Stem van hoop uit swart geledere

Mosiuoa Lekota, president van Cope, tydens ʼn mediakonferensie in Pretoria (10 September 2018). Foto: Verskaf

Hy is oop vir ‘n koalisie met enige minderheidsparty en hy praat met almal, sê Mosiuoa “Terror” Lekota, leier van Cope.

“In die stryd teen euwel kies jy nie vennote op grond van kleur nie; jy kyk wie staan waar ten opsigte van jou saak. Mense wat die Grondwet wil ondermyn, is nie aan ons kant nie,” het hy onlangs in ‘n onderhoud gesê.

Hy sien AfriForum – met wie hy ‘n lang ontmoeting gehad het – ook nie as rassisties nie, want hy stem saam dat ons in die eerste plek Suid-Afrikaners en daarná lid van ‘n volksgroep is. Ook oor die beskerming van Afrikaans is Lekota dit eens met AfriForum, dalk deels omdat hy in die Vrystaat as die kind van plaaswerkers grootgeword het en die taal vlot praat.

Daarom praat hy met almal: die Afrikanerbond, landbouorganisasies, wit, swart, bruin en Indiër. Lekota is ook ten gunste van die druk wat op buitelandse ambassades geplaas word oor die proses van grondwetverandering.

“Hulle het ons gehelp in die stryd teen apartheid en hulle moet ons nou help met hierdie vergrype,” sê die man wat self 13½ jaar op Robbeneiland deurgebring het.

Lekota bied hoop vir ‘n sterk koalisie wat die ANC in 2019 se verkiesing kan aanvat. Wen sal so ‘n koalisie nie, maar hy kan straks saam met die DA ‘n sterker opposisie skep as wat die DA en die massa splinterpartytjies – die ACDP, Vryheidsfront Plus, UDM en die ander splintertjies – vorm.

“Ons minderheidspartytjies is reeds bewakers van die grondwet.”

In die huidige parlement het die ANC 249 lede, die EFF 25 en die DA en sy moontlike koalisievennote slegs 113 (Cope het net drie.) Maar dit lyk of daar ‘n groter nugterheid onder kiesers begin intree, en 2019 is nog ‘n jaar die toekoms in.

Koalisies elders

Koalisieregerings is algemeen in Europa, waar geen party op sy eie regeer nie. Italië hou die wêreldrekord vir ‘n nuwe regering al om die 12 tot 14 maande.

Maar anders as in Suid-Afrika het die partye in die res van Europa darem meer gemeen as die DA se mislukte alliansie met die EFF in Port Elizabeth, Pretoria, en talle kleiner munisipaliteite. Johannesburg s’n klou darem nog vas.

Hierdie alliansies, vermoed ‘n mens, was baie meer vir eie gewin: poste, salarisse en allerlei byvoordele vir hul lede, eerder as goeie, samewerkende regering. Geriefshuwelike, dus. Daar word gesukkel om begrotings goed te keur en ooreen te stem op ‘n langtermyn- strategiese ontwikkelingsplan vir die stede.

In hierdie koalisies kon geen stabiliteit gevind word in sake waar konsensus maklik behoort te wees nie, soos dienslewering, sanitasie, water en krag. Samewerking oor nasionale kwessies soos die ekonomiese stelsel is eenvoudig net ‘n brug te ver.

Skok op skok

Daar gaan nie meer ‘n dag verby sonder skokkende Suid-Afrikaanse nuus oor korrupsie, wanbestuur en misdaad nie. Verlede week moes ons hoor dat 97 van die land se 277 munisipale bestuurders geen kwalifikasies vir die pos het nie. Nou verstaan ons ook beter hoekom onreëlmatige uitgawes in munisipaliteite van R16 miljard in 2015 tot 2016 amper verdubbel het tot R28 miljard.

Die “goeie nuus” is dat Nhlanhla Nene (finansies) wetswysigings sal promulgeer sodat hulle die vereiste vlakke van vaardigheid binne 18 maande ná hul aanstelling sal bekom.

Die vraag is hoekom eers nadat hulle aangestel is? Onder die ou NP-regering was kundigheid, kwalifikasies en ervaring voorvereistes vir ‘n staatspos. Maar, soos ‘n ander kommentator sê, dit lyk of dit onder Zuma irrelevant of selfs ‘n diskwalifikasie was!

In Frankryk is daar ‘n universiteit wat mense vir staatsadministrasie oplei. In Amerika moet jy eers ‘n kursus slaag voordat jy jou as sheriff verkiesbaar mag stel.

