiske/Pexels.com

Steenkoolengels, of in Engels bekend as Dunglish, krap weer in Nederland nadat studente begin brom het oor die swak Engels van hul dosente.

Steenkoolengels gaan oor ’n swak Engelse uitspraak sowel as swak grammatika.

Steenkoolengels het in steenkoolmyne ontstaan waar verskillende tale aan mekaar blootgestel is, en het ’n soortgelyke betekenis as Fanagalo gehad. Vandag is dit egter bepaald gemik teen die swak gebruik van Engels.

Steenkoolengels kom op elke vlak voor. ’n Plakkaat by die “VVV Amsterdam Tourist office” lees byvoorbeeld: “At this desk we can not sell the public transport.”

Daar het selfs Steenkoolengelse spreekwoorde ontstaan, bepaalde uitsprake, en gedigte is daarin geskryf, en self ’n boek daarin het die lig gesien.

In Suid-Afrika is dit ’n besonder sensitiewe kwessie en ’n Engelssprekende parlementslid is onder meer ernstig kortgevat omdat sy na die swak Engels van ander LP’s verwys het.

Heel dikwels het tipiese uitdrukkings wat baie swart Suid-Afrikaners gebruik hul herkoms in die grammatika van hul eie tale, soos: “We are having a meeting” in plaas van “We are in a meeting.

Heelwat pret word gemaak deur na pres. Jacob Zuma te verwys as “numbah wan”, terwyl hy ook nie alleen staan deur na “teachahs” te verwys nie.

Dit is ook nie net Engels wat so ’n struikelblok lewer nie. In ou Afrikaanse boeke sien ons ook uitdrukkings soos: “Ek gaan haal hom die bal.”

As ʼn mens na ’n inbelprogram op ’n Engelse radiostasie luister, is dit soms hinderlik hoeveel keer die omroepers nie die Steenkoolengelse uitspraak van inbellers kan uitmaak nie. Dis ’n gesukkel om uit te maak wat die inbeller bedoel.

Swak Engels word dikwels ook geblameer vir die swak prestasies van swart skole.

Maar staan die Afrikaner nie dikwels self agter die deur met swak Afrikaans nie? Dit kan wissel van Akademikaans, tot ’n taalgebruik deurspek met Engelse woorde, soos “show” onder kunstenaars tot “coach” onder sportlui.

Die gebruik van die Engelse (Amerikaanse) begrip vir “billion” as “biljoen” in Afrikaans in plaas van “miljard” skep reuseprobleme.

Skoolterrein word nou gewoonlik “skoolgronde” en word dan boonop dikwels verkeerd gespel.

Dit het deesdae mode, en selfs dwingend, geword om baie ruimte vir ander Afrikaanse vorme, soos Kaaps, of dialekte soos Namakwalands, te laat. Selfs die Zefferafrikaans vind dikwels ’n holte vir die voet. Maar solank standaardafrikaans net nie plek maak vir steenkoolafrikaans nie.

En vir diegene wat so lief is om Engelse woorde in te werk – neem maar gerus kennis hoe die Engelse daarna verwys: Dunglish.

Laat ons liewer ’n poging aanwend om die wonder van Afrikaans te laat voortleef – eerder as wat ons nageslag eendag uit die argiewe die taal weer lewe moet gee.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

Merkur ·

Ek gaan ´n nóg groter poging aanwend om geen Engelse woorde te gebruik nie. Die Engelse woorde help gewoonlik om tyd te spaar. Maar partykeer is dit lekker om doelbewus die tale te meng. Die Engelse gebruik ook Afrikaanse woorde om iets uit te druk wat in Engels onmoontlik is.

(Laas toe ek in Suid-Afrika ´n parkeerplek soek het die “opsigter” vir my gevra: Are you looking for pakkieng?)

Eish ·

Ek het n idee dit is die helhool wat van ons Steenkoolengels Askamerade gemaak het.

JMC ·

Jare gelede het ek ‘n kollega gehad van Nederlandse herkoms, en sy Engels met Nederlandse aksent was moeilik verstaanbaar. Eendag sê ek vir hom ek verstaan nie sy Hollandse Engels nie, waarop hy antwoord, “O, jy verstaan nie my Hollands nie? Dan sal ek maar keellangs praat.”

Lodewyk ·

Shoe ek sal maar van `n “stupidpower” (domkrag) praat en die woord “JACK” vermy.

JC ·

Dankie Herman, dis wonderlik! Dankie ook aan Merkur.
Die Hollanders gee skynbaar nie veel om vir hulle eie taal nie, hoe vreemd…? Dit laat beslis BAIE onbeantwoordbare vrae
Die dat Hollandssprekende studente nou al moet begin kla oor hul lektore wat nie hulself behoorlik in Engels kan uitdruk nie. Nou vra ek met trane in my oe; waarom “Ingels” in die eerste plek gebruik, dit is dan die oorsaak van die neteligheid!
Mag ons Afrikaanses en Afrikaners nooit in daardie bootjie beland nie, en ons Afrikaanse privaat tersiere instansies uitbrei tot wereldklas universiteite; in Afrikaans!

jan_alleman ·

mmmmh engels is self n mengsel van ander tale , en daai tale was mengsels van ander tale , daar is maar min suiwer tale in die wereld oor en jy sal vind hulle is bitter moeilik om aan te leer , so hierdie is n mors van tyd , afrikaans soos ons dit vandag praat is in elk geval ver van die oorspronklike taal , gaan hoor maar in suid-wes hoe het ons voorvaders geklink

Hendrik ·

Wat ‘n goeie, leersame artikel! Dis hoekom ek van Maroela hou! Trots Afrikaans en lief vir die ontwikkeling van ‘n besondere Taal! Dankie.

Gerhard ·

Bedank die Broeders wat ons gedwing het om op skool Ingels te leer praat. Die twak van om meer tale te kant praat maak jou kamstig slimmer. Dit lyk eerder of die teenoorgstelde waar is.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.