Sterk gemeenskapsorganisasies noodsaaklik vir sukses

gemeenskappe

Argieffoto.

Deur Flip Buys

Whether you prevail or fail, endure or die, depends more on what you do yourself than on what the world does to you. – Jim Collins

“Sterk burgerlike organisasies is noodsaaklik in ‘n geglobaliseerde wêreld vir suksesvolle gemeenskappe”. Hierdie uitspraak van die Britse eerste minister, David Cameron, geld soveel te meer vir ʼn minderheidsgroep soos die Afrikaner, wat self verantwoordelikheid vir sy toekoms moet aanvaar.

Groepe wat, soos die Kanadese filosoof Charles Taylor dit stel, permanent demokraties uitgesluit is van politieke mag oor hulself. Dit beteken kultuurliggame en burgerlike organisasies moet instellings van uitnemendheid wees. Ons mag nie ʼn kultuur van middelmatigheid in ons instellings duld nie, omdat onderprestasie ons aandadig aan die ondergang van Afrikaans en haar sprekers sal maak.

Die skepping van ʼn kultuur van uitnemendheid begin by ʼn kultuur van selfverantwoordelikheid. Daarmee bedoel ek dat ons sélf verantwoordelikheid vir ons taal en ons instellings moet aanvaar en nie die probleem of die oplossing by faktore buite ons beheer moet soek nie. Dan kan en sal ons nooit slaag nie.

Studies van organisasies op sake-, kulturele-, burgerlike-, politieke of maatskaplike gebied wys feitlik nie een het vir langer as ʼn oogwink ʼn oorwegend positiewe omgewing met die wind van agter gehad nie. Daarom word sukses nie bepaal deur positiewe kulturele, maatskaplike of politieke omgewings nie, maar deur hoe suksesvol die organisasie se leierskap die faktore onder sy beheer bestuur.

  1. Alfa en Beta

Kom ons noem die negatiewe omgewingsfaktore, waaroor die bestuur geen beheer het nie, die “Betafaktore” en die interne faktore, die “Alfafaktore“. Die batebestuurder van ʼn pensioenfonds kan niks doen aan die negatiewe Betafaktore, soos die huidige krisis in die wêreldekonomie nie.

As hy net ʼn passiewe bestuurstyl, met ʼn laat-maar-gaan strategie volg, gaan min mense na aftrede die katkos-opsie vryspring. Daarom neem die batebestuurder deeglik kennis van die onbeheerbare Betafaktore, maar gebruik dan die Alfafaktore onder sy beheer, soos bateklaskeuses en portefeuljesamestelling, om vir ʼn goeie opbrengs op swaarverdiende geld te sorg en vir homself ʼn welverdiende bonus te verseker.

Jy, as gewone lid van die pensioenfonds, het natuurlik ook ʼn belangrike verantwoordelikheid om jou eie beleggingskeuse (jou Alfafaktore) dop te hou en nie net op jou batebestuurder (jou Betafaktor) staat te maak nie!

Wat Afrikaans en haar instellings betref, word Betafaktore nog te veel beskuldig vir die stand van ons taal en die sprekers aanvaar nie genoeg selfverantwoordelikheid om met die Alfafaktore onder hul beheer te woeker en in ʼn moeilike omgewing sukses te behaal nie. Ons kan nie keer dat die “taalsee” rondom ons onstuimig, gevaarlik en selfs ʼn bestaansbedreiging word nie, maar ons kan ons skip sterk genoeg probeer maak om die storms te trotseer.

Daarom kan en moet ons gaan leer by die beste wenpraktyke van uitnemende instellings op die sake-, kerklike-, kunste-, kulturele en ander gebiede. Lees gerus in hierdie verband die boeke van die Amerikaanse bestuurskundige, Jim Collins, soos Good to Great in the Social Sectors. Wat Collins uniek onder die bestuursguru’s maak, is juis dat hy uitdruklik sê burgerlike instellings moet nie “sakebeginsels” gebruik om van “good to great” te gaan nie, maar universele bestuursbeginsels.

Natuurlik is daar ʼn wêreld se verskil tussen ʼn onderneming wat op wins ingestel is en ʼn instelling wat op die bevordering van sy missie, soos taal ingestel is. Maar dit kan nie kwaad doen om te kyk wat ons kan leer by sake-instellings nie. Daarom kan ons deur middel van ʼn vergelyking tussen “Staal en Taal” die punt maak dat ons self verantwoordelikheid vir ons instellings en ons taal se sukses moet aanvaar.

  1. ʼn Vergelyking van Staal en Taal voor en na 1994

    flip-buys-vergelyking-taal-en-staal

    Kliek op die foto om die volledige tabel af te laai.

  2. Afsluiting

Taal is oneindig belangriker as Staal. Daarom  moet ons meer en beter doen as die gewone sakebesigheidsbeginsels en –bestuurders om in ʼn moeilike omgewing suksesvol te wees. Ons moet onsself afvra of die Afrikaanse gemeenskap in ons instelling hul tyd en geld sal belê omdat hulle oortuig is ons bied ʼn goeie “opbrengs” vir Afrikaans? Indien nie, moet ons ons instellings verbeter en verander om ons taalgemeenskap se steun te verdien. Daar is algemene maatstawwe vir “beleggings” wat as vertrekpunt kan dien. Ons is immers self verantwoordelik vir die toekoms van ons taal.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

NP van Wyk Louw-sentrum

Meer oor die skrywer: NP van Wyk Louw-sentrum

Die NP van Wyk Louw-sentrum vir Gemeenskapstudies is ‘n toekomsgerigte ideesentrum wat fokus op die voorwaardes vir selfstandige en suksesvolle gemeenskappe.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae