Stem strategies of prinsipieel

dr-leopold-scholtz-kruispaaie

Dr. Leopold Scholtz. Foto: Reint Dykema.

Wanneer hierdie woorde gelees word, sal duisende Suid-Afrikaners reeds hul kruisies op daardie yslike stembrief getrek het. Ek weet hoe groot die stuk papier is, want ek het al vroeg op ’n koue, reënerige Saterdagoggend in ’n ry voor die Suid-Afrikaanse konsulaat in Den Haag gestaan om te stem.

Maar miskien is daar mense wat nog nie gestem het nie en wat nog aarsel. Laat ek maar verduidelik hoe ek die saak persoonlik sien – en elkeen is vry om met my te verskil.

In die laaste tyd het ’n mens dikwels die argument gehoor dat dit goed vir Suid-Afrika sou wees om pres. Cyril Ramaphosa se hand in die ANC te sterk, en dat ’n mens dus vir sý party moet stem. Selfs die gewigtige nuustydskrif The Economist – regtig nie die eerste die beste nie – het dit gehanteer.

Die logika is verleidelik. Die ANC, word erken, het te make met ernstige aanklagte van korrupsie en staatskaping.

Maar gelukkig het die party nou ’n nuwe leier, Ramaphosa. En ofskoon Ramaphosa se foute nie ontken word nie, is hy oneindig beter as sy voorganger, Jacob Zuma, wat Suid-Afrika byna in ’n donker gat ingetrek en verwoes het.

Maar nou, met Ramaphosa aan die hoof, is daar hoop dat dinge kan verbeter.

Nog ’n element van die logika is dat Ramaphosa nog ’n klipharde magstryd met die Zuma-oorblyfsels sal moet veg om sake reg te ruk. Verloor hy dié magstryd, is die kans goed dat Suid-Afrika weer in die ellende kan wegsink.

Maar as Ramaphosa die magstryd wil wen, moet hy as partyleier goed uit die verkiesing te voorskyn tree. ’n ANC wat ernstig verswak uit die stemmery kom – kom ons sê wat minder as 50% of net daarbo van die stemme trek – beteken ook dat Ramaphosa se posisie ondermyn word.

Dan word dit vir sy vyande in die ANC – die Zuma-oorblyfsels rondom Ace Magashule – makliker om hom te verwyder. En dan sit ons turf.

Bowendien, ’n verswakte ANC, veral een wat ’n beduidende getal stemme aan die EFF afgestaan het, sal in die verleiding kom om na links te swaai. En dan sit ons turf régtig.

Dus, is die redenasie, stem strategies vir die ANC. Sterk Ramaphosa se hand terwille van stabiliteit en landsbelang.

Nou ja, dis soos ek sê, die logika is nogal verleidelik en kan nie sommer minagtend van die tafel gevee word nie. Maar daar is ook ’n ander kant van die munt.

Cyril Ramaphosa is nie al naam op die lys van ANC-kandidate nie. Daar is talle ander kandidate waaroor die wolk van verdenking insake korrupsie, diefstal, regsverydeling en staatskaping swaar hang.

Jy stem vir die ANC, nie vir Ramaphosa nie. Jy stem ook vir al daardie name op die lys.

Bowendien is dit ’n ope vraag of selfs Ramaphosa – en ek bevraagteken nie sy opregtheid meer as wat ek moet nie – die ANC sal kan regruk.

Die dinge wat die ANC in regering sedert 1994 kenmerk, soos magsmisbruik, nepotisme, onbekwaamheid, die aanstelling van hopeloos onbevoegdes in belangrike posisies op grond van politieke affiliasie, dateer nie van daardie jaar nie. Uit my navorsing oor die ANC/SAKP in ballingskap (wat uiteindelik op ’n boek moet uitloop) blyk duidelik dat ál die dinge waarvan die party táns verwyt word, hul wortels reeds in die jare sestig of selfs vroeër het.

Die ANC en sy siamese tweelingbroer, die SAKP, wás nooit ’n eerlike party wat opreg vryheid vir swart mense nagestreef het nie, sy indrukwekkende retoriek ten spyt. Die party was uit op die mag, en dit is met die Marxisties-Leninistiese ideologie geregverdig.