Dis huilwekkend as jy dit met Suid-Afrika vergelyk, waar ons ministers van polisie gekry het wat nie eers ‘n konstabel was nie. En mense in hoë poste wat nie eers matriek – gekoop of wettig – gehad het nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Org Potgieter

Org Potgieter is ’n vryskutjoernalis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

waarheid ·

Dankie Lekota – dat jy deel van die waarheid is. Dit word baie waardeer.

TP ·

Stem 100% met jou saam Anoniem, al van hy die Vrystaatse Premier was en die ANC hom uitgeskop het omdat sy verhouding met die boere so goed was.

Was bevoorreg om hom so paar maande terug op ‘n ‘gewone’ vliegtuig te kon ontmoet. Hy het uit sy klein, klein stoeltjie op die vlegtuig opgestaan om my met ‘n handdruk te groet en in Afrikaans aan te spreek.

Etienne Prinsloo ·

So people, go ahead, vote ANC. Destroy the DA which the average white South African seems hellbent on doing and hasten your demise within the construct of a one party Marxist dictatorship. Then you can spend all your time insulting Pres Trump and godworshipping Obama.

Johan ·

En die ironie is ongeag of Lekota die waarheid praat, word hy deur veral die EFF uitgekryt. Die bitter lae vlak van intellek van die meeste (landelike) kiesers wat net ANC of EFF sien, is ‘n enorme probleem vir ons land. In die Kaapkolonie was daar gedurende die einde 1800’s begin 1900’s gekwalifiseerde stemreg vir alle burgers. En ja glo dit of nie, dit het swart en Kleurling ingesluit!!!! Die sleutelwoord was egter GEKWALIFISEERDE stemreg wat beteken het dat jy aan sekere voorwaardes/kwalifikasies moes voldoen voor jy kon stem.

Ek weet ek laat my nou oop vir ‘n totale aanslag, want jy ontneem mos mense van hul reg om te stem as mens weer na so ‘n stelsel kyk. Maar regtig mense – hoe kan Jan Alleman wat in ‘n landelike gebied woon en niks weet en/of belangstel in die land of sy politiek nie, stem (gewoonlik vir die ANC want die hoofman beveel hulle om dit te doen) en ons sien die gevolge.

Dit net ‘n “totaal uit die boks uit” klip in die boks.

Lekota is (ongelukkig) een van die min swart leiers wat gewoonlik iets sinvol praat. En dan word hy gekruisig as hy dit doen.

Paul ·

Ek het hierdie onderstaande reeds ‘n dag of so gelede elders geplaas, terwyl jy nou van intellek en gekwalifiseerde stemreg praat. Ek plaas dit nou weer hier.

Op 24 Augustus 1972 (Hot August night) tree Neil Diamond in die Griekse teater in Los Angeles op. Buite die arena het daar selfs mense in die bome opgeklim om hom te sien. Op ‘n stadium groet hy vir hulle “hello jou tree people out there” en mens kon hoor hoe hulle dit waardeer.

As hy vandag in Suid Afrika in ‘n arena met soortgelyke omstandighede sou optree en hy sou die ‘tree people’ ook so gegroet het, sou die ANC en EFF hom van rasisme aangekla het en die kans sou goed wees dat hy skuldig bevind sou word.

Basie2 ·

Stem saam Johan. Om te kwalifiseer om te mag stem voorsien ons asb van jou belasting opgawe nr!! Ons moet mos aan allerhande vereistes voldoen (csd) vir staatstenders!! ??

Jerry ·

Die skrywer se “dis huilwekkend” som die situasie so mooi op betreffende koalisies wat net vir eie gewin gevorm word en minderheidsgroepe wat die grondwet moet beskerm, terwyl die meerderheid onverstoord met kaderontplooiing voort plunder. Om vir munisipale plunderaars te se hulle moet binne 18 mnde die nodige kwalifikasie verwerf sterk hulle net verder in hulle kwaad. As hulle eers gekwalifiseerde munisipale plunderaars word, maak dit hulle net soveel te meer, untouchable! Nene se wetswysiging is niksseggend in die sin dat dit hom beslis nie ongewild gaan maak by die huidige munisipale plunderaars nie! Die strenger maatreels is dus misleidend en slegs n klug in die ware sin van die woord!

ANONIEM ·

Het nog altyd gese het n goeie kop op sy skouers. Dankie Mnr. Lekota.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.