Steinhoff-ramp raak almal

Argieffoto: ANA

Die skokkende uitwissing van miljarde rande in die Steinhoff-krisis maak wêreldwyd opslae. Die vryval van hul aandeleprys en Markus Jooste se vinnige bedanking het bespiegelings laat ontstaan dat dit een van die grootste skandale in ons aandelebeurs se geskiedenis kan wees. Beleggers is verstaanbaar baie ontsteld oor die verlies van hul geld. ʼn Mens kan maar net hoop dat die kundige direksiekomitee wat die toestand moet beredder, ʼn haas uit die hoed sal kan pluk. Daar is verskeie redes vir die openbare woede en teleurstelling in hierdie boekhouskandaal:

  • Dit bedreig duisende mense se werk en hul gesinne se lewensmiddele;
  • Lede van vastebydrae-pensioenfondse het waarskynlik tussen 0,5% en 0,75 van hul hardverdiende geld verloor. Dis meer as wat dit klink, want dit kan byvoorbeeld 10% van hul fonds se jaarlikse groei wees. Gesamentlik is dit egter miljarde verlore rande;
  • Die krisis kan verdere verliese veroorsaak namate maatskappye wat sakevennote van Steinhoff is, se aandeleprys ook verliese ly. Die negatiewe sentiment kan selfs die hele beurs raak as die saak nie gou opgeklaar word nie;
  • Lede van vaste voordeelfondse soos die staatspensioenfonds verloor nie fisiek geld nie, omdat daardie werkgewers hul pensioenvoordeel waarborg. Dit stel egter belastingbetalers wat vir die staatspensioenfonds moet instaan en ander sulke werkgewers bloot as die krisis verder uitkring;
  • Die boekhouskandaal werp ʼn skaduwee oor die ouditeurs- en batebestuursbedryf, omdat hulle ouditeursfirma (Deloitte) vir jare lank hul boeke afgeteken het. Tweedens kon van die land se grootste batebestuurders nie deur die maatskappy se rekenkundige kraaines sien nie, en het hulle miljarde rande van hul kliënte daarin belê. Genadig het baie batebestuurders (soos die batebestuurder wat die meeste van die Solidariteit Beweging se reserwes bestuur) nié in Steinhoff belê nie, vanweë die redes wat nou op die lappe kom. Hoewel ons ouditeursbedryf as van die beste ter wêreld gereken word, benadeel enkele mense nou almal se goeie naam. Hoogsbetaalde batebestuurders het nou baie om te verduidelik;
  • Die vertrouensskok kan ons reeds brose besparingskultuur benadeel, as mense begin wonder of daar nie nóg “Steinhoffs” is waarin hulle geld belê is nie;
  • Dit is ʼn groot terugslag vir beleggersvertroue in ons ekonomie, wat minder as 1% van die wêreldekonomie uitmaak, en ons daarom baie afhanklik van buitelandse beleggings maak. Die gevolge van hierdie skok op beleggingsvertroue kan dus nog verder uitkring;
  • Suid-Afrika is ʼn baie oop ekonomie, gemeet aan ons totale in- en uitvoer as persentasie van ons ekonomie. Dit maak ons oneindig meer kwesbaar vir vertrouenskokke as byvoorbeeld die Amerikaanse ekonomie met sy groot binnelandse mark;
  • Ondersteuners van ʼn vryemarkekonomie besef dat misstappe deur sakeleiers die markekonomie saboteer en petrol op die vuur van radikale linkses is wat die ekonomie wil omverwerp;
  • Markus Jooste van Steinhoff was ʼn rolmodel vir talle jong ondernemers en voornemende sakelui. Rolmodelle is juis nou broodnodig om ʼn kultuur van gesonde ondernemingsgees te skep as die enigste uitweg uit die land se ekonomiese doodloopstraat;
  • Skandale in die private sektor ondermyn die stryd teen die verterende owerheidskorrupsie, omdat smerige vingertjies nou gaan terugwys en smalend sal sê dat die private sektor “nét” so korrup is. Hoewel korrupsie in die private sektor ʼn breukdeel van die verrotting in die staat is, gaan die teerkwas almal probeer swartsmeer;
  • Dit is vir my as Afrikaner ekstra sout in my wonde dat ʼn Afrikaner die gesig van hierdie boekhouskandaal is waarin so baie onskuldige mense seergekry het.

Die Steinhoff-sage laat die vraag of goeie korporatiewe beheer van ʼn besonder ondernemende multinasionale maatskappy wat bykans maandeliks reuseoornames en samesmeltings maak en in meer as 30 lande sake doen, werklik moontlik is. Dit lyk nie menslik moontlik om só ʼn komplekse, uitgebreide en gulsig groeiende sakereus te bestuur sonder om die hele maatskappy en sy aandeelhouers aan onaanvaarbare risiko’s bloot te stel nie.

Ten slotte, hierdie uitwissing van miljarde rande raak almal in die land op een of ander manier. Gelukkig is die oorgrote meerderheid sakelui, maatskappye, ouditeure en batebestuurders bekwame en eerlike mense, wat die ekonomie weer uit hierdie krisis sal lei. Desondanks lê daar wel groot skoonmaak- en opruimwerk voor in dele van die oudit- en batebestuursbedryf en die korporatiewe sektor, om natuurlik nie van die openbare sektor te praat nie. Gewone hardwerkende mense verdien beter as om só hul geld te verloor.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Flip Buys

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

17 Kommentare

E.K. die eerste ·

Steinhoff-skandaal= smerige storie. Hoekom, hoekommoet mense skelm wees? Veral as hul met ander se geld/beleggings werk. Roer daar nie soms iets in, wat ons as mens van diere onderskei, genaamd ‘n gewete nie?

