Stellenbosch: die sondebok-sirkel

Deur Daniël Goosen

Universiteit Stellenbosch. (Foto: Facebook)

Die onlangse gebeure op Stellenbosch, rakende die verdere marginalisering van Afrikaans, is uiteraard skokkend. Dit is ook tragies, nie net omdat die taal wat die universiteit gevorm het uitgeskuif en gekriminaliseer word nie, maar omdat die taalstryd by Stellenbosch verdoem is tot die sikliese konflik van die sondebok. Afrikaans word weens ’n slagoffermentaliteit as die sondebok gesien wat ten alle koste afgeskaf moet word. Hierdie is ’n patroon wat niks anders kan doen as om homself te herhaal nie.

Die Frans-Amerikaanse filosoof, René Girard, gebruik hierdie idees, slagoffer en sondebok, om die mimetiese aard van ons begeertes te beskryf. Die basiese uitgangspunte van hierdie teorie stryk met ons gewone ervaring deurdat ons begeertes by ander verleen word. Ons soek nie iets omdat dit noodwendig eie aan ons is nie, maar omdat iemand anders oor dié spesifieke ding beskik.

Dink aan kleuters wat saamspeel. ’n Kleuter sou glad nie belangstel in ’n sekere speelding tot ’n ander kleuter daarmee begin speel nie. Die mimetiese (nabootsende) aard van ons begeertes is juis een van die redes hoekom kontemporêre bemarking so suksesvol is. Ons gebruik bekende persone om produkte te adverteer, sodat ons – soos kleuters – die betrokke mense wil na-aap. Die nabootsende aard van ons begeertes lei, volgens Girard, tot konflik.

Die konflik wat ontvou, neem die vorm van sondebok-identifisering aan, ingevolge waar iets of iemand uitgesonder word as die bron van leed en lyding. Hierdie proses van uitsondering bring mense bymekaar in ’n kru vorm van gemeenskap – soos wat daar vir ’n oomblik ’n gevoel van samehorigheid heers. Dit beteken prakties dat ’n groep hul eie verantwoordelike verplaas op iets of iemand anders, juis in ’n proses van blaamverskuiwing. Hierdie tendens is dwarsdeur die geskiedenis volop, dink maar net as ’n enkele voorbeeld aan Hitler se hantering van die Jode. Girard gebruik die woord “sondebok” (scapegoat) binne die konteks van Antieke Israel. Die hoë priester van die tempel sou simbolies die sondes van die ganse Israel op die bok of skaap plaas (sondebok). Die dier sou dan geslag word as ’n offer aan God (slagoffer).

Die ironie van die taalstryd by die US kom op die volgende neer. Ongeag die taalbeleid van 2016 wat de facto-Afrikaans afgeskaf het en die administrasie wat met hul reaksie op die gebeure by die koshuise vroeër vanjaar gesloer het, heers daar ’n slagoffermentaliteit by die anti-Afrikaanses. Dit is Afrikaans en dus die kultuur wat die taal verteenwoordig, wat verantwoordelik is vir die lyding van die groep anti-Afrikaanses. Volgens hul denke, is dit juis Afrikaans wat hulle marginaliseer en tot sondebokstatus verklaar. Dit is weens Afrikaans dat hulle juis self slagoffers is van “koloniale geïnstitusionaliseerde rassisme”. Min wetend dat daar in hierdie proses van selfgeïdentifiseerde slagofferstatus juis net nóg ’n sondebok en dus slagoffer geskep word. So gaan die siklus maar net aan, ad infinitum. Nog meer, daar is geen historiese begrip vir Afrikaans self nie. ’n Taal wat ten diepste ’n protestaal is, wat teen die groot koloniale kragte van die grond af opgebou is.

Girard het aangevoer dat die sondebokpatroon verdoem is om homself te herhaal, omdat dit juis ’n sikliese struktuur is waaruit daar geen uitkoms is nie. Die idee dat studente verbied is om hul moedertaal te praat, al is dit in privaat gesprekke, dui juis daarop dat die dryf tot inklusiwiteit per definisie ’n antagonistiese sosiale leer is. Met ander woorde, veelheid kan en mag nie toegelaat word nie, slegs ’n uniforme grys eenheid. Inklusiwiteit, volgens hierdie omskrywing, meen dat as daar twee of meer kulture of tale bymekaar kom, hulle per definisie in kompetisie met mekaar is. Daar moet dus ’n abstrakte reël van bo af neergelê word om hierdie kompetisie te vermy. Verder, volgens hierdie model van inklusiwiteit, is dit juis Afrikaans wat verhoed dat daar kohesie tussen verskillende groepe kan plaasvind. Ons sien ook die sikliese aard van hierdie mimetiese spel, soos wat dit deurlopend verder uitkring. Dit was nie goed genoeg dat Afrikaans as akademiese taal de facto in 2016 afgeskaf is nie. Dit moet verder gevat word, tot op die mees intieme persoonlike vlak. So kring die sondebokmentaliteit uit, juis omdat die stelsel nie daadwerklik aandag aan enige probleme gee nie.