Daarom, kan ek maar verklap, het ek nie vir die ANC gestem nie, al wens ek Ramaphosa alles van die beste in sy magstryd toe. Dit sou inderdaad wenslik wees dat hy dié stryd wen.

Maar ANC stem? Aikôna. Dis ’n brug te ver.

Nou ja, vir wie dan wel?

My gevoel is dat énige party wie se oortuigings binne die grense van die liberale veelparty-demokrasie soos dit in die Weste voorkom val, oorweeg kan word. Ek is nie buitengewoon geesdriftig oor die DA nie; Mmusi Maimane lieg darem te veel en die DA het in toenemende mate ’n “ANC lite” geword.

Bowendien beteken die woorde van DA-politici oor die beskerming van Afrikaans níks. Dis warm lug, want die party dóén niks. Maar ek sal niemand áfraai om vir die DA te stem nie; die DA vorm in die parlement darem ’n nuttige instrument om die ANC se rampspoedige dade aan die groot klok te hang.

Moet ook nie die kleiner partye afskryf nie. Daar is onder hulle – ’n mens dink aan die VF+ en die ACDP – sommige met ’n stewige prinsipiële grondslag wat beslis oorweging verdien.

Uiteindelik is die keuse dus: Stem strategies of prinsipieel. Dis ’n keuse wat elke leser vir hom- of haarself sal moet maak.

’n Laaste gedagte: Uiteindelik hang ons heil nie volledig van regerings, politieke partye en politici af nie. België het ’n tyd gelede ’n volle jaar sonder regering reggekom terwyl die politieke partye oor die vorming van ’n koalisie vuis geslaan het, en die land het gewoon voortgegaan soos normaal.

Dis waar, België is nie Suid-Afrika nie. Maar tog, daar is meer in die lewe as partypolitiek.

In die laaste instansie hang dit af van die ménse, van die al dan nie georganiseerde burgerlike samelewing.

Daardie georganiseerde burgerlike samelewing sluit in bewegings soos Solidariteit en AfriForum, wat die ANC se neus telkens in die Grondwet druk. Maar ook die nuusmedia is deel daarvan. Feitlik al die skandale rondom die ANC is immers sedert die jare negentig deur die vermaledyde media oopgevlek.

Nee, geen politieke party is perfek nie, en tog is dit goed dat ons gaan stem. Nee, Solidariteit en AfriForum maak foute, en tog is dit goed dat ons hulle in hul werk steun. En nee, die media kan sonder twyfel baie beter doen, maar ons moet erken dat dit juis in ʼn groot mate die media is wat tussen die samelewing en ’n ANC-diktatuur staan.

Kom ons hoop intussen dat die verkiesingsuitslag goed vir ons land is.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

? leser ·

ja stem maar vir die aan-cheeee, en jys nog vir ‘n tydlank jou eie gevangene en moenie kla nie, want jy het vir hulle gestem, dis soos die doodstraf, die tou moet net om jou nek gesit word en dit gaan jy self doen

Stephan de S ·

In n ware demokrasie moet die regerende party gereeld vervang word soos in die VSA …..om n magsblok en – misbruik te voorkom. SA is nie in hd sin n demokrasie nie want die meerderheid is so oorweldigend dat die kanse amper n nul is om die regerende party uit die kussings te lig. Net n onkundige persoon wat niks v staatskunde en politiek verstaan, sal dus vir die ANC stem

James ·

‘n Eerlike vraag aan die skrywer: Jy mag (en het) gestem, daar uit Brussels, Belgie uit, in die SA verkiesing. – Mag jy ook stem in Brusselse plaaslike verkiesings, en Belgiese / EU verkiesings?

Ek wil graag weet – dit sal vir my interessant wees om die antwoord te kry?

Wouter Turnout ·

Hy kon in die SA verkiesing stem omdat hy ‘n SA burger is. As hy ‘n Belgiese burger ook is, en hulle kiesreëls dit toelaat, sal hy in Belgiese verkiesings ook mag stem.