DanielC ·

Een woord: GRETIGHEID. Ons lewe in’n wêreld waar meeste mense kompeteer met hul medemens. Mooi huise, belaglike duur motors en natuurlik baie geld om rond te gooi. Geld maak vele mense blind vir die nagevolge van korrupsie.

Loon ·

Een hengse skandaal, en dan staan die naam Steinhoff nog op die Bok sewe span se bors….?

Eish ·

Kundige direksiekomitee?
Jooste het hul alger geflous, gebol, verneuk, belieg.
Hy het Deloitte knolle vir sitroene verkoop. Indien dit nie vir die KPMG debakel was nie het hul weereens die state afgeteken.
Hul het alles gesluk, hoek,aas,sinker en stok.
Kundig? Née, daar dien kundiges op die komitee maar hul bly in gebreke om die kundigheid aan te wend.

Koos1 ·

Wat my meer pla is dat die “groot fout” nog nie ‘n naam het nie. Almal spekuleer. Steinhoff noem die graaf nou ‘n graaf, een van twee dinge kan gebeur, julle kan totaal vou of julle beleggers kan saam met julle werk om te red wat te redde is!

Veritas ·

Weet iemand dalk wat die Jooste kêrel gedoen het ? Verduidelik asb vir ons leke hoe dit werk. As ek so lees van al die man se eiendomme en rykdom, wonder ek of sy base dan niks agtergekom het nie.

Seg net ·

Jare terug wou Vodacom sagteware by my koop, hulle hele tender is rondom my stelsel geskryf. Toe ons die tender moes beantwoord, is daar vir my gesê ek moet hierdie “klomp” as my bemagtings vennoot aanstel. Hul prys? 50% van die omset, plus 4 van hul konsultante. Ek het geweier en selfs van my kliënte het my daarna vermy, want ek wou nie saam speel nie. Binne 6 maande moes ek deure toegemaak.

Leonard van der Dussen ·

Om jou te verset teen BEE is duur en die prys van vryheid is hoog, maar om vry te wees, bly wonderlik. Die slegste deel is egter daardie deel dat jou eie mense vir jou bang word as jy jou verset teen die gewettigde diefstal en die weggee van jou besigheid.

Eish ·

Die waarheid, die hele waarheid en die volle waarheid. Wat n verbysterend ontwykende kwaliteit om ons, tussen ons en in ons!

Die satan het al sy boosheid in die helhool losgelaat!

Joh ·

Ek voel mnr. Jooste moet alles wat hy besit inploeg in Steinhoff. Hy lewe tien teen een voort ìn rykdom asof niks gebeur het nie en ander kan hul werk en pensioene verloor. Wil ook graad weet hoe dit gebeur het en mnr. Wiese het noe lont geruik nie. Of wou hy nie?

Direkteur Kyk My In Die Oog Ystervark van Beleggingsrisikokloof ·

Dokumentasiebestuur in Suid-Afrikaanse maatskappye en die staatsdiens laat veel te wense.
Die stelsel van onafhanklike eksterne monitering en toesig oor direkteure se optredes is meestal reaktief en nie pro-aktief nie.
Om ‘n direkteur te wees is ‘n status simbool in Suid-Afrika. Hoeveel van die “direkteure” in die staatsdiens en privaatsektor KEN EN VERSTAAN die PFMA-wet en die maatskappyewet respektiewelik?
En welke persentasie direkteure het agter tralies beland weens growwe nalatigheid in die bestuur van hul maatskappye? Om nie eens van die staatsdiens te praat nie. So, wat leer ons uit die foute van die verlede? WAARSKYNLIK NIKS! Net nog meer komende wetgewing wat nie afgedwing sal word nie!

Arm ·

Wat ek graag will weet hoekom vries hulle ni die jooste en direkteure se bank rekeninge laat hulle voel hoe moet dit voel om te bedel vir kos maar nee hulle voel vere want hulle salarisse is miljoene per jaar en wat is jy net nog n slak om op te trap

Eish ·

Indien ons dieper as die gebeure kyk, is die hewige reaksie net weereens n bewys dat n kapatilistiese stelsel se regstelling van die klas van optrede honderdvoudig beter is dan die ANC beheerde regering met sy Kommunistiese invalshoek. Zuma kom nou al jare met die korrupsie en staatskaping en nog is dit die einde niet.
Die vrye mark het oombliklik reageer en die rot in die drinkwater is binne 24uur uit die sisteem gehaal. Die maatskappy se aandeel waarde is feitlik uitgewis.
Dus, is dit duidelik dat die kapatilistiese stelsel ligjare voor die kleptokrate is.

Vaalseun ·

‘n Vrome Jood het ons dikwels herinner, “There are no supermen.”

Barries ·

Hoekom moet sy Afrikaaner-wees nou ekstra sout in die wond wees Flip? Afrikaaners is nie ‘n Super-ras nie. Daar is rykes, armes, eerlikes, skelms, net soos in enige ander groepering.

bgj van der westhuizen ·

laat jooste betaal en wat alles van hom wand en le beslag op alles van hom wat in die buite land is wand dit sal my nie verbaas as hy land uit is al nie

roetie ·

ja bgj……….. u is reg sy gesin is eers weg en twee weke terug is hy op die lughawe afgelaai
mmar God sal hom daar inhaal dit moet hy verseker van weet

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.