Sterfbedbelydenis: ‘Ek erken Irak-oorlog was ʼn groot fout’

Amerikaanse-vlag

Foto: Pixabay.com

Senator John McCain, die Republikeinse Party in Amerika se presidentskandidaat in die 2008-verkiesing, veg tans ’n verbete stryd teen breinkanker. Sy kanse op oorlewing is baie skraal. McCain is een van die groot geeste van die Amerikaanse senaat en word veral onthou vir sy intervensionistiese benadering tot internasionale sake en sy onverskrokke steun aan, onder meer, die Amerikaanse oorloë in Afganistan en Irak.

Hoewel baie konserwatiewes in Amerika min waardering vir McCain se politieke pragmatisme en sy fel kritiek op president Donald Trump het, het byna alle Amerikaners groot respek en waardering vir McCain as die oorlogsheld.

McCain was tydens die Viëtnam-oorlog ’n Amerikaanse vegvlieënier. Tydens sy drie en twintigste bombardement van oorlogsteikens in Noord-Vietnam, is sy vliegtuig afgeskiet en hy swaar gewond. Hy is vir vyf jaar as krygsgevangene deur Noord-Viëtnam aangehou en ernstig gemartel voordat hy in 1973 vrygelaat is.

McCain se verhaal as gerespekteerde oorlogsheld en ervare politikus maak sy uitsprake in ’n nuwe outobiografie wat binnekort sal verskyn, soveel meer veelseggend. McCain skryf dat die Amerikaanse oorlog in Irak ’n groot fout was en dat hy self deel van die verantwoordelikheid vir die oorlog op hom sal neem.

Toe die Bush-administrasie in 2003 die Amerikaanse senaat om toestemming vir ’n oorlog in Irak genader het, was John McCain een van die grootste voorstanders van die oorlog. Teen 2005 toe twee derdes van Amerikaners teen die voortslepende oorlog in Irak gekant was, was McCain steeds uitgesproke ten gunste van die oorlog en het hy selfs voorgestel dat die aantal Amerikaanse soldate in Irak vermeerder moes word.

Vandag, op sy sterfbed, besef selfs John McCain dat die Irak-oorlog – wat ’n land op sy knieë gedwing het, tot die dood van honderde duisende mense aanleiding gegee het en die ruimte vir die opkoms van ’n terreurgroep soos die Islamitiese Staat geskep het – ’n fout was.

McCain se erkentenis moet verwelkom word. Die oorlog in Irak het nie net nadelige langtermyngevolge vir die land self ingehou nie, maar het magsverhoudinge in die Midde-Ooste lelik versteur.

Die belangrikste rede waarom John McCain se erkentenis verwelkom moet word, is die moontlikheid dat dit tot groter introspeksie onder Amerikaners oor hul rol in die res van die wêreld kan lei. Die Irak-oorlog is nie ’n uitsondering nie. Na die einde van die Tweede Wêreldoorlog het Amerika in talle rampspoedige oorloë betrokke geraak. Soos wat die oorlog in Irak ’n fout was, was die oorlog in Viëtnam ook ’n fout en kan baie twyfel bestaan oor of daar nie beter strategieë kon gewees het om die Koreaanse vraagstuk in die 1950’s en talle Midde-Oosterse probleme soos in Afganistan en Libië op te los nie.

Die Amerikaanse weermag troon steeds vandag kop en skouers uit bo die weermagte van ander groot wêreldmoondhede. Die vraag is of Amerika in die toekoms beter daarin kan slaag om, soos wat Ronald Reagan dit in die 1980’s met, onder meer, die Sowjetunie gedoen het, deur kragdadigheid lande en leiers in die regte rigting te dwing, eerder as om halsoorkop in oorloë betrokke te raak.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Rupert Ashford ·

Die ironie is Donald Trump probeer die Reagan resep en hy word net gekritiseer daaroor, terwyl hy nie swakker vaar as Obama tov buitelandse beleid nie (dit is nie eintlik moontlik nie). Maar dit het hulle met Reagan ook gedoen.

Casper Labuschagne ·

‘n Ou spreekwoord lui, wees versigtig waarvoor jy wens want dit word dalk waar. Waar Amerika na 9/11 vir amper al die regte redes in Iraq betrokke geraak het, het hul wense toe waar geword en is die gevolge vandag veel erger as wat die gevolge van hul oorspronklike motivering ooit was.

Boonop het Amerikaanse inmenging in Sirië deur die Arabiese lente opstande destyds tot ‘n rampspoedige burgeroorlog gelei. Die uiteinde daarvan is dat Iran nou ‘n Sjiitiese sone van beheer het wat strek oor Iran, Irak, Sirië tot by Hezbollah in die Suid van Lebanon. Die resep vir verdere Amerikaanse militêre inmenging, waarskynlik om of Israel, Jordanië, Saudi-Arabië of die Emirate te beskerm teen Iran, is nou letterlik in die toekomstige geskiedenis vasgelê en boonop is dit hoogs waarskynlik dat kernwapens nog ‘n groot rol in daardie konflik sal speel.