Andreas ·

Cyril het net te veel mooi beloftes van wat hy na die verkiesing gaan doen. Plaas dat hy reeds in die jaar en half dinge vermag het, dan kon hy nou gesê het, kyk wat het ek vermag en sy beloftes vorentoe sou ook meer geloofwaardig gewees het. Bo en behalwe dit soos wat hy beduie dat dit verkeerd is dat aansoekvorms vir werk nog ras van die aansoeker vra, maar intussen is SEB en kwotas nog in plek. Geen manier hoe mens sy retoriek kan glo nie.

VF heel bo ·

Dan word die enigste party wat vir ons veg as n agternagedagte genoem. Ek het nou my respek vir die skrywer se kredietwaardigheid finaal verloor want vir my is my taal, kultuur belangrik en oorlewing, nie net n nagedagte nie.

Weskusklong ·

Die VF+ stoot jou veg-veg oor die afgrond. Hulle moet minder debatte hou en eerder begin werk aan ‘n volkstaat. Maar hulle sal nie, want dan verloor die top leierskap hul R2 000 000 salarisse.

Sam ·

Die president word aangewys deur die party wat die verkiesing wen. Indien ANC sou wen is daar steeds geen waarborg dat Ramaphosa die nuwe president sal word, of onbepaald sal bly nie (dink aan die vorige presidente, Mbeki en Zuma). Hierdie onsekerheid behoort deuslaggewend te wees in enige kieser se besluit.

Jeanette ·

Dankie Leopold, hierdie is ‘n skitterende ontleding wat elke kieser genoeg inligting bied om te besluit waar om sy/haar kruisie te trek. Die artikel is inderdaad bietjie laat geplaas.

Jerry ·

In SA is dit eenrigtingverkeer met of sonder opposisiepartye. Alle westerse denkers stem nie vir die ANC nie en nog steeds vat die ANC, SA stadig maar Virseker na sosialisme. Geen opposisie kon staatskaping fase 1 stop nie, slegs die ANC, geen opposisie gaan staatskaping fase 2 stop nie en hierdie keer ook nie die ANC nie. Die opposisie was mislei en uitoorle met staatskaping fase 1 en die opposisie word mislei en uitoorle met staatskaping fase 2. Wat die opposisie ookal se en doen verander geensins die uiteinde nie, want die opposisie is magteloos in die sin dat hulle nie die geldkrane na die ANC staat kan toedraai nie. Meer geld vloei nou tydens staatskaping fase 2 na die ANC om staatskaping fase 1 se skade kwansuis te herstel as wat geld tydens staatskaping fase 1 na die ANC staat gevloei het. Met die kommissies word individue geimpliseer en van wie sekeres die blaam gaan dra vir staatskaping fase 1, terwyl die ANC staat wegkom met hoogverraad en onversteurd met staatskaping fase 2 voort stoomroller! Die faksies binne die ANC wat baklei vir die mag en die revolusionere partye buite die ANC staan almal aan dieselfde kant van die draad, almal met een gesamentlike einddoel en strewe. Daarteenoor staan die opposisiepartye nie eers aan dieselfde kant van die draad nie, laat staan nog enige gesamentlike strewes!

Jack Sadie ·

Sopas my kruisies getrek vir VF+ nasionaal en uit erkenning vir hul goeie werk hier in die Kaap, provinsiaal vir die DA. Nogal vreemd dat ‘n destydse PFP so drasties swaai, nie waar nie? Maar, ja, Leopold, is dit nie so nie dat ‘n Britse politikus in die vorige eeu gesê het dat hy beginsels het, maar as mense nie daarvan hou nie, sal hy dit verander. Ek het myne verander.

Stebastiaan ·

Sal ‘n eie Volkstaat nou nie ‘n seën wees nie. Ongelukkig bly dit ‘n droom wat nie sal verwesenlik nie. Die anc sal dit beslis met alle mag verhoed! Hoekom want dan verloor hulle hul grootste Melkkoei in die vorm van inkomste belasting. So ek glo nie dit sal gebeur nie..

Deon ·

Met die regte strategie is dit moontlik om ‘n volkstaat stadig maar seker op te bou. Oor 30 jaar sal die volgende generasie by die eindpaal staan. Teen daardie tyd sal SA in sy huidige vorm in elk geval nie meer bestaan nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.