Stem nee teen Discovery Bank se rasseplan

solidariteit-teen-discovery-veldtog-dirk-hermann

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit. Foto: ‘n Skermskoot van die regstreekse uitsending van Dinsdag se mediakonferensie.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het hierdie toespraak Dinsdag gelewer by die vakbond se aankondiging dat dit ʼn veldtog van stapel gestuur het om duisende nee-stemme te kry teen die Discovery Groep se planne om in Maart ʼn bank te begin, wat voordele aan kliënte bied op grond van hulle ras.

 Discovery gaan in Maart ʼn nuwe bank open.

Hulle noem dit ʼn nuwegenerasiebank, die eerste gedragsbank waar mense voordele volgens hul gedrag gaan verdien. Kliënte kry beter of slegter voordele afhangend van hul finansiële gedrag.

Dit is ʼn innoverende, blink idee – goeie gedrag bepaal jou voordele.

Discovery Bank gaan ook sy kliënte volgens ras beloon. Swart kliënte kry 10% van die aandele in die bank omdat hulle swart is.

Dit is ʼn baie ou, uitgediende idee – jou ras bepaal jou voordele.

Sonder om te blik of te bloos het Discovery homself in ʼn staatsdepartement verander. Discovery het dieselfde rasse-ideologie as dié van die regering aangeneem – een waar jou waarde in jou velkleur gesetel lê.

Toe hulle voor die keuse gestel is om te kies vir die regering of vir hul kliënte, het hulle in ʼn kwessie van ʼn hartklop hul wit kliënte op aandrang van die staat in tweedeklaskliënte verander. So het hulle bloot ʼn verlengstuk van die regering en sy rasse-ideologie geword.

Discovery Bank gaan inderdaad ʼn nuwegenerasiebank wees, ʼn bank waar alle kliënte gelyk gaan wees – maar waar swart kliënte meer gelyk as wit kliënte is.

Wit Suid-Afrikaners het nog reusekoopkrag. Wit Suid-Afrikaners het net soveel as enige ander groep aan Discovery help bou. Tog sê Discovery aan sy wit kliënte dat hulle minder werd is;
dat as twee kliënte met presies dieselfde finansiële situasie deur die bank se deure stap, die swart kliënt meer werd is omdat hy swart is.

Al wat wit Suid-Afrikaners wil hê, is dat Discovery alle kliënte as ewe waardevol beskou, ongeag hul velkleur; dat Discovery baklei teen die regering se rasse-ideologie, eerder as om dit te help implementeer.
Wit Suid-Afrikaners het ʼn stem, ʼn stem wat gehoor moet word. Gebruik hierdie stem en sê nee vir Discovery Bank se rasseplan.

  • Stem nee vir die idee dat jy minder werd is weens jou velkleur.
  • Stem nee vir tweedeklaskliënt wees omdat jy wit is.
  • Stem nee vir dubbelstandaarde en ongelyke behandeling.
  • Maak dit duidelik aan Discovery dat hulle vir die regering en sy rassebeheptheid kan kies ten koste van hul wit kliënte, maar dat daar ʼn prys verbonde is aan daardie keuse.

Solidariteit gaan ʼn massale Stem Nee-veldtog teen Discovery Bank se rasseplan van stapel stuur. Die veldtog begin in Februarie en eindig om saam te val met die bank se opening in Maart.

Saam met Solidariteit en duisende ander soos jy, gaan ons die neestemme in Maart aan Discovery oorhandig.

Hulle moet jou stem hoor!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

John ·

Moenie moeite doen nie. Bly eenvoudig net weg van Discovery en hou jou geld nog verder weg. Die groep het ‘n slinkse plan bedink om sy groot beleggings weg te steek. Die wit lede wat vir jare getrou bygedra het, word uitgesuig tot die bank se voordeel; in die bek geskop. Watter skande. Maar die spulletjie gaan vou, want Afrika wil leen en gebruik. Punt. Gee en belè. Nee. Discovery gaan iets discover en dit is dat jou sondes jou inhaal.

ensovoorts. ·

En so word die bordjies verhang. Betaal hulle in eie munt terug.
Hoe bou ons so aan ‘n nuwe Suid-Afrika?

Fanie Kemp ·

Dankie Solidariteit vir die inisiatief. Sterkte!
Die SMS lyn werk. Het so pas dit gebruik om te stem.

Johan Coetsee ·

Het in Desember alreeds my medies by Discovery gekanselleer.

Pieter ·

Kry asb feite reg:
1. Vergelyk met ander mediese fondse en banke se aandeelhouding persentasies.
2. Wetgewing vereis ‘n sekere persentasie aandeelhouding van banke. Discovery gee nie, soos ander banke, net aan ‘n paar reeds rykes, die geleentheid tot hierdie % aandele nie, maar aan hul eie kliënte.
3. Daar is mos nog 90% aandele tot beskikking van ander -> ook blanke kliënte.
4. As jy op grond hiervan vir Discovery los, moet jy al die ander banke en mediese fondse ook maar uitlos.

GertP ·

Hoekom kyk Solidariteit nie eerder om ‘n mediese fonds vir ons op die been te bring nie? Dit maak tog meer sin as om Discovery hof toe te sleep.

Dirk 88 ·

Ek stem saam met die artiekel behalwe op 1 punt, en ek mag verkeerd wees – Maar hoor my uit.
My stelling is, dit is dat Discovery doen als volgens wetgewing se vereistes. Discovery doen ook als in hulle vermoë om hulle self te bevorder net soos enige ander wins genererende instansie. Met dit in gedagte – Wetgewing vereis in terme van BBEEE dat “n Bank” moet voldoen aan hulle kriteria (ek weet nie presies wat als dit sou wees nie). Die kriteria tersprake is die belegger aspek. So Discovery MOET ‘n sekere hoeveelheid aandele aan ‘n sekere rasse groep afstaan. Die teen argument is dat dit gaan Discovery meer skade aan doen om teen wetgewing te skop, en te weier om aan “BEE” te voldoen. Daarom stem ek dat die is onregverdig – Regering vereis wetgewing wat nie net sekere rasse benaadeel/bevoordeel nie, maar besigheede ook! Ek se, moenie fout soek met Discovery nie, Vind fout met BBEEE. In anderwoorde – Staan op teen die ongrondwetlike wetgiwing wat duer die ANC afgevorseer word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.