Wat ons die laaste maande op Stellenbosch sien, is nie ’n anomalie of ’n abnormaliteit nie, maar die logiese voltrekking van opstande wat in 2016 plaasgevind het. Dit was, in ’n sekere sin, onafwendbaar dat hierdie of iets soortgelyks sou gebeur het. Gegewe die glybaan wat die 2016-taalbeleid geskep het en die deurlopende uniforme, antagonistiese en dus kompeterende aard van die inklusiwiteitsbeleid. Iets wat Prof. Wim de Villiers deur sy stilte goedgekeur het.

Wat op Stellenbosch aangaan, is egter ook nie uniek nie. As daar dieper gedelf word, sal mens dieselfde tipe tendense op ander kampusse in ons land ook sien. Tot ’n meerdere of ’n mindere mate. Ten minste is daar nog hoegenaamd ’n gesprek oor Afrikaans op Stellenbosch. Dit kan dalk die enigste brokkie goeie nuus wees wat hierdie hele debakel opgelewer het. Tukkies, as ’n enkele voorbeeld, is al so getransformeer dat ’n “oop gesprek” rakende Afrikaans as onderrigtaal ondenkbaar is. Hierdie universiteite is as staatsinstellings verdoem tot ’n neergedrukte eenvormigheid van bo. In dieselfde asem is die universiteite ook verdoem om dieselfde pad van stelselmatige verval te stap waaraan elke staatsinstelling al vir dekades aan ly.

As mens egter na ’n antwoord op soek is, gegewe die situasie waarin ons taal hom bevind, volstaan ek met Leopold Scholtz se voorstel. Skryf Stellenbosch af. Ons sal self ’n ander plan maak, en is tans met juis so ’n plan besig.

  • Daniël Goosen beskik oor ’n BA-honneursgraad in visuele kultuurstudies en doen vanjaar ’n internskap by die FAK.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Androclus ·

Skryf Stellenbosch af.Die kaders kan nie eers reg Engels praat nie.Voor elke woord wat hulle moet sê is e-e-e-e-e.

Kosie ·

Ek wonder maar net hoeveel van die “ongelukkigheid” oor Afrikaans word nie ekstern befonds deur NWO soos Open Society ens. nie. Gestel jy blokkeer alle NWO’s, soos wat Putin gemaak het in Rusland, dan wonder ek hoeveel ongelukkigheid daar nog werklik sou heers op ‘n Stellenbosch oor Afrikaans. Ek is van mening die dinge word ekstern befonds en gedryf. Hoekom is die F.W. de Klerk stigting en ander so stil? Want hulle word befonds deur dieselfde mense. Soos die Engelsman sê: “Follow the Money”, dan kom jy agter die aanslag is glad nie so spontaan soos vir ons voorgehou word nie.

Andrew ·

Korrek. Een ding wat ek ook met Leopold ooreenstem, skryf die plek af en vergeet sentiment. Maties, Tukke en die Pukke bestaan nie meer nie . Saam met die Afrikaanse taal raad, die ATKV (wat ek sien in engels ook adverteer ( so gaan ATKV aksies dan voortaan tweetaalig ook seker wees), mnet , jackaranda fm . Model C skole se “vir-engelsing ” is volgende op die marxiste en hulle engelse sosialistiese “puppet masters” se lys, so die uitbou van skole en sommer ook Afrikaans Christlike mediese sentrums is ook nodig.

Dit is hoekom die “globalists” die Afrikaaner so haat, die Boer hou aan om sy eie plan te maak.

Sokrates ·

Dankie vir n uitstekende analise van die motiewe agter die geleidelike moord op Afrikaans, spesifiek aan die universiteit van Stellenbosch. (Trouens, die analise geld waarskynlik net so ook ten opsigte van die selfvoldane, slagoffer-en toeêieningsmentaliteit van die hele sg “Woke” beweging in die VSA en Europa met sy visier op die bakens en waardes van die westerse beskawing.). Oor die bestuur van SU se stilswye, die volgende: Stilswye is nie noodwendig altyd n bestuurstrategie nie. Stilbly kan ook n misdaad wees, n lafaard se ontsnappingsroete……..daar is bloed aan die hande….

Therese ·

“Skryf Stellenbosch af” is na drie dekades van apatie deur belanghebbendes natuurlik die maklike/enigste uitweg. Die koeël is nóú deur die kerk, maar dit kón soveel anders wees.
Stellenbosch beskik oor die kragtigste argument denkbaar ten gunste van Afrikaans:
die Jan Marais-skenking, met die oorgang van die ou Victoria College na die Universiteit van Stellenbosch.
Dié reusebedrag moes ‘n waarborg vir die onskendbaarheid van Afrikaans wees.
Jan Marais sou vandag sprakeloos staan teenoor die gebrek aan integriteit aan daardie instelling.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.