Jaco Kleynhans ·

Casper jou kommentaar is deurspek met lawwighede. Ek moet dus reageer. Amerika het vir al die regte redes in Irak betrokke geraak? Watter redes is dit? Die Bush-administrasie het kamma-bewyse van wapens van massavernietiging gebruik om die oorlog te motiveer. Irak was stabiel – hoewel met ‘n diktator. Vandag is Irak grootliks verwoes, byna 500 000 mense is dood in die oorlog en daar heers chaos, werkloosheid en voortslepende geweld. Daar is geen regverdiging meer vir hierdie oorlog oor nie. Aanvaar dit asseblief.
Dan is die bewerings oor Iran belaglik. Iran het ‘n klein, swak weermag. Israel sal in ‘n oorlog met Iran maklik wen. Wat is fout met ‘n Sjiitiese sone? Die grootste deel van die Midde-Ooste is immers ‘n Soenniette sone. Beide die Taliban en Islamitiese Staat het hul oorkoms in die Soenniette lande – nie Iran nie. Die bewerings dat Iran terrorisme bevorder is snert.
Die enigste wenners hiervan is Amerikaanse wapen- en ammanunisievervaardigers wat groot geld maak uit verhoogde aankope uit Israel, Saoedi-Arabië en Katar.
Sonder al die onrus en oorloë in die Midde-Ooste sou die Amerikaanse wapenvervaardigers baie swakker besigheid gedoen het nie.

Paul ·

Jaco, jou kennis oor hierdie tipe sake is gewoonlik baie goed, so ek is huiwerig om voor te stel dat jy moontlik ‘n fout maak, maar ek wil tog iets vra oor een van jou stellings hier.
Jy sê dat Iran ‘n klein, swak weermag het en dat Israel maklik ‘n oorlog met Iran sal wen. Is dit werklik die geval?
Iran het, sover my kennis strek, ‘n beduidend groter weermag as Israel, beide in terme van getal aktiewe personeel en ook wapentuig, buiten die getal “main battle tanks” en sommige kategorieë van vliegtuie, hoewel die wapentuig in sommige gevalle nie noodwendig so gesofistikeerd is as Israel s’n nie.

Ek dink nie Iran se weermag kan as “klein” beskryf word nie, of hoe? Oor wie sou wen in ‘n volskaalse oorlog kan daar gedebatteer word, maar ek dink ook nie daar kan sonder meer gesê word dat Israel “maklik” sou wen nie, of hoe dan?

Jaco Kleynhans ·

Paul. Ja die omvang van ‘n weermag en om verskillende lande se militêre vermoë te vergelyk is ingewikkeld. Ek baseer my opvatting op ‘n verskeidenheid bronne onder andere die werk van bekende Westerse joernaliste soos Patrick Cockburn, Chris Mitchell en Simon Mabon. Ek het tydens besoeke aan Turkye ook met Turke wat deeglik ingelig is oor die situasie in Iran gepraat. Die werklikheid is dat die weermag van Iran oor hoofsaaklik verouderde wapentuig beskik. Selfs die effense styging in spandering aan militêre aankope, kan nie opmaak vir wat lande soos Israel oor die afgelope paar jaar spandeer het nie. Iran se weermag is byvoorbeeld groter as dié van Saoedi-Arabië, maar laasgenoemde spandeer reeds vir baie jare meer geld aan baie beter wapentuig.
In enige oorlog teen Iran sal die land se grootte (baie groot en gedeeltelik onherbergsame) en ook die bevolking (80 miljoen) van hom ‘n moeilike opponent maak. My belangrikste rede waarom ek egter glo Israel sterker is, is omdat hulle na alle waarskynlikheid oor kernwapens beskik en ek glo hulle bereid sal wees om dit in ‘n oorlog teen Iran te benut. Dan is Iran onmiddellik die verloorder.
Nog ‘n rede vir my argument is Amerika se bereidwilligheid om in enige oorlog agter Israel in te val. Iran het geen kans in ‘n oorlog teen Amerika nie.
Iran het dus getalle en geografie, maar Israel het beter wapentuig, goed opgeleide soldate, kernwapens en Amerika se ondersteuning.

Casper Labuschagne ·

@Jaco, net ‘n paar antwoorde:

Iran se konvensionele mag is allermins klein, hulle het ‘n staande mag van ‘n half miljoen troepe en het ‘n gedugte teenstand gebied in die Iran-Irak oorlog waar Irak een van die grootste militêre magte ter wêreld gehad het. Waar Iran wel ‘n agterstand het is met die sofistikasie van hul konvensionele magte, alhoewel hulle reeds ‘n selfstandige en bedrewe wapenbedryf opgebou het.

Maar Iran se gevaar lê nie in hul konvensionele magte nie, maar wel daarin dat hulle huidiglik die nommer een uitvoerder van terrorisme en aanhitser van konflikte is, en hul invloedsfeer strek wyd, vanaf Afganistan, Irak, Sirië, Lebanon, Yemen en selfs nou ook in Venezuela en ander Latyns Amerikaanse lande. Plaas net een kernwapen in daardie Sjiïtiese fanatici se hande en die wêreld het ‘n krisis op hande. Ongelukkig is dit juis wat die Iranse leiers luid vanaf hul podiums af sê.

Wat Irak betref, die motivering vir wapens van massa vernietiging was foutief gewees. Maar, na die 9/11 aanval was dit onvermydelik dat Amerika, veral onder die luide aanhitsing van Saoedi Arabië, nie vir Irak sou inval met die doel om vir Sadam Hussein te ontsetel nie. Op daardie tydstip was die redes vir so ‘n inval so goed as wat dit ooit kon wees. Ongelukkig vir die Amerikaners is nabetragting ‘n perfekte wetenskap en die nagevolge van die oorlog was rampspoedig. Irak was ‘n verkeerde oorlog vir al die regte redes.

Jaco Kleynhans ·

Casper regtig? Nommer een uitvoerder van terrorisme? Waar het jy dit gehoor? In ‘n toespraak van Trump? Waar is die bewyse? Wat is Saoedi-Arabië dan met hul oorlog in Yemen, hul stryd teen Katar en twee Soenniette-terreurgroepe (IS en Al-Kaïda) wat uit hul midde ontstaan en gefinansier is.
Iran bedryf nie terreur nie en dit is eerder die arme Sjiette-moslems in plekke soos Bagdad, Lebanon en Afganistan wat voortdurend deur selfmoordbomme geteiken word.
Om Irak se weermag in die Irak-Iran oorlog as een van die grootste in die wêreld te beskryf, is belaglik. Irak het nog nooit ‘n wafferse weermag gehad nie. Getalle soldate beteken reeds sedert die Eerste Wêreldoorlog maar min. Wapentuig, vegvliegtuie en vriendskappe is alles. Die feit dat Iran baie soldate het is irrelevant. Waarmee moet hierdie arme soldate veg indien ‘n land soos Israel besluit om hulle met hul briljante vegvliegtuie en kernbomme aan te val?

Marthinus Willemse ·

Ek kan niks goeds van/oor John McCain as politikus sê nie. Met sy houding teenoor Rusland het hy soos `n nuwe Joseph McCarthy gelyk en geklink. Soos Jaco, verwelkom ek sy erkentenis, en hoop ek dat die Amerikaners ook gaan kyk na Navo as `n invalsmag, wat nou selfs aansoeke vanuit Katar en Colombië kry.

As geskiedenisliefhebber, was die Amerikaanse leër se vernietiging van `n gedeelte van Nebukadnesar II se Hangende Tuine van Babilon tydens die Irak-oorlog ontstellend.

Casper, oor 9/11: van die 19 persone betrokke, was 15 Saoedi-Arabiërs. Irak het niks met 9/11 uit te waai gehad nie.

Paul ·

Hier is nou ‘n voorbeeld van wat gebeur as mense “fake news” raaksien en dit dan sommer net glo.
Niemand weet waar die Hangende Tuine van Babilon was nie, en daar is sterk argumente onder argeoloë en geskiedkundiges dat dit waarskynlik nooit bestaan het nie. Daar is tot op hede geen argeologiese tekens van so iets op die terrein van die antieke stad Babilon gevind nie, en geen Babiloniese tekste uit die era van Nebukadnesar II se tyd (en daar is baie sulke tekste vol detail) noem enigsins iets van sulke tuine nie.
Daar is slegs een enkele bron wat dit aan Nebukadnesar II toeskryf, uit die eerste eeu ná Christus, sowat 700 jaar ná Nebukadnesar II regeer het.

Dus: Die tuine het of nooit werklik bestaan nie, of dis in die antieke tyd reeds heeltemal verwoes, soveel so dat daar tot op hede nog geen spoor daarvan gevind is nie.

Met ander woorde, die Amerikaanse leër kon dit nie vernietig het nie, want dan sou hulle eers moes doen wat nog niemand anders oor die eeue kon doen nie, en dit is om die oorblyfsels van die Tuine eers te vind!

Daar is wel aanduidings dat die Amerikaanse en Poolse soldate wat by die argeologiese antieke Babilon gestasioneer was, beduidende skade aan die terrein berokken het. Die tuine is egter steeds ‘n misterie.

TDW ·

“Deur kragdadigheid, lande en leiers in die regte rigting te dwing”
Dis ‘n gelaaide sin, want wie besluit watter rigting is reg? Almal glo hul eie rigting is reg, so wie is meer reg as ‘n ander?
Ek voel dat die onafhanklike ontwikkeling van kultuur groepe reg is, maar volgens populêre mening glo die meeste mense dis verkeerd. Wie is dan die meeste reg? Die mening van die meerderheid?
Die meerderheid glo dat apartheid ‘n misdaad teen die mensdom was met 300000 moorde in 44 jaar, maar die meer as 500000 mense wat vermoor is vanaf 1994 (28jaar) word nie so geklassifiseer nie.

Koos ·

Enige oorlog het net verloorders. Politci ( bo die reg verhewe)promifeer dit as deel van hul arrogansie. Sit godsdiens by en dit is n aardige resep en die skapies me-me saam.

alwyn burger ·

Die Amerikaanse weermag is ñ rubberleeu. Dit kon nog nooit ñ oorlog wen nie.

Dink Self ·

Jy hoef nie ‘n oorlog te wen om vir baie jare geld uit die geskepde situasie te maak nie.

julius ·

Alhoewel Mc-cain bekend was onder die Amerikaners was hy glad nie geliefd nie. Bitter min mense het van hom gehou.

Richard ·

Hy leef nog, Julius.
Ook, McCain het 60 miljoen van die 130 miljoen stemme wat in die 2008 presidensiële verkiesing uigebring is, gekry. Dis nie “bitter min mense” nie. Hy is ook in 1982 as ‘n lid van die Huis van Verteenwoordigers verkies, en daarna vanaf 1986 tot vandag ses keer as Senator verkies. Iemand moes vir hom gestem het in daardie verkiesings… sommige mense dalk selfs omdat hulle van hom gehou het?

John ·

McCain… waar het hy die van gekry? Mens kan nie op al die wasgoeddrade gelyk sit nie… nie een ‘n arend kan nie en die oom wou. Om as ‘n demokraat en ‘n konserwatiewe burger geein en geeer te word, is veel gevra. En dan is almal van ons se lewens net so lank en die probeerslae beperk. ‘n Groot standbeeld iewers sal sekerlik gepas wees ooreenkomstig die VSA se grootdoenerigheidsbeleid; deur beide huise van die kongres gewaarborg.

Francois ·

Met 4.13 miljoen balies olie per dag (2017) wat Iran produseer, dink julle VSA het daar ingevaar net om die nasie te help? Ek reken eerder n selfhelp het n yslike rol gespeel hierso. My nederige opinie.

Ne ·

As die VSA verveeld raak, stuur julle manne hier in, en ruk SA reg.

Gerhard ·

Julle klomp kan maar se wat julle wil van die Amerikaners, as dit nodig raak vir gatkruip is dit die eerste plek waar daar aan die deur geklop word.

William ·

Jaco,
Ek lees jou berigte van tyd-tot-tyd en vind dit nogal interssant, maar nie insiggewend nie.

Ek vind dit vreemd dat jy se Israel sal speel-speel oor Iran loop. Die mening dat Iran verouderde wapentuig besit en nie ‘n kans staan teen Israel kan nie.
Feit, in die 1967 oorlog het Israel met verouderde wapentuig die oorlog gewen. Gedurende die Iran / Irak oorlog, was Irak deur Amerika (VSA) gesteun, Iran het hulle ook goed bloedneus gegee.
Die Soviet Unie (USSR) kon geen hond haar afmaak in Afganistan nie EN Amerika wen ook nie daar nie, die geveg is huidiglik steeds aan die gang.
Gedurende die “50 dae oorlog” of te wel, Israel-Gaza konflik (2014), het Israel sy “invisiblilty” verloor teen ‘n organisasie sonder ‘n lugmag.

Oorlogsheld: Miskien is ek hheltemaal verkeer, maar ek verstaan en oder die indruk dat “n Oorlogsheld gewoonlik een of ander heldedaad, gedurende die oorlog, verrig het. Kyk maar na die Suid Afrika / Angola bosoorlog. Watter heldedaad het McCain in Vietnam verrig?

Ek was ‘n beroepssoldaat , nie net in Suid Afrika nie, van af die ouderdom van 18 tot 54 (moes uitree as gevolg van ‘n paar “punctures” oor die tydperk).

NS:
Indien Iran so swak is, waarom is Israel so skrikkerig? Amerika is aan die Israeli kant, aan die ander kant het Iran die hulp van Rusland en Sjina (Sjina vlieg onder die radar).

